Nuuskommentaar: Die nuwe koronavirus: Hoe bang moet ons wees?

Foto: (AP Photo/Koji Sasahara)

Die koronavirus bestaan uit ’n hele familie wat ook die gewone verkoue insluit, maar ook uit verskeie baie gevaarlike stamme – en dié groep het pas ’n nuwe gevaarlike nefie bygekry, wat voorlopig as 2019-nCov bekend staan. Om te verstaan waar dié nuwe siekte nou skielik “uit die lug val” moet iemand die een en ander van mutasies weet, en die wetenskap ondersteun word om ’n teenmiddel te ontwikkel.  

Die nuwe koronavirus wat besig is om selfs effektebeurse wêreldwyd te skud en plek-plek paniek te saai is familie van die gewone verkoue, maar blyk baie gevaarliker te wees. Die korona is egter nié soos die nuus daaroor dikwels impliseer, ’n nuwe virus nie. Een van die variasies daarvan, SARS, het in 2002 en 2003 byna 800 sterftes veroorsaak, en nou het’n splinternuwe weergawe gemuteer wat nog nie eens ’n eie naam gekry het nie.

Wat nou nuut is, staan voorlopig bekend as die 2019-nCov-virus. SARS en die nuwe variasie het albei in China ontstaan. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is op 31 Desember gewaarsku oor die uitbreking van ’n toe nog onbekende siekte in Wuhan, in die Hubei-provinsie in China, en wat longontsteking veroorsaak. Die WGO het op 7 Januarie vanjaar reeds in ’n verklaring hieroor soos volg berig: “One week later … Chinese authorities confirmed that they had identified a new virus. The new virus is a coronavirus, which is a family of viruses that include the common cold, and viruses such as SARS and MERS.”

Dit is dus tegnies verkeerd om na die nuwe siekte as die “koronavirus” te verwys omdat daar dan net sowel na die gewone verkoue verwys kon wees, wat al eeue by die mens teenwoordig is. Dit is meer korrek om na die nuwe koronavirus te verwys.

Twee koronavirusse, 229E and OC43, veroorsaak die gewone verkoues, maar twee variasies, MERS-CoV and SARS-CoV, en nou ’n derde, veroorsaak veel erger probleme, wat asemhalingsprobleme, nierprobleme en selfs die dood insluit.

Sommige bronne meld selfs dat die ebolavirus verwant is aan die koronavirus. Die nuwe virus het vermoedelik laat verlede jaar ontstaan deur kontak tussen mense en wilde diere wat in ’n mark in Wuhan verhandel is. Die afgelope paar dae het verskeie bronne berig dat vasgestel is die siekte het van slange na mense versprei, maar die Chinese owerhede het reeds aangedui dat ratels en rotte ook verdagtes is. Dit kan ook tussen mense oorgedra word.

Die huidige paniek – al het die Wêreldgesondheidsorganisasie nog geen noodtoestand verklaar nie (dié besluit sal na berig word eerskomende Donderdag geneem word) – word deur die snelle verspreiding daarvan veroorsaak, asook die feit dat nog so min daaroor bekend is en dit moeilik is om te voorspel hoe dodelik dit gaan wees.

Die sleutel tot die ontstaan van hierdie nuwe siektes is gesetel in die woord mutasies. ’n Goeie voorbeeld van ’n siekte wat gemuteer het, is katgriep, met die nuwe variasie wat honde (nou verwant aan katte) aanval. Omdat dit nuut vir honde was, was dit sonder natuurlike weerstand aanvanklik dodelik, tot ’n teenmiddel ontwikkel is. Elke jaar word voorkomingsmiddels vervaardig wanneer griep na ’n mutasie weerstandig is teen die vorige jaar se teenmiddel, met nog mutasies soos voël- en varkgriep wat die probleem verdiep.

Die koronavirus, net soos die griepvirus, is RNS en nie DNS nie saamgestel, en daarom is dit moeiliker om met medisyne hok te slaan, en boonop muteer dit dan makliker. In Oktober verlede jaar het die wetenskaptydskrif Science egter berig dat daar vordering is in die ontwikkeling van doeltreffende griepmedisyne deur die virus met mutasies te oorweldig.

Mutasies is onder meer ook daarvoor verantwoordelik dat kankerselle soms muteer om weerstandig teen die chemomiddel te wees waarmee dit behandel word, dat daar soveel verskillende vorme van outisme is, dat daar twee soorte disleksie is, en dat kinders nie presiese replikas van hul ouers is nie. Mutasies kan selfs volke se voorkoms betreklik gou laat verander, soos die Britte wat sedert die Romeinse era blonder en langer geword het.

Hoewel nog min van die nuwe korona-mutasie bekend is, verskaf verskeie bronne reeds advies oor voorsorgmaatreëls. Die WGO het reeds ’n volledige inligtingsblad oor voorkomingsmaatreëls opgestel wat hier gelees kan word.

Daar bestaan nog geen teenmiddel nie; tot dit gebeur is ingeligtheid en voorkomingsmaatreëls die beste “behandeling”.

Dit is egter nie net die siekte self wat gevaar inhou nie. Die feit dat dit juis in China ontstaan het, en dat China se sterk ekonomie ’n groeistimulant is vir ekonomieë elders ter wêreld wat nie genoegsaam groei om aan die (welvaart-) behoeftes van hul eie land te voldoen nie, laat kommer ontstaan of die kwesbare wêreldekonomie nie ’n terugslag kan beleef en onmeetlike swaarkry op plekke tot gevolg kan hê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

TwaalfBoor ·

Die “SARS virus” het al menigde Suid Afrikaners finansieel by die dood laat omdraai.

Blinde Sambok ·

Mors met God se skepping. Die diereryk waaroor ons moet heers en waak word verwoes, bedreig en mooraak; daarom broei hierdie pes uit.

Feite ·

Aardverhitting, dodelike virusse, vulkaanuitbarstings, natuurrampe, ekonomiese agteruitgang was maar nog altyd met ons, dit was net nie so erg soos die afgelope dekade nie en dan blyk dit dat met trump aan die stuur kan groter konflik tussen nasies ook nog wink. Die tekens lyk beslis nie goed vir die wereld nie, maar soos in die verlede sal nasies wat die vinnigste en effektiefste kan aanpas by hierdie fenomeen en daar is reeds talle nasies, hopelik die ergste swaarkry gespaar bly!

Koos Berends ·

Trump voel dus heel gemaklik met als wat so om hom gebeur, die regte persoonlikheid om vir niks te skrik nie.

KlaasVakie ·

Die Britte het blonder en langer geword na die Romeinse era omdat hul deur Noorwese (Vikings) ingeval is en met hul gemeng het. Dink nie dit was mutasies nie, eerder nuwe Pa’s :)

Melize ·

Dis hoekom ek maskers dra in publieke plekke en sanitizer orals saam met my vat. Ek kan nie bekostig om siek te word nie. My immuunsisteem is kwesbaar en verswak as gevolg van medikasie wat ek vir ‘n autoimmune siekte moet drink. Iets soos bronchitis kan my in die hospitaal laat opeindig.

Fanie du Preez ·

Net die mense wat nie n Bybel besit en lees nie, is verbaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.