Nuuskommentaar: Lawwe Lulu se ABC-les

Lulu Xingwana. Foto: GCIS

Gister is die minister van finansies se begrotingsrede gelewer, en gister was die eerste voldag waarop Suid-Afrikaners op die kuberruim kon lostrek oor die nuus dat hulle al lank onwetend donkievleis ingejaag word. Trouens, die donkievleisstorie het oorsee op ‘n daggrondslag ‘n vergelykbare hoeveelheid nuusdekking gekry as die wat met die Oscar Pistoriussage die geval was. Baie lede van die buitelandse media is immers nog in Suid-Afrika en Suid-Afrika is pas in die wêreldarena goed belig.

Maar die fokus van baie van die nuusmedia en die openbare deelname in die kuberruim was by ‘n minister vir wie omstredenheid niks nuuts is nie. Die onderwerp was ‘n opmerking op Australiese TV, die ABC, waar Lulu Xingwana juis oor die Pistorius-geval ‘n onderhoud gevoer het. Die volgende woorde het die bohaai veroorsaak:

“Jong Afrikanermans word in die Calvinistiese geloof grootgemaak en glo dat hulle ’n vrou besit, ’n kind besit, alles besit en daarom mag hulle daardie lewe neem omdat hulle dit besit.”

Die strieming van Lulu het uit die hele spektrum gekom. Steve Hofmeyr het getwiet Lulu se uitsprake is soos donkievleis in roomys. Max du Preez het ingeval met Lulu Xingwana: Fifty Shades of Boerehaat. Vryburger van Die Burger het haar gelooi en sommer weggeval met die eerste Liewe Lulu-grap van die sage.

Later die dag, na die storm reeds baie gemeenskapsbrûe platgeveeg het, het Lulu onvoorwaardelik om verskoning gevra. As (Calvinistiese) Christene is die onus nou op die slagoffers van haar losbekkigheid om te vergewe.

Ongelukkig is daar nog ‘n belangrike tirade waarvoor ‘n onvoorwaardelike verskoning uitstaande is, naamlik haar woeste Kerkplein-aanval in 2007 op boere. Sy was toe minister van Landbou en Grondsake. In die aanval het sy boere onder meer daarvan beskuldig dat hulle herhaaldelik hul werkers verkrag en aanrand. Dit was gebaseer op ‘n enkele insident in die Wes-Kaap, wat toe boonop in ‘n polisieverslag aan die regering maande tevore al as vals bevind was. Trouens, die klaagster het tot bekering gekom en die betrokke boer om vergifnis gevra. En, in die politiek het van ‘n mens se opponente soms ongemaklike geheues, en dié insident is deur die Christen-Demokratiese Party (CDP) in sy vastrap van Xingwane in herinnering geroep – en dit is deur verskeie media gedra.

Dié geval het daartoe gelei dat beide Agri SA en TLU SA uit samesprekings gestap het, en destydse president Thabo Mbeki moes probeer bemiddel.

Later, as minister van kultuursake het sy ook by ‘n kunsuitstalling wat sy moes open uitgestorm. Sy het verduidelik dat die uitstalling immoreel was, maar presies wat haar aanstoot gegee het is steeds onseker. Volgens bespiegelings het homoseksuele uitbeeldings haar aanstoot gegee.

Uiteindelik is sy, wat eens as adjunk-minister van minerale en energie vir groot dinge bestem was, tot die mees junior portefeulje van minister vir vroue, gestremdes en kinders “gereduseer.”

En gister was nie Lulu se dag nie. Vroeër die dag is sy deur LP’s, insluitend LP’s van die ANC, teruggestuur om die brouwerk in ‘n verslag oor haar departement wat voor ‘n parlementêre oorsigkomitee moes dien te gaan regmaak. Boonop is sy pas in die media gelooi oor ‘n geheime departementele verslag wat op growwe onreëlmatighede in haar departement dui.

Die bohaai oor haar breedsprakigheid op Australiese TV was die spreekwoordelike laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het.

Daar is belangrike ABC-lesse te leer uit die hele insident:

–       Die Afrikaner het veral ten opsigte van die buiteland nog ‘n lang pad om te loop om hom in die oë van die wêreld as ‘n minderheidsgemeenskap te vestig wat soos ander minderhede van die wêreld beskermbare minderheidsregte ingevolge die volkereg moet geniet. Met baie buitelandse joernaliste in die land en die oë op Suid-Afrika gevestig, het die donkiestorie bykans elke koerant of belangrike radiostasie gehaal, maar Lulu se stelling oor die Afrikaner is buite die landsgrense met ‘n effektiewe swye gegroet – beoordeel uit ‘n kubersoektog. Afrikanerdiplomasie mag dus nie, selfs na die suksesse van einde 2012 verslap word nie, en elke Afrikaner se rol as ambassadeur is uiters belangrik

–       Dit was gister vroeg reeds duidelik dat politieke partye wat Afrikanerstemme volgende jaar in die oog het, Lulu in geen onduidelike terme nie die kop moet was.  Oor bykans die hele spektrum het partye, groot en klein, die minister gelooi. Die CDP was die eerste party uit die blokke, na AfriForum die vorige dag die storie “gebreek” het, gevolg deur die Afrikanerbond. Deur die loop van die dag het die Vryheidsfront Plus, Cope en die DA (twee keer), onder meer gevolg. Waar die DA fout gevind het met die skuldigbevinding aan haatspraak van Julius Malema oor sy omstrede sangtalent, het dié party deur die loop van die dag twee keer, deur verskillende woordvoerders, die mond goed oor Xingwana uitgespoel. Onder die partye wat nié uitsluitlik op swart stemme ingestel is nie, was die ACDP ‘n opmerklike swyger. Dr. Mamphela Ramphele se swye kan ook ‘n knou vir die vestiging van ‘n breë basis vir haar politieke aspirasies wees. Die kwessie kan in vele opsigte ‘n waterskeidingsaak vir die politieke rol van die Afrikaner word.

–       Die ANC self, het soos te wagte is, geswyg, maar dit is moontlik dat hoë druk in die party Lulu later tot ander insigte gedwing het. Die indruk wat swak politieke leiding, veral ten opsigte van minderhede, bly egter onverbiddelik aan die ANC kleef en sal by voortgesette swye verdiep.

Deur verskoning te vra, beteken egter nie dat Lulu nou ministersmateriaal word nie. Haar geskiedenis as minister in verskeie stoele tel teen haar, en die chaos wat nou in haar huidige departement blootgelê word onderstreep bloot die persepsie dat sy moeilik suksesvol iewers heen herontplooi kan word.

Die vraag of die Afrikaner nog oor ‘n saak kollektief kan dink en reageer, is nou ook beantwoord. Die rol as katalisator wat instansies soos Solidariteit en AfriForum hierin speel kan moeilik oorskat word. Soos by alle volke is daar ook andersdenkendes, maar dié wat in die kuberruim dwars getrek het, is met groot getalle “dislikes” en weinig “likes” begroet. Dis nie ‘n baie wetenskaplike manier van die stand van sake bepaal nie, maar gee darem ‘n aanduiding. Partye wat verkies het om te swyg kan verwag om die impak aan ‘n verlies aan Afrikanerstmme te voel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Berita Drescher ·

Wys jou nou net oral waar hul gaan is hierdie soort onwaarhede die eerste wat hul kwyt sal raak…..enige iets om die boeregemeenskap in n swak lig te stel en die fokus van hul onbekwaamdheid en korrupsie van regering te probeer wegsteek maar………….niemand mag dit aan hulle doen nie……dan is dit oorlog. Het Lulu nou vir een minuut gedink dat wat ookal sy kwyt raak in Aus nie deur SA media en die res van die wereld gehoor sal word nie……sy is DOF!

Bessie Joubert ·

Ek is n afgetrede apteker en moet altyd met swart vroue klandisie praat as hulle probleme het. Die meeste van hulle se GROOTSTE vrees is om besmet te word met die HIV-virus, selfs deur hulle eie eggenote.Hulle voel totaal kwesbaar en “uitgelewer” . Toe ek hulle vra waarom hulle dan onbeskermde seks toelaat ( almal weet van kondome ), se hulle hulle het geen sê oor hulle eie liggame nie = hulle mans het “LOBOLA” vir hulle betaal, hulle is hulle mans se “eiendom” en die mans kan met hulle doen NET WAT HULLE WIL !!!! Hulle het ook geen sê daaroor as hulle mans nog n seksuele verhouding met 20 ander vrouens het nie, hulle is aan die genade van die man oorgelaat ! En as hulle met HIV besmet word, is die doodsvonnis ook oor hulle uitgespreek.
Dit is nou weer n geval van as jy jou vinger vir iemand wys, wys daar ten minste drie van jou eie vingers terug na jouself !

Koos ·

Ode aan Liewe Lulu
O Liewe Lulu
Dis tyd dat jy gaan doe doe
Jou onsin spoeg net voodoo
Jou breintjie is so toe toe
Jou verkoning weeg nie swaar
En word ook nie aanvaar
Die stank aan jou die klewe
Van rassisme wat jy lewe
O Liewe Lulu
Dis tyd dat jy gaan doe doe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.