Nuuskommentaar: Afrikaans ís die teiken, al sê Zoeloekoning ook wat

Universiteit van die Vrystaat Foto: UV, Facebook

Universiteit van die Vrystaat Foto: UV, Facebook

Zoeloekoning Goodwill Zwelithini het baie mense laat regop sit met gerapporteerde uitsprake oor sekere positiewe erflatings van apartheid en sy gesindheid teenoor Afrikaners, maar die vyande van Afrikaans op universiteite toon klaarblyklik geen sulke misplaaste sentimente nie. Hulle gebruik soms gesofistikeerde en kwasi-gesofistikeerde argumente om voorbrand te maak vir die koloniale taal Engels en by Kovsies het nog ʼn bastion van gelyke beregtiging met die neus in die grond geploeg.

Zwelithini is bekend daarvoor dat hy nie juis ʼn wag voor sy mond plaas nie. Te midde van berigte oor wat hy nou weer gesê het en ontkennings en verduidelikings, is dit wys om sy woorde bloot vaag kontekstueel aan te wend. In wese kom dit daarop neer alles van apartheid en die Boere (Afrikaner) was nie net sleg nie en die positiewe produkte daarvan, soos infrastruktuur en Afrikaner se respek vir hom, moet gekoester word. Moontlik oefen die koning net weer subtiele druk op die Zuma-regering uit om weer ʼn slag na sy vergoedingspakket te kyk.

Die koning is egter nie die eerste om soiets te sê nie. Ook Julius Malema het tydens ʼn vergadering by die eertydse Medunsa gesê nie alles wat apartheid voortgebring het, was sleg nie.

Maar kom dit by die regverdige beregtiging van Afrikaans by ʼn handjievol universiteite, is die visiere reeds opgestel.

As ʼn universiteit reeds volledig van A – Z tweetalig is sodat ʼn student sy hele studie van begin tot einde in Engels kan voltooi, gaan dit stewige argumente kos om enigeen te oortuig dit was nodig om Engels uit te brei en Afrikaans af te skaal.

Watter akademiese voordeel op die aarde kan daarin wees om Engels meer gelyk as Afrikaans te maak? Presies hoe gaan dit versoening in die hand werk?

Dis presies wat die Kovsiebestuur en die universiteitsraad nou probeer doen het. Die kritiek op hierdie besluit en dreigemente van staking van aftrekorders bons nou op die oog af weg van ʼn pantservel van selfvergenoegsaming.

Kovsies (Cophsees) op die Bult word nou skynbaar onafwendbaar. Aangesien die proses by die Kovsies grootliks buite sig plaasgevind het, sal daar ʼn neiging wees om die argumente vir verengelsing by die meer uitgesproke voorstanders van die uitbreiding van Engels by die PUK en veral die US te gaan soek.

Argumente soos Engels is die akademiese taal van die wêreld en met uitnemendheid gelyk gestel word, word egter getemper met bewyse dat ander tale, soos Nederlands en Duits, op sekere vakgebiede Engels die loef afsteek. Duitse en Nederlandse (en Chinese en Russiese en vele meer) akademici wat dan in elk geval ook Engels magtig is, het ʼn voorsprong bo hul eentalige Engelstalige kollegas.

ʼn Interessante Nederlandse artikel, Het onderwijs mag de huistaal niet vergeten, het pas in die koerant, Trouw, verskyn. Dit is geskryf deur Karijn Helsloot, projekleier vir taalbeleid en meertaligheid en Gerrit Jan Kootstra, dosent en konsultant vir taalontwikkeling by die Hogeschool Windesheim. Hul titels dui aan dat die sogenaamde verengelsingsproses in Nederland nie so algemeen is soos wat die voorstanders vir verengelsing hier te kenne gee nie.

Die artikel hanteer kortliks die gevaar van appels met pere vergelyk. In Nederland word ʼn magdom huistale gepraat. Inheemse tale soos Friesies (Frysk) en Brabants, word gepraat, maar mense wat van lande soos Turkye, Marokko, die Antille en vele ander kom, praat ook hul eie tale. Volgens die skrywers praat van ʼn derde tot die helfte van die leerlinge tuis ʼn ander taal as Nederlands.

ʼn Belangrike deel van die artikel wentel om hierdie paragraaf: “Recent onderzoek laat zien dat kinderen met gemak verschillende talen naast elkaar kunnen leren en gebruiken, dat het beheersen van meer dan één taal culturele en economische verrijking betekent, én dat het cognitieve voordelen heeft. En misschien wel het belangrijkste inzicht: ruimte geven aan de eigen taal zorgt voor emotioneel evenwicht en voor een positieve houding van de leerling zelf. Wanneer eigenheid wordt toegestaan, nemen veiligheid en welbevinden toe.”

Die skrywers se artikel is op die sogenaamde “basisskool” afgestem, maar die rol van universiteite word nie misgekyk nie. In wese word ʼn beroep gedoen op universiteite (wat in elk geval navorsing oor taal en taalverwerwing doen) om die hande uit te steek en onderwysers te help om die doelwitte van meertaligheid in klasverband te verwesenlik.

Die posisie in Suid-Afrika en Nederland verskil hemelsbreed, maar daar is ook genoeg raakvlakke om lesse uit te leer.

Dit raak egter veral besonder moeilik om enige akademiese rasionaal te volg as die motief agter die hele kwessie niks met akademiese voortreflikheid te make het nie, maar ʼn politieke (en dikwels ongrondwetlike) agenda dien. Wanneer ʼn proses deur transformania eerder as transformasie gedryf word. Wanneer taalmodes onder studente aan akademiese argumente gelyk gestel word, in plaas daarvan om die studente te skool om met die grondwet in gedagte te dink en redeneer. Wanneer ʼn dosent wat onwillig raak om dieselfde klas later in die ander taal te gaan herhaal, skielik baie ingenome raak met die gedagte van eentaligheid en dus die aanbied van die helfte minder klasse.

Mense wat in parallelmediumskole soos Paul Roos en Grey Kollege was, sal weet dat die blote plasing van leerlinge in verskillende klasse ʼn invloed het op sosiale verkeer gedurende pouses en vriendskappe buite skoolverband. Tog is daar ʼn sterk eendragtigheid op die sportveld en by ander byeenkomste en baie groot lojaliteit as ander skole die stryd aangesê word.

Wanneer presies dieselfde op ʼn parallelmedium-universiteit gebeur, is dit egter uit die bose en in stryd met transformasie. Presies hoe lank, voor dieselfde druk om te verengels soos ʼn ton bakstene op die beheerrade van parallelmediumskole neerkom en op volkome verengelsing aangedring word?

Dit is immers duidelik dat die voordele van meertaligheid geen punte tel nie.

Op die oomblik skep “Cophsees” se raad die indruk dat hy ʼn ruggraat het soos ʼn jellievis. Daar is geen verweer of verheldering oor die logika van die besluit wat geneem is nie en deeglik begronde vrae en kritiek bly onbeantwoord.

Of die neem van die besluit juis nou, noudat Akademia sy vlerke begin sprei, as wys gesien kan word, sal die tyd leer. As almal wat op sosiale media aangedui het hulle gaan hul aftrekorders kanselleer, dit inderdaad gaan doen, gaan die UFS gevoelige verliese ly, veral noudat tekorte nie deur verhoogde klasgelde verhaal kan word nie. As net die helfte van die diegene wat dan nou hul aftrekorders stop, dit aan Akademia skenk, word die lewensvatbaarheid van hierdie instelling aansienlik verhoog.

Die doel van die Solidariteit Beweging se Plan B is egter nie dat staatsondersteunde universiteite wat nou (probeer om) Afrikaans die rug toe (te) keer afgeskryf word nie, maar dat hard vir die behoud van Afrikaans geveg sal word. Lees gerus die voorsitter van Solidariteit, Flip Buys se verduideliking, Tien redes waaroor die geveg by universiteite gaan.

As die raad se besluit so onomkeerbaar sou blyk te wees soos die besluit om met die tradisionele Kovsieleuse, In Deo Sapientae Lux, weg te doen, dan is die rug toekeer die enigste opsie met selfrespek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Flippie ·

Ek het klaar versoek dat my ma’am van lus van alumni vewyder word en dat my UOVS kwalifikasies geskrap word.

Ek het bevestiging gegkry dat hulle gehoor aan my versoek gegee het.

Ek het na 7 suksesvolle akkademiese jare by Kovsies nou net matriek en 7 nuttelose jars verwerf.

Dirk Breytenbach ·

Veels geluk! Ondersteun voortaan asb. Akademia.

Flippie ·

Ek het klaar versoek dat my naam van lys van alumni vewyder word en dat my UOVS kwalifikasies geskrap word.

Ek het bevestiging gegkry dat hulle gehoor aan my versoek gegee het.

Ek het na 7 suksesvolle akkademiese jare by Kovsies nou net matriek en 7 nuttelose jare verwerf.

Loeis ·

Die skrywer maak baie goeie punte. Stellenbosch het aangekondig dat niemand op grond van taal uitgesluit sal word nie: as jy nie Afrikaans magtig is nie, word jy nie benadeel nie. Tog was Open Stellenbosch volgens ‘n artikel in Maroela Media “Woedend” toe hulle gehoor het dat Afrikaans nie afgeskaal sou word nie.

Open Stellenbosch (en ek vermoed ‘n klomp ander) staan nie VIR die uitbreiding van Engels nie. Hulle staan VIR die afskaling van Afrikaans. Eenvoudig soos dit. Deur met hulle te onderhandel verleen jy ligitimiteit aan hul snert. Mens moet soms sulke oproepe maar net verwerp met die minagting wat dit verdien.

Plan B is bemoedigend, maar mens moet ook red wat te redde is.

Dirk Breytenbach ·

Volgens my mening is Plan B juis om te red wat te redde is. Ons moet dit net doen voor dit te laat is. As ons enigsins verwag dat die huidige en toekomstige regerings minderheidsregte sal akkommodeer soos in die Grondwet voorsien dan sal ons duidelik teleurgestel word. Al wat sal gebeur is dat daar weereens verspilde jare en geleenthede sal verbygaan en dan is dit dalk te laat. Ons het ‘n keuse.

Johannes Meintjes ·

Geloof, onderrig en kultuurbates is van die kern aspekte wat deur die goed-nagevorsde en fyn beplande prosesse van volksmoord aangetas word. Dit gaan oor baie meer as Afrikaans as taal by Universiteite. Dankie, nietemin, vir AfriForum se stryd op die mikro vlakke. Dit is ook baie nodig.

Dirk Breytenbach ·

Ons taal is besig om sy regmatige plek in SA te verloor weens ruggraatlose leiers in die akademiese (en politieke) omgewing wat bereid is om Afrikaans op te offer ter wille van poilitieke korrektheid. Dis nie ‘n prestasie om Engels, Afrikaans, Duits of Hollands te wil wees nie, dis ‘n prestasie om jou eie taal en kultuur verantwoordelik uit te leef. Die minagtende houding van protesteerders in die afgelope # betogings is ‘n resep vir wanorde op alle vlakke van die samelewing. Met die risiko dat die holrug geryde rympie dat ons terugverlang na die apartheidstyd aan my toegeslinger kan word is dit dalk nodig om te besin waar Afrikaans en Afrikaanses in SA inpas. Die boodskap in die samelewing is hard en duidelik vir die wat wil hoor dat daar nie plek is vir ons nie en ons sogenaamde leiers is bereid is om ons taal en kultuur te offer ter wille van gedienstigheid en eie gerief. Die keuses is duidelik: gee in en verengels of staan op vir ons regte.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.