Nuuskommentaar: Afrikaans en die jeug – transformasie versus die grondwet

Argieffoto

Argieffoto

Dit het as die groot Afrikaanse debat bekend geword. Werklike swaargewigte en aspirant-swaargewigte het op verskeie forums teen mekaar in die kryt geklim.

‘n Redelike wye deel van die politieke spektrum het hul stemme dik gemaak, met Adriaan Basson, redakteur van Beeld, wat waarskynlik die uiterste linkerhoede gedek het, met dr. Leon Wessels aan sy binnekant. Koos Bekker, vir baie waarskynlik verrassend, het aan die ander kant stelling ingeneem, met Flip Buys moontlik aan sy buitekant.

Aan die een kant transformasiedrywers, aan die ander kant diegene wat die toepassing van die grondwet wil sien neerslag vind. Natuurlik is transformasie nie veronderstel om ongrondwetlik te wees nie, maar dikwels word dit so toegepas dat dit gemeenskappe se grondwetlike regte aftakel. In hierdie artikel word met “transformasiedrywers” bedoel diegene wat die grondwet vertrap om ‘n rasbenepe transformasie op te dwing.

Omdat die PUK-kwessie as katalisator dien, sou verwag word dat meer jong mense hul stemme op gesaghebbende forums sou laat hoor het, veral teen die agtergrond dat dit vandag Jeugdag is.

“Sokker is eintlik ‘n moderne vorm van godsdiens,” sê die Nederlandse sosioloog, Ruud Stokvis. Hy beskryf die elemente van religie as vorming, binding en sin-gewing, en het die welsyn van die gemeenskap in die oog. Hy maak sy stelling oor sokker nie na aanleiding daarvan dat Nederland, bekend as Oranje, hul Spaanse aartsvyande in Brasilië met 5 – 1 geslag het nie, maar uit sy boek wat al voor die toernooi die lig gesien het, ‘Lege kerken, volle stadions’.

Toets die transformasiefilosofie soos dit dikwels op die kampusse neerslag vind aan die hand van Stokvis se kenmerke van religie, en dan is hierdie transformasievorm baie moeilik van ‘n religie te onderskei.

Trouens, spesiale kursusse word selfs aangebied om jong mense daarin te “skool.” Formele geleenthede en leuses word van gebede en verwysings na die Skepper gestroop. Die onverdraagsaamheid teenoor “andersdenkendes” toon boonop kenmerke van sterk fundamentalisme, al beroep die “andersdenkendes” hulle op die grondwet.

Sondag berig Rapport dat die US in September verlede jaar ‘n Transformasiesentrum op die kampus in die lewe geroep het, al het die raad die voorgestelde transformasiebeleid in geheel afgekeur. Die sentrum steur hom skynbaar nie daaraan dat daar geen transformasiebeleid is om te bevorder nie, en verwys op sy webwerf selfs na sy missie om die (afgekeurde) transformasiebeleid te bevorder – ‘n fout volgens die rektor.

Al is die meerderheid Afrikaanse moedertaalsprekers nie wit nie, word Afrikaans as taal “gestraf” as sou die gebruik daarvan verkeerd, onsensitief of selfs konflik-soekend wees, ongeag die grondwetlike beskerming wat dit (veronderstel is om te) geniet.

Op die kampusse wat klasse in Afrikaans en Engels aanbied, neig die Afrikaanse klasse om wit en bruin te wees, en die Engelse klasse om swart te wees. Wanneer ‘n Afrikaanssprekende student by ‘n Engelstalige inrigting gaan studeer, word hy as laf beskou as hy sê hy word uitgesluit omdat hy nie sy klasse in Afrikaans kan volg nie. Ry iemand by verskeie Engelstalige universiteite verby om by ‘n Afrikaanstalige universiteit op Engels aan te dring, is sy “uitsluiting” verkeerd.

Die interessantheid is dat presies dieselfde argumente wat transformasiedrywers aanvoer om transformasie deur te voer – naamlik die vermindering van konflik – elders in die wêreld, veral Europa, aangevoer word om diversiteit te erken, en dit is so in die internasionale reg vervat. Maroela se bespreking daarvan kan hier gelees word.

Die internasionale reg máák saak. Artikel 233 van die grondwet bepaal duidelik dat howe, wanneer dit wette uitlê, voorkeur moet gee aan ‘n uitleg wat in pas met die internasionale reg moet wees, bo enige ander uitleg wat nié met die internasionale reg versoenbaar is nie. Die transformasiedrywers “oorkom” die probleem dat die grondwet glad nie transformasie aanspreek nie, deur aan te voer dat die hele grondwet “ ‘n transformasiedokument is.” So ‘n stelling vereis egter ‘n baie selektiewe lees van die grondwet, want daar is minstens net so baie indien nie meer nie, bepalings oor gemeenskaps-, taal-, kultuur- en godsdiensregte in die grondwet. En wanneer transformasiedoelwitte dit probeer platloop, is dit ongrondwetlik.

In die proses manifesteer die transformasiedrywers se doelwitte in rasterme – met soms ‘n geslagsnagedagte om die raskern ‘n soet korsie te gee. Afrikaanssprekendes wat op ‘n ideaal van grondwetlike kultuur- en opvoedkundige regte aandring, frustreer hierdie rassebenepenheid.

Daar is ook ‘n koppie of twee asyn in die stryd ingeroer. By die PUK het Beeld se beriggewing en veral redaksionele standpunte die moermeter in die rooi laat loop. By Kovsies het Rudie Buys, die studentedekaan, se woorde en swye min of meer dieselfde vermag. ‘n Opname wat AfriForum-jeug op die kampus wou hou om studente se menings te toets is die kampus belet en daar was groot ontevredenheid dat dit toe buite die hekke gehou is. Die bedrywighede van politieke partye is opgeskort, juis terwyl daar ‘n duidelike groot behoefte is om Suid-Afrikaners politiek beter te skool. Tong is selfs vir donateurs uitgesteek. By Maties lyk dit of die Transformasiesentrum ‘n tikkende tydbom geword het.

Natuurlik is die saak kompleks, Die regering, wat die druk vir transformasie insit, hou ook die beursie en dit maak ontsettend saak.

Nie alle Afrikaanssprekendes voel sterk oor Afrikaans nie. Afrikaans ken sy hele bestaan lank die derdekolonners.
Sommiges sê hulle voel sterk oor Afrikaans maar ondersteun inisiatiewe om Afrikaans te sloop.

Die rasbenepe transformasiedrywers stuit skynbaar voor niks en sal selfs die mees absurde oproep om argumente te staaf, soos dat Afrikaans afgeskaal moet word om van ontgroeningspraktyke ontslae te raak. (Daar is skynbaar niks verkeerd met die oupa van ontgroeningspraktyke – die inisiasieskole nie wat jaarliks talle ongevalle eis).

Wat wel so is, is dat ontgroeningspraktyke wat, ten spyte van die uitdruklike verbod daarvan, hardnekkig voortgesit word stokke in die hande van die trasformasiedrywers plaas. Vir sommiges, so lyk dit, is die toepassing van ontgroening so onweerstaanbaar soos die vrugte in Trompie se dominee se boord. Om gevang te word beteken jy sal nie kan sit nie, maar die versoeking is te groot.

Die probleem met enige aksies wat stokke in die hande van transformasiedrywers plaas, is dat dit nie net die oortreders is wat gestraf word nie, maar die hele Afrikaanse gemeenskap. En dis ‘n moeilikheid waarsonder Afrikaans goed kan klaarkom.

Diegene wat hul grondwetlike regte op die kampus verlang, moet dit baie duidelik stel dat hulle hul taal en kultuur nie as meganisme aanwend om ander te vervreem nie, nog minder te benadeel nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Susan ·

Ja did is n moeilike situasie. Ons wil graag ons taal laat voortleef vir altyd. Die tranformasidryvers het n ander missie. Maar die laaste sin in die skrywe hierbo is baie belangrik.
.

Lynni ·

As dit nie vir Adriaan Basson, redakteur van Beeld se berig oor sogenaamde Nazi saluut was nie, was daar nooit ondersoek teen Pukke nie. Kyk op foto’s hoe netjies lyk dit by Pukke. Maar na dese seker nie meer lank nie. Hy sal nie sulke dinge van swart universiteite kwytraak nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.