Nuuskommentaar: Regstellende aksie nou na grondwethof

Renate Barnard

Die polisie se beleid van rasbegunstigde bevoordeling gaan nou na die grondwethof op appèl geneem word na die arbeidsappèlhof téén Solidariteit  beslis het.

Die arbeidshof het reeds in 2010 in Solidariteit se guns beslis in die saak van kaptein Renate Barnard, wat twee keer aansoek gedoen vir dieselfde pos en elke keer deur die onderhoudpaneel as die mees gekose kandidaat aanbeveel is, maar op grond van haar velkleur nie aangestel is nie. Ná die derde keer wat sy vir die pos aansoek gedoen het, is dit geskrap.

Intussen het dit die langste en bekendste saak oor “regstellende aksie” in die land se geskiedenis geword.

Dr. Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit, het in reaksie gesê: “Die appèlsaak wat Barnard en Solidariteit verloor het, is net een geveg in die groter stryd teen die onbillike toepassing van regstellende aksie in SA.”

Regstellende aksie, of in Engels, “corrective action” volgens Cahalia, Davies, Maduna en ander, moet nie met “affirmative action” verwar word nie. Lees volledige uiteensetting hier.

Slegs een ander land, Maleisië, het ‘n beleid van regstellende aksie ingevoer om ‘n meerderheid te bevoordeel. In daardie land is die Maleisiese bevolking veral ekonomies deur die Chinese en ander minderhede gedomineer.

Die Maleisiese model word wel dikwels bespreek al het Maleisië weinig van die internasionale verdrae onderteken wat op regstellende optrede gemik is. Die Maleisiese model was nie op die benadeling van die Chinese (en in ‘n mindere mate die Indiërs gemik nie) maar op die ekonomiese bemagtiging van die Maleiers en ander inheemse groepe. Chinese en Indiërs het byvoorbeeld volle burgerskap gekry en die grondwet het enige diskriminasie teen hulle verbied. Chinese maatskappy is in effek verplig om 30 persent van hul aandeelhouding deur verkope of nuwe uitgifte in Maleiers se hande te plaas, en universiteite het ook etniese kwotas gekry om aan te voldoen. Singapoer, met sy Chinese meerderheid het egter weggebreek wat die ontleding van die impak van die sosiale ingenieurswese bemoeilik, en in 2003 is universiteitskwotas afgeskaf.

Elders in die wêreld gaan dit om sekere maatreëls om minderhede ‘n gelyke kans te bied teen meerderhede wat die politieke en ekonomiese mag beset. Dit word ook gereeld in howe uitgedaag, en dit is duidelik dat howe ongedurig is met ‘n gebrek aan sonsondergangsklousules. Dit word ook dikwels misbruik, soos om te ontdek ‘n oergrootjie was eintlik ‘n Rooihuid, en nou op ‘n kwotapos aanspraak te maak.

Die kern van die saak is dat “regstellende aksie” sy grondwetlike begronding vind in die verbod op onbillike diskriminasie, onder meer op grond van ras en geslag. Hoewel alle regte in die Handves van menseregte beperk mag word, bepaal die grondwet ook dat dit nie so mag geskied dat die oorspronklike reg – in dié geval die verbod op onbillike diskriminasie, in die proses ongedaan mag word nie.

‘n Tipiese voorbeeld oor ‘n beperking, is die beperking op bewegingsvryheid. ‘n Aangehoudene kan hom nie op sy reg op bewegingsvryheid beroep om huis toe te gaan nie – tensy sy naam natuurlik uit die kadersakkie ge-shaik word.

Die Barnard-saak gaan nou grondwetlike hof toe – ‘n hof wat ook van regspraak oorsee moet kennis neem. Dit is hoog tyd dat regstellende aksie of enige hibride-toepassing in die hof getoets word.

Dit stel uiteraard groot emosionele eise aan veral Barnard, en haar vermoë om vas te byt is bewonderingswaardig.

Soos Hermann, dit stel: “Hierdie saak gaan nie net oor Renate Barnard nie, maar ook om uitspraak te kry oor die nie-aangewese groep se reg op gelykheid en waardigheid, die absolute toepassing van rassedemografie en die balans tussen regstellende aksie en ’n effektiewe staatsdiens.”

Renate en Solidariteit het almal in die land wat die land se welvaart op die hart dra se steun nodig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Abotha ·

Hul nuutste is hulle maak die lewe hel vir ons kinders in die werk sodat hulle self bedank en dan stel hulle onbevoegde mense aan wat die besigheid in n val bring, dis bewys

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.