Nuuskommentaar: Soustrein getakseer en te swaar bevind of verkiesingsbegroting?

Minister Pravin Gordhan lewer sy begrotingtoespraak. Foto: GCIS

Minister Pravin Gordhan lewer sy begrotingtoespraak. Foto: GCIS

Die verslankingskuur wat vir die berugte Suid-Afrikaanse soustrein beoog word, mag te min te laat wees, en dit mag empiries gesproke meer van simboliese waarde wees, maar dit stuur wel die regte seine na die vuisvoos burgers en beleggers in die buiteland uit. Of is die publiek al te vuisvoos van mooi woorde wat net woorde bly?

Daar is wel positiewe reaksie. Of altans, so lyk dit geoordeel aan die meeste van die reaksies wat op gister se sogenaamde mini-begroting ontvang is.

Die realiteite wat uit hierdie begrotingsrede blyk, skeur ook klinies die absurdhede van Malema se EFF se “beleid” af. Vroeër die dag het koerante nog ‘n stuk geplaas oor die “beleid” van die EFF, waarin in tipiese Malema-retoriek verkondig word hoe ryk die land aan natuurlike hulpbronne is, en dat die armoede die gevolg van die opskep van hierdie rykdomme deur ‘n klein groepie is.

Die harde werklikheid is dat die staat se inkomste uit mynbelasting van sowat R22 miljard na R12 miljard gekrimp het.

Om perspektief op slegs een aspek te gee. Die inkorting van byvoordele vir die kabinet alleen gaan ‘n besparing van R15 miljoen teweeg bring, terwyl as dit na die ganse owerheidsektor uitgebrei word, R2 miljard sal bespaar. Die besparing maak maar ‘n vyfde uit van dit wat die staat minder uit mynbelasting kry.

Die simboliese boodskap is egter duidelik. In die VSA en ander lande word die term “obsene inkomste” en “obsene loongaping” al hoe meer ingespan om die verskynsel te beskryf. Die probleem is dat dit die werkers wat nie deel in hierdie goudpot nie, ook die bod vir beter besoldiging laat insit, wat dan kollektief winsgewendheid onder druk plaas, en boonop dikwels met ontwrigting van produktiwiteit gepaard gaan. En uiteindelik krimp die staat se inkomste.

Politieke partye se reaksies kan soos volg saamgevat word:
– Verligting oor die maatreëls om die soustrein te verskraal, en verwyte dat dit nou eers gedoen word.
– Verligting dat die begrotingstekort kleiner is as wat verwag is
– Dat die mini-begroting in pas is met die doelwitte van die nasionale ontwikkelingsplan
– Die minister moet ook korrupsie en vrugtelose uitgawes behoorlik laat hokslaan. Dit sluit in dat geld wat na provinsies en munisipaliteite dividende moet lewer eerder as om, soos nou, in bodemlose putte van vermorsing, korrupsie en wanbesteding gestort te word.
– Maatreëls moet ingestel word om die produktiewe sy van die ekonomie te stimuleer.
– Die mini-begroting gaan gebrek aan die voorstel van praktiese maatreëls om inhoud aan die doelwitte te gee, wat boonop onsekerhede laat oor die koers wat oor belangrike aspekte ingeslaan gaan word.

Terwyl sommige waarnemers, veral in die dampkring van die ANC, reageer asof die mini-begroting te goed vir woorde is, is daar ander perspektiewe. Solidariteit meen dit is op ʼn onvolhoubare model van begrotingstekorte, groeiende regeringskuld en swaar belasting gebaseer. Volgens minister Pravin Gordhan sal byna 10% van volgende jaar se begroting aan skulddelgingskoste bestee word. Volgens Piet le Roux, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, slaag die begrotingsraamwerk nie daarin om die groei van die Suid-Afrikaanse welsynstaat genoegsaam in te perk, regeringskuld in te kort en broodnodige verligting vir vuisvoos belastingbetalers te bring nie. “Dit is ontmoedigend om te hoor hoedat Gordhan planne voorlê vir ‘n vlak van maatskaplike besteding wat belastingbetalers lankal reeds besef het ʼn vermorsing van geld is en nie lewenstandaarde in Suid-Afrika volhoubaar kan verbeter nie.”

In demokrasieë staan die begrotings voor verkiesings as verkiesingsbegrotings bekend, en juis dan word die ministers van finansies se begrotingsredes nie sommer deur die opposisie en objektiewe ontleders vir soetkoek opgevreet nie. Terwyl sekere aspekte duidelik bog is wat vir die kiesers se ore bedoel is, neem dit gewoonlik langer om tussen die lyne te lees en veral om te sien of die regering enigsins daad by die woord voeg – veral as die verkiesing eers verby is.

Dus sal daar bedenkinge wees of daar wel soveel gordel ingetrek gaan word, en of dit meer ‘n sagmaakproses is omdat daar skadebeheer toegepas moet word oor onverklaarbare duur luukshede soos Nkandla en duur oorsese vakansies waarvoor die publiek opdok – wat minstens bydra daartoe dat nuwe rolspelers soos Agang SA en die EFF kan steun trek.

Die regering het ‘n deeglike reputasie dat “regrukaksies” soos om munisipaliteite op dreef te kry dadels oplewer. Die amptelike kaderbeleid is nie net ongrondwetlik nie, dit dwarsboom selfs die beste planne ooit, en juis daarom sal opposisiepartye die valkoë wawyd oop moet hou om te sien waar die positiewe aspekte van die mini-begroting nie realiseer nie, en die kiesers gemaan word om katvoet te loop vir bekpraatjies waar die boodskap na die hande wat moet uitvoering gee kortsluitings maak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, Nuuskommentaar, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Jasper ·

Hoe stop jy n”Soustrein” met drywer wat self in die sous swem ?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.