Ekonomiese vryheid: Manuel of Malema?

Daar is nou al heelwat die laaste ruk bespiegel oor “ekonomiese vryheid”. Dis ʼn redelik wollerige term wat verskillende konnotasies vir verskillende mense het. Ek wil derhalwe na die verskillende vertolkings van ekonomiese vryheid kyk, waar hierdie verskillende vertolkings toegepas word en wat die toedrag van sake met elke siening se voorstander(s) is.

Flip Buys het voorverlede week melding daarvan gemaak dat ekonomiese vryheid deur opleiding en onderwys verwesenlik word. Dus: Rus jouself goed toe sodat jy kan werk en vir jou self sorg. Diegene in die regering wat saam met hom stem, sluit in die finansminister Pravin Gordhan, beplanningsminister in die presidensie, Trevor Manuel, en ook adj.pres. Kgalema Motlanthe. Hierdie regeringslui het almal die afgelope ruk kortweg in verskeie openbare forums klem op selfgenoegsaamheid, minder afhanklikheid van die staat, die handhawing van die vrye mark en beter beleggersvertroue gelê. Dus word beleggers deur hierdie here die vryheid gegun om te belê, die indiwidu word bemagtig om sy eie koers vir sy lewe te bepaal (natuurlik ondersteun deur ʼn doeltreffende, maar nie inmengerige, regering) deur sy eie vindingrykheid, harde werk en vryheid, en besighede word vrygemaak word van die bykans drakoniese regulasies om sake te doen en mense in diens te neem (en swak werkers af te dank).

Daarteenoor het Julius Malema, afgedankte leier van die ANC-Jeugliga, ook ʼn optog vir ekonomiese vryheid in Gauteng gehou. Sy idee van vryheid behels die oorneming van mynmaatskappye deur die staat sodat die winste aan die hele bevolking versprei kan word en die gryp van wit mense se grond, eiendom en geld met dieselfde gedagte. Natuurlik is Malema nie bereidwillig om sy eie Sandton-meenthuis, karre, besighede met tenderkontrakte en dergelike luukshede te laat herverdeel vir die groter geheel se materiële welstand nie.

Sy idee van rykdom is eweneens uit pas met hoe rykdom elders geskep is. In elke menslike ontwikkelingsindeks lê sekere lande konsekwent bo of min of meer bo en ander min of meer altyd onder. In Noorweë, Hongkong, Nieu-Seeland en Finland is die bevolkings goed geskoold, opgelei, tegnologies-bedrewe, welaf, lewe hulle langer en funksioneer die staat uitstekend om sodoende die burgerlike samelewing, arbeidsektor, sakesektor en die land as geheel glad te laat werk. In ʼn onlangse praatjie by die Vryemarkstigting se kantore is daar ook melding gemaak van die feit dat hierdie lande ook die vryste is om in besigheid te doen. In Hongkong en Australië word die regsoewereiniteit die beste gerespekteer, die grense is oop om besigheid met die res van die wêreld te doen, eiendomsreg word sonder voorbehoude gerespekteer en belastings is laag. Ongetwyfeld is hierdie die soort lande waarna Buys, Manuel en Gordhan streef in hul planne.

Daarenteen is lande soos Angola, Zimbabwe, Noord-Korea en Venezuela die keersy van hierdie situasies en bevind hulle hulself deurgaans onderaan hierdie indekse. In hierdie state word die indiwidu ontmagtig deurdat die staat in byna elke geval in sy werk inmeng, al die vrugte van sy arbeid steel, hom van die reg ontneem om eiendom te besit en handel te dryf en word die persoon onderskik gestel aan ʼn nasionale ideologie waarby hy moet inpas of ernstige gevolge in die gesig staar. In Angola het reeds sedert 1975 ʼn Marxistiese regering, die land se lewensverwagting is slegs 31,8 jaar, meer as 50% van die land se bevolking is ongeletterd, brandarm en werk in primêre en laags besoldigde sektore soos die landbou terwyl die staatsverval in ʼn gevorderde stadium is. Die storie van Zimbabwe is welbekend en sedert Hugo Chavez allerhande bedrywe en myne in Venezuela begin nasionaliseer het, het Venezuela op al hierdie indekse met groot spronge teruggesak.

Hierdie modelle is waarop Suid-Afrika afstuur as Malema sy sin kry. Niemand ontken dat daar groot ongelykhede in Suid-Afrika is nie, wat grootliks op ʼn rassegrondslag geskoei is. Maar deur van een groep te vat en dit bloot vir ʼn onkundige groep te gee, gaan bloot die probleem vererger omdat die bates, eiendom en geld slegs met kundigheid en vryheid bestuur kan word. Dit is die rampspoedige resep wat Noord-Korea, die destydse Sowjet-unie en Zimbabwe te beurt geval het. Noord-Korea se mense krepeer van die hongerte, die Sowjet-unie is so dood soos ʼn mossie en Zimbabwe het helfte van sy bevolking verloor weens emigrasie.

As mens na hierdie twee “kampe” se paadjies kyk, kan jy sien wie het die regte besluite geneem. Buys is die uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, wat tans gesamentlik meer as 160 000 lede het en ongelooflike welslae vir sy lede en Afrikaners in den breë behaal. Gordhan, ʼn man wat ek al persoonlik ontmoet het en na my mening ʼn ontsaglike intellek het, is die minister van finansies van die land en word hoog geag in ons plaaslike sakesektor asook in die buiteland. Manuel hou die leisels vas by die nasionale beplanningskommissie en het sopas ʼn gesaghebbende dokument vir die land se ontwikkeling uitgereik wat as rigsnoer vir die land se ekonomie in die toekoms gaan dien. Buitelandse beleggers, die Weste en die sakesektor bid dat Motlanthe die volgende president word.

En Malema? Hy is geskors uit die ANC (hangende sy appèl), is nie meer die ANC-Jeugleier nie, sy politieke vriende het hulle van hom gedissosieer en sy toekoms lyk bleek. Sy en die organisasie wat hy gelei het se politieke volhoubaarheid is net so dood soos die Sowjet-unie sʼn.

Manuel en Malema se lewens is dus die presiese weerspieëlings van hul onderskeie vertolkings van “ekonomiese vryheid”. Die keuse tussen Manuel en Malema is die keuse tussen demokrasie en dwingelandy, sukses of mislukking, vryheid teenoor afhanklikheid en ook tussen moderniteit en agteruitgang. Ek vir een is baie bly om te sien Manuel se weergawe geniet nou groter steun binne die ANC en die land.

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae