Nuuskommentaar: Pot ? aan die einde van die reënboog?

Oud-president Nelson Mandela

Oud-president Nelson Mandela se opname in die hospitaal op 94-jarige ouderdom, en die heruitsending van ‘n ou insetsel oor sy vrou se hartsontboeseming aan die media oor hoe hartseer dit is om die glinster uit sy oë te sien verdwyn, laat baie Suid-Afrikaners met die vraag: “Wat gebeur met die reënboog wanneer Madiba die dag nie meer daar is nie?”

Op die radikale uiterstes is daar vrese soos dat die nag van die lang messe gaan aanbreek, tot dat Suid-Afrika internasionale beeld finaal as hopie stof by die deur uitgevee gaan word. Mandela, waarskynlik meer as enige ander persoon, word geassosieer met die ideaal van die reënboognasie. Hierdie idee word deur verskillende mense verskillend vertolk, maar saamgelees met die ANC se Vryheidsmanifes beteken dit eenvoudig dat die heterogeniteit van die land as bate ontwikkel moet word, dat dié entiteite in harmonie moet saamleef, en soos ‘n reënboog saam ‘n pragtige eenheid moet vertoon.

Dit is ook een van die hoofredes waarom Mandela internasionaal as ‘n ikoon van versoening beskou word.

‘n Analis sal egter ook sy professie versaak as hy  nie, al is dit hóé polities inkorrek, daarop wys dat daar ook ander persepsies by sommige mense van Mandela is, wat hom (steeds) as terroris beskou wat nié weens bywoning van die Kinderkrans lewenslank tronk toe gestuur is nie. Die land ly steeds onder die sleureffek van die aanstel van onhebbelike swak ministers, soos in onderwys.

Hoewel Mandela self as ‘n versoener bekend staan, het hy waarskynlik nie genoeg gedoen om dit ook as nasionale bate onder al sy kabinetslede en ander leiers in die ANC op te eis nie. Van die mees verbete rassiste is op Mandela se wagbeurt in die staatsdiens en elders losgelaat wat hulle met oorgawe op wraak teen blankes beywer het, en wat daarmee weggekom het. Hopelose swak ministers is vergeefs by Mandela verkla – sy kantoor het daardie klagtes doodgewoon na die ministers terugverwys.

Na sy aftrede as president het sy opvolgers onder sy neus sake dramaties anders laat ontwikkel. Die reënboog kan steeds uit enige kleur bestaan, solank dit swart is. Selfs die Afrikavisie is beperk tot ‘n swart Afrikavisie en die uitsluiting van byvoorbeeld die Arabiese. Selfs regstellende optrede het in ‘n stelsel van rasbegunstiging oorgegaan waar die toets van die individu nie meer plek het nie, sodat die swart seun van ‘n miljoenêr steeds weer bevoordeel word ten koste van ‘n arm, blanke of bruin weeskind. Die SEB-riglyne word deurlopend meer en meer verskerp sodat dit doodgewoon naakte rassisme behels.

Emeritus-Aartsbiskop Desmond Tutu het met Mandela se mees onlangse verjaarsdag, skynbaar sonder teenspraak, hartseer opgemerk dat Mandela se hart sou bloei as hy ten volle bewus was van die dinge wat (nou) gebeur. Wanneer Mandela sy volle greep op die werklikheid verloor het, sal ons waarskynlik nooit weet nie.

Henry Jeffreys skryf ook oor die impak van die verflenterde reënboog op bruin identiteit maar koppel dit, waarskynlik uit eerbied vir die siek Mandela, aan Tutu: “Op Stellenbosch (tydens ’n konferensie oor intellektuele tradisies, met spesifieke klem op bruin intellektuele) was daar by van die deel­nemers ook duidelike tekens van ’n terugval na etnisiteit en ’n soort nasionalisme – weg van die nie-rassige ideaal wat ek steeds glo ons historiese missie as nasie is. Dít is vir my die beste vorm van ‘identiteit’ – emeritus aartsbiskop Desmond Tutu se idee van die ‘reënboog­nasie.’  Soos wyle prof. Jakes Gerwel oor die teruggryp na etnisiteit en nasionaliteit gesê het: ‘Dis alles goed en wel, solank dit net nie neerslag vind in en ’n nuwe, verdelende etniese bewustheid voed nie.’ Ons moet ophou om teen die reënboog te baklei.”

Dié betrokke konferensie het plaasgevind teen die onbedoelde agtergrond van die afsterwe van prof. Jakes Gerwel, en die opportunistiese voetwerk van ‘n paar bruin leiers soos Marius Fransman en Tina Joemat-Pettersson om die leemte vul.

Uit verskeie oorde is die naam van die byna vergete Geraldine Fraser-Moleketi in die hoed gegooi, maar hoe die kwessie van bruin identiteit en leierskap by Madiba se reënboogideaal inskakel is ‘n onderwerp op sy eie.

Sou Mandela, as hy wel ten volle bewus was van wat aangaan, steeds sy kruisie by die ANC getrek het? In verlede Sondag se Rapport laat Zelda Jongbloed self die vraag los: “Ek kan nie help om in hierdie dae te wonder hóé die groot demokrasie-ikoon, oudpres. Nelson Mandela, in die 2014- algemene verkiesing sal stem nie. Met sy hart en emosie vir sy party of met sy verstand vir sy vaderland? Gesonde verstand sê vir my dit moet sekerlik pynlik wees vir enigiemand wat so ’n lang en intieme pad met die ANC loop om te sien hoe die vaste fondamente wat deur die stigters van die party gelê is, bietjie vir bietjie uitgekalwe word. Of om die eens trotse en internasionaal gerespekteerde ANC, geëer en as voorbeeld voorgehou van versoening en vergifnis, deesdae te sien aanploeter onder die leierskap van sekerlik een van die swakste leiers tot nog toe.”

Binnelands, so lyk dit, gaan min verander as Madiba die dag nie meer daar is nie. Dit lyk of die ANC se huidige leierskorps die ondersteuners van Mandela gekaap het. Diegene wat nader aan Mandela se intellektuele dampkring gestaan het, is eintlik lank reeds wees gelaat deurdat Mandela, anders as oud-president FW de Klerk, hom na sy aftrede prakties aan die aktiewe politiek onttrek het.

Dit is jammer dat Mandela nié saam met FW as bewakers van die nasionale vredesakkoord aktief gebly het nie. Daar is talle geleenthede verpas, soos die onsensitiwiteit waarmee naamsveranderings aangepak is en die reënboogkleure gepolariseer het. ‘n Veroordeling van plaasaanvalle sou ook baie gedoen het.

Mandela is wel deeglik deur die ANC as verkiesingsinstrument ingespan, soos TV-beeldmateriaal wat wys hoe hy maar elke keer weer sy kruisie by die ANC trek. Die tydsberekening van die onthulling van ‘n reuse Madiba-standbeeld in Bloemfontein hou opsigtelik verband met die opeis van Mandela se nalatenskap vir verkiesingsgewin.

Mandela se ikoonstatus is so groot en word wyd as bate beskou dat dit nie net die ANC is wat hard probeer om die nalatenskap op te eis nie – ook ander partye soos die DA maak daarop aanspraak dat hulle die eintlike vaandeldraers van sy nalatenskap is.

Met die huidige siekte van Madiba het daar ongelukkig ook weer die minder aangename geblyk. Eers het ‘n Dakota met lewensverlies van 11 in gure weer neergestort, na berig word met medisyne vir die siek Madiba aan boord. In ‘n gelekte ouditeureverslag blyk dit dat Mandela ‘n spartelende Jacob Zuma, na sy afdanking as adjunk-president, met ‘n R1 miljoen uitgehelp het. Van die mees omstrede name wat dieselfde gedoen het, word in dieselfde verslag genoem, waaronder ‘n Franse wapenvervaardiger wat reeds bewysbaar by die wapenskandaal betrek is.

Die werklikheid is dat daar geen volmaakte persoon ter wêreld is nie.

Maar ‘n analis sal ook naïef wees om te glo dat die wêreld se media sal ophou om Madiba as foutlose ikon voor te stel wanneer die dag kom dat die nuus breek dat hy nie meer met ons is nie. Hy sal selfs nog meer in foutlose statuur styg, en in die proses die teenstelling selfs duideliker stel dat oor waarmee Suid-Afrikaners dan opgeskeep sal sit – heel moontlik steeds Zuma.

Dan, in die oë van die wêreld skuif die donker wolk finaal voor die laaste glinstering van die reënboog in.

Maar al lê daar in haas elke beduidende nuuskantoor huldeblyke gereed vir finale afronding en plasing vir wanneer die onafwendbare die dag gebeur, Madiba is as persoon nog met ons, dalk nog ‘n paar jaar, en sy ikoniese status sal nog langer voortleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tante Afrikana ·

Een druppel reen breek nie droogte nie – een man kan nie ‘n nasie bou nie. Jammer Madiba, jou pogings was klaarblyklik vergeefs.

Don Clifford ·

laat ons dit nie uit die oog laat , dat die ALMAGTIGE GOD n veel kleurige ras op aarde geplaas het , met alles tot ons beskikking om eenheid en vrede te bewerkstellig, maar dit is die valse profete onder die mensdom wat weet dat dit hul uit die kussings gaan lig , as mense gelukkig saam lewe . Maar DIT is die dag van God en Hy laat hom nie voorskryf word deur enige van SY skepsels nie , Sy Wil geskiet vandag meer as enige ander tyd, iemand wat vrede en beskaafdheid terughou sal duur betaal op aarde en die hemele . Geestelikke en wetenskaplikke Geleerdheid moet onnosele idees uitwis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.