Nuuskommentaar: Daag AfriForum dominante denke domastrant uit?

afriforum-logo-31Frans Cronjé, hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, skryf Sondag in sy gereelde rubriek in Rapport dat hy enige tyd vir AfriForum sal kolf. Hy is vol lof vir AriForum wat nie net stem dik maak teen dominante denke nie, maar ook effektief iets daaraan doen.

Cronjé het in Sondag se Rapport ‘n besige tyd beleef, en dit is duidelik dat hy sy mond oor die DA uitspoel, onder meer weens die DA se steun vir die heropening van grondeise. Hy skryf ook dat hy dit moeiliker vind om die DA en ANC ideologies te ontstrengel, en is skerp afwysend oor transformasie.

Nie lank gelede nie, is die instituut beskou as ‘n instelling stewig geanker in die DA-dampkring. Dit het egter algaande ‘n onafhankliker koers ingeslaan, wat nie altyd uit alle oorde verwelkom is nie.

AfriForum, asook Solidariteit, loop gereeld onder kritiek deur vanuit die geledere van die “dominante denke”. Dié instellings word maklik, ongekwalifiseerd, in rubrieke en ander opiniestukke as “regs” of “rassisties” afgemaak. Veral die land se voorste transformasiedrywers spoel gereeld hul monde uit weens AfriForum se rugsteun aan mense wat krities staan oor transformasieprosesse wat dikwels van verdwaalde uitgangspunte af uitgaan.

Terwyl hierdie transformasiedrywers daarop aanspraak maak dat hulle beslag aan die grondwet probeer gee, maak AfriForum en sy vennote op dieselfde aanspraak, en span op die koop toe die internasionale reg in.

Uiteindelik handel dit oor ideologiese uitgangspunte, wat almal hul begronding na die grondwet kan terugvoer. Dit word veral saamgesnoer in die bepalings van die grondwet wat oor vryheid van mening en uitdrukking, en onder meer persvryheid handel.

In die praktyk bevind baie kiesers hulle verward soos verkleurmannetjies op ‘n boksie Smarties. Om dit baie eenvoudig te stel, hulle beplan om hul kruisies te gaan trek by ‘n party wie se beleid nie strook met dit wat hulle Sondag in die kerk leer, of strook met veldtogte wat burgerlike instansies voer waarvan hulle lid is nie. Dikwels gaan hierdie teenstrydighede by baie kiesers doodgewoon verby, tot sekere aspekte hul aandag daarop vestig, soos die DA se “vliegramp” waar baie lapwerk ingespan moes word.

‘n Tweede groep kiesers is bewus van teenstrydighede, maar het vrede daarmee omdat dit suiwer daaroor handel om die ANC so gou moontlik tot ‘n val te probeer bring. Boonop is die verskil in vlakke van dienslewering deur DA-beheerde munisipaliteite teen oor die in ANC-hande opsigtelik anders.

Dan is daar uiteraard ‘n groep Afrikaners wat meen hulle pas ideologies gemaklik in ‘n party wat ‘n ander grondslag het as die burgerlike instansies waarvan hulle lid is. In Sondag se Rapport het ene Tyl Uilspeël van Pretoria dié stelling in ‘n brief gemaak. Hy het enorm baie reaksie ontlok.

‘n Volgende groep wie se party van keuse onder kritiek deurloop gooi die hande in die lug en vra “wie anders is daar om voor te stem?”

Hierdie skynbare politieke skisofrenie duur nou al ‘n hele ruk. Hoekom word dit nou “skielik” ‘n kwessie?

Die situasie herinner nogal aan ‘n tierboskat wat met sy rug teen ‘n doringbos vasgekeer is. Baie Afrikaners beleef blykbaar ‘n gevoel dat die laaste loopgraaf nou bereik is, en dat die pad vorentoe is nie is deur verder op “ononderhandelbares” terug te val nie, maar om verlore grond terug te probeer win. Of dan minstens anker te werp.

In daardie opsig bied AfriForum (en Solidariteit) vir al hoe meer mense ‘n uitweg – iewers waar nie maar passief gesit hoef te word om agteruitgang sy beloop te laat neem nie, maar om daadwerklik iets aan die saak te doen.

Uiteindelik, wanneer aanbiedinge van hulp en samewerking niks oplewer nie, skroom AfriForum nie om die howe te nader nie.

In ‘n grondwetlike demokrasie word die bestaan van sulke burgerlike strukture as ‘n teken van grondwetlike volwassenheid beskou – soos ook die rol wat Outa speel. Dit is net so belangrik vir grondwetlike demokrasie as die vrye pers. By geleentheid het die rubriekskrywer, Rhoda Kadalie, geskryf politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis.

‘n Burgerlike organisasie is egter geen politieke party nie, hoewel gevalle in verskeie lande voorgekom het dat ‘n burgerlike instelling wel in ‘n politieke party omskep is, of ‘n politieke vleuel gekry het, omdat geen van die bestaande politieke partye kans gesien het om denke buite die dominante denke te omarm nie.

Die dominante denke is dikwels nie werklik meerderheidsdenke nie, maar word deur ‘n verloop van omstandighede en soms met die “hulp” van die media as die fatsoenlike en dus dominante voorgehou.

Normaalweg is ‘n burgerlike instelling egter geen politieke party nie, en lê sy krag juis daarin dat dit op ‘n ander manier sy doelwitte bereik. Dit bots nie met die beleid van politieke partye nie, maar sal wel spesifieke beleidsaspekte die stryd aansê – van enige party.

AfriForm se prestasies is vir almal om te sien, en hoe meer mense bereid is om te kom kolf, hoe sterker sal dit wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Danie ·

Dit is die krag van Solidariteit,Afriforum en Helpende Hand.Die feit dat dit nie n politieke party is nie,maar n burgerlike organisasie.Dit is werklik meer van n volksbeweging as n organisasie.
Die feit van die saak is,n verkiesing is net elke 5 jaar.En ons weet boonop wie die verkiesing gaan wen,ons weet net nie hoe ver nie.Dan het Zuma nog 5 jaar om die land verder te laat verval.Intussen word Afrikaners,en ook ander minderhede moet ek byvoeg,se regte elke dag bedreig.En dit is belagrike kwessies waarvan ons praat,diskriminasie in die werkplek,taalregte,rassekwotas selfs in mense se private besighede.onteiening ens.Daar is die kwessie van munisipaliteite wat verval.My punt is Solidariteit en Afriforum is elke dag daar om te help.Dit terwyl die volgende verkiesing 5 jaar verder is.
Solidariteit en Afriforum het onmisbaar geword en is al wat Afrikaners nog saambind om saam te staan.Ek het nog altyd DA gestem,maar my stem is nie n gegewe nie bygese.Ek sal my stem wegneem as ek voel hulle word n ANC lite.Ek sal hul beleid mooi dophou.Maar ek is baie trots om n ingeskrewe en betalende lid van Solidariteit,Afriforum en Helpende Hand te wees.Almal wat dit kan bekostig moet asb inskryf.Hulle veg vir die toekoms van ons kinders.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.