Nuuskommentaar: Twee rye spore

Min binnelanders wat hulle onderweg na ‘n vakansie see toe op ‘n Saterdagoggend tussen die wingerde op die Overhexpad om Worcester bevind het, het hulle nog nie gesien nie … iemand wat skynbaar baie vrolik met die bottel in die hand met twee rye spore “reguit” op die aankomende motor aangewals kom.

Sommige mense loop met Bacchus se hulp twee rye spore, maar die meeste mense loop spreekwoordelik twee rye spore deur die lewe – die een spoor op die silwer randjie gefokus, die ander op die donker wolk.

In dieselfde omgewing as waar die “vrolikes” die motors so tegemoet wals is die voorkoms van fetale alkoholsindroom baie hoog.

Die huidige padslagting plaas weer die fokus op ‘n groot probleem – alkohol.

Volgens ‘n voorlegging van die Padverkeersveiligheidskorporasie toon toetse in verskeie provinsies daarop dat sowat 25 persent van die bestuurders van motors wat in noodlottige ongelukke betrokke was, alkohol of ander middels ingeneem het.

Dit is egter nie die volledige prentjie nie. Volgens die Mediese Navorsingsraad is die syfer veel hoër – 59 persent vir bestuurders, en 61 persent van die voetgangers.

Daar is ‘n regstreekse statistiese verband tussen die aantal mense wat per  jaar per 100 000 van die bevolking in ‘n provinsie vir dronkbestuur  aangekeer word, en die provinsie se padsterftes per 100 000 van die bevolking. Met ander woorde, hoe minder wetstoepassing vir dronkbestuur, hoe hoër die padsterftes.

Terwyl die matige gebruik van wyn in die Bybel aangeprys word, word die oormatige gebruik daarvan ook skerp veroordeel. In die lied van Psalm 80:3 word die vestiging van Israel in die Heilige land selfs met die wingerd vergelyk: “U het vir ons ‘n land berei, ons uit Egipte uitgelei. U het ons uit die verre land as wingerdstok hier oorgeplant. Van wes na oos het dit sy loot, van noord na suid ver uitgestoot.”

Aan die begin van die nuwe jaar is dit ook gepas dat elke persoon besin oor die dubbel ry spore wat hy of sy deur die lewe stap. Is die fokus op die donker wolk, of die fokus op die silwer randjie?

Gaan ons brom oor alles wat verkeerd is, en hande gevou staan, of gaan ons, soos Kallie Kriel in Rapport voorstel, doenmense wees wat help om dinge beter te maak?

In verskeie onlangse strokiesfilms is daar voorstellings van ‘n manier hoe die mens van die werklikheid na ‘n ander wêreld kan beweeg. In die Narnia-reeks gebeur dit deur die agterkant van ‘n hangkas. In Monsters Incorporated gaan die monsters deur die hangkaste se deure na die mense se wêreld om eers kindergille, en later kinders se gelag te gaan haal. Die kat, Garfield, glip ook uit die strokieswêreld na die werklike wêreld en ‘n groot reddingsoperasie word vanuit die strokieswêreld geloods om hom te gaan haal. In een van die Ice Age-reekse bied ‘n tydelike skeur in die ys toegang tot ‘n ander wêreld waar dinosourusse nog leef.

Die grootmense doen dit ook. Hoe ‘n groot ontsnappingsinvloed moet die sepies nie hê as staatsinstellings rolinskrywings in sepies moet koop om belangrike boodskappe oor sake soos deelname aan die sensus te bemark nie? Behoorlike nuusdekking in koerante, radio- en TV-nuus het eenvoudig nie die gewenste uitwerking nie.

In die werklike lewe is sulke strokiesontvlugtings nie moontlik nie. Drank en dwelms as middel om te ontsnap verdiep nie net die ontvlugter se probleme nie, dit maak die lot van afhanklikes dikwels ondraaglik. Alkohol word as depressant beskou, en die afhanklike moet telkemale meer gebruik om dieselfde euforie te bereik.

Nie almal wat hulle aan drankmisbruik skuldig maak is verslaaf daaraan nie. ‘n Opname ‘n aantal jare gelede deur die Vrystaatse rugby-unie onder lesers van Die Volksblad het bevind dat die meeste wat nie meer graag gaan rugby kyk nie, dit nie wil doen nie oor die gedrag van dronkes op die pawiljoen. Veral gesinsmense wil nie hul vroue aan die walglike gedrag blootgestel hê nie, en ouers wil nie dat hul kinders die swak voorbeeld sien wat “volwassenes” stel nie. Ruim borgskappe weeg egter swaar op teen groter, en gelukkiger toeskouergetalle.

Dit is nie net Kriel wat die opsies van keuses stel om die fokus op die regte ry geestelike spore te laat val nie. Vanoggend spandeer Die Burger in ‘n diepsinnige hoofartikel, Watter verskil kan ‘n mens nou eintlik maak? ook aandag hieraan: “Die éérste stap is dat ons – individue, ék – anders sal dink, núút. Oor onsself, ons omgewing, die jaar wat voorlê. Daar begin – of eindig! – alles. Die vreemde, dalk tragiese, is dat Afrikaans nie ’n term ken vir Umdenken nie. Om-dink bestaan nie. Be-dink, oor-dink, her-denk beteken almal iets anders. Nuut dink, anders dink, ja, maar dis omskrywings. Sê dié gebrek aan ’n woord dalk al self iets?”

Skroef die kop reg aan, en kies die regte ry spore, wat steeds diep in die harde werklikheid getrap word.  Deur harde werk word die onmoontlike dikwels moontlik.

En hou die woorde van wyle dr. Anton Rupert in die agterkop: “Hy wat nie in wonderwerke glo nie, is nie ‘n realis nie.”

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae