Nuuskommentaar: Beginselvaste aanpasbaarheid nodig om die toekoms in Suid-Afrika aan te durf

Argieffoto

Argieffoto

Wat is die moeilikste taak van ’n Suid-Afrikaanse kommentaarskrywer wat objektief en vaksuiwer probeer wees?

Op die oomblik is dit ongetwyfeld om so te skryf dat lesers wat neig om eerder die donker wolk as die silwer randjie raaksien, nie dieper in ’n put van pessimisme in te sleep nie.

Die taak word dikwels vergemaklik deur die meerderheid Afrikaners se diep Christelike ingesteldheid om elke dag op die Here te vertrou. Die Bybel is vol bemoedigende dele (en dele van vermanings sou ons op verkeerde weë volhard). Maroela Media se geestelike rubrieke is besonder gewild, en so hoort dit ook.

Die politiek-wetenskaplike verreken dit, maar hy skryf ook vir mense wat nog moet groei in die geloof, vir ongelowiges, vir twyfelaars en ja, selfs die moderne neiging, Afrikaners wat uit hul pad gaan om die Christendom en Christene sleg te sê. Breedweg word die hele spektrum, by wyse van spreke, van Nuwe Hervormer tot steeds Hervormer, van verligte Dopper tot stoere Dopper, aangespreek. En dan is daar diegene wat in bykans enige nuus, soos ’n aardbewing, eindtydtekens lees en tot die gevolgtrekking kom die einde is net om die draai. Kort-kort vind iemand dit nodig om “namens die Here” te lieg om mense met vrees gelowiges te probeer maak, soos ’n nuwe bogstorie dat wetenskaplikes “saamsweer” om nuus van die publiek te weerhou dat ’n reuse-asteroïde die aarde teen die einde van September gaan tref.

’n Kommentaarskrywer wat nie kennis neem van die omgewing waarin hy skryf nie, sal gou die weerlig trek van diegene wat van allerlei samesweringsteorieë ’n nuwe soort godsdiens maak – en almal wat hulle nie daaraan steur nie erg verkwalik.

Hoe antwoord die politiek-wetenskaplike op die gees van pessimisme wat nou onder baie vaardig is, en vra of dit nog die moeite werd is om verder te probeer?

Die eerste stap is om jouself met behoorlike aktualiteitsnuus toe te rus. Lees maar hoe skerp was die wyse Salomo oor gekke en dwase, en watter gekhede hul gebrekkige kennis en insig hulle laat aanvang het. Probeer om ’n objektiewe prentjie te vorm te midde van strome verpletterende nuus soos nóg ’n plaasmoord, nóg ’n sotheid wat die president kwytraak, nóg ’n gewelddadige betoging of optog…. Dink maar aan hoeveel makliker ’n mens ’n beurt-ontkragsessie deurgaan wanneer ’n mens weet wanneer dit kom, Eskom by daardie skedule hou, en ’n mens ’n klompie voorsorgmaatreëls kon tref.

Die moeiliker deel is om iets daaraan te doen. Gelukkig hoef ons selde op ons eie te staan. Ons kan as lid van ’n verantwoordelike burgerlike instelling ’n verskil maak deur selfhelpaksies, deur die howe te nader en vele meer. Ons kan deur die keuse van die regte vakbonde dinge vir onsself in ons werksomgewing baie makliker maak. Die groot geheim is betrokkenheid. Talle kerke het baie lidmate “op die boeke” waarvoor hulle per kop ramings moet betaal om die kerkverband se strukture te onderhou, maar baie lidmate gee nie hul liefdesgawes nie, hulle is nêrens betrokke nie – die kerk is daar om kinders te doop, om die kinders deur Sondagskool te sit en om mense uiteindelik te midde van die mooiste woorde en sang te begrawe.

Moenie dat ons burgerlike strukture ook plekke word waar ons passief is en dan wondere verwag nie.

’n Behoorlike burgerlike struktuur beplan vir die toekoms en bepaal die aksies wat nodig is om te doen om die gewenste uitwerking te hê. ’n Goeie instelling sal ruimte skep waarin elke lid of ondersteuner (nie almal kan lidmaatskapgeld bekostig nie) volgens sy talente en middele kan bydraes lewer. Dink maar aan die enorme goeie werk wat Helpende Hand verrig.

Om aktief te help bou aan die toekoms help om die golf van swartgallige gedagtes te verdryf. En hoe groter die voetspoor van ’n verskil maak word, hoe helderder skyn die silwer randjie om die donker wolk.

Dit klink al geyk, maar dit is wys om te leer uit die verlede en uit hierdie lesse die toekoms te bou. Ongelukkig probeer te veel mense ’n sogenaamde Punt Zero in die verlede herstel, en daarvandaan ’n alternatiewe toekoms bou. Omdat die water in die praktyk nooit weer onder dieselfde brug sal deurloop nie, is hierdie mense in ’n onverkwiklike verlede vasgevang, en is hul “toekomsplanne” eintlik niks anders as droomkastele nie. Hul gereedskap is die volgehoue en aanhoudende slegsê van mense in die geskiedenis, die lewendes en die dooies.

Die relevansie is egter oor hoe om nou, van hierdie punt af, aan die toekoms te werk. Daar is vele positiewe projekte wat reeds aan die gang is. ’n Mens hoef nie met almal saam te stem nie, maar daardie mense is gelukkig en hulle maak baie mense gelukkig.

Ja, net soos daar die swartgalliges is, is daar die optimiste wie se optimisme in die naïewe gesetel is. Sommige skryf so mooi, vang daaglikse werklikhede se mensheid so netjies raak, dat dit soos balsem vir die siel is. Ons het hulle nodig. Ander raak beterweterig en bestraffend op diegene wat anders dink en voel, en loop dan deur onder diegene wie se penne in gal gedoop is.

Bou aan die leiers wat ’n sober, gebalanseerde benadering en uitkyk het. Mense wat met kennis en insig kan lei. Mense wat groot en kontekstueel kan dink en die insig het om te weet waar met satynhandskoene onderhandel behoort te word, en waar om met die ystervuis mokerhoue te kan toedien. Die regte leiers sal ook weet waar om nie die strategie wat op die mikroskaal vrugte kan afwerp, net so op die makroskaal te gaan probeer toepas nie.

Sulke beginselvaste leiers is onontbeerlik in ’n omgewing waar die Afrikaner as entiteit nie ’n (statutêre) gekose liggaam met verkose leiers het nie. Dit laat die opening dat mandaatlose redakteurs ver verwyder van die werklikheid, en met eie byltjies om te slyp, onder die mees invloedryke meningsvormers onder die Afrikaner “dien”. Dié werklikheid maak dit ook noodsaaklik dat die werklike leiers van die nodige spreekbuise voorsien word waar hul woorde nie verdraai word, en hul projekte as belaglik voorgehou word nie.

Sorg intussen dat jou kinders die beste moontlike opvoeding kry wat hulle kan kry. Ondersteun ook die aksies wat dit moontlik maak.

Die realiteite van die afgelope tyd het getoon dat ons aanpasbaar moet wees om voor te kan bly met oplossings. Die nuus oor ’n skandaal het nog skaars mooi vlamgevat, dan moet dit al weer met die nuus van ’n volgende en ’n volgende skandaal meeding. Dink maar aan die minister van polisie se “fliek-Nkandlaverslag”, gevolg deur die Fifa-skandaal wat steeds meer en meer angels bykry, en die Basjir-skandaal.

Maar te midde van hierdie aanpasbaarheid by elke dag waar ’n nuwe werklikheid strategiese aanpassings verg, is dit ook kernbelangrik dat beginselvas gebly word.

Waar beginselvastheid die wyk neem, word alles ’n gejaag na wind. Ongelukkig is dit ’n werklikheid waarmee ons nou met die huidige regering te kampe het, sodat die susterskerke deur hul Tussenkerklike Raad die ANC oor die wegval van ’n morele basis hard bestraf het, en ook die SA Raad van Kerke nie geskroom het om die pen in gal te doop nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Bruno Stef ·

Herman dankie aan jou vir die oopkop benadering wat in al jou artikels duidelik na vore kom. Die mandaatlose redakteurs wat nou asook die verlede gal gebraak het teenoor die meer konserwatiewe denkers is nog maar altyd daar dit is hoekom julle manne hulle met hulle sieklike Liberalisme moet ontmasker by elke geleentheid

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.