Nuuskommentaar: Kul jou hier, kul jou daar se gekierang vir Mangaung

Jacob Zuma. Foto: GCIS

In die jongste uitgawe van die Mail & Guardian verskyn ‘n berig waarin ANC-lede in Mpumalanga beweer takke wat pres. Jacob Zuma steun se lidmaatskapsyfers is op bedrieglike wyse aangedik.

Groot verskille bestaan glo tussen die bevestigde lidmaatskapsyfers van ‘n voorlopige ondersoek en ‘n finale oudit van die takke wat Zuma se herverkiesing tot ANC-leier aan die einde van die jaar in Bloemfontein steun.

Mpumalanga word as een van Zuma se sterkste vestings beskou. Die Nkomazi-streek in Mpumalanga in Mpumalanga het meer lede as die ANC se totale in die Noord- en Wes-Kaap.

Die takke kan vir ongeveer elke 100 ingeskrewe en opbetaalde lede twee afgevaardigdes na die Mangaung-kongres stuur. En dit is juis in Mpumalanga en KwaZulu-Natal waar lidmaatskapgetalle dramaties toegeneem het – op papier minstens.

Ook die Vrystaat het flink gevaar. Maar in die Vrystaat word die ANC deur ontevredenes hof toe gesleep oor ‘n beweerde gekierang en uitspraak word oor sowat ‘n week verwag.

Die bewerings is min of meer dieselfde. Die groep wat die pro-Zuma premier, Ace Magashule uitgedaag het, het hulle na die hof gewend na Magashule en sy mense die dowe oor op die besware gedraai en voortgegaan het om onder meer die provinsiale kongres te hou. By die provinsiale kongres het Zuma self die wettigheid van die kongres gekondoneer.

Dit sou onverantwoordelik wees om dit bloot as feit te aanvaar dat daar wel ‘n grootskaalse gekierang met syfers is.

Die vermoede dat lidmaatskapgetalle gekook word is nie nuut nie, en ook nie tot die ANC beperk nie. Die opening van belangrike streek- en ander kongresse is al erg vertraag deur die akkreditasieproses, waar afgevaardigdes se lidmaatskapbesonderhede nie met sentrale rekords strook nie.

Die gebruiklike gekierang vind op verskillende maniere plaas:

  • Kapitaalkragtige persone of instansies werf lede en betaal hul lidmaatskapsfooie. Dié mense is dan wettig lede, maar nie werklik betrokke nie, en gee bloot meer stemkrag aan afgevaardigdes uit die takke.
  • Spooklidmaatskap word uitgedeel aan mense wat nie werklik bestaan nie. Dit behels egter dat die mense wat die ouditproses behartig, kop in een mus moet wees omdat lidmaatskapsvorms dan nie geteken is nie, of nie bankstempels wat die betalings bevestig het nie. Dit is glo wat nou in Mpumalanga gebeur het.
  • Gevalle is ook al beweer dat die staat se amptelike “kosmandjies” teen hongersnood en armoede, skielik kort voor sulke verkiesings versprei word, en wel deur die vertakking van die ANC wat  een van die leierskandidate steun. Voor Pholokwane was bewerings volop dat Zuma-ondersteuners die meevallers in die Vrystaat versprei het – en selfs talle plase bereik het.

In die berig van M&G wys die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Matashe, egter daarop dat daar nog geen klagtes ontvang is nie. Hy gaan dus ook nie daarop reageer nie. Maar as daar selfs net ‘n element van waarheid in die kierangbewerings steek, sou amptelik kla nie help nie, en moontlik teenspoed kon beteken.

Dit is ‘n ongesonde simptoom van wat al dikwels ‘n de facto-eenpartybedeling  genoem is – met ander woorde waar die saakmakende opposisiepolitiek grootliks binne die ANC afspeel, wat uiteraard baie gebrekkig is.

Die bekende Theo Venter noem dit in Rapport ‘n eenparty-dominante partystelsel. Hy verklaar dit as ‘n geval van waar die land voldoen aan al die minimum voorwaardes vir ’n volwaardige demokrasie, maar dat een party so oorheers dat ander partye weinig kans het om sukses by die stembus te behaal. Venter lig egter die probleme uit van hoe ‘n “bevrydingsparty” tipies in ‘n demokrasie funksioneer:
”Deur die politieke mag te bekom word die bevrydingsparty die nuwe politieke establishment en sy politieke leiers die magselite. Hul politieke prosesse word oorheers deur hoofsaaklik vier kragte: ­institusionele verandering (die beheer oor die magsentrums van die staat soos die weermag, wetgewing en howe), deelname en uiteindelike beheer oor die ekonomie, die bestuur van politieke en sosio-ekonomiese verwagtinge en die deurlopende voortsetting (selfs uitbouing) van die bevrydingsideologie wat gestalte vind in nuwe simbole, nuwe geskiedenis en die romantisering van die bevrydingstryd.”

Volgens die meeste aanduidings is Zuma taamlik verseker van ‘n herverkiesing die einde van die jaar. Sou daar egter vermoedens wees dat hy weens ‘n gekierang die pyp gerook het, sal dit ‘n wrang smaak laat en die land se beeld vir die ganse volgende termyn skaad.

Dit is in die land se belang dat die bewerings van geknoei onafhanklik en deeglik ondersoek word. Almal, lid of nie lid van die ANC nie, gaan help betaal aan die prys van ‘n ongeloofwaardige verkiesing, veral teen die agtergrond van agterdog dat die stryd teen korrupsie hoofsaaklik teen opponente gevoer word, en maatjie-kaders ruim baat.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae