Nuuskommentaar: Afrikaner uit die dop: Renate word simbool

V.l.n.r. Renate Barnard, Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit) en Johan Kruger (adjunkhoofsekretaris van Solidariteit) tydens die VN-perskonferensie op 28 Oktober 2014 Foto: Reint Dykema, Solidariteit

V.l.n.r. Renate Barnard, Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit) en Johan Kruger (adjunkhoofsekretaris van Solidariteit) tydens die VN-perskonferensie op 28 Oktober 2014 Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Twintig jaar na die ANC volgens homself, apartheid vernietig het, gebeur ’n vreemde ding: die Suid-Afrikaanse regering word deur Solidariteit by die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) verkla. Oor rassisme.

Slegs die mees stiksienige persoon sal hierdie gebeure as onverstaanbaar beskryf. Tog is daar heelwat kritiek van kommentators oor Solidariteit se veral doen, maar ook hier en daar, late.

Die werklikheid is natuurlik dat die laaste apartheidswet ruim voor 1994 deur die vorige regering van die wetboek verwyder is.

Die feit dat twee leerlinge wie se ouers dieselfde beroepe beklee, nou langs mekaar in dieselfde skoolbank kan sit, beide aansoek om keuring om mediese te studeer doen, en die leerling wat swakker gevaar het op grond van sy velkleur keuring kry, en die ander – ook op grond van sy velkleur nie keuring kry nie, is die produk van die ANC-regering.

Vaar die wit leerling só goed dat hy ook keuring kry, is dit ’n stryd om beurse. ’n Jong persoon wat grootgemaak is om kleurblind te wees, is skielik ontnugter, en sy ouers dikwels ontgogeld. Terselfdertyd moet hulle hoor dat dit deel van transformasie is, dat transformasie die nuwe evangelie is, en dat dit daarom politiek inkorrek is om kritiek te lewer of selfs net vrae te vra. En die grootste onverdraagsaamheid oor die bevraagtekening oor die toepassing van transformasie is soms juis die stemme wat die luidste verkondig dat die Afrikaner nie tot robuuste debat in staat is nie – dit ontaard dikwels in beledigings en doodsdreigemente, aldus die drywers van hierdie weergawe van transformasie. Hulle verswyg hoeveel keer hulle vir personeel en studente wat vrae vra, aangesê het om te sit omdat hulle “rassiste” sou wees.

En wanneer die slagoffers optree, is daar ’n skikking wat bepaal dat die slagoffer niks mag sê nie – en so word sekere illusies oor bereidheid tot “robuuste debat” as die werklikheid steeds opgedis.

Jare gelede het Hitler se propagandamasjienerie ook die wêreld probeer oortuig dat dit wat in Duitsland aan die gebeur is, alles wonderlik en pluis was. Dit het egter nie so goed gegaan met die Duitsers wat die wêreld anders probeer oortuig nie.

Vandag nog is van die ontvangers van die Nobel-vredesprys onderhewig aan die een of nader vorm van sanksie van hul eie lande – gewoonlik China. In Suid-Afrika hang die eietydse inkwisisie die kritikus die bordjie van “gekant teen transformasie” om as moderne weergawe van “I am a donkey”. In baie gevalle is dit nie eens waar nie – die geëtiketteerde persoon mag dalk selfs pro-transformasie wees, en uitgesproke so, maar net beswaar maak teen die uiterste rasbenepe toepassing daarvan.

In Suid-Afrika het Renate Barnard die simbool van die stryd teen onregverdige behandeling geword. Sy is diep gelowig, wat haar in staat stel om staande te bly. Vir die rasbenepe transformasiedrywers het sy ’n doring in die vlees geword.

Die feit dat Renate deur Solidariteit bygestaan word, is vir sommige kommentators net een te veel. In die onlangse verlede het ’n hele rits aangetree met Solidariteit- en AfriForum-bashing – Christi van der Westhuizen, Pierre de Vos, Herman Wasserman (almal UK) en (al weer) Piet Croucamp. Genoeg is reeds oor die drie UK-persoeel se pennevrug geskryf, om dit onnodig te maak om in besonderhede daarop kommentaar te lewer.

Croucamp skryf intussen op Netwerk24: “Aan die regterkant van die spektrum sal organisasies soos AfriForum en Solidariteit sonder om te skroom die land se demokrasie op ons omtrek in hul strewe na Afrikaner-outonomie … Die feit dat hulle hul verlaat op demokratiese instellings, soos die howe, om ’n sektariese strewe na te jaag moenie die illusie laat dat ’n nasionale belang vaardig is nie; hul intensies hou ’n wesenlike gevaar in vir politieke bestendigheid en die liberaal-demokratiese Grondwet.”

Ons laat die kwessie of Solidariteit en AfriForum inderdaad die “regterkant” van die politieke spektrum verteenwoordig daar. Uit die sosiale kommentare was dit duidelik dat Croucamp se inherente teenstrydigheid nie ongesiens verbygegaan het nie. Hoe kan die howe (meestal) suksesvol aangewend word om die demokrasie om te keer? Behalwe natuurlik as die grondwet nie demokrasie in die oog het nie. Die grondwet is immers die hoogste regsgesag in die land.

Tree Solidariteit en AfriForum buite die grondwet op?

Nie as die baie sake wat hulle wen in ag geneem word nie. Die probleem is dat die grondwet, anders as die oorgangsgrondwet, in baie opsigte net ’n sogenaamde raamwerk-grondwet is. In ʼn gevorderde grondwetlike demokrasie, ryk aan konvensie en met ’n algemene aanvaarding van die gemenereg, is dit ’n baie goeie ding.

Of só ’n grondwet waarin, soos ’n staatsregkenner dit gestel het, “’n wa en span osse in kan draai,” ʼn goeie ding is vir ʼn smeltkroes-land soos Suid-Afrika, is nog geen uitgemaakte saak nie. Die idee is dat die “detail” dan deur die presedentereg, gewone wetgewing, konvensies en ander reëlings gevestig moes word. In sommige gevalle skryf die grondwet self die wetgewing voor wat op die wetboek geplaas moes word. Dit het byvoorbeeld ’n regsaksie (in terme van die grondwet) geverg om die regering te dwing om die Talewet op die wetboek te plaas.

In Suid-Afrika het dit leemtes gelaat, wat die ANC ook probeer uitbuit het. So het dit geblyk dat die ANC in die parlement ’n prosedure ingestel het wat dit vir die opposisiepartye onmoontlik gemaak het om wetgewing in te dien. Dit is deur die grondwetlike hof omgekeer, danksy die harde werk van dr. Mario Ambrosini wat onlangs oorlede is. Daarna het dit geblyk dat die ANC dit só bewimpel het dat dit prosedureel onmoontlik sou wees om ’n mosie van wantroue in die president in te dien – ’n standaardpraktyk in demokratiese lande.

Nog bronne wat inhoud gee aan die grondwet is die internasionale verdrae waarvan Suid-Afrika mede-ondertekenaar is (artikel 231), en die internasionale reg (artikels 232 en 233). Suid-Afrika is nie maar net ’n geïsoleerde kokon waar die ANC kan maak en breek soos hy wil nie.

Wanneer Solidariteit of AfriForum ’n onreg aanpak, is die koker inderdaad vol pyle, waarvan nie een in stryd is met die grondwet nie. Daar sal gevalle wees waar diegene wat reg en geregtigheid wil sien gebeur, die internasionale verdrae en die internasionale reg sal inspan – in terme van die grondwet.

Uiteindelik is daar steeds (te veel) ruimte vir interpretasie, soos blyk uit drie verskillende uitsprake in die grondwethof in die Renate Barnard-saak (afgesien van die teenstrydige uitsprake in die ander howe).

Selfs in sy kritiek op AfriForum oor die lê van ʼn haatspraakklag teen die kletsrymgroep Dookoom, gee De Vos oënskynlik teësinnig toe dat die saak wel sal slaag teen die agtergrond van ons howe se huidige “eng uitleg” van die grondwet en gepaardgaande wetgewing.

Croucamp se indruk dat die grondwet gebruik kan word om die grondwet te ondermyn (of dan om te keer) is nie nuut nie. Met die Potch-debakel het die rektor van Wits, prof. Adam Habib, met die juweeltjie vorendag gekom dat sekere groepe die grondwet “misbruik” om “apartheidsreëlings” op kampusse te bestendig, en so die groot opdrag (waarskynlik transformasie) in die wiele ry.

Of die grondwet inderdaad, soos Croucamp, Max du Preez en Jan-Jan Joubert sê “liberaal-demokraties is, is ’n debatspunt op sy eie. Niemand sal stry dat dit minstens baie van die kenmerke daarvan dra nie, maar dit moet ook holisties bekyk word teen die agtergrond van die Nasionale Vredesverdrag en die grondwetlike beginsels – en natuurlik die internasionale reg.

Die tweede vraag is of die beskouing van wat liberaal is, in Suid-Afrika nie sy eie hibride-vorm aangeneem het nie. Die derde vraag is of liberalisme noodwendig die uitkomste oplewer wat die argitekte daarvan in die oog het.

As Europa as model geneem word, is minderheidsregte ’n integrale deel van menseregte naas individuele regte. Die Europese toepassing in Suid-Afrika sou in alle waarskynlikheid ook “liberale” reaksies ontlok soos die grondwet misbruik om spore van apartheid te verskans. (En die grondwet self maak betreklik ruim voorsiening vir minderheidsregte).

En die sosiale uitkomste? Volgens ’n splinternuwe peiling deur Rasmussen in die VSA, blyk dit dat 61% van die kiesers glo die VSA is nou ʼn meer rasverdeelde samelewing as vier jaar gelede voor die vorige mid-termynverkiesings. Die liberale pres. Barack Obama en sy administrasie is nou halfpad deur hul tweede termyn.

’n Interessante aspek is dat Afrikaners gereeld, ook uit eie geledere, moet hoor dat hulle moet onthou en vrede maak daarmee dat die Afrikaner deel van die groter geheel is. Dit kom dikwels selfs in die vorm van vermanings om daarmee saam vrede te maak met erg diskriminerende praktyke, of andersyds om die diskriminerende praktyke te ontken.

Solidariteit se jongste aksie sal weer ’n stortvloed kritiek open. Op die oomblik, so lyk dit, word dit in baie kringe nuusgewys net geïgnoreer. Die nagaan van RSG se nuusbulletins gister, met die bekendmaking, dui daarop dat dit geïgnoreer is. Dit is ook deur die oop TV-kanale geïgnoreer.  News 24 het dit oënskynlik (so ver dit die elektroniese soektog aangaan) geïgnoreer. Netwerk24 dra dit wel.

Maar selfs al sou die groot media hierdie verwikkeling heeltemal verswyg, bestaan die kommunikasiemiddele nou om bykans alle saakmakende mense te bereik. En kan die Afrikaner maar uit sy dop klim, solank hy in die proses geregtigheid nastreef.

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

gerrit ·

Herman,ek word sommer die dinges in as daar nie daagliks iets uit jou pen verskyn nie!
Baie dankie vir elke berig en kommentaar.Jou eerlike en goed nagevorsde artikels word opreg waardeer.
Groetnis,
Gerrit.

Kobus ·

Ek wonder hoeveel, indien enige, van daardie wysneuse wie hier bo in die artikel genoem word enigsins ‘n realis is. Gaan dit nie maar net om ‘n ding te sê omdat dit mooi klink nie? En natuurlik om jou eie wyshede, slimmighede en konkoksies te lees nie, daai ego’s te streel nie?

Ek sal hulle nogal graag in die parlement wou sien. Hul bydrae sal self wol oor die ANC se oë trek en soos kleuters laat lyk.

Kan ons nie vir hulle vra om ‘n nuwe konsep grondwet te skryf nie. Dan ten minste kan hulle hul kreatiewe denke self aan die realiteite en die regstegniese toets.

Renate Barnard ·

Ek sou graag wou weet wat Croucamp en kie sou maak en hoe hulle sou reageer as hulle in my skoene was. Die beste stuurman staan mos altyd aan wal. Dankie, Herman – jy slaan die spyker op sy kop.

herrie ·

Baie dankie Renate. Ek kan nie genoeg sê hoe gelukkig jy is om Solidariteit as vakbond te hê nie. En ek praat uit eerstehandse ondervinding van sukkel met ander vakbonde.

Koos ·

Wat my hinder (en wat niemand skynbaar hier raak sien nie) is hoe die bree RSA samelewing (dus die 95% ander benewens blanke Afrikaners) hierdie saak beleef.

Hulle beleef dit as minagtend en onsenstief teenoor die onreg van die verlede. ‘n Poging om regstellende aksie te dwarsboom. En dit maak 95% rondom ons de bliksim in – en dis nie ‘n baie wyse ding nie. Ek se nie hulle is reg of verkeerd nie – dis die persepsie daarbuite. en dis basies wat Piet Croukamp ook skryf?

Hanno Visagie ·

Moet ons almal dus liefs in politieke korrektheid na 20 jaar ter wille van die liefde en vrede bly terugstaan en swyg, of moet ons vriendelik maar ferm die volle waarheid begin praat?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.