Die National Union of Mineworkers (NUM) gaan nie aan die Marikana-herdenking deelneem nie, het die vakbond Donderdag gesê.
“Die besluit is geneem vanweë die konsensus wat vroeër tussen NUM, die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), die vakbond Solidariteit, Uasa en verskeie ander aandeelhouers insluitend mynmaatskappye bereik is dat adjunkpresident Kgalema Motlanthe se kantoor die herdenking sal organiseer,” het Lesiba Seshoka, woordvoerder van NUM, in ʼn verklaring gesê. “Die organisasie van dié herdenking is egter intussen deur die sogenaamde Marikana-ondersteuningsgroep gekaap en die program is belaai met opposisie-politieke partye.”
Vrydag is die herdenking van die afsterwe van 44 mense in 2012 tydens ʼn onwettige staking by Lonmin se myn in Marikana. Altesaam 34 mynwerkers is op 16 Augustus 2012 dood toe die polisie op hulle losgebrand het om hulle uit mekaar te jaag en te ontwapen. Tien mense, insluitend twee polisiebeamptes en twee sekuriteitswagte is die voorafgaande week dood.
Verskeie gewelddadige sterftes in die gebied ná die Lonmin-staking word toegeskryf aan onmin tussen Amcu en NUM. Lonmin het vandeesweek ʼn ooreenkoms met Amcu bereik en erken dié vakbond nou as meerderheidsvakbond by die maatskappy. Die ooreenkoms bepaal dat die meerderheidsvakbond ʼn minimum lidmaatskap van 30% moet hê. NUM, wat voorheen die meerderheidsvakbond was, se lidmaatskap het sedertdien tot 20% gedaal.