Nuuskommentaar: ‘Begrawe die boere lewend’ en die protesdemokratiese reaksie hierop

Die Nasionale Vergadering

Die Nasionale Vergadering

Die uitroep van ’n ANC-LP tydens die debat oor plaasaanvalle dat boere lewend begrawe moet word, het nie net ’n stortvloed kritiek ontlok nie, maar ook ’n besinning tot gevolg oor hoe protesdemokrasie die leemtes van die parlementêre stelsel wat na ’n diktatuur van die meerderheid neig, doeltreffend kan aanraak.

Daar rus nou ’n reuseverantwoordelikheid op die ANC om blitsvinnig en beslissend op te tree teen een van sy LP’s wat tydens die debat oor plaasaanvalle in die parlement uitgeroep het boere moet lewend begrawe word. Dit oorskadu selfs die onsmaaklike retoriek vanuit die geledere van die EFF en Agang. Hiermee word ’n minagtende streep getrek deur die toesprake van die minister van polisie en ander ANC-sprekers, soos adv. André Gaum. Tot tyd en wyl duidelik, doeltreffend en onomwonde opgetree word, staan die ANC naak oor sy erns dat plaasaanvalle die hoof gebied moet word.

Maar dit sny dieper, soos dat dit bydra tot die polarisering van gemeenskappe, aldus mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee.

Ook die TLU SA het behoorlik mond uitgespoel hieroor. “Dit is egter teleurstellend, selfs skrikwekkend, dat ’n ANC-LP tydens dr. Groenewald se toespraak ’n tussenwerpsel kan maak, “begrawe hulle lewend”, met verwysing na die boere, en dat so iets nie deur die Speaker onmiddellik aangespreek word nie,” aldus mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

In die proses word egter nie “vergeet” van die smerige aanvalle van Agang en die EFF nie.

Van Zyl reageer hierop: “Net soos boere weier om beskuldig te word van diefstal van grond, weier hulle ook om vals beskuldig te word van swak arbeidsverhoudinge. Sou dit wel plaasvind, is dit omdat die departement van arbeid dan nie sy werk doen nie. Daarom daag TLU SA vir Agang en EFF om hulle bewerings met konkrete feite te ondersteun. Tot dan behoort die Speaker hulle aan te maan oor hulle ongegronde en ongetoetste aansprake.

“Terselfdertyd moet hulle dan ook openlik sê of enige beweerde optrede wel brutale moord, marteling of verkragting regverdig.”

Volgens Breytenbach is dit nou belangrik dat die parlement binne sy parlementêre stelsel aandag sal gee aan die skep van ’n klimaat van verdraagsaamheid en die skep van ’n begrip by die breër publiek, en dat almal wat by die primêre landbou betrokke is as ’n bate vir die land beskou moet word. Deur die boerderygemeenskap te beskerm, sal stabiele voedselvoorsiening aan die bevolking verseker word, wat verder noodsaaklik is vir stabiliteit in die land.

Kortom, die bal is nou in die hande van die ANC om te besluit of die historiese debat oor plaasaanvalle in die parlement as baken gaan staan in die stryd om die euwel te bekamp, en of dit net nog ’n mylpaal gaan wees in die ANC se reputasie van leë beloftes en dubbelsinnighede wat liefs so gelaat word om nie te veel aan die “eenheid” binne die ANC te karring nie. Die ANC is juis nou besig om vervaard water te trap (maar dit na niks te laat lyk nie) nadat pres. Jacob Zuma hom ten gunste van grondonteiening sonder vergoeding uitgespreek het, kort nadat die parlementêre koukus eenparig daarteen gestem het. Volgens berigte maak onteiening sonder vergoeding ook nie deel uit van die besprekingsdokument vir die ANC se komende beleidskonferensie nie, maar moet demokrasie in Suid-Afrika gereduseer word tot ’n fyn spel om so op te tree dat die ANC so na moontlik die regte beleidsbesluite neem.

Om nie nog van die doeltreffende en korrupsielose imwerkingstelling daarvan te praat nie. Dit mag pragmaties wees waar een party absoluut oorheers, maar is selde doeltreffend, veral waar korrupte oorwegings skynbaar dikwels baie swaarder as enige ander oorweging, selfs die wense van eie kiesers, weeg.

Die finale oordeel moet nog oor die Sassa-debakel gevel word, maar op die oog af is dit ’n klassieke voorbeeld. Lang vingers word nog na die e-tolsage gewys, soos dat Suid-Afrika hopeloos meer as die internasionale norm vir die oprigting van die paaie betaal het.

Wat bly vir kiesers van minderheidsgemeenskappe oor? Oor die jare is begrippe soos konstruktiewe betrokkenheid en konsensuspolitiek op die proef gestel, en ja, daar was ook suksesse. Maar die EFF en nou ook Agang, en selfs die UDM wat ten gunste van grondonteiening sonder vergoeding gestem het (hoewel skynbaar die gevolg van ’n verdwaalde LP wat in die afwesigheid van Holomisa die pot misgesit het), is saakmakende konsensus (’n tipiese uitvloeisel van die komiteestelsel) en konstruktiewe betrokkenheid (weens korrupte belange, en Luthuli-huis-gedrewe patronaatskap) buite die kwessie – tensy Zuma se tande getrek word.

Is al wat oorbly protesdemokrasie?

Adv. Anton Alberts, LP van die Vryheidsfront Plus, waarsku juis die week in die parlement dat … “namate korrupsie en onbevoegdheid in die ANC-regering toeneem, sal belastingbetalers se weerstand om hul swaarverdiende geld aan ʼn ondoeltreffende regering af te staan dienooreenkomstig toeneem … die verdeling van inkomste ʼn sinvolle metafoor vir die verdelings in ons land. Al meer belastingbetalers bevraagteken die morele verpligting om belasting te betaal.”

Die gedagte van belastingweerhouding is nie nuut aan Suid-Afrika nie – pres. Paul Kruger het juis wanbetalers op Kerkplein in blokke gesit, vandaar die uitdrukking “&^% of betaal is die wet van Transvaal”.

Meer georganiseerd was pogings om die diskriminasie vir (nietige) vaste tariewe vir sommige, en veel duurder metertariewe vir ander aan te durf, ’n saak wat grotendeels met ’n meerderheidsuitspraak in die konstitusionele hof geslaag het (City Council of Pretoria v Walker and others), maar die deel oor belastingweerhouding (sonder hofbevel) bloot omdat die staat nie sy grondwetlike verpligtinge nakom nie, het nié geslaag nie.

’n Onlangse Oos-Kaapse uitspraak in die hooggeregshof dui egter ’n ander koers aan – as die staat binne ’n redelike tyd nie sy verpligtinge nakom nie, soos paaie herstel wat byvoorbeeld vir die boere lewensbelangrik is, kan die boere dit self herstel en die koste van die toepaslike owerheid verhaal. Ingevolge ’n vroeëre beslissing van die konstitusionele hof mag op bates van die staat beslag gelê word om skuld te verhaal.

Hierdie soort protesdemokrasie is egter kompleks, en dit is aangewese dat mense wat dit aanpak, dit as deel van burgerlike strukture doen wat ’n integrale deel van die grondwetlike demokrasie is. Die opkoms van die Solidariteit Beweging is ’n goeie voorbeeld hiervan, maar te veel van die instansies se bestaan is omtrent net geweef rondom litigasie – en so word die howe feitlik “gedwing” om op ’n vlak in die uitvoerende en selfs wetgewende vlak van die regering te bly inmeng wat die howe ongemaklik maak, en al meer kopsku maak. Maar solank dit hou, en die regering sy grondwetlike verpligtinge nakom, is dit meer as welkom en vir die regering ’n reuseklip in die skoen.

Protesdemokrasie word egter merendeels verbind met protesoptogte, soos wat in die VSA losgebars het nadat Donald Trump die presidentsverkiesing gewen het. ’n Vinnige oorsig van protesdemokrasie op Google dui daarop dat dit soms as ’n anti-demokatiese optrede beskou word, veral as dit met vandalisme en geweld gepaardgaan. Ander beskou dit weer as van sleutelbelang om ’n demokrasie te laat floreer. Uit die Duitse literatuur word dit kort en kragtig gestel: “Demokratie braucht Protest!” (demokrasie het protes nodig). Dit lyk of die Duitse denke sterk beïnvloed is deur die optrede van die Poolse vakbond Solidariteit, wat die kommuniste uitgeskop, en onder meer na Oos-Duitsland oorgespoel het.

Maar is dit werklik die Afrikaner en ander minderheidsgroepe se aard om protesoptogte te hou? Ja, daar was al sulke optredes, soos jare gelede se trekkeroptog in Pretoria, die bakkie-optog deur Bethlehem (waaraan die uwe deelgeneem en ’n taamlike gek gevoel het), en ander. Daar was selfs ’n tipe teenprotes soos om betogers wat ’n belangrike rugbywedstryd tot stilstand gebring het, en hulle self van die veld te verwyder toe die polisie makeer het. Dit het geboemerang.

’n Vorm van protesdemokrasie waar die Afrikaner hom baie diep ingewortel het, is om die hart op die sosiale media en ander platforms in die kuberruim uit te stort. Met die frustrasie en gevoel van magteloosheid wat ervaar word oor dienslewering wat haper, openbare geld wat “verdwyn”, stemme wat nie ’n broodnodige regeringsverandering teweegbring nie, hospitale wat die een negatiewe berig ná die ander ontlok, plaasaanvalle – met ministers wat al luukser leef en skynbaar al minder toerekeningsvatbaar en minder bevoeg raak, moet ’n uitlaatklep iewers gevind word.

Politiek korrekte sensuur in die media help ook nie om die uitlaatklep tot rasionaliteit te laat bedaar nie.

Erge frustrasie, selfs woede, en soms naakte haat straal uit die leserskommentare by berigte. Daar is dikwels ’n erge onverdraagsaamheid teenoor ander deelnemers wat (nog) nie die kwaad so erg ervaar nie. In beginsel sal daar ’n verskil wees tussen die reaksies van diegene wat in ’n gebied woon waar getalle en vrot dienslewering ’n magteloosheid voed, en gebiede waar die stembus wel ’n ander uitkoms gebring het – met die ongemak dat die stabiliteit daarvan dikwels in die hande van die EFF is.

Die wysheid van Salomo is nodig om leserskommentare te bestuur. Geen medium wil immers dat sy rubriekskrywers so deur lesers, veral diegene wat deur fopnuus en propaganda op sleeptou geneem is, geïntimideer word dat dit wat nodig is, nie meer geskryf word nie. Sommige bydraes is duidelik haatspraak of om ’n ander rede ultra vires en laat die administrateurs geen ander keuse as om dit te verwyder nie, ook in belang van die skrywer daarvan wat ook diep in die sop kan beland.

Aan die ander kant is daar uiters waardevolle bydraes van lesers wat ander insigte bring, die inhoud van rubrieke aanvul en verryk en salwend optree waar gemoedere warm word.

Leserskommentare is duidelik vir baie mense terapeuties. Daar is beslis ’n plek daarvoor in die omvattende protesdemokrasie. Dis immers ook loshande beter as vandalisme en sabotasie.

Maar dit verdring nie die belangrikheid van politieke partye nie, en ook nie die noodsaak van burgerlike bewegings nie.

En sover vasgestel kan word, swyg die Seunse Weenkoor.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

21 Kommentare

Ernst Reblin ·

Wie van die wat moet luister steur hulle enigsin aan hierdie berig

Francis ·

mag elke oog wèreld wyd dit lees en die waarheid besef wat in S -A gebeur .
Vroeer was gese kill a boer kill a farmer ?!!!! en wat gebeur vandag .dankie Jesus dat die werklikheid nou bekend is aan ALMAL OOK OORSEE !!!!

Stephanie ·

Francis, ongelukkig is die artikel in afrikaans geskryf.
So indien dit nie iewers ook in engels is nie gaan bitter min mense dit kan lees en verstaan.

Johann ·

Stephanie.al word die elle lange retoriek in Hebreus, Brail, Gebaretaal of skilpad sis vertaal, die wêreld buite die veronderstelde norme van n gesonde RSA ( ingesluit.ons sg regering met sy selfwaan gedrewe magsbehepte vergrype) kan nie minder voel of omgee of doen as bloot waarneem.en skouers optrek nie. Ons is op ons eie aangewese. En dis VER meer as bloot n gebeds afhanklikheids kultuur. Wat DOEN “ons” daadwerklik?

joe ·

Dis net oorlog met die Here se krag en genade wat gaan uitkoms gee in hierdie land!

TDW ·

Herman Herman Herman …
Baie baie dankie! Jou kommentare is my gunsteling! Jy verstaan presies hoe die meeste van ons Afrikaner volk in ons harte voel, en jy pen dit so perfek neer. Jy gee woorde aan my gevoelens. Dankie vir jou leiding.

Chris ·

Waarom verhoed Maroela ons om sy berigte aan te stuur deur die link toe te maak.

Lynda ·

PLEASE PLEASE… someone translate this into english so the world can read about what is really going on in South Africa……

M A ·

Die “debat” is ook uitgesaai en op die internet beskikbaar maar baie van die spreekbeurte is in Afrikaans gedoen. So het n gulde geleentheid om die toedrag van sake internasionaal bekend te maak in die grond geduik. Ek verstaan dat mens jou eie taal wil praat maar jislaaik as jy ernstig opgeneem wil word moet mens soms ‘n bietjie logies dink.

CL ·

Met die beste intensies vir samewerking en opbouing is daar nie meer plek vir wit boere in SA nie. Nie met die regering se onwilligheid en onbekwaamheid nie. Nie met ander partye se verpolarisering nie. Nie met die rou rassehaat wat gestook word deur elemente wat gulsig die eie sakke stop nie. Dit is hartverskeurend.

Johann ·

Weet iemand wie die ANC LP is wat gese het die boere moet lewend begrawe word?

Pieter van Wyk ·

Dankie vir die insiggewende berig. Al oplossing beskikbaar kan tog nie wees om net daaroor te sit en kla op sosiale media nie !! Daadwerklike leierskap, eenstemmigheid en positiewe optrede word dringend benodig. Kla-kouse het nog nooit enige iets in die lewe bereik nie.

Pork Chop ·

Waar is die ou manne wat die stryd kan lei? Waar is die leiding om ons volk te verenig? Eendrag was mag. Waneer ons weer kan saam staan as een kan dinge verander. Op die oomblik is ons volk verdeeld. Dis waar wat Pieter se. Praat help nie. Hoeveel bloed van ons volk moet nog vloei voor dit genoeg is?

w ·

Jammer ANC ek vertrou jul ni net soos ek ni n vreemde hond vertrou ni

Piet ·

N elle lange skrywe wat my halfpad verloor het. Ons gekerm gaan niks help, jammer. Daar is net een antwoord. Gewapende stryd al kos ons dit baie lewens wat in elk geval nou al gebeur.

Jaco ·

En so murmureer ons klomp sleutelbord soldaatjies voort, niks word inderdaad gedoen nie!!!

E.K. ·

Dan kerm die spul oor Helen Zille se twiet wat GEENSINS haatspraak of rassisties was nie.

Stephan ·

n Baie goeie uiteensetting. So n artikel gee perspektief en lg. gee rigting aan gedagtes en opinies word gevorm wat tot deurdagte dade/optrede lei. Jy kan nie hierdie proses probeer uitskakel nie. Dankie Herman jou artikel help om denke wat tot dade lei te bevorder.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.