Nuuskommentaar: As twakpratery ’n siekte was, was Zuma lankal dood

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma is bekend vir sy wilde uitsprake wat vir hom en die land groot skade berokken … én dat hy niks in die proses leer nie. Die naweek het hy weer sy voet vierkant daarin gesit, maar anders as net ontstellend of lagwekkend, dra die jongste wilde perde ook die kieme van groot gevaar.

By geleentheid was ’n beterweterige skoolseun van die Namakwaland af vreeslik verontwaardig toe ’n onderwyser vir hom sê: “As ’n donkie sy bek oopmaak, lô (loop) val daar kaf uit.”

Onse agbare president is nie skaam om te “lô” en kaf te verkoop nie. Hy het homself en sy land al telkemale in die skande gesteek. In die proses skep hy al meer die beeld van ’n politieke nar – ongelukkig ’n dodelik gevaarlike nar.

Politieke ontleders en politici, elk van sy eie invalshoek, trek tans sy jongste juweeltjie uitmekaar. Op die KZN-hoofraadskongres van die ANC het hy naamlik gesê hy meen dis belangriker om eerstens lojaal teenoor die party (ANC) te wees as teenoor die land.

Die diepgang van wat hy gesê het, strek veel wyer, maar sommer voor die hand liggend het hy sy ampseed (wat hy al twee keer self afgelê het) vir ’n ses geslaan. Tweedens word dit opnuut duidelik dat hy ná byna twee voltooide termyne as president, nie die vaagste benul van die ABC van staatkunde het nie.

Hy het dit immers al voorheen ook ten toon gestel toe hy pres. Barack Obama tydens oudpres. Nelson Mandela se laaste hospitaalopname in Pretoria ontmoet het, en in die mediakonferensie sy gas, Obama, in ’n verleentheid gestel het deur so voorbrand vir die ANC te maak dat hy eintlik in sy hoedanigheid as ANC-president moes opgetree het.

So ’n siening “regverdig” natuurlik ook ’n netwerk van nepotisme en party-voortrekkery in staatsdiensaanstellings (deployment) wat met enkele uitsonderings na uitdruklik deur die Grondwet en internasionale konvensie verbied word.

Omtrent al positiewe teken is dat hy nou weet om ’n onderskeid tussen land en party te trek. Tot betreklik onlangs was dit nie die geval nie, met verskeie ministers wat  AfriForum van dislojaliteit, en amper sedisie teenoor die land beskuldig wanneer hulle brouwerk deur regeringsleiers uitwys. Dit is dikwels JUIS lojaal teenoor ’n land as uitgewys word hoe regeringslui die land skade berokken.

Maak hy nie dalk nou voorbrand vir die belangrikheid van sy amp as president van die ANC vir as, en wanneer, hy ’n derde termyn as president van die ANC pak, terwyl die Grondwet hom verhinder om ’n derde termyn as president van die land te dien nie? Dan het hy nou reeds gewys wie hy meen in werklikheid die baas gaan wees, en wie die marionetpresident.

Gaan Zuma, as net president van die ANC, verbaas wees as hy nie meer amptelik in die nuwe presidensiële straler wat nou vir R4 miljard aangekoop word, mag vlieg nie? Of gaan hy sy mag misbruik om te verseker dat hy na hartelus in amptelike afvaardigings opgeneem word om steeds die wêreld rond te rits (en die land se naam met ’n plank te slaan)?

Na berig word, het twee opposisiepartye, die DA en EFF, reeds op Zuma se stelling reageer. Die DA meen hy skend sy ampseed, en hy moet die stelling terugtrek en aan die land om verskoning vra. Die party meen ook dit skep die teelaarde vir magsmisbruik. Die EFF meen dit is ’n voorbode tot eenparty-denke en ’n diktatorskap.

Van die afgevaardigdes moes seker ook sukkel om hul lag te hou toe Zuma sê hy “hoor gerugte” dat hy ’n las vir die ANC is. Hieroor is hy erg omgesukkel.

Hy het dit waarskynlik teenoor mense binne die ANC wat hom as las beskou, terwyl die talle mediaberigte hieroor eintlik gaan oor mense buite die ANC wat meen Zuma is nie net ’n las vir die ANC nie, maar vas glo hy is ’n ramp vir die land. Nogtans was die kritiek van eerw. Frank Chikane en Kgalema Motlanthe nie die eerste van binne die ANC nie. Sowel oudpres. Thabo Mbeki as Winnie Madikizela Mandela het kort ná mekaar mond uitgespoel oor “tribalism” wat weer sterk in die ANC uitslaan, ’n duidelike verwysing na Zuma se Zoeloefikasie.

In sy redaksionele kommentaar stel Rapport dit dat Zuma ’n “nul op die kontrak-president” is. Rapport se wiskunde laat hom egter in die steek – nul is nié die laagste moontlike waarde nie. In die minus-gedeelte is daar net soveel opsies as in die positiewe gedeelte, en as al Zuma se flaters en skandes bymekaargetel word, sy verwoestende uitwerking op nasionale versoening (terwyl hy volgens ampseed die bindende faktor moet wees), die gehalte van sommige van sy ministers en vele meer in ag geneem word, oortref die negatiewe die positiewe baie ver.

Wat anders kan ’n mens sê as: “#Zumamustfall”?

Om ’n ou politieke grappie af te stof en ’n nuwe naam in te vul: Daar is nie meer Zuma-grappe nie … want alles is nou die waarheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Rynhardt ·

Ek beskou Zuma as n groot komediant,groter as wat die legendariese Grapjas Didi kon droom om te wees!Die ergste van alles is,Zuma steek homself in die skande,sonder om dit eens te besef.Oorsese komediante het n feestyd met hom.Tot tyd en wyl sal Zuma geld opsetlik mors en Jan Publiek deurboor sover hy kan.Sy eie kabinet is keelvol vir hom en die groot onenigheid heers reeds daar,want hul sien hy kry meer as hulle en dit maak die spul nog meer jaloers,en afgunstig teenoor hom!Ek se weer,SA het n groot boewestaat geword waar elke ou homself ryk steel!Verder speel Zuma die massas met soetsappige stories terwyl die onheil in sy eie kabinet broei.Geld en mag speel n groot rol by korruptes en niemand anders mag meer he as hulle nie!Zuma handhaaf tans n luukse lewensstyl waarvoor belastingbetalers moet opdok en sy eie kamerade raak afgunstig en ongeduldig met hom!

chrisp ·

Herman.

Ek hoor alles wat jy se en dit is waar,hier is die maar egter.
Maar dit is nie Zuma se skuld nie (werklik nie).Hy is verkose demokraties(daai mooi westerse begrip). Glo my sou hy weer kan staan more as die president nie net van die ANC nie maar ook van RSA, sal hy weer verkies word, met net so ‘n groot meerderheid.Om hom te vervang sal ook geensins help nie .Die volgende een kan dalk nog swakker wees. Onthou julle nog met sy opgang was so baie linkses te bly ou Thabo is weg(die Vigs verleentheid wat hy vir RSA geskep het) en het verkondig dat Zumpie net die antwoord is .
Die blaam moet by die kiesers gele word ,dit is die probleem en juis hierdeer word die hoop( eintlik wanhoop) van ander politieke partye in die voet geskiet,al dra hulle feitlik dieselfde beleide.
Die ANC sal bly regeer tot daar ‘n ander bedeling of staatsgreep(soos maar Afrika se manier) kom punt.Die bewyse le in die stemme vanaf 1994 tot vandag en so-ook deur die res van Afrika. Kan die mense dit werklik nie insien nie?

Glo my selfbeskikking is die enigste oplossing vir die gemors en dit sal kom met baie pyn of daarsonder hieraan het ek geen twyfel nie.

Michael ·

Herman stem saam met jou. Die ongelukkige werklikheid is dat sy twakpratery die onaangename werklikheid word vir die burgers van die land. Dis absoluut ‘n skokkende uitlating deur ‘n president en dis jammer dat daar nie groter bohaai oor sy uitlating gemaak word nie want dit is eintlik net erkenning dat ANC nooit ooit mag sal oorgee al verloor hulle met hoe ‘n groot persentasie by stembus. Dit blyk of die meeste mense hom nie ernstig opneem nie wat absoluut ‘n fatale fout is. Sy ANC makkers glo dit ook en dit spel net gevaar vir SA

Grassie ·

Zoepas se optredes as president, van die begin af tot nou weer met die vliegtuig-debakel, kan met reg as sotlik beskryf word. Hy sal nooit verander nie want hy kan nie. Dit is nie net my opinie nie, die Bybel sê ook so. Ek haal aan:
” Al stamp jy die sot in ‘n stampblok tussen graankorrels met ‘n stamper, sy sotheid sal nie van hom wyk nie”
Spreuke 27:22 (1953 vertaling)

#ZumaMustGo ·

Zume het GEEN formele skool of ander opleiding nie. Is dit dan vir ons snaaks as die man wat net weet hoe om revolusie te stook nie ‘n land kan regeer met wysheid, kennis en insig nie? Dit behoort ‘n grondwetlike vereiste te wees dat ‘n land se president ten minste ‘n internasionaal erkende matriek onder die belt te he? Bobbejaan klim die berg….

Die paashaas ·

Goeie skrywe Mnr. Toerien! Dat Zuma in die eerste plek tot president verkies is omdat hy Thabo Mbeki uit die kussings kon lig, is ‘n feit. Dit opsigself skep die moontlikheid vir selfs ‘n vreesaanjaender vooruitsig as ‘n derde termyn vir Zuma. Wie kan hóm uit die kussings lig? Malema? ‘n Skrikwekkende gedagte.

Eish! ·

Uit die mond van ‘n suigeling hoor jy die waarheid: Ag braak die man alweer in ons ore!

Sarel Strydom ·

Ek vermoed die man is nie regtig “in beheer” nie en dat hy sy opdragte van gesag binne in die ANC kry. Wie is in beheer Zuma of die uitvoerende gesag van die ANC. Zuma se herverkesing? Klip in die Bos. Zuma se aansien daal veral onder die jonger garde. Studenteonluste breek uit–Nzimande dood stil. Zuma kondig aan dat die Betogers gaan kry wat hulle “demand” Zuma terug in die stoel–alweer hulle “Big Daddy” Laat mens dink?

Sarel Strydom ·

Wie is dit wat so baie nonsense praat? Zuma skryf nie sy eie toesprake nie. Lees hy ooit sy toesprake voor die tyd of lees hy dit wanneer hy dit moet voordra. Want dit is hoe hy toesprake lewer. Hy dra dit voor. So wie is die brein agter sy patetiese toesprake en uitlatings? Laat my dink!

HANS ·

Op n skaal van een tot tien is Zuma n minus drie en kan hy met n hengske poging homself opwerk na n nul!

Boshoed ·

Wanneer gaan hy sien dat hy ‘n verleentheid vir die ANC en Suid Afrika is? Ek het gehoor dat die dood nie die ou pla wat dood is nie, net die mense om hom/haar, dieselfde met onnoselheid! Hy besef nie hy is ‘n idioot nie! Shame. Die vraag is: Gaan sy opvolger genoeg tussen die ore hê om die groter prentjie raak te sien?

GES ·

Herman, dankie dat u ons frustrasies verwoord. Dit kon nie beter gestel word as #ZumaMustFall. Hierdie beeswagterjie gaan ons nog tot raserny dryf en maak dat die lig aan die einde van die tonnel soms uitgedoof raak. Die stembus is seker die enigste beskaafde manier om van hom ontslae te raak, maar ek dink nie ek gaan lank genoeg leef nie, om dit te beleef. Al wat seker gedoen moet word, is uithou en aanhou.

HEVW ·

Daar is n gesegde wat se net so min as wat iemand sy eie ore kan raaksien, net so min kan n dwaas sy sotlikheid besef. Tog net nie n matriekkwalifikasie onder die beld nie,soos in n vorige kommentaar nie. Die meeste van die huidige regering het dit alreeds daar. Veral aan die agerkant. Stem saam n ommeswaai op demokratiese wyse blyk geheel en al onmoontlik te wees. Ek reken die totale historiese verloop sederd 1994 met sy drastiese toename aan minder gematigheid en meer klem op magsmisbruik en n reeds duidelike meerderheidsstaat asook n reeds sigbare revolusionere karakter spel vir ons uit dat daar n staatsgreep in die vooruitsig is. Veral as nog in berekening bring dat die verskillende leiers en faksies nie daartoe instaat is tot heldere nugtere debadtering nie. Dan ook nog gedrewe magswellus waarin lewe nie veel van belang is nie. Ja z is wel nog nie dood nie maar is wel terminaal siek.

Fransie ·

Dankie Herman,
Ek wil graag iets met julle deel.
Op Vrydag 12/12/2014 het die Heilige Gees vir my gesê:” Zuma is geweeg en te lig bevind.”
Dit het my dadelik herinner aan koning Belsasar toe hy die Hand sien skrywe het teen die muur en Daniel die skrif moes uitlê en hy het vir die koning gesê: “u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind” en die koning het daardie selfde nag gesterwe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.