Nuuskommentaar: Bang, baklei en bid – opsies vir bloeiende SA

Herman Toerien

Uit die lesersopmerkings by twee nuuskommentare dié week blyk onderskeidelik ’n sweem van moedeloosheid en ’n greintjie oorlogsugtigheid. ’n Artikel van Flip Buys op Maroela Media, “Bid en werk”, werp egter ’n beeld van ’n gebalanseerde uitkyk. Ons durf nie in moedeloosheid verval nie en ons kan nie bekostig om sake gewelddadig in eie hande te neem nie, want ons staan immers nie alleen nie.

Twee nuuskommentare dié week het die aandag van lesers, geoordeel aan die lesersreaksie, op verskillende maniere getrek. Uit die leserskommentare van Maandag se “Word Knysna en Zillle geknyp deur ’n gees van Afrika-liberalisme” neig verskeie lesers in die rigting van swartgalligheid. In Woensdag se nuuskommentaar, “Burgeroorlog en persepsies van grondhervorming, kolonialisme en ander” syfer daar weer ’n strydlustigheid deur, hoewel sterk deur realisme getemper.

Die driehoek van bang, baklei en bid word volledig wanneer Flip Buys se artikel “Bid en werk” in berekening gebring word.

Slegte nuus wil ons soms oorweldig, soos Buys sy artikel begin. Vandag is daar koerantopskrifte oor die sakevertroue-indeks wat daarop dui dat sewe uit tien sakelui negatief oor die ekonomie is. Nog ’n opskrif verklap dat ’n derde van alle onderwysers wil oppak omdat hulle gestres is.

Dis nou afgesien van die daaglikse vraggie nuus oor moorde, verkragtings, staatskaping en vele meer wat maak dat die donker wolkie se silwer randjie ragfyn raak – minstens wat ons persepsies betref.

Laat daar ook sonder versuim gesê word dat heelwat lesers van Maroela Media in hul kommentare hulle op die genade van die Here beroep (en dikwels vra vir teenprestasies soos om die onheilighede te laat vaar).

As kommentator was dit hierdie skrywer se bepaalde indruk dat die suksesvolle optogte teen pres. Jacob Zuma se voortgesette presidentskap vroeër vanjaar ’n nuwe gees onder nie net ons lesers laat posvat het nie, maar onder die breë gemeenskap van minderhede, wat andersins in ’n gees van magteloosheid vasgevang is. Nou word iets gedóén, en baie van die land se meerderheid, indien nie die meeste nie, is saam met ons in die stryd gewikkel. In landsbelang.

Ongelukkig is die waarneming ook dat dié gees in ’n groot mate verdamp het, enersyds weens skynbare stagnasie en voeteslepery, en andersyds die DA se twiet-debakel.

Juis toe kom die burgeroorlog-waarskuwing. (En laat daar geen twyfel wees nie, dit was geen oproep tot ’n burgeroorlog nie, dit was ’n vermaning van waarheen sake kan ontwikkel as sake te ver gedryf sal word.)

Uit die leserskommentare kan verskeie afleidings gemaak word hoewel dit onverantwoordelik sou wees om te veel daarin te lees omdat die aantal lesers wat reageer, te min van die totale aantal lesers is om enigsins op ’n vorm van verteenwoordigheid te kan aanspraak maak. Tog is ’n aantal sake duidelik: Van die lesers het self oorlogervaring en weet dat baie realisme nodig is om aan planne vir ’n burgeroorlog te dink. Tweedens, dié betrokke oorlog was grootliks ’n insurgensie-oorlog (waarin terreur mildelik ingespan is), en dié onkonvensionele soort oorlogvoering is geskoei op onkonvensionele denke, soos dié van die antieke Chinese generaal Sun Tsu wat gesê het ’n generaal wat in ’n gevegsituasie betrokke raak wat hy dalk nie gaan wen nie, is ’n dom en nie ’n dapper generaal nie.

Hoe spreek ’n mens moedeloosheid aan dat dit nie verlammend word nie? (Kliniese depressie is uiteraard nie hierby ingesluit nie.) Gebed is ’n belangrike anker. Buys skryf ons is wel polities magloos, maar nie magteloos nie. Ons kan nie die onstuimige see beheer nie, maar wel sterker skepe bou. Hy skryf dat sterk gemeenskapsorganisasies dikwels meer vermag as swak regerings.

Ons kan nie God se raadsplan verander nie. God verhoor wel gebede, maar nie altyd soos ons dit wil hê nie, maar soos Hy wil want Hy weet die beste.

Oral ter wêreld word verstommende opgrawings gedoen oor beskawings wat eens bestaan het – sommiges tegelyk, maar heeltemal geïsoleerd van die Westerse wêreld. Die Majas het onder meer ’n kalender gehad wat akkurater was as dit waaroor die Westerse wêreld destyds beskik het. Hul skrif het uit simbole, karakters en kleur bestaan wat saamgewerk het om betekenis te vorm. Die Asteke het ’n enorme ryk opgebou, met piramides en tempels tot vier verdiepings hoog.

Maar dit bestaan nie vandag meer nie. Onlangse navorsing toon dat ’n Westerse stam van salmonella feitlik die hele bevolking uitgewis het. Slegs ’n dekade of so voor die ineenstorting sou die Asteke hul ryk as onoorwinlik en vir “ewig” beskou het. Krygskunde was so hoog aangeslaan dat, volgens oorlewering, jong krygers hulle vrywillig aangebied het om te gaan help veg as hulle boodskap kry dat die gode in hul onderwêreldse oorloë noustrop trek. ’n Gewilde balspel is dan in ’n ritueel omskep waarna die wenners onthoof sou wees. Dit is onseker tot watter mate dié weergawe juis sou wees – die feit dat so ’n weergawe vir eeue in die volksmond kon voortleef dui op die mate waartoe dit ingebed is.

Ons het egter ’n genadige God.

Ons moet bid, en ons moet werk. Ons arbeid vir kollektiewe beterskap is ten beste gesetel in die sterkte en doeltreffendheid van gemeenskapsorganisasies, en watter een is beter as die Solidariteit Beweging met sy Plan B? ’n Plan wat reeds sukses na sukses oplewer, soos die nuus dat volledige registrasie aan Akademia toegeken is.

Ons staan nie alleen nie. Ons hét die Hoër Hand, en ons hét mekaar, en soos met die Knysna-brande bewys is, kan ons na dié wat in nood verkeer uitreik.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

25 Kommentare

Marthie Williams ·

But God! Ja, net God kan ons mooi land op koers hou en daarom mag ons NOOIT ophou bid, glo en vertrou nie! Hy is groter as enige mag!

Veritas ·

Herman, ek wil nie swartgallig klink nie maar die registrasie van Akademia is slegs gedoen om die Afrikaner te paai. Binne afsienbare tyd gaan die wekroep uitgaan om dié instansie oop te stel vir Engelssprekende studente omdat dit kwansuis ten doel het om anderskleuriges uit te skakel. Dit is ‘n veldslag tydelik gewen en ‘n oorlog verloor. Die probleem waarmee Suid-Afrika sit is dat politieke partye gesien word as organisasies wat sekere bevolkingsgroepe verteenwoordig. Die groot probleem is dat daar ‘n algehele tekort aan werklike leiers in die land is. Leiers wat oor die vermoë beskik om die kieserskorps te laat voel dat hulle regtig daar is om almal se belange te dien. Die ANC is, en sal altyd wees, ‘n party wat kant kies vir die swartes. Die VF + weer dieselfde vir die wittes en hoofsaaklik Afrikaners. Die DA verskil slegs van die ANC soverre dit partykleure betref. Die res is só onbeduidend dat hulle nie eers ‘n koalisie-faktor is nie. Alvorens ‘n sterk leier wat almal kan laat gemaklik voel, nie opstaan en die politiek betree deur almal wat SA eerste stel, saam te snoer nie, gaan die druk op die blanke slegs toeneem totdat die onvermydelike gaan gebeur. Mag God dit verhoed.

JWM ·

Ek stem saam, Veritas. Ons kort baie dringend leiers; die regte leiers. Dit moet nou die fokus van ons gebede wees: dat mense geroepe sal voel om na vore te tree.

Jacques Venter ·

Om op God te vertrou om ons te help is goed. Maar daar is n voorwaarde.
Die Bybel sê, As my volk hulle verootmoedig, hulle slegte dinge laat staan en hulle bekeer, sal Ek die land red.
( nie verbatim aangehaal nie)
Bogenoemde behels diepe selfondersoek en verandering van optrede.
Dit behels ook n kritiese kyk na vooroordele, stereotipering en die effek wat dit op ons samelwing en toekoms kan en mag hê.
Lekker nadink!

Anoniem ·

Jacques, is God ‘n God van voorwaardes? Is God minder as die Woorde wat jy selektief aanhaal en op ‘n hele nasie van toepassing maak? Ken jy die motiewe van elke mens in hierdie land se hart soos God dit ken dat jy voel jy die reg het om hierdie teksvers selektief aan te haal? Stereotipsering en vooroordele teenoor Sy Almagtige Woorde, is gevaarlik en onkundig aangesien dit óók ‘n effek op ons samelewing en toekoms vorentoe het. Lekker nadink!

Pieter ·

Dit is baie jammer dat net die absoluut polities korrekte kommentaar geplaas word. Sodra net iets realisaties of waar in die kommentaar verskyn word jou kommentaar gemodereer en in my geval amper nooit geplaas nie. Sou die kommentare geplaas word, sou die realistiese beeld van wat regtig aangaan en hoe ons werklik voel beter uitgebeeld word. Ek hoop hierdie kommentaar is polities korrek genoeg.

Ramkat ·

Ek kan volledig met jou saamstem.. Ek kom ook agter dat duidelik gefundeerde argument eat wat dalkies iemand nie gaan aan staan nie word nie geplaas nie.
Gevolglike word na my mening n baie.skeefgetrekte persepsie onder die publiek geskep.
Wat my die beste opval is die.”afkop hoender” uitsprake wat eerder iewers in n kroeg of iets tuis hoor op die MM openbare forum WEL.geplaas word, so al asof dit die vlak van denke is van MM lesers.

Veritas ·

Ramkat ek is dankbaar dat jy dit ook noem. Die meerderheid kommentare hier, is van so’n swak gehalte dat ek skaamkry. Hiermee wil ek nie sê dat almal Herman se gawe om te skryf, hom dit moet kan nadoen nie maar darem probeer sin maak in hul skrywe. Sommige kommentare lyk asof dit in die graad drie klas geskryf is.

Henry ·

Stem allie pad saam met Pieter en Ramkat.
Tragies dat standpunte wat nie VOLLEDIG Maroela Korrek (MK) is nie, reguit snippermandjie toe gaan.
Gedink en gehoop dat ons laaaaankal verby die punt is waar verskillende standpunte bespreek kan word, teneinde by ‘n meer verteenwoordigende punt of punte te lande kom. Ons is eintlik steeds ge-muilband soos in die droefgeestige sestiger en sewentiger jare.
Sal liewer hier ophou… Dalkies word my poging geplaas!!!
:-)
Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

Rose ·

Oor en oor kry ek die bevestiging dat dit beter gaan met gelowiges in tye van oorlog en anargie as diegene wat die ander pad kies. In die skrikwekkende Kolyma tales van Varlam Shalamov, asook ‘n dagboek oor die Anglo-Boeroorlog en die vertellinge van mense wat die oorlog in Bosnië oorleef het, word die feit dat gelowiges staande kan bly in moeilike situasies terwyl almal om hulle inmekaarsak of kop verloor, keer op keer bevestig. Gelowiges het ook meer deursettingsvermoë in baie moeilike omstandighede wat dikwels bydra tot hul oorlewing. Daar is mense wat regtig siek word van bekommernis, haat en vrees – oor die algemeen gaan dit baie beter met gelowiges se algemene welstand.

Tessa Burger ·

In tye van radeloosheid en moedverloor : WAG IN STILTE EN JY SAL OPRYS SOOS ‘N AREND

MCH ·

Dit is n baie goeie artikel, baie dankie. Om enigiets verder hier op te sê gaan net afbreek doen aan die goeie gees waarin dit geskryf is.

al ·

Dis ñ baie goeie artikel. Ons almal val in vertwyfeling en moedeloosheid en vrees. Tog sal God sy woord gestand doen. Hy gryp reeds in. Wat in die geheiemenis gebeur het (staatskaping) word van die dakke afgekondig.
God het ook gewys dat ons nie rêrig so verdeeld is soos politici haat en verdeeldheid wil bring nie – vreedsame optogte.
Elkeen moet sy deel doen – om ander mense met respek en menswaardigheid te behandel.
Ons moet nog steeds pro-aktief en aktief optree en Sy wil in alles soek. Daarom bid ek nou ook vir ons regering en dat die haat in menseharte geblus word.
God het nog altyd die laaste sê – en alles werk ten goede mee vir die wat Hom liefhet.

Jacques Venter ·

Hallo Al
Fantastiese antwoord. Jyt dit so goed raak gevat

CJ ·

Herman. Soos altyd, weer ‘n uistekende artikel. Dankie! Dit is duidelik dat ‘n moedeloosheid oor Flip Buys en Solidariteit toegesak het. Die realiteit het uiteindelik duidelik geword: vir elke tree wat vorentoe gebeur word, word ons tien tree teruggestoot. Die enigste visie wat Solidariteit het, is dat ons die Afrikaner se ondergang so lank moontlik gaan uitrek. Ons kan dus uitsien na ‘n stadige dood, met die satisfaksie dat “We did not go down without a fight”. Figuurlik: ‘n mens kom niks nader aan jou doelwit indien jy teen ‘n leer opklim, wat teen die verkeerde muur staan nie. Solidariteit se leer is teen die verkeerde muur. Die bouery kom neer op “A better live for all!” – iets wat nie gaan gebeur nie. Ons sal baie meer gefokus moet wees op die langtermynoorlewing van die Afrikaner – net moontlik in ‘n volkstaat. Die vooruitsig van nie net oorlewing nie, maar ook vryheid, sal weer ons gemoed lig. Tussentydse oorlewingsmaatreëls sal dan weer met ywer aangepak word, want ‘n einddoel word nagestreef. Ons moet iets hê om na te streef, oor te droom, ons rede te gee om te werk en te beur! “n Uitgerekte, pynlike einde is nie dit nie. Vryheid in ons eie land is egter beslis dit!

louise larson ·

Sy artikel gee mens hoop, ons verloor gou ons geloof en vertroue, maar soos Knysna ens wys ons ons kan saam staan, Goeie eerlike leiers moet ons voor bid. Bid sonder ophou. Die wat ons wil dood of weghe sal nie slaag.

Ella ·

Baie dankie Herman vir goeddeurdagte repliek op almal se menings. Jan Brand het dit duidelik gestel: “Alles sal regkom as ELKEEN sy PLIG doen.” Sommiges moet net leer WAT hulle plig is, en om dit sonder geweld, bedrog en diefstal te doen.

Ben Prinsloo ·

Baie dankie vir jou siening Herman. Ek glo nog altyd dat n ware Afrikaner gaan nie lê nie. Dit is egter vir die realis soos ek baie duidelik dat dinge gaan nie verbeter nie. Dit is ongelukkig ook so dat om net “sommer” te bid gaan ook nie die probleem oplos nie. Enige realis weet n probleem kan nie net weggebid word nie. Daar moet daadwerklik iets gedoen word en gevra word vir Die Skepper se leiding, insig en wysheid. Verder is dit ook vir my baie duidelik dat daar is besig om n skeuring in die Afrikaner te kom wat volgens my n baie goeie ding is want sodoende word die skape van die bokke geskei. Die geskiedenis het ons gewys dat die joiners kom nooit bo uit nie, slegs die wat vasstaan op hulle realistiese geloof en die daad by die woord voeg is die wenner, al gaan dit somtyds met benoudheid gepaard, veral in n situasie soos hierdie. Die van u wat nou nog nie kan sien dat ons is oppad al hoe dieper in die afgrond in nie en nog steeds die sogenaamde paaibeleid wil volg, ek het vir u slegte nuus. Afrikaner hoe gouer jy jou ruggraat nou verstyf hoe beter!!

Jacques Venter ·

Hallo Ben
Met die skape en bokke analogie, glo ek jy verwys na Matteus 25: 31 tot 41.
Baie goeie analogie en gepaste boodskap

marous ·

Ware woorde , maar daar was ook Moses wat die Faro gemaan het … laat my volk trek.

Jacques Venter ·

Hallo Anoniem
Daar my antwoord verwyder is, vrrduidelik ek graag weer. Natuurlik stel God voorwaardes. Jy lees dikwels in die Bybel God sê ” As julle my gebooie bewaar…..” As julle in my woorde bly….”
Ek maak nie vir God wette nie. Erken Sy almag en soweriniteit om Sy eie wette en voorwaardes te maak.
Hoop regtig nie dat my antwoord vetwyder sal word nie

Anoniem ·

Hallo Jacques,

Galasiërs 5:4 – Julle wat deur God vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, het julle van Christus losgemaak. Julle het God se genade verbeur.

Jesus het reeds alles op Hom geneem deur Sy lewe vir ons aan die kruis op te offer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.