Nuuskommentaar: Bomme in Sri Lanka

Die St. Sebastian’s-kerk in Negombo, noord van Colombo. Foto: (AP Photo/Chamila Karunarathne)

Die bomaanvalle in Sri Lanka wat sowat 300 mense die lewe gekos het, toon onomstootlik hoe ’n slegte idee dit is om die geregverdigde en wettige griewe van minderheidsgroepe hardhandig te smoor. Minderheidsregte moet behoorlik ingevolge die internasionale reg ondervang word, iets wat ook deur Suid-Afrika, wat selfs meer heterogeen as Sri Lanka is, goed en by voorbaat begryp moet word.

Met die skryf van hierdie nuuskommentaar het niemand nog verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar nie, maar dit blyk dat ’n Moslem-jihadgroep betrokke was. Twee bekende radikale Moslems, wat skynbaar selfmoordbomaanvallers was, tel onder die dooies. Altesaam sewe selfmoordbomaanvallers was blykbaar verantwoordelik. Meer as 40 verdagtes is aangekeer.

Die vernaamste verdagtes was aanvanklik juis die Tamil-Tiere asook die Moslems. In albei gevalle is daar egter ook aspekte wat nie sin maak nie, soos dat Christenkerke op Paassondag vername teikens was.

Dit was ook moontlik dat die potensieel werklike sondaars nie in berekening gebring is nie, naamlik ’n radikale Marxistiese groep.

Foto: (AP Photo/Gemunu Amarasinghe)

Suid-Afrika het ook veel te leer uit wat in Sri Lanka aan die roer is. Uit ’n teoretiese oogpunt hanteer die semi-demokratiese regering die minderheidsgroepe, en veral die Tamils, volgens die teksboek van hoe minderheidsgroepe nié hanteer moet word nie.

Die grootste bevolkingsgroep in Sri Lanka is die regerende Singalese. Die Singalese se voorouers het uit Indië gekom nadat hulle daar Hindoes geword het. In Sri Lanka het hulle egter weer ná ’n bepaalde gebeurtenis Boeddhiste geword. Die Tamils, wat nou sowat 17% van die bevolking uitmaak, se voorouers het later gekom (hoewel die Tamils glo hulle was “nog altyd” in Sri Lanka) en was toe reeds tot die Hindoeïsme bekeer. Sowat 7% van die bevolking is Christene en ongeveer 10% is Moslem.

Daar is soms na die burgeroorlog teen die Tamils as ’n stryd tussen die Leeus en die Tiere verwys. Sri Lanka se vlag het ’n leeu op, terwyl die Tamils hulle met tiere vereenselwig.

Benewens die Singalese en Tamils is daar ook klein minderheidsgroepe, naamlik die Burghers (hoofsaaklik van Nederlands gemengde afkoms) en die More (Moslems van verskillende herkomste). Minstens een Moslemmoskee het al onder ’n bomaanval deurgeloop.

Die skade by die Shangri-la hotel in Colombo. Foto: (AP Photo/Eranga Jayawardena)

Minstens een Marxistiese groep het sy steun openlik aan die Tamils se opstand toegesê, en dit trouens duidelik gemaak dat Marxisme die enigste hoop is dat die Tamils hul onafhanklikheid sou kon verwerf. Hierdie geskrif is gepubliseer nadat Sri Lanka die Tamil-opstand met geweld onderdruk het. Sowat 80 000 mense is in die burgeroorlog dood wat ongeveer ’n kwarteeu geduur het. Die Tamil-Tiere was die eerste mense wat sover bekend in hedendaagse tye van selfmoordbomaanvallers gebruik gemaak het.

Kort voor die einde het die Tamils al oor ’n klein vloot en die begin van ’n eie lugmag beskik, en trouens selfs lugaanvalle van stapel gestuur.

Hoewel Sri Lanka ’n militêre oorwinning behaal het en die rug op alle vredespogings gedraai het, onder meer een waarby Roelf Meyer betrokke was, was dit uit die media duidelik dat die Tamils nie volkome verslaan is nie. Hulle sou volgens hierdie berigte bloot passief geraak het om kans te kry om te herorganiseer. Hoewel die meeste Tamils in Indië woon, het die Tiere se vernaamste hulp en steun van die groot Tamilbevolking gekom wat in Kanada in diaspora woon.

Familielede van die 12-jarige Sneha Savindi, een van die slagoffers van die ontploffings, huil by haar kis in die St.Sebastian-kerk in Negombo, Sri Lanka. (Foto: Gemunu Amarasinghe/AP)

Die feit dat baie van die jongste aanvalle deur selfmoordbomdraers uitgevoer is, het die vinger dadelik in baie mense se oë na die Tamils laat wys. Dit sou egter dan nie die aanvalle op die Christenkerke verklaar nie.

Waarnemers wys daarop dat die jihadi’s nie met Sri Lanka se ganse Moslembevolking gelykgestel moet word nie. Die geradikaliseerde jihadi’s maak blykbaar net ’n klein persentasie uit, en moes glo buitelandse hulp gehad het om so “doeltreffend” te kon optree. Bewerings van bande met Isis of Al-Kaïda is nog nie genoegsaam bewys om dit as feit te aanvaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Andreas ·

Herman, per ‘n berig uit News24:

“The President condemned the attacks in the strongest terms and emphasised that in solidarity with the people of Sri Lanka, South Africa will continue to use its non-permanent seat on the United Nations Security Council to prioritise the fight against terrorism and extremist groups across the world.

Dus wonder ek of ons president die situasie daar anderkant reg verstaan soos jy die realiteite hier belig?

Andreas ·

Maar was die ANC nie ook eens ‘n terroristeorganisasie nie?

Wildeboer ·

Laat dit ook ‘n les vir die ANC wees. Minderheidsgroepe wil ook bestaansreg geniet en wil nie deur die meerderheid oorheers word nie. Indien die meerderheid weier om te luister, lei dit tot geweld soos met die Tamils. So ‘n dekade of wat gelede, het die Chinese gehelp om die Tamils se weerstand te knak. As vergoeding kon die Chinese ‘n groot vlootbasis vestig in Sri Lanka om hul belange in die streek te beskerm.

HPV ·

Ja Andreas, hulle was, en in ag geneem hoe die land tans daar uitsien, nog steeds.

Andreas ·

Ook wonder ek, waar is ons intelligensiediens en Cyril se raadgewers? Verseker moes Cyril al van ‘n persoon met die naam Herman gehoor het.

Dries du Toit ·

Hierdie deurmekaar spul is bitter moeilik om te verstaan. Hoe ek dit verstaan is die oplossing om grense te trek en elke volksgroep of kultuur groep homself kan regeer.

Weskusklong ·

Lyk my minderhede bly maar gedoem, oral in die wêreld.

Nico K ·

Ek weet nie van ‘n enkele land in die wêreld waar daar minderheidsgroepe in ‘n land is, dat daardie minderheidsgroep gelukkig is nie. Nie eers in Europese lande nie, waar die meeste minderheidsgroepe voorspoedig leef.

Andre ·

Waar pas die “wettige en geregverdige griewe van minderheidsgroepe” hier in ?

marous ·

Dalk moet dieselfde onderhandelaar weer gaan probeer . Hy is blykbaar beroemd vir suksesse . Dalk in ‘n christen kerk die keer ……

Jerry ·

Die bose tref geen onderskeid nie, nie vir Sri Lanka nie, nie vir Nieu Zeeland nie en ook nie vir SA nie. Die radikale ekstremiste vind jy orals, jy vind hulle by verskillende rasse en by meerderheids, minderheids, geloof, ryk en arm groepe. In SA eindig hierdie tipe mense polities en ideologies op by die linkses en by die regses waar dit selfs die potensiaal skep van soort teen soort, broer teen broer en boeta pasop, dit soek skoor, dit skreeu om wraak en vergelding, dit verdra absoluut geen onreg nie, in dit se strewe na die regstel van die onreg van die verlede en ook nie in dit se strewe na die regstel van die onreg van die hede! Dit beskik oor die ongelooflike vermoe om op die gevoel van niksvermoedende mense te speel en wie aanvanklik betrek word by iets onskuldig en wat na n uitgemaakte goeie saak lyk, tot iets wat uiteindelik die niksvermoedendes nie terwille is nie, maar tenkoste en met tragiese gevolge soos ons gesien het met die regse ekstremistiese aanval in Nieu Zeeland, die linkse ekstremistiese aanval in Sri Lanka, die linkse radikale aanvalle in SA! Wat die regses in SA aanbetref sien ons reeds verskeie aanvanklike passiewe weerstand en selfbeskikkingsprojekte wat niksvermoedendes terwille is, tot boikotaksies wat niksvermoedendes al hoe minder terwille is, tot skoorsoek/uitlok/uittart taktiek. Soos wat die proses vorder sal daar meer op mense se gevoel gespeel word en sal aksies meer en meer asook drasties radikaler raak!

Boerboel ·

Jerry jy het dit baie mooi en duidelik gestel, hulle voel niks om ander onskuldige mense se lewens te neem nie. Hulle hoofdoel is om vrees en paniek te saai. Hulle sal ook nie slaaplose nagte he oor mense wat dood is agv. hulle gruwel dade. Hulle is plynweg lafhartig . Meer as 300 dood, dis die ergste in baie jare. Kyk wat begin gebeur in Frankryk. Hierdie is nog nie die einde nie.

Pieter ·

Dis net jammer dat linkse media en linkse politici nie dieselde tipe reaksie toon as me die New Zeeland moorde nie. Wys net wat hulle houding is teenoor Christene.

aj ·

Dat die Notre Dame, historiese Katolieke kerk, in Frankryk afbrand presies met die aanvang van die Paasfees is net TE TOEVALLIG!

Uit 365 dae in ‘n jaar wat ‘n gebou kan afbrand ONTSTAAN daar ‘n brand presies in die piektyd van die Christelike jaarsiklus?

Te dik vir ‘n daalder!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.