Nuuskommentaar: Adriaan Basson versus die ANC

Adriaan Basson Foto: @AdriaanBasson, Twitter

Adriaan Basson Foto: @AdriaanBasson, Twitter

“The lady doth protest too much, methinks.”

Dié aanhaling uit Shakespeare se Hamlet kan net so van toepassing gemaak word op Zizi Kodwa van die ANC se koddige reaksie op ‘n rubriek van Beeld se redakteur, Adriaan Basson. Onder die opskrif, Hoe raak ons van Zuma ontslae?, het Basson drie moontlike opsies aan die orde gestel.

Kodwa se reaksie val veral vreemd op omdat Basson nie werklik met iets nuuts vorendag gekom het nie. Veel erger Zuma-bashing is al ‘n geruime tyd aan die gang, onder meer in programme soos RSG se Kommentaar, terwyl staatsregslui al aan heelwat besprekings deelgeneem het waarin besin is oor wettige maniere om van Zuma ontslae te raak – en veral die vraag oor watter opsies die grondwet bied.

Trouens, daar was al pogings om ‘n mosie van wantroue teen Zuma te stel, en daar was al ‘n poging om Zuma in ‘n staat van beskuldiging te plaas.

Voorts kom Kodwa se reaksie na dit inderdaad begin lyk het of die ANC besig is om Zuma op die een of ander manier uit te rangeer. Zuma se huidige mediaprofiel is nou hoofsaaklik dié van ‘n ere-diplomaat en seremoniële staatshoof wat geleenthede open. Waar hy wel in die aktiewe binnelandse politiek betrek word, is dit in sake waar hy vreeslik graag sou wou makeer – soos die spioenasiebande-kwessie wat (al weer) in die appèlhof gaan draai het, en die voortslepende Nkandla-sage.

Trouens, Maroela was waarskynlik die eerste van die media wat hierdie skynbare statutêre staatsgreep teen Zuma onder die loep geneem het, en dit is hierna al verskeie kere weer gedoen. Dit het byvoorbeeld reeds op 20 Maart 2012 onder die loep gekom, en daarna weer op 10 Mei 2012.

Bekendes, waaronder dr. Barney Pityana, het al goed gemotiveerde oproepe gedoen dat Zuma self die aftog moet blaas. Geen doekies is omgedraai oor hoekom dit nodig is nie.

Nou hoekom juis nou so heftig reageer?

Dit lyk nie of dit die ANC gepla het toe die rubriek in Beeld verskyn het nie, maar toe dit vertaal in die City Press verskyn het, was die gort gaar. Die City Press word deur veral ANC-ondersteuners gelees, en Kodwa het dit ervaar as sou daar nou ‘n briesende slang in die midde van ANC gegooi gewees het.

Hierdie reaksie beteken allermins dat daar geen waarheid in steek dat daar nou aan ‘n uittog vir Zuma gewerk word nie. So iets, bekend as ‘n “exit strategy” of ietwat sinies, ‘n “uitvaart-strategie” (omdat “uitvaart” dikwels in Nederlands vir genadedood van mense gebruik word) sal egter baie versigtig hanteer word om Zuma se politieke heengaan met die grootste moontlike waardigheid te laat geskied – ter wille van hoofsaaklik die ANC se eie beeld en om nie verdeeldheid daaroor in die ANC as erfenis te laat nie – en dat Zuma nie met sy jis in die tronk beland nie.

Om laasgenoemde te bereik sal daar heel moontlik ‘n ooreenkoms met die opposisie gesluit moet word, sodat huidige regsprosesse om Zuma sy dag in die hof te besorg – soos die spioenasiebande-kwessie – nie buite-om hierdie strategie dinge in die wiele ry nie.

Trouens, die morele debat of Zuma se politieke uitvaart aan ‘n soort amnestie gekoppel kan word, word reeds dikwels gevoer, en die algemene antwoord is dat so iets nié moreel regverdigbaar is nie.

Het Basson se rubriek in die City Press nie net dalk die lig gesien juis toe belangrike knope in die “exit strategy” deurgehaak moes word nie?

Die gevare in Kodwa se skrywe lê elders. Hy beskryf die rol van die media as, onder meer, die bevordering van konsensus. Dié konsensus bring hy in verband met die feit dat 11 miljoen mense drie maande tevore vir Zuma (eintlik die ANC) gestem het. Hy beskuldig Basson egter daarvan dat hy die ANC se standpunt oor die vryheid van meningsuiting misbruik om demokrasie te ondermyn.

Dat die vrye media se deelname aan die demokratiese proses egter in hoofsaak die weergee van politieke diversiteit is, ontgaan Kodwa.

Wêreldwyd, onder meer in Nederland weens pro-Paletynse en selfs pro- of teen-IS-optogte, en in die VSA met die rasse-onluste in Ferguson, het verskeie senior politici na die rol van die media verwys. Die versugting kan onder twee begrippe saamgevat word – verantwoordelike joernalistiek, en verantwoordbare redaksionele beleid. In die VSA dui peilings skynbaar ‘n regstreekse verband tussen veral koerante se redaksionele beleid en hul geloofwaardigheid aan. Eie politieke agendas word deur die lesers gestraf.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Dr Pieter van der Dussen ·

Nogal grappig, die beskuldiging, terwyl Basson se Tlokweoptrede vir Hoofkommunis Nzimande die pad geopen het om eindelik op deursigtige wyse die NWU volledig in sy mag te kry, met inagneming dat Kommunisme op die ver-verlinkse plek staan. Is dit juis Basson se groot sonde teen Zuma dat hy Nzimande bevoordeel het dat hy nou van anti-Zumaisme beskuldig word?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.