Nuuskommentaar: Eras van Thatcher en Mandela

Margaret Thatcher en oud-president Nelson Mandela. Argieffoto: Russell Boyce/Reuters

Die “Ystervrou”, die voormalige Britse premier Margaret Thatcher, is oorlede. Haar dood volg kort na die nuus dat oud-president Nelson Mandela ná sy soveelste hospitalisasie weer tuis aansterk.

Mandela gaan nie vir altyd leef nie, en elke hospitalisasie word met belangstelling gevolg: Gaan hierdie keer die laaste keer wees? Dié keer het ‘n uitsaaier voortydig ‘n huldeblyk uitgesaai asof Madiba heen is, en ‘n kontroversie het losgebars oor wat die rektor van die Vrystaatse Universiteit gesê het of sou gesê het.

Intussen is mediese parool aan die 77-jarige siek Clive Derby-Lewis geweier in ‘n stap wat verdag baie na politiekery lyk in die lig daarvan dat die bedrieër, Shabir Shaik, skaars die tronkbed warm gelê het toe hy mediese parool kry om kamma tuis te gaan sterf, maar op die gholfbaan gaan rondhang het.

Hulle het almal dit gemeen – hul herinneringe gaan hul leeftyd ver oorleef. Om elkeen kleef ook minstens ‘n tikkie uiteenlopende herinneringe.

Uit die huldeblyke vir Thatcher sou maklik afgelei kon word dat daar geen omstredenheid in haar bewindstyd was nie. Sy het vakbonde vasgevat, staatsbedrywe geprivatiseer, die Britse ekonomie stoom gegee – maar sy het ook die werkloosheidskoers in haar land verdubbel. Te midde van ‘n stroom huldeblyke van oor die wêreld laat ‘n Britse vakbond weet hy is verheug oor haar dood.

Vir die Britte is sy die held wat die Falklandeilande van die Argentynse besetters gaan bevry het. Vir die Argentyne en hul vriende is dit die Malvines wat die Britte jare gelede afgeneem, en die Spaansprekende inwoners afgesit en met Britse onderdane vervang het. Toe die Argentyne “hul” eilande terugneem het Thatcher dit eenvoudig weer met ‘n oorlog gaan “koloniseer.”

Sommige mense beskou Mandela blindelings as versoenende held en ikoon. Ander onthou hom as iemand wat met die Rivonia-verhoor lewenslank tronk toe gestuur is oor planne wat baie onskuldige lewens sou kos, en waar hy hom self destyds uitgesproke met die Kommunisme vereenselwig het, en hy later breed in die pad van ‘n vreedsame oplossing gestaan het deur te weier om geweld af te sweer. Sommiges onthou hom as die innemende president wat versoenend die Springboktrui aangetrek het, ander onthou hom as die persoon wat as president nie as bestuurder watwonders gevaar het nie en veral bitter swak ministers aangestel, en hulle erg skadelik vir die land in die ampte gehou het.

Te midde hiervan breek ‘n storm los oor wat die Kovsierektor, prof. Jonathan Jansen aan skoliere sou gesê het of nie gesê het nie. Volksblad het berig  dat Jansen die woorde dat hy wens Mandela is dood sou gebruik het. Jansen het op RSG heftig gereageer en Volksblad van ‘n verskeidenheid beweerde misstappe en motiewe beskuldig, ‘n verklaring uitgereik, en Volksblad kap terug en berig verskeie mense teenwoordig het gestaaf dat Jansen inderdaad die woorde geuiter het “al het hy dit dalk nie so bedoel nie.”

Dit is ook kommerwekkend dat Volksblad berig dat die oorspronklike berig voor publikasie aan die hoof van Kovsies se strategiese kommunikasie voorgelê is, en na ‘n gesukkel meegedeel is dat die rektor nie kommentaar wil lewer nie, en eers laat Sondagaand laat weet het die rektor laat weet het dis nie sy bedoeling dat hy wil hê Mandela moet sterf nie. Dis nie duidelik of dié kentering te laat vir saktyd gekom het nie.

‘n Mens verwag dat ‘n afdeling wat as “Strategiese Kommunikasie” bekend staan beter sou vaar, en strook ook nie met Jansen se verklaarde doelwitte van uitnemendheid nie.

Daar is ‘n stormagtige band tussen Volksblad en Jansen.

Jansen is ‘n gereëlde rubriekskrywer van Media 24, wat Volksblad insluit. Die UV-kampus is geskeduleer om in die wintervakansie weer die Volksblad se kunstefees te huisves.

As na die spotprent van Volksblad hieronder gekyk word, is dit vir die buitestander moeilik om hom in te dink hoe die lug gou weer gesuiwer kan word.

Tog het harde woorde in die verlede al geval, en is soortgelyke woorde jeens Volksblad of die verslaggewers gebruik, maar is verhoudinge weer bestendig.

Geen persoon wat respek afdwing, sal wil sien dat sy sterwe of sterwensaanloop as die slagveld vir omstredenheid dien nie. Dit is allermins gepas dat iemand wat Mandela as ikon voorhou, op onbetaamlike wyse self daardie persepsie deur smerigheid onteer.

‘n Paar jaar gelede het die Nederlandse Protestantse koerant, Trouw, in ‘n lang artikel oor Jansen die Kovsierektor as Mandela se opvolger as ikoon van versoening beskryf.

Net Jansen self kan sorg dat hy daardie eer gestand doen. Sy uitbarsting en inspan van kragwoorde gaan dit nie doen nie. En al was Jansen volkome reg, die spreekwoord lui: “Jy baklei nie met hulle wat hul ink by die vat koop nie.” Daar is maniere en maniere om geskille op te los.

Spotprent: Volksblad

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae