Nuuskommentaar: “SA is dik vir ANC”

Twee berigte in die naweek se Rapport vang die oog. Die eerste lui: “SA is dík vir die ANC” en die tweede: “ANC rassisties“. Maroela het gister ‘n berig, “Swart mense ‘baie kwaad’ vir die ANC” gedra.   

Dat baie Suid-Afrikaners boordensvol vir die ANC is, blyk uit die ritse protesoptogte wat boonop gewelddadig is, en wat pres. Jacob Zuma onlangs in Davos as “normaal vir ‘n demokratiese land” gaan voorhou het. Of die meerderheid Suid-Afrikaners so keelvol vir die ANC is dat hulle aanstaande jaar hul kruisies elders sal trek, sal stellig nog gesien moet word.

Dat baie mense, veral uit minderheidsgemeenskappe, die ANC as erg rassisties ervaar, is lank reeds nie meer ‘n geheim nie, maar dat dié kritiek nou uit ANC-takke self kom, is vir baie mense waarskynlik ‘n verrassing.

Die vraag kan stellig gevra word: “Nou wat soek hulle dan (nog) in die ANC?”

Baie lede van minderheidsgemeenskappe, van wie sommiges lank voor 1994 by die ANC betrokke geraak het, is meegevoer deur die mooiklinkende geluide van ‘n grondwetlike demokrasie, ‘n sterk handves van menseregte en respek vir menseregte, deursigtigheid, maatskaplike verantwoordelikheid, nie-rassigheid en so meer. Natuurlik het baie van die lede van minderheidsgemeenskappe via hul lidmaatskap van die SAKP, lid van die ANC geword. Trouens, vandag nog is baie van die bruin en Indiërlede, soos wit lede van weleer, Ronnie Kassarils en wyle Joe Slovo, ook SAKP-lede.

Baie is doodgewoon spreekwoordelike “nuttige idiote”, terwyl na 1994 baie ter wille van oorlewing, geleentheid en opportunisme lid geword het.

En natuurlik is daar beginselvaste mense wat bloot nie besef Aladdin se towermat het onder hulle uitgevlieg nie. Dis nie uniek aan die ANC nie – dink maar aan ouma wat die dag na die destydse pres. PW Botha of ander leier iets aangekondig het, vir iemand wat dit herhaal as leuenaar uitmaak: “Ek was in 1958 sélf ‘n afgevaardigde by die kongres in Calvinia waar ons presies die teenoorgestelde besluit het.” En met daardie oortuiging is ouma graf toe.

Onder die belangrikste dokumente wat toon dat die ANC dié beeld waarmee hy so lank die wêreld kon oortuig aan die verloor is, is die verslag van Human Rights Watch vir 2012, wat pas bekend gestel is. Verlede jaar word as een van die mees uitdagende jare vir die beskerming van menseregte sedert 1994 beskryf. Drie kommerwerwekkende sake word uitgewys – die voorgestelde snoerwet, die wetsontwerp op tradisionele howe wat die regte van landelike vroue erg sal inkort, en die polisie se hantering van die Marikana-skietery.

Dat die ANC se “vakansie” wat dit by die buiteland geniet het toe dit in 1994 aan bewind gekom het aan die uitloop is, blyk nou al ‘n paar jaar duidelik. Die afgelope twee jaar het Suid-Afrika sommer met 14 plekke op die korrupsie-persepsie-indeks teruggesak, en pas op die persvryheidsindeks met tien plekke.

Suid-Afrika het nie net ‘n baie hoë werkloosheidskoers nie, maar volgens die Wêreldbank die hoogste inkomstegaping ter wêreld.

Volgens adv. Paul Hoffman, direkteur van die Instituut vir Verantwoordbaarheid in Suider-Afrika,  het Suid-Afrika sedert 1994 R675 miljard aan korrupsie verloor, en jaarliks gaan nog R30 miljard weens die regering se tenderstelsel verlore.

Die mense wat die meeste ly, is presies die groot gros van hulle wat die ANC met hul kruisies keer op keer oorweldigend aan bewind plaas.

In plaas daarvan om die stembus te gebruik om veranderings aan te bring, word proteste gehou wat toenemend gewelddadig raak.

Suid-Afrika het baie eienskappe in gemeen met eenpartybedelings, en in die besonder wat genoem word, de facto-eenpartybedelings. Dit is waar die grondwet veelparty-demokrasie waarborg, maar opposisiepartye om ‘n verskeidenheid redes eintlik irrelevant is, of glad nie bestaan nie. Kenia van oud-president Jomo Kenyatta was ‘n voorbeeld waar opposisiepartye verbied is soos hulle in terme van die grondwet ontstaan het.

Sulke state se burgers se individuele vryhede word gewoonlik erg ingeperk, en van burgerlike regte soos persvryheid wat by ‘n grondwetlike demokrasie inbegrepe is, is daar min sprake. Openbare protes word gewoonlik gou hard onderdruk, en die tronke is dikwels vol mense wat dissidente-stemme verteenwoordig. Trouens, op bykans enige gegewe stadium is daar joernaliste in aanhouding op klagtes wat uiteindelik tot doodsvonnisse kan lei, terwyl Iran gereeld in die nuus is oor dissidente, dikwels uit minderheidsgemeenskappe, wat kwistig die doodstraf opgelê word.

Maar hoe reageer ‘n regering en ‘n gemeenskap wat in die praktyk leef van ‘n land waar die regerende party al hoe meer soos ‘n regering op sy eie in ‘n eenparty-bedeling optree, maar die burgers (nog) baie grondwetlike regte soos stemreg en regte van openbare protes het?

Die ANC speel doodeenvoudig die rassekaart, en slaan die tamboer van African Afrikane. Minderhede binne en buite die ANC raak vervreem. Die (gewelddadige) protes is op die oog af tekenend van ‘n gemeenskap wat die regering afpers op enige manier anders as om hul stemreg te gebruik.

Diktature soos dié van Saddam, Ghaddafi, Assad en Noord-Korea het dit in gemeen dat die bevolking van ‘n alternatiewe werklikheid gevoer word. Nie alleen is presvryheid gou ‘n slagoffer nie, maar die “openbare media” word in wese propaganda-instrumente.  En in Suid-Afrika word hard probeer om die snoerwet op die wetboek te kry, terwyl His Master’s Voice lustig kiesers in feitlik elke uithoekie van die land bedien.

‘n Tweede eienskap van sulke diktature is die inbind van die leiers van stamme, wat tradisioneel nie juis voorbeelde van demokrasie is nie. Omkopery en begunstiging is ‘n algemene manier om hulle in te bind. En jou werklik; die wetsontwerp op tradisionele howe is in die pyplyn. Dit het, objektief gesproke, geen kans om die grondwetlike hof te oorleef nie, maar tradisionele leiers kan sien die regering het darem na hul pype probeer dans.

‘n Opvolgkonferensie in die vorm van ‘n bosberaad word beplan vir die konferensies waar die stellings gemaak is dat Suid-Afrika keelvol is vir die ANC. Dit is deur die FW de Klerkstigting aangebied, en die tema was “Verenig agter die grondwet.”

Dit is lank nie meer net ‘n “regse standpunt” dat die grondwet gebrekkig is nie, maar dit is ook ‘n feit dat minderhede nie dit wat die grondwet wel bied, behoorlik inspan, of probeer inspan nie.

In daardie opsig staan die minderhede dikwels saam met “die meerderheid” agter die deur. Waar “die meerderheid” hul ontevredenheid uitdruk deur die grense van die grondwet binne ‘n eenparty-konteks tot die maksimum te beproef deur onder meer (gewelddadige) proteste, sal minderhede dikwels hul frustrasies  via kommentare op die internet uitblaker – dikwels in kru taal.

Dink net welke enorme energie verlore gaan – ‘n energie wat positief gerig kon word as dit fatsoenlik en konstruktief deur burgerlike instansies soos Afriforum en Solidariteit gekanaliseer word – en natuurlik opposisiepartye.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Henry ·

Theres only 1 place where I would love to see everybody in the anc……………IN JAIL and throw the keys away………….Thiefs from top to bottom!!!!

Berita Drescher ·

Die ANC sal hierdie land heeltemal vernietig …… hopelik gaan die oe oop van die mense wat elke dag ly onder hul hand met lee beloftes wat tog niks van sal kom as daar van 1994 nog geen teken van konstruktiewe veranderinge in hierdie mense se lewens is nie. Maak die kruisie teenoor die regte party in 2014 en proe die verskil!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.