Nuuskommentaar: Die simboliek van #OccupyLuthuliHouse vandag getoets

Veiligheid is Maandagoggend by Luthuli Huis opgeskerp. Foto: Verskaf

Veiligheid is Maandagoggend by Luthuli Huis opgeskerp. Foto: Verskaf

As ’n koninkryk teen homself verdeeld raak, kan daardie koninkryk immers nie bly staan nie; en as ’n huis teen homself verdeeld raak, sal daardie huis immers nie kan bly staan nie (Markus 3:24-25).

Hierdie teksverse skiet ’n mens onwillekeurig te binne as ’n mens dink aan die huidige geskarrel in die ANC.

Sekerlik die grootste toets lê vandag voor wanneer ’n groep, #Occupy Luthuli House”, beplan om na die ANC-hoofkwartier in Johannesburg op te ruk. Hoewel hulle op 2 000 ondersteuners hoop, is die fisieke besetting van die gebou waarskynlik nie deel van die beplanning nie.

Die groot “Occupy”-beweging het sy ontstaan gehad in die goggas wat uitgekruip het met die Wall Street-fiasko wat wêreldwyd uitgekring het – en die “Occupy”-beweging het wêreldwyd gevolg. Oral het betogers in die omgewing van die hoofkantore van hul finansiële markte betoog en mekaar dag en nag afgelos. In Londen het selfs ’n tipe tentedorp ontstaan. Hulle het deurlopend inspirasie geput uit nog goggas en nog goggas wat moes uitkruip, soos ’n Amerikaanse firma wat staatshulp ontvang het om sy ondergang te keer, maar dit heel eerste aangewend het om aan sy topmense weer astronomiese bonusse toe te ken.

Wat baie seker is, is dat die ANC nie die besetting van die gebou sal duld nie, en beslis ook nie dat ’n straatbesetting lank voortduur nie.

Die ANC is baie gevoelig vir enige daad wat die beeld van hul hoofkwartier kan skaad, soos die bloedige Shell House-skietery van getuig, toe op deelnemers aan ’n IVP-betoging geskiet is.

Optogte van die DA na Luthuli Huis is ook as uiters provokatief beskou, en die polisie het hul hande vol gehad.

Nou is die protes egter van binne die ANC self. Die groep eis dat die ANC se topses ontslaan word. Hul mediakonferensie in ’n hotel in Pretoria is Vrydag al “opgebreek”, ’n aanduiding van hoe min hul protes geduld sal word. Uit verskeie oorde is gesê dat mense wat aan die betoging deelneem, nie geregtig is om hulself ANC-lede te noem nie.

Voor ’n mens hierdie beplande besetting as ’n teken van verdeeldheid in die ANC kan beskou, moet gesien word of die protesoptrede nie ’n windeier oplewer nie. Groot getalle jeugliga- en vroueliga-lede sal vir seker opdaag om Luthuli Huis te verdedig. Ook dit is eerder ’n simboliese daad, want die polisie tref al baie sterk voorbereidsels om enige besetting te voorkom.

Straatgevegte anderkant die polisieversperrings is meer waarskynlik – mits daar natuurlik iets beduidends van die protesoptrede kom.

Dit is veel makliker om die spore van ANC-verdeeldheid elders op te merk en met groter stelligheid te volg. In die jongste verlede is dikwels berig oor die koppestamp tussen die minister van finansies, Pravin Gordhan, en die Valke. Min Suid-Afrikaners glo dat Zuma nie self agter die Valke se optrede sit nie.

Die Gupta-sage skep klaarblyklik ook skerp verdeeldheid binne die regering. Dit is pragtig gedemonstreer met die jongste sage rondom minister Mosebenzi Zwane.

Beeld bespreek dit in sy hoofartikel, “Zwane se dommer as dom fout nié solovlug”.

Zwane word as ’n Gupta-man beskou, wat trouens as Vrystaatse LUR vir landbou onttrek is om minister van minerale bronne te word, en so word geglo, na die Guptas se mynbelange om te sien. Dat die “aankondiging” na die voorgenome ondersoeke na banke wat die Guptas boikot (insluitend die Reserwebank) juis van hom kom, was net te deursigtig. Hy is selfs deur die presidensie gerepudieer, en op strepe binne die kabinet en binne die ANC word sy kop geëis.

Heel moontlik sal die groot verdeeldheid in die ANC nie die vorm van ’n groot skeuring aanneem nie, maar eerder as ’n proses van erosie voorkom. Maar dit lyk of dit juis is omdat die emmer so geleidelik vol drup, dat die ANC-leiers die gevaar nie werklik waarneem en verreken nie. Die grootste probleem, Zuma, word byvoorbeeld deel van die “oplossing” gemaak.

Die groot jammerte is dat die land intussen skade ly, anders kon ’n vorm van toeskouerpolitiek ontstaan het waar bloot gekyk word hoe die ANC sy selfvernietigingsproses “bestuur”. En as dinge te stil raak, van buite af net so hier en daar met ’n stok bietjie aan die byenes stamp om die spulletjie weer hul brouwerk te laat voortsit.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Georgie ·

Baie min wat die ANC regering of sy ondersteuners doen maak ooit sin maar hierdie “Occupation” gebaar klink goed…baie goed. Die wiel draai, dalk stadig, maar beslis.

Karma ·

Aaaaag, en toe flop die hele ding ook sommer maar net so, soos ‘n flan wat koud geword het. Wat gesien kon word as ‘n “turning point” in die bestaan van die ANC, is toe met dreigemente van geweld deur die ringkoppe platgeloop. Snaaks dat die SAPS en-mass daar kon wees, tesame met die ANC se (veronderstelde ontbinde) militante vleuel Mkhonto-we-Sizwe. maar as die gewone man op straat ingryping nodig het in ons misdaad geteisterde land, is daar dikwels nie genoeg personeel of infrastruktuur om op noodoproepe te reageer nie ……….

J O H A N N E S !!! ·

MARIKANA!
Of is dit nou Afrikana.????
Onbeskaamd !!!
Ek wil gereed wees as JESUS kom.
Boeties en sussies staan asb sterk in geloof,
Ons KONING kom.

Columbiana ·

Die chaos van dit alles. Ek dink ons moet bang wees virbsie toekoms in die land. Baie bang

Christo ·

Is Mugabe al uit sy stoel gelig,moet nie asem ophou nie want die ANC is maar presies dieselfde.
Onthou dis Afrika

Koos1 ·

Daai Amerikaanse firma laat my soooooo baie aan ons SOE’s dink, SAA, Eskom en noem maar op, wat elke soveel maande by die Tesourie met bak hande staan, maar geen vinger lig om uitgawes te besnoei nie!

Anti regering ·

Die ANC moet val om Suid-Afrika ‘n beter plek te maak vir almal hoe vinniger hoe beter vir almal

Koos (MH) ·

Die afgelope jaar, so met die verkiesingsklug ook nog op hande, lees ons elke dag van chaos,
anargie met gepaardgaande agteruitgang en net mooi niks van groei of vooruitgang nie.
Dink aan die 20 en meer skole wat afgebrand is, universiteite waar geboue ter waarde van miljarde rande gebrand is. Die lys van wandade word langer en langer.
Wat my opval is dat gerekende ekonome, nuusmakers van die dag, en vele meer, baie en erge kritiek op die president en die regering van die dag , lewer. Dawie en Tim geniet dit
met oorgawe om voorspellings te maak wat met die president en die ANC gaan gebeur.
Moontlik is hulle in die binnekringe, ons lesers en kykers sal nie weet nie!
Die chaos wat nou voor ons afspeel was van platform na platform voorspel. Daardie tyd het dieselfde Tim sodanige voorspellings doodgeswyg of afgemaak as verregse dwaasheid.
Kom ons vra dat dieselfde here vir FW de Klerk nader om die probleme binne die chaos
te gaan onderhandel soos hy ons land onder ons uit onderhandel het.Hy mag dalk vir Roelf,
Pik en ag sommer nog ander slim manne van die verlede nader te trek om te help!
Hoop nie ek sien die probleem verkeerd nie.

Azuni ·

Kaan iemand vir my dalk sê hoekom die ANC nogsteeds hulle eie weermag het? Moes hulle nie onbint het na 94′ nie?

Waarheid ·

Dié “army” is maar een vd geraamtes in daai anc kas, dié ander sal uitpeul soos benodig word.

Rynhardt ·

Umkhonto se veterane het betoog by Luthuli Huis en Zuma se badanking geeis soos wat E-TV berig het.Dit het amper buite beheer geraak.Jy sien, die kabinet staan vas agter omstrede Zuma, want hy moet vryheidsmanifes tot uitvoering bring! Waai hy nou val al die korruptes onder hom en peul al die wurms uit (dit gaan later nog alles uitkom in elk geval).SA is op die rand van groot chaoas as wat baie mense besef.Die massas raak al hoe moeiliker en ongeduldig!

Lance ·

Wens hulle kry dit reg …hulle baklei nou so lekker ondermekaar …iets gaan meegee !

Politikis-kritikus ·

Wat is MK se funksie? Is hulle veronderstel om te intimideer of…? As die AWB betrokke was, sou hulle vandag in die tronk gesit het! Is daar by ons ook sprake van ‘n 3de mag?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.