Nuuskommentaar: Tronkstraf oor klimaatsrampe

Die koepel van Santa Maria del Suffragio wat in die aardbewing vernietig is.

Tronkstraf oor aardbewing

Die tronkstraf wat ses Italiaanse seismoloë opgelê is na hulle versuim het om ‘n aardbewing te voorspel wat in 2009 die dood van meer as 300 mense in die Italiaanse dorp L’Aquila veroorsaak het, maak opslae.

Suid-Afrika beleef wel minder rampe as gevolg van aardbewings, maar rampe soos vloede kos lewens, terwyl oeste weens droogtes verdor. Is die weervoorspellers nou aanspreeklik?

Toe die wetenskaplikes in 2010 in Italië aangekla is, was daar reeds ontsteltenis, en 5 000 wetenskaplike van oor die hele wêreld het ‘n petisie geteken om dit duidelik te maak dat aardbewings nie voorspel kan word nie.

In die VSA, waar groot stede soos San Francisco en Los Angeles naby aan die San Andreasfout geleë is, is dit heel voorspelbaar dat Amerikaanse wetenskaplikes alles in hul vermoë sal doen om aardbewings te voorspel. Ook Japannese wetenskaplikes, en wetenskaplikes in ander wêrelddele waar die moontlikheid van aardbewings groot is, probeer om aardbewings te voorspel.

Kan aardbewings en tsunami’s voorspel word?

Maar aardbewings voorspel is geen eksakte wetenskap nie, en sal waarskynlik nooit wees nie. Verskeie instansies probeer wetenskaplik aardbewings in Japan voorspel, maar sit gewoonlik die pot mis. Een instansie het vroeër vanjaar ‘n groot aardbewing vir Tokio voorspel, maar dis dieselfde instansie wat verlede jaar voor skudding van M 9 die moontlikheid van ‘n grote in die  Fukushima-gebied afgemaak het. Dié aardbewing was sowat 8 000 keer sterker as die een wat Christchurch kort tevore verwoes het.

Die USGS boor onder meer boorgate in die San Andreasfout en sekondêre stelsels om drukverskil en spanningsvlakke te meet. Aardbewings wat met die San Andreasfout geassosieer word is gewoonlik vlak, en selfs minder as ‘n kilometer diep. Die sterkste aardbewing sedert die naweek in Kalifornië, wat M 5,3 gemeet het, was egter nege kilometer diep en sulke boorgate is nie kinderspeletjies nie. Terwyl die artikel geskryf is, het ‘n aardbewing van M 5,9 die Isuzu-eilande van Japan getref, en het 438,5 kilometer onder die oppervlak ontstaan. Sulke boorgate is ondenkbaar. By Fidji is aardbewings wat meer as 600 kilometer onder die oppervlak ontstaan algemeen. ‘n Betreklike ligte aardbewing wat na-aan die oppervlak ontstaan kan veel meer skade aanrig as ‘n baie sterk aardbewing diep onder die oppervlak. Kwaliteit bouwerk, soos in Haïti, Turkye, Spanje, Griekeland en Iran speel ook ‘n groot rol.

Verwarring word ook dikwels veroorsaak omdat die mees gesaghebbende bron, die USGS wêreldwyd die moment-magnitudeskaal (M-skaal) gebruik om die sterkte van aardbewings te meet. Sommige lande gebruik nog die Richterskaal, en Suid-Afrika die afgelope paar jaar ‘n aangepaste Richterskaal. Die verskillende skale meet verskillende elemente en daarom is daar nie ‘n eenvoudige formule om die sterkte van een skaal na die ander om te reken nie. Joernaliste neig dus dikwels om ‘n skudding wat op die M-skaal aangegee is as die Richterskaal aan te dui en maak so aardbewings veel sterker of swakker as wat hulle werklik was.

Die tipe materiaal waaruit die seebodem saamgestel is, speel volgens ‘n navorsingsverslag ‘n rol om te bepaal hoe groot die kanse vir ‘n tsunami is.

Agtergrond tot L’Aquila

Jon Bardin van die Los Angeles Times meen die Italiaanse wetenskaplikes sou waarskynlik nooit aangekla gewees het as dit nie vir ‘n nuuskonferensie was nie. Die agtergrond was dat daar ‘n ruk voor die skudding van M 6,3 wat die dood en verwoesting gesaai het, ‘n aantal ligte trillings was. Die regering wou weet of dit dalk op ‘n grote kan dui, en het die paneel van seismoloë en burokrate aangewys om die saak te ondersoek.

Die kommer van die regering was geregverdig aangesien verwoestende aardbewings in die 15de en 18de eeu in die omgewing voorgekom het. Kort voor die aardbewing is ‘n vergadering gehou om die saak te evalueer, en na die vergadering ‘n perskonferensie. By dié perskonferensie het ‘n burokraat, wat nou ook tronkstraf opgelê is, pertinent gesê dat die trillings wat gevoel is geen gevaar inhou nie, en selfs grappenderwys gesê die mense kan gerus met ‘n glasie rooiwyn gaan ontspan.

Die aanklaers het dit pertinent daarteen gehad dat die seismoloë nie aangedui het hoeveel geboue kon intuimel as ‘n beduidende aardbewing die omgewing sou tref nie.

Die wetenskaplikes op die paneel het egter wél in hul verslag aanbeveel dat die boustandaarde in die omgewing weens die algemene gevaar van aardbewings strenger gemaak moet word en toegepas word – iets wat nie musiek in die ore van burokrate was nie.

Wetenskaplike meen Italië sal dit nou moeilik vind om in die toekoms wetenskaplikes te vind wat bereid sal wees om op panele te dien, omdat hulle die gevaar loop om weens hul bevindings in die tronk te beland.

Die wetenskaplike beoog om appèl aan te teken.

Aanvanklik is gemeen die verhoor is meer simbolies van aard, en om die weg vir siviele eise oor te berei. Die tronkstraf het dus skokgolwe uitgestuur.

Die meeste aardbewings, en veral die grotes, kom op of naby die grense van die tektoniese plate van die aardkors plaas. Dié grense is nie net ver van Suid-Afrika af geleë nie, maar boonop beweeg daardie plate weg van Suid-Afrika wat nie so maklik groot aardbewings oplewer nie.

Volgens ‘n onlangse navorsingsverslag is ‘n nuwe tektoniese plaat aan die ontwikkel. Dit is omdat die westelike deel van die bestaande plaat waarop Indië is stadiger beweeg as die oostelike waarop Australië is, omdat Indië teen Eurasië bots.

Klimaatsrampe

Met klimaatsveranderings wat intree, meen wetenskaplikes dat daar minstens in die oorgang onstabiele weer sal wees.

Die afgelope twee jaar word tornado’s  in die Oos-Vrystaat as normale weerverskynsels beskou, maar die dood en verwoesting wat dié winter gesaai is, is as ongewoon beskryf – onder meer juis omdat dit in die winter voorgekom het.

Voorafkennis is noodsaaklik. Na die oorstromingsramp in New Orleans het Nederland die sterkte van sy dyke op nuut laat ondersoek en vasgestel dat dit nie so sterk is soos wat gemeen is nie. Enorme bedrae word nou benodig om dit genoegsaam te versterk – al is die dyke nou sterker as ooit voorheen in die geskiedenis.

‘n Staat wat nuwe stedelike ontwikkeling stimuleer in ‘n gebied wat aan die verdor is, soek moeilikheid.

Wêreldwyd word navorsing gedoen om gewasse te ontwikkel, en vergete gewasse af te stof om steeds goeie oeste te behaal in gebiede wat aan die warm en droog word is. Beter boerderymetodes en beter gewasse het met vanjaar se groot Amerikaanse droogte ‘n herhaling van die sogenaamde Dust Bowl-jare voorkom.

Al hoe meer Suid-Afrikaners begin om in die hoop om akkurater weervoorspellings te kry, buitelandse weervoorspellings te gebruik. Die Noorweegse Weerdiens  se voorspellings vir Suid-Afrika is veral weens die akkuraatheid gewild.

Een van die metodes wat gebruik word om nie net akkurater weervoorspellings te ontwikkel nie, maar ook vas te stel hoe aardverwarming die klimaat wêreldwyd gaan raak, is deur spesialisvelde van die paleontologie en argeologie. Daar het selfs ‘n spesialisveld, kosmoklimatologie  ontstaan. Dwars oor die wêreld word opgrawings gedoen en ander tegnieke ingespan, om vas te stel hoe die klimaat in die verlede daaruit gesien het, en die mens se reaksie daarop te bepaal. Dit lyk al hoe meer of periodieke droogtes daartoe bygedra het dat die Mayas van hul manjifieke stede verlaat het. Die Noormanne het hul Groenlandse kolonies weens die klein ystydperk verlaat, en so het die kolonisasie van Noord-Amerika ook ten einde geloop, en is eers weer ongeveer 500 jaar later na Columbus se “ontdekking” van die vasteland voortgesit.

Of dit genoegsame data sal oplewer om Suid-Afrika se weervoorspellers uit die sop te hou, sou hulle met dieselfde maatstawwe as die Italiaanse seismoloë gemeet word, is nie vir die afsienbare toekoms … voorspelbaar nie.

Sowat ‘n dekade gelede het weerkundiges ‘n goeie somerreënseisoen in Suid-Afrika voorspel omdat die berugte El Niño verswak het … maar voor die oestyd is reeds landswyd bidure vir reën gehou.

Die baie diep gelowige Siener van Renburg het gereeld in eenvoud, as iemand hom as kristalbalkyker probeer inspan het, gesê dat “die tye en geleenthede alleen by God bekend is, en dat selfs nie engele in die hemel weet nie.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae