Nuuskommentaar: Afrikaans as transformasiebederwer?

Foto: Argief

Foto: Argief

Dit woel (en brand) op kampusse. Op die tradisionele Afrikaanse kampusse word (tans) nie gebrand nie, maar dit kook wel, tot so ’n mate dat die rektor van die Noordwes-Universiteit hom nou ’n kriminele klag op die hals haal omdat hy lede van ReformPUK aangemoedig het om aan te hou veg. Sy woordvoerders het laat weet hy het nie “daardie soort veg” bedoel nie, maar waar gedreig is om die kampus onregeerbaar te maak is dit moeilik om ’n ander soort veg as “daardie soort” in te dink.

ReformPUK se eise is dat weggedoen word met Afrikaans en dat die waardige Totius se standbeeld verwyder moet word, byna soos die aandrang dat Rhodes se standbeeld by Ikeys verwyder moet word. Ook Open Stellenbosch se eise sluit in dat Afrikaans as onderrigtaal volledig deur Engels vervang moet word. By Kovsies word eersdaags besluit of dié kampus eentalig Engels word.

Dit sal moeilik wees om nie opsommend woorde in Johanna van Eeden, hoofredakteur van Media 24 se Afrikaanse koerante, se rubriek vandag in haar koerante te lê nie, en dit sal onbillik wees. Die opskrif is Transformasie oor meer as net taal. Oor wat die werklike bedoeling van transformasie is, word nou al weens die aaklige, rasdiskriminerende manifesterings erg gedebatteer. Johanna beskryf dit soos volg: “Transformasie is nie getalle of teenwoordigheid nie, dit is deelname, eienaarskap en ’n gevoel van behoort.”

In haar slotparagraaf belig sy haar siening waarskynlik duideliker: “Hoe gouer ons besef dit gaan nie oor Afrikaans nie, maar oor die skep van ’n Suid-Afrikaanse gemeenskap waarin almal tuis voel – geanker in ’n gedeelde waardestelsel van nierassisme – hoe nader behoort ons aan ’n oplossing te kom.”

Die kwessie aan die bod is dat sy argumenteer dat dit nie primêr oor ’n aanslag teen Afrikaans handel nie, maar oor ’n gevoel van uitsluiting. Om aan die regering se vereistes oor kleur te voldoen, word beurse toegeken aan studente wat nie by ’n kampus se kultuur inpas nie, en daar word ook nie voldoende voorsiening gemaak vir dié feit nie. Dit veroorsaak ’n gevoel van uitsluiting, wat uitdrukking kry wanneer die “vreemdes” ’n kritiese massa bereik.

Johanna is reg oor die kritieke massa. By Kovsies is die kritieke massa in koshuise selfs in die vroeë dae nadat swart studente toegelaat is empiries bepaal. Alles was rustig totdat die empiriese massa (gestel 30 persent) bereik is en eise begin instroom het en die swart studente kultuurkoshuise gevra en uiteindelik gekry het. Met die bereiking van ’n tweede kritieke massa – toe swart studente ’n numeriese meerderheid kon kry en domineer, is weer met kultuurkoshuise weggedoen.

Kultuurkoshuise, indien die kwessie ontras kon word, kon wel in terme van die grondwet en internasionale reg oor minderheidsregte verskans word, maar dit druis teen transformasie in. Dit sou altyd veroorsaak dat transformasie pynlik doringagtige turksvye sou kraam.

Of Afrikaans werklik die “probleem” is of nie, dit manifesteer so. Max du Preez het onlangs selfs in ’n rubriek breedvoerig uitgewei oor hoekom hy meen die Afrikaner self van Afrikaans ’n groot struikelblok gemaak het.

Die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, begin ook al meer wegskram van Afrikaans as probleem. Bontpratery deur die minister veroorsaak egter dat ontleders traag is om waarde aan bepaalde uitlatings te heg. Volgens ’n berig in vanoggend se Volksblad het Nzimande pas die volgende gesê: “Niemand baklei teen Afrikaans of die Afrikaanse kultuur nie. Wat die taal en kultuur egter moet weet, is dat die twee (Afrikaans en Engels) moet bestaan in ’n multi-kulturele en veeltalige samelewing. Dit is die werklikheid van Suid-Afrika.”

Of ReformPUK en Open Stellenbosch egter gaan inval by die minister se woorde moet nog gesien word, tensy hulle reken hulle val onder die minister se kategorie van “niemand”. Want hulle maak dit duidelik dat hulle ’n aanslag teen Afrikaans van stapel stuur.

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, reageer vandag op Netwerk24 op Max se rubriek en sê dat Afrikaners en Afrikaanssprekendes nie die taal se grootste vyand is nie, maar wel stilswye.

Dit is reg dat die groter konteks bepaal word waarin die manifesterings plaasvind. Of veel vermag kan word deur die groter konteks aan te raak waar persepsies al dikwels feit geword het, is ’n ope vraag. Daarom is dit nodig dat die taalankers gewerp word waar ’n aanslag onder die vaandel van transformasie duidelik téén Afrikaans gemik word. Die ankers uitgooi beteken egter nie dat diplomasie nie ingespan moet word nie.

En laeprofiel-diplomasie soos die latere jare van die vorige bedeling gekenmerk het, sodat gesê is Suid-Afrikaanse diplomate hardloop regop onder ’n mat deur sonder dat hul hare deurmekaar gekrap word, is ook nie aangewese nie. So gaan Afrikaans (en by implikasie die grondwet) net ’n vyand bly.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Irene ·

Studente moet liewers leer as om te baklei vir taal. GOD het tale gegee en nasies gemaak kan sien sekere mense ken nie vir GOD of die WOORD nie. Mense julle moed nou wakker en aanbeweeg in suid afrika met klein skrif

chrisp ·

Ons hoef nie bekommert te wees nie, Volgens Jeanette(lojaal DA) dra die DA Afrikaner belange op die hart.Hulle sal dus vir ons intree!
Hierdie sal die DA mense se onsinnige stellings duidelik uitwys.
Kan nie wag nie.

rakker ·

Stem GLAD nie saam met die inhoud van die berig nie…..Nou word alles afgemaak as mense wat “konsuis” UITGESLUIT word……maar indien hul hul vingers klap moet almal spring….. Ons het ook regte, en een van my regte is om in my taal (waarop ek trots is) onderrig te ontvang…Engels is na alles nie eens hul moedertaal nie en BAIE van die mense is nie eens Engels magtig nie……

Bruno Stef ·

Die ironie van die hele aangeleentheid is dat daar nie tevredenheid onder die drukgroepe sal wees nie want die doelpale word die heeltyd verskuif.Dit is nou Afrikaans wat gesien word as die obstruksie maar sodra die taal aangeleentheid opgelos word sal daar nuwe eise gestel word. Die vryheid van assosiasie kan nie weggeneem word van groepe nie en om geforseerde assosiasie op die studente af te dwing is gelykstaande aan kommunisme.Die onderskeie drukgroepe moet leer om verdraagsaam te wees en mekaar se kultuur te respekteer.

Grassie ·

Bruno – jy is in die kol, net soos my Bruno (BRNO) jaggeweer wat na donkiejare se gebruik steeds in die kol is. Ek sien hierdie sg “taalstryd” as ‘n georkestreerde aanslag, wat uit Luthuli-huis bedryf word, op die Afrikaner se taal, kultuur en uiteindelik sy voortbestaan in hierdie land.

Koos ·

Alle tale en etniese groepe moet welkom en ingesluit voel op kampus. Dit sluit Afrikaners in wat nie sal welkom voel op ‘n engelse kampus nie. So wat gee engelse voorstanders se eise meer gewig as Afrikaners sin?

Flip Sadler ·

Ek dink dit was net voor die laaste verkiesing dat die regering belowe het dat nog 2 universiteite in Mpumalanga gebou sou word, wonder net of dit al gebou is of weer een van daardie lee beloftes !! Kan iemand dalk bevestig.

Bruno Stef ·

Die drukgroepe se vertrek punt is die Afrikaanse taal daarom sien hulle die uitwissing daarvan as n gelykmaker.Die persepsie van “Uitsluiting” al dan nie het alles te doen met n minderwaardigheids kompleks wat net met behulp van n sielkundige opgelos kan word,Dit moet onthou word dat die Afrikaner in die verre verlede ook sy dom honger dae beleef het en die Engelse base nie baie simpatiek gesind was nie MAW ons moes stilbly en geleerdheid bekom en ons self bewys het.Ek het nogal begrip vir sommige van hulle klagtes maar die verlede het my geleer steek eerste die hand in jou eie boesem.

Jan maak n Plan ·

Dit is darem ironies dat daar geen AFRIKAANSE protes aksies op sogenaamde engelse kampusse is nie. Ek wonder waaroor betoog hulle daarso.

johan ·

Hierdie betogings, stakings ens. word deur binnekringe van die regering aangevuur.

Johannes Meintjes ·

‘n Reenboog waarvan die kleure in ‘n modderige gemengde palet verander het, sal altyd met innerlike konflik worstel. Hou miskien maar die kleure onderskeidbaar en bou nuwe universiteite waar nodig. Onderrig in moedertaal is elke kultuurgroep se voorreg. Hoe jammer dat toe Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het daar nie reeds universiteite was nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.