Nuuskommentaar: Die AB en die waarheid – taai toffie van heterogeniteit

Die stof wil maar net nie heeltemal gaan lê oor die voorlegging wat die Afrikanerbond onlangs voor ‘n ad hoc-komitee van die parlement gelewer het nie, ter herdenking van die eeu sedert die wet op Naturellegrondbesit op die wetboek geplaas is.

Hoewel die ANC-LP, Mandla Mandela, na die inhoud van die voorlegging as onwaarhede verwys het, was die algemene trant in die media en ander partye hoofsaaklik een van kritiek op die trant van die voorlegging. Dit sou onder meer onsensitief wees, soos verwoord deur die DA-LP, Annette Steyn.

Die AB het gou gereageer deur te sê die bedoeling was nie om te kwets nie.

Die probleem is een van hoe ‘n mens in ‘n heterogene samelewing die waarheid ter tafel lê, as die waarheid politiek-inkorrek, of politiek onsensitief is. Is dit enigsins moontlik?

Kom dit by die kwessie van grondbesit in Suid-Afrika, is dit ‘n mynveld.

Dr. Pieter Mulder het hom ook in ‘n stroom kritiek vasgeloop na sy geskiedenisles oor grondbesit in die parlement. Hy is onder meer erg deur pres. Jacob Zuma verkwalik. Die persepsies hieroor is een waar verskillende groepe wel dieselfde land bewoon, maar ook op verskillende planete. Opnames toon dat sowat 85 persent swart mense glo wittes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, terwyl ongeveer tien persent wit mense, en bietjie meer bruinmense en Indiërs die mening deel. Beide weergawes kan egter nie die waarheid wees nie.

Die ad hoc-komitee oor privaat besit wat verskeie instansies verteenwoordig waarvan die AB maar een is, het vroeër vanjaar ‘n beraad gehou met die tema: “Die groot leuen.” Dit is wel grootliks deur die media geïgnoreer, maar het reeds die tekens gedra dat daar ‘n onwilligheid is om die land se toekoms te bepaal volgens wat ander groepe as leuens ervaar.

So tussenin het daar ook al meer stemme gekom oor die grond wat die Koisan kwyt is. Argeologie en paleontologie maak dit duidelik dat die Koisan die oorspronklike inwoners van die land was, effektief die hele land, en in wese stief deur die beperkings van die bestaande restitusie-wetgewing behandel is.  In die kuberruim kom die kwessie al hoe meer ter sprake.

Hoe word by hierdie punt verby beweeg sonder om polarisasie die hoogtes in te jaag?

Dit is veral kompleks vir partye wat hul visier op groot getalle swart kiesers stel. ‘n LP van een van hierdie partye het byvoorbeeld kort na dr. Mulder se geskiedenisles ‘n verklaring uitgereik om Mulder die kop te was, asof dit met onwaarhede deurspek sou wees.

Die vlakke van waar politiek korrek gereageer word, of “sensitief”, is legio en dikwels ongesiens. Vroeër vanjaar het Zuma byvoorbeeld op TV gesê tradisionele swart grondbesit is hoofsaaklik beperk tot die droër en onvrugbare grond.  Enige vergelyking van die land se reënval-kaart met ‘n kaart wat die ou tuislande aandui, sal wys dat dit ‘n wolhaarstorie  is, maar anders as wanneer Zuma ander omstrede goed kwytraak is daar ‘n dawerende stilte.

Hoewel daar bruin landelike gebiede soos Genadendal is wat in gebiede van redelike reënval geleë is, is die grootste deel van die miljoen of so hektaar bruin landelike gebiede in baie droë dele, soos Mier, die Richtersveld, Oppermans en ander.  En toe minister Tina Joemat-Pettersson in ‘n artikel in Rapport skryf die bruin landelike gebiede was deel van die 13 persent swart grondbesit, is sy nie reggehelp nie.

Dat daar deernis moet wees, is duidelik. Hoewel die bedoeling met die ou wet was dat die eienaars van “swart kolle” wat “opgeruim” is elders grond in ruil moes kry, of geldelike kompensasie (wat deur baie verkies is), was daar gebreke wat tot ongelooflike lyding bygedra het. Maar of hierdie ontberings tot ‘n alternatiewe weergawe van die geskiedenis wat nie konsekwent deur feite gerugsteun word nie, behoort te lei is ‘n ander kwessie. Om maar een werklike voorbeeld te noem. ‘n Swart man aanvaar eerder die geldelike kompensasie, en skaf daarmee vir om ‘n wa en span osse aan om transport te ry. ‘n Ruk later probeer hy met die span ‘n vol rivier oorsteek, en verloor alles. ‘n Paar geslagte later probeer die nasate steeds die siklus van armoede breek. Was dit die wet se skuld?

‘n Vlugtige blik oor die wêreld dui daarop dat dié verskynsel nie uniek aan Suid-Afrika is nie.

–       Serwië en Kosovo kyk met heeltemal verskillende oë na die onafhanklikheidskwessie van Kosovo, en min of meer dieselfde reflekteer oor die onafhanklikheid van Somaliland van Somalië. Selfs die VN se verslag oor lande wat humanitêre hulp benodig verwys na Somalië as een waar die amptelike regering nie beheer oor die hele grondgebied het nie, omdat “war lords” dele van die land beheer. Dit is wel geldig vir die oorblywende deel van Somalië, maar Somaliland wat nie deur die wêreld erken word nie, het demokrasie al redelik stewig gevestig, en onder meer presidentsverkiesings gehou.

–       In België het die premier van die Franssprekende Wallonië onlangs die Vlaminge verwyt vir onverdraagsaamheid teenoor diversiteit. Die feit van die saak is egter dat die Vlaminge tot ‘n groot mate Frans ook magtig is, en ook meestal ander tale onder die knie het, terwyl die Franssprekendes onder die mees eentalige gemeenskappe ter wêreld plaas, en so eintlik absoluut kil teenoor diversiteit staan.

–       In die VSA is al drie Demokratiese kandidate vir die burgemeesterskap van New York gekant  teen die deursoekingsgesag van wetstoepassers, ‘n praktyk wat deur die eertydse burgemeester, Rudy Giuliani in 1994 ingestel is, en tot ‘n drastiese afname in misdaad gelei het.  In 1990 was daar 2 605 moorde in New York, maar verlede jaar net 414. Hoewel die Republikeinse kandidate vir die behoud van Giuliani se maatreëls is, is dit onwaarskynlik dat een van hulle die pyp sal rook. Met die verminderde misdaadvlakke is die strewe na individuele regte net te sterk.

Die AB het hom in die geledere van die Afrikaanse gemeenskap in ander kwessies vasgeloop wat op ‘n mate van moedswilligheid dui, soos om te vra wie word deur die AB verteenwoordig. Die verskynsel van dinkskrums (think tanks) is egter ‘n wêreldwye verskynsel, en daar word nie gevra wie hulle verteenwoordig nie. Dit beteken nie dat hierdie instansies nie waardevolle bydraes kan lewer nie. Die AB is minstens deur die parlement genooi om ‘n voorlegging te kom doen.

Op die oog af lyk die kritiek, onder andere uit die media, effens na dit wat Rhoda Kadalie beskryf het as “politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis.” Vryheid van menings word slegs verdra as dit ‘n sekere klank dra.

Uiteindelik is daar ook ‘n saak uit te maak dat die waarheid darem ook iewers ‘n staanplek verdien. Alles kan nie maar net “ter wille van” op een groep se persepsie van die werklikheid gebou word nie, want die ander groep voel dalk net so sterk oor hul persepsie van die werklikheid.

Gaan die vasstel van die waarheid en handeling daarvolgens nie dan maar beter wees nie?

Of is die taak om die ware feite te verkoop nou net te groot?

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Stoere Boer ·

“Argeologie en paleontologie maak dit duidelik dat die Koisan die oorspronklike inwoners van die land was, effektief die hele land, en in wese stief deur die beperkings van die bestaande restitusie-wetgewing behandel is”.

As hulle so versprei was sou dit hulle seker 30 dae te perd gevat het om bymekaar uit te kom. Hulle was seker nie eers ‘n miljoen nie so watter area beslaan ‘n miljoen mense as elkeen ‘n redelike stukkie grondkry. Nee wat die Koisan het ‘n deel bewoon en nou is almal skielik Koisan. Onthou daar word beweer dat hulle ook dieper in Afrika was.

Herman ·

‘n Mens moet baie versigtig wee om vandag se getalle van ‘n bevolking met die getalle lank gelede te vergelyk. As ek reg onthou, was die Egiptiese bevolking in die geraamde tyd van Moses sowat 3 miljoen. Die VSA se inheemse bevolking was na raming met die aankoms van die blankes ook sowat ‘n miljoen, maar niemand stry dat hulle “oaral” teenwoordig was nie.
Dit is nie altyd so maklik om te oordeel watter klipwerktuie kan tot moderne mense teruggevoer, en waatter nie. Die werkuie v so 2 miljoen jaar oud in die Wonderwerkgrot kon egter nie aan moderne mense behoort het nie.
Maar die laat-Steentydperkwerktuie wat in effek oor die hele land gekry word, bv baie daarvan by Fauresmith, waarskynlik wel. Meer modern is die rotstekeninge, en ander gevorderde tegnoligie soos die maak van die pyl en boog, en selfs die gebruik van gif, wat wydverspreid oor suidelike Afrika voorgekom het.
Die argument hier was nie om oor gronddaanspsprake te beslis nie, bloot om aan te toon dat dit wat Malema en sy party as “feit” opdis oor swart mense wat die land se “indigenous people” is, ‘n wolhaarstorie is.
Heelwat lande het ‘n ou inheemse bevolking, bv Indië, maar die nasate leef vandag in kleinerige reservate en word geleidelik geassimileer. Ook Japan het ‘n voor-Japannese bevolking, die Kaukasiese Anoe (wat harige mense beteken). Slegs op die noordelike eiland kom nog ‘n kleinerige groepie van hulle voor. Ook Taiwan, Sri Lanka en ander tel hieronder.
Die regte van ie “first nations” word volkeregtelik erken, maar dit loop nie op algehele grondresitusie uit nie.

Nico Kruger ·

Ek aanvaar die Kaukasiese Anoe moes van Europese afkoms gewees het, daarom harige mense. Ek het ‘n storie gehoor dat in die Tweede Wêreldoorlog het Japanese geweier om saam met daardie mense in eenhede te dien. Hulle het gesê daardie mense stink! Rasisme is maar oral in die wêreld.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.