Nuuskommentaar: “As Oscar ‘n swart man geskiet het was hy ‘n held” – Is erger rassisme as dit moontlik?

'n Skermskoot van die webtuiste waar die artikel verskyn

‘n Skermskoot van die webtuiste waar die artikel verskyn

Terwyl die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, sy mond uitspoel oor die “Hitler-saluut”-insident by Potchefstroom is daar (nog) ‘n doodse swye uit regeringskringe oor ‘n insident wat van naakte rassisme getuig.

Sandile Memela, die hoofdirekteur sosiale kohesie in die departement van kuns en kultuur, skryf in ‘n opiniestuk onder meer dat blankes graag om twee redes vuurwapens aanskaf – om diere en swart mense te skiet. Hy meen as Oscar Pistorius ‘n swart inbreker in plaas van Reeva Steenkamp geskiet het, soos hy glo sou aanvoer hy gedink het hy doen, sou hy in alle waarskynlikheid nooit eens die hof gehaal het nie, maar as held vereer gewees het.

Die Vryheidsfront Plus som in sy reaksie die ellelange relaas soos volg op:

  1. ‘Indien hy (Oscar) ‘n swart man doodgeskiet het, sou dit opspraak verwek het?’
  2. ‘…sommige wittes kollekteer vuurwapens om twee dinge dood te maak; diere en swart mense. Wat hierdie skietlustige wit mans aanbetref, is daar soms nie ‘n verskil tussen die twee nie.’
  3. ‘Ek glo nie daar sou ‘n hofsaak gewees het indien hy ‘n swart man van enige ouderdom doodgeskiet het nie. Hy sou eerder as ‘n held beskou word en sou ‘n toekenning ontvang wat sou lui: ‘hier is ‘n man wat ‘n goeie daad verrig het deur ‘n swart dief dood te skiet’.
  4. ‘Dit word verwag van wit mans om swart mans dood te skiet om hul eiendom en geliefde gesinne te beskerm’.
  5. ‘Dit is reg as ‘n wit man wapens koop en versamel om – wanneer hy na bewering uitgelok of gedreig word – dood te skiet. Die swart man is altyd ‘n verdagte, ‘n teiken. Vir die res van die wêreld is dit verstaanbaar en aanvaarbaar as ‘n wit man iemand doodskiet om sy grond, eiendom en gesin te beskerm’.
  6. ‘Ek het geen twyfel nie dat Oscar vergewe sou word indien hy ‘n swart man wat by sy huis ingebreek het, genadeloos doodgeskiet het. Wat is nog ‘n swart man wat vol gate geskiet is omdat hy inbreek? Hy sou net gekry het wat hy verdien. Skiet dood die swart hond!’

Volgens dr. Mulder gaan Memela voort deur onder meer te sê wittes het al die rykdom en swartes breek in omdat hulle arm en honger is. Ook omdat daar ‘n ‘diepgewortelde haat’ onder swart mense is oor grond en mineralerykdom van die land wat wittes van hulle ‘gesteel’ het.

Mulder gaan verder as om die optrede net rassisme te noem – hy noem dit ook haatspraak in die ergste graad en vorm.

Memela is nie ‘n student wat met studente-onhebbelikhede besig is nie, maar ‘n hoofdirekteur wat ewe pikant die verantwoordelikheid vir sosiale kohesie dra. Stereotipering van hierdie aard is skokkend onvanpas vir sy pos – trouens, van enige mens. Uit die kommentare onderaan die opiniestuk is dit ook klinkklaar dat hy rassegemoedere laat ontvlam het.

Vroeër die week skryf  prof. Jonathan Jansen, rektor van die Vrystaatse Universiteit in sy media 24-rubriek soos volg: “Dit is hartseer-kommentaar op ons gemeenskap dat wanneer daar konflik of konfrontasie tussen twee mense of twee groepe mense is, ’n mens net hoop en bid hulle is van dieselfde ras. Want as hulle nie is nie, is die hel los. As dit swart misdadigers is wat by ’n huis inbreek en wit mense aanval, sal ’n minderheid die strate invaar oor ’n “massamoord op wit mense”. As dit wit misdadigers is wat dieselfde met swart mense doen, sal méér as ’n minderheid “rassisme” gil. Dit ontlok dié vraag: Is dit moontlik dat die swart én die wit oortreders doodgewone misdadigers kan wees? Ons as ’n nasie is om ’n eenvoudige rede nog ver van volwasse genoeg om daardie soort oordeel te vel – ons geskiedenis loer nog oor die skouer.”

Jansen bepleit dat oor rassisme gepraat word, maar nie om mekaar seer te maak nie, maar om mekaar te genees. “Ons moet leer om nie elke daad van konflik as rassisties te bestempel nie. Dit kan wees, maar ook nié. Ons moet leer om nie stories oor rassisme te oordryf of stertjies aan te las nie. Rassisme is ernstig, en ons verwater werklike gevalle deur elke konfrontasie as rassisties te beskryf.”

Die laaste apartheidswet is al ‘n hele ruk voor 1994 afgeskaf, onder meer ook die wet op rasseklasifikasie. Suid-Afrika sou voortaan amptelik ‘n nie-rassige land wees. Die ANC het egter rasgebaseerde wetgewing ingevoer, en dit geleidelik begin verskerp sodat die sogenaamde Manyi-doktrine nou ook weer beslag kry in wetsontwerpe.

Die ANC, kniediep in die knoffel in die aanloop tot die verkiesing, probeer duidelik van die verkiesing ‘n rassesensus maak. Nie net word ras-diskriminerende wetgewing met groter intensie ingevoer nie, maar Pandora se boks word behoorlik met die heropening van grondeise, gepaard met geykte polariserende retoriek, oopgemaak.

‘n Mens kan beswaarlik met vuurhoutjies bo-op ‘n vaatjie plofstof sit en speel en nie ‘n ongeluk verwag nie. En daar is te veel mense van alle rasse wat deur stereotipering rassespanning bly stook.

Van Lawwe Lulu is beter verwag as om Afrikanermans en hul Calvinisme tot ‘n geneigdheid om hul vroue te mishandel te reduseer. Om haatspraak te verwag van ‘n hoofdirekteur sosiale kohesie in, van alle plekke, die departement van kuns en kultuur, is soos om ‘n reuse pleidooi te verwag vir die herinstelling van die doodstraf van die persoon wat verantwoordelik is om die veldtog teen die doodstraf te lei.

Dis doodgewoon onvanpas.

Daarom kan met stelligheid verklaar word dat Memela nie in sy pos hoort nie – trouens, dis moeilik om te sien hoe hy vir enige openbare amp geskik kan wees.

En sou ‘n party of instelling hom voor die gelykheidshof sleep, sal daar weer ‘n ontevredenheid wees uit sekere kringe, soos met Julius Malema se haatspraak-saak die geval was, dat die regsoptrede sy reg op vrye meningsuitdrukking skend. Of die argument af te stof dat swart mense per definisie nie rassiste kan wees nie.

Maar haatspraak word netjies in die grondwet geformuleer en verbied. Om verdraagsaam teenoor haatspraak te wees omdat dit die uitoefening van meningsvryheid sou wees, of omdat die pleger tot ‘n bepaalde ras behoort, is rassisme wat moeilik oortref kan word.

Hier is nie ruimte vir selektiewe moraliteit nie, want haatspraak, ongeag van wie dit kom, het presies dieselfde gevolge – dit wakker haat aan, en haat tussen rasse is plofbaar. Om onder meer plaasmoorde ‘n soort van moreel-regverdigbare baadjie aan te trek, is laakbaar sonder weerga.

Die meeste analiste wil graag die kwessie van ras agter hulle laat en oor ander dinamiese kragte skryf wat samelewings rig of uitmekaar trek. Die internasionale reg en ons grondwet maak voorsiening daarvoor dat hierdie kwessie geldig en fatsoenlik is. Maar dit raak al hoe moeiliker om die rassekwessie te systap sonder om irrelevant te wees in die heersende openbare debat.

Ja, Suid-Afrika is nie uniek wat dit betref nie, en namate globale migrasie groter momentum kry sal dit as internasionale verskynsel waarskynlik steeds toenemend stukrag kry. Maar in Suid-Afrika word daar al eeue skouer geskuur, is al lank projekte geloods om wedersydse begrip vir onder meer mekaar se gebruike en opvattings te kweek. Baie burgers kan die tale van ander praat. Daar is ‘n enorme poel van goeie gesindheid.

Maar die hoofstroomdenke word deur gatvaste randakkers gekaap en analiste word onwillige deelnemers aan die ontledings hiervan, of loop andersins die gevaar om irrelevant te wees. Die nasionale vredesakkoord dreig om ‘n vergete reliek te word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Charlè ·

Wow! Dr Jansen slaan die spyker op sy kop. Ek het nou nog meer respek vir hom.

charmain ·

Sandile Memela wil net se ons praat nie politiek in oscar se saak nie. Jy kan gaan politiek praat in die wit huis asb. Laat ek jou net een ding se ons wit mense kry eerder swaar nie julle swart mense nie want julle swart mense vat ons wit mense se werk mos oor maar wie het julle swart mense geleer om iets te doen ons wit mense nie julle swart mense vir ons nie . ek wil ook se ek sou ook skied as ek weet iemand is in my huis maar dit gee jou nie die reg om sulke komentaar te lewer nie

henk ·

sandile mamele, jy is ‘n rassis! die res van die kommentaar en my mening oor jou het ek verwyder, maar ek is seker ek gaan die geleentheid kry om daardie mening in jou eie taal van aangesig tot aangesig aan jou oor te dra!

Suné van Heerden ·

Dagsê Helizna

Ons het vanmiddag vir ‘n paar oomblikke ‘n probleem ondervind met “hackers” wat die webwerf aangeval het. Dit is moontlik dat jy in daardie stadium die skakel probeer besoek het. Probeer gerus weer, dit behoort nou te werk!

Beste groete
Suné van Heerden
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.