Nuuskommentaar: “Affirmative Action” en natuurlike geregtigheid

Solidariteit se hofgeding teen die Departement van Korrektiewe Dienste in die Wes-Kaap oor “regstellende aksie” en ander soortgelyke hofsake, se implikasies strek ver buite die sfeer van regspraak. Daar is haas geen geskrewe debat oor polarisasie in Suid-Afrika nie, of dit word as een van die oorsake van verhoogde polarisasie uitgewys.

‘n Britse koerant het onlangs in ‘n striemende artikel uitgewys dat Suid-Afrika die enigste land ter wêreld is wat waar die meerderheid ten koste van ‘n minderheid, of soos die DKD-beleid toon, minderhede, geld.

Daar is ‘n groot verskil tussen regstellende aksie en “affirmative action”. Regstellende aksie stel iets reg wat verkeerd was, en vereis deurlopende, verkieslik individuele toetsing. “Affrirmative action” het ras-nepotistiese elemente waar individuele toetsing uitgesluit is. Om maar een voorbeeld te noem: Presies wat word reggestel as ‘n wit seun wat in ‘n kinderhuis grootgeword het in ‘n beursaansoek op grond van sy ras en geslag deur die dogter van swart miljoenêrs uitgeskakel word?  Mnr. Tokyo Sexwale, wat met ‘n wit vrou getroud is, is in die media aangehaal waar hy gesê het hy wil graag toesien dat sy bruin kinders eendag steeds deur “affirmative action” bevoordeel word. Hy het dit, terloops, vir ‘n oorwegend bruin gehoor gesê.

Die ironie is dat die grondslag vir die beleid van “affirmative action” in die Handves van Menseregte se verbod op onbillike diskriminasie, onder meer op grond van ras en geslag, gesetel is. Soos alle regte in die handves, word ook hierdie reg beperk, en maak spesifiek voorsiening vir maatreëls om ongelykheid in die verlede reg te stel. Dié beperking mag egter nie so uitgelê word dat dit die oorspronklike reg in effek tot niet maak nie.

Regsgeleerdes wat by die tegniese opstel van die oorgangs- en finale grondwette betrokke was, het met hierdie bepaling werklik regstellende aksie, en nie “affirmative action” nie in die oog gehad. Cachalia, Davies, Maduna en ander stel dit ook in hul baanbrekerswerk, Fundamental Rights in the New Constitution dat hulle die term “corrective action” verkies. Hulle voorsien ook ‘n sonsondergangklousule. Die voortvloeiende wetgewing het egter volkome die roete van “affirmative action” gevolg en die DKD gebruik nou in sy verweer die rasseklassifikasi wat nou presies 21 jaar gelede, as laaste apartheidswet, deur die vorige regering geskrap is. Die ANC se beleid van kaderontlooiing trek dinge verder skeef omdat dit die nodige groei in kiem smoor en enige sweempie van hoop vir regstelling onmoontlik maak. Volgens die ANC se onlangse voorstelle vir wysigings aan arbeidswetgewing sou ook wit gestremdes uit die lys van bevoordeeldes gehaal word.

“Affirmative action” gaan van die veronderstelling uit dat alle swart mense voor 1994 onregverdig benadeel is. Dit ignoreer die feit dat swart mense in die ou tuislande in die betrokke staatsdienste reeds deur “affirmative action” bevoordeel is, soos veral opmerklik was toe die ou provinsiale administrasies en tuisland-administrasies saamgesmelt het, en goedgekwalifiseerde, ervare wit amptenare skielik gevind het hulle is die juniors van veel minder ervare en swakker gekwalifiseerde swart amptenare wat deur die ou tuislande se bevorderingstelsels bevoordeel is. Dit het op baie plekke in onder meer die polisie tot gesagsprobleme gelei, wat nie met ras te make gehad het nie, maar blote ervaring en bekwaamheid om die werk te doen. Vakbonde soos Solidariteit en die PSA het hul hande vol gehad.

Ewe-eens is bruinmense en Indiërs in die ou administrasies van die Rade van Verteenwoordigers en Afgevaardigdes bevoordeel.

Met die DKD se verweer in die Wes-Kaapse saak word dit onder meer gestel dat diskriminasie teen bruin mense geregverdig sou wees weens die feit dat bruin mense in die verlede bevoordeel is, ‘n klaarblyklike verwysing na die ou bedeling waar die Wes-Kaap as bruin voorkeurontwikklingsgebied hanteer is. Daar was onder meer ook ‘n Kleurlingontwikkelingskorporasie. Dié argument val uiteraard dadelik in die dryfsand vas, want dit handel hier juis daaroor dat die DKD nasionale demografie gebruik om die Wes-Kaapse raskwotas te bepaal, en dit beteken in beginsel dat daar minstens ‘n proporsionele syferregstelling moet wees oor die “affirmative action” wat in die tuislande sou gegeld het.

Politieke korrektheid en emosies oor die verlede staan egter breed in die weg van ‘n kliniese beoordeling.  Tot die Europese Unie se agentskap vir Ontwikkelingshulp verwys nog na die syfers vir sosio-ekonomiese ongelykheid, wat verder skeefgetrek word deur waarskynlik reeds meer as ‘n miljoen blankes wat nie werk kon kry nie wat in die buiteland werk.

Dit is ‘n komplekse politiek-sosiologiese vraag oor of rassediskriminasie doeltreffend aangewend kan word om gelykheid te bewerkstellig. In ‘n nie-rassige ideaal is daar ook nie so iets soos “omgekeerde rassisme” nie – rassisme is rassisme ongeag van watter kant dit kom, en die enigste omgekeerde ding is die Volla wat na middernag op pad huis toe van die Willeboer af nie sy draai gekry het nie, en op sy dak lê.

Intussen was daar ook ‘n rigtinggewende uitspraak in New Hampshire in die VSA toe nie genoeg swart en Hispanjaardse lede die bevorderingseksamen kon slaag om die verlangde kwotas vol te maak nie. Die vereiste bevorderingseksamen is afgeskaf, en dié optrede is deur regter Sonia Sotomeyr van die deelstaat se federale appèlhof bekragtig. In die Supreme Court  is haar beslissing egter omgekeer. Onopgeleide senior brandweermanne hou te veel gevaar in.

Die Handves van Menseregte is in sy vertolking oop vir buitelandse regspraak, en dié beslissing hou in beginsel ook vir Suid-Afrika implikasies in. In ‘n ironiese wending het pres. Barack Obama kort na sy ampsaanvaarding die Puerto Ricaans-gebore Sotomeyer as Supreme Court-regter aangestel.

‘n Bisarre geval het pas aan die lig gekom. ‘n Mediastorm het in die VSA losgebars oor ‘n aspirant senator, Elisabeth Warren, na dit aan die lig gekom het dat sy haarself as ‘n Rooihuid voorstel. Hiermee het mense min of meer vrede, maar die Boston Herald het onthul dat Harvard Law dié “klassifikasie” met haar aanstelling “opgeroep” het om aan die vereiste kwota van minderheidsaanstellings te voldoen. Warren het by haar ma verneem dat haar oor-oumagrootjie ‘n Rooihuid was, wat, indien dit wel so sou wees, beteken dat sy 1/32ste Rooihuid is. Per definisie maak dit die reg belaglik.

En ‘n mens kan maar ook net wonder hoeveel Suid-Afrikaanse blankes sou nie met daardie norm dan ook op grond van ras vir “affirmative action” kwalifiseer nie.

Die beginsel van natuurlik geregtigheid behoort die grondslag van enig regstelsel te wees, en artikel 33 van die grondwet probeer juis dit in Suid-Afrika bestendig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae