Nuuskommentaar: Eerste slagoffer van ‘nuwe oorlog’ op Turks-Siriese grens

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Kort na ’n Turkse inval in die noorde van Sirië is berig dat agt burgerlikes, waarvan twee kinders was, in die aanvalle dood is.

Die aanvalle word deur Turkye beskryf as ’n soort humanitêre optrede en word deur bomwerpers en gepantserde voertuie gedoen. Mortiere word ook ingespan.

Turkye, wat selde mooi broodjies bak om aanvalle op Koerde in Sirië en Irak in ’n goeie lig te probeer stel, het dié keer alles laat saamval met ’n reusepropaganda-aksie om die inval en die motiewe daaragter soos ’n humanitêre aksie tot almal se voordeel te laat klink.

Die kern van die boodskap bly egter dat Turkye nie ’n Koerdiese terreursone op sy suidelike grens sal duld nie.

En hierin lê die kruks – dit is breedweg dieselfde Koerde wat aangewend word om “namens” die VSA te veg, ten einde doelwitte te behaal wat as baie humanitêr voorgestel word.

Feit is, as dit nie vir Koerdiese strydmagte was nie, sou die VSA en sy bondgenote waarskynlik nou nog nie veel vermag het om die Islamitiese staat wat in groot dele van Sirië en Irak gevestig was, militêr “op te rol” nie.

Pres. Donald Trump aan die woord in die Roosevelt-kamer van die Withuis in Washington. (Foto: Evan Vucci, AP)

Nou het pres. Donald Trump besluit om die VSA se soldate te onttrek van waar die Koerde as “afstandbeheerde” soldate namens die VSA optree. Mense wat die Koerdiese geskiedenis ken, het dadelik beswaar gemaak en voorspel dat Turkye, wat ’n lang vyandige geskiedenis teen die Koerde het, sou ingryp.

Trump se reaksie was dadelik dat hy so iets nie sal duld nie, en dat hy selfs Turkye se ekonomie sal verwoes.

Na ’n telefoongesprek met die Turkse president, Recep Tayyip Erodgan, het Trump egter sy deuntjie verander en gesê die VSA sal nie meer ’n Turkse inval “ontwrig” nie.

Die Pentagon het egter hierna sy eie verklaring uitgereik waarin Turkye gewaarsku is dat die VSA nie so ’n “destabiliserende stap” (die inval in Sirië) steun nie.

Meer as die helfte (58%) van VSA-inwoners steun die idee om die VSA se “belaglike en ewigdurende” oorloë elders te beëindig. Volgens die jongste Rasmussenpeiling staan net 20% die stap teen, terwyl 22% onseker is. Trump se woorde, “… bring our soldiers home”, het ook baie gewild geword in die VSA. Hy het na hierdie soort oorloë as meestal stamoorloë verwys, en bygevoeg dat die VSA wel sal veg waar dit tot die VSA se voordeel is, en dan ook net veg om te wen.

Foto: Pixabay.com

Intussen word die Turkse inval wyd veroordeel. Onder die lande wat dit veroordeel, tel Duitsland, Frankryk, Rusland en België. ’n Spoedvergadering van die VN-veiligheidsraad is ook aangevra.

Intussen word ernstige kommer uitgespreek oor die VSA se stap. Con Coughlin skryf in die The Telegraph die volgende: “The thousands of foreign Isil fighters held in north Syria could be released if the Turkish army invades

“Betrayal is an ugly word. But if you are a Kurdish fighter who has spent the past few years risking your life fighting at America’s behest against Islamist fanatics in Syria, you are going feel that US President Donald Trump has completely abandoned your cause with his announcement that the US is to undertake a unilateral withdrawal of its forces from Syria.”

Hy skryf voorts dat Westerse magte nie langer die aptyt het vir oorsese militêre ingrypings nie, en die nuwe paradigma is om plaaslike magte te kry om as surrogaat op te tree.

Koerde in diaspora het ook reeds met protesoptogte begin, onder meer in Brussel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hendrik ·

Hierdie verraad van Trump teenoor die Koerde herinner sterk aan hoe die VSA ons destyds in Angola in die steek gelaat het. Skandelik!

Maarten Boom ·

Hendrik, Trump het Europa al jare gese hulle moet hulle weerman opbouw en saam veg. VSA het as lid van de Verenigde Nasies hulle kant gedoen daar, saam met die Koerden. Trump se vir die Europese nasies, ons het hier ISIs stryders wat uit julle lande hier oorgekom het. Kry hulle, bereg hulle, stuur hulle na julle tronk toe. Die Europese nasies voel vere en doen niks ni. Nou blameer hulle die VSA omdat hulle hulle self onttrek. Europa is baie agterbaks. Kry net die Koerden bitter jammer.

Therese van Schalkwyk ·

Niks verhoed lande wat die Turkse inval veroordeel, soos Duitsland, Frankryk, Rusland en België, om self in te gryp nie. Hou op om net altyd te veroordeel en dóén vir ‘n slag iets self. Bewerkstellig ‘n eie landsgebied vir die Kurde, doen net íéts. Turkye, Sirië, Rusland en Duitsland kan gerus hierdie nimmereindigende chaos oplos.
Verder moet ‘n mens dan nou maar eenvoudig aanvaar dat daar lande is wat daarvan hou om in ‘n permanente staat van oorlog te verkeer.
President Trump het dit uit die staanspoor duidelik gemaak dat hy nié daardie soort leier gaan wees nie. Hy het al vertel hoe moeilik dit is om briewe aan dooie Amerikaanse soldate se ouers te skryf. Soldate wat in nuttelose oorloë sterf. Waar is die tandelose NAVO met die agterstallige ledegeld? Laat Merkel en Macron dit begin doen.
ISIS is in elk geval nooit heeltemal oorwin nie, hulle sluimer net tot volgende keer.

Bekkie ·

Gaan kyk youtube onder Deon Allers videos’ – die een wat gaan oor Profesie Aktueel. Daar is al 10 Profesiee oor eindtyd, en kyk een van Kores en Trump en wat hulle in gemeen het. Daar is rede hoekom Trump doen wat hy doen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.