Nuuskommentaar: FAK gaan Steve vereer

Steve Hofmeyr (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Terwyl die Ghoema-storm om die kop van Steve Hofmeyr steeds woed en in talle skynbaar net vaagweg verwante rigtings uitkring (dit word môre teen die agtergrond van die komende verkiesing in die nuuskommentaar onder die loep geneem), het die FAK nou aangekondig dat hy Steve later vanjaar gaan vereer vir sy 30 jaar lange reusebydrae tot Afrikaanse musiek. Die FAK meen ’n sanger se persoonlike standpunte is nie rede om hom nie die nodige erkenning te gee nie.

Soos met die Ghoema-sage en die Afrikaans is Groot-tameletjie kan sonder profetiese vermoëns voorspel word dat dié prestige-toekenning polities groot opslae gaan maak.

Die tydsberekening van die aankondiging gaan boonop deur baie vertolk word as ’n stywe middelvinger wat vir ’n wye spektrum kritici, soos politici, borge, politiek korrektes en, en ja, baie seergemaaktes ook uitgedeel word.

Uit leserskommentare en ander terugvoer het dit duidelik geword baie Afrikaners het die afgelope ruk weer seergekry, en selfs verdere verdieping van vervreemding in hul eie land ervaar. Die post-Ramaforiese trauma het ook baie hiertoe bygedra. Die vieslikste vitrioel wat soms (ongelukkig te dikwels) gebruik is om dié boodskap tuis te bring het ongelukkig ook baie skade aan minderheidsregte en opvattings daaroor in die land aangerig.

Laat daar geen twyfel wees nie. Steve is ’n uitsonderlik goeie kunstenaar, boonop met ’n ongewoon veelsydige musiekstem. Politieke korrektheid is, soos dit vir ʼn ware kunstenaar hoort, nie deel van sy repertoire nie – nie in sy jong dae toe hy skynbaar na die linkerkant geneig het nie, en nie in sy meer volwasse lewe toe hy, wel, allesbehalwe linkse neigings openbaar het.

Hy het sy gewildheid skop gegee deur die sing van Die Stem, ’n lied wat in die FAK-sangbundel opgeneem is en geen verbode lied is nie. Ja, dis politiek sensitief, en nie net oor die “verbintenis” met die verlede nie … dis ook ’n politieke vasvat van ’n gereelde gebeurtenis dat die Stem-gedeelte weggelaat word by geleenthede wat deur die meer linkse politieke gemeenskappe aangebied word. EFF-lede wat gereeld bly sit wanneer die Stem-gedeelte gespeel word, krap aan die gekneusde gemoed van diegene wat nog hunker na die veronderstelde gevolge van die nasionale vredesverdrag. Die afloop hiervan, en die invloed op veral die Afrikaner is al by herhaling in hierdie rubriek onder die loep geneem.

Natuurlik is daar ook baie wit mense en Afrikaners wat dit nie eens is met Steve se optrede nie. Baie beskou dit as onnodig uitdagend en skoorsoekery.

As kunstenaar, dus deel van die gewete van die volk, en ook volgens die digter/skrywer Barend J. Toerien, die voorspraak vir die “underdog”, is dit nie net Steve se reg om hom oor onregte uit te laat nie, dit kan in sekere sin as sy kunstenaarsplig beskou word.

Uiteraard is daar baie wat reken dit wat so baie Afrikaners en wit mense pla, bestaan nie werklik nie. En waar die bestaan daarvan erken word, word dit gemeet teen die konsep dat versoening (en vergifnis) nie kan plaasvind sonder gepaste restitusie nie.

Dit is onlangs in ’n radioprogram juis na die Zoeloe-kultuur teruggevoer. Ook die verskil in opvattings is lank reeds in hierdie rubriek as toekomstige probleme uitgewys, soos die konsep onder sowat 80% van die swart mense dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Nou het dit reeds ’n erg verdelende invloed.

Sou Steve dan sy kunstenaarsreg/-plig uitvoer, maak dit hom geen unieke mens nie. Dink maar hoe het die sensors in die ou bedeling deurgeloop deur werk van onder andere André P. Brink te verbied (en die verbod later op te hef).

Hoeveel letterkundepryse en vredespryse is nie al deur die Nobel-komitee toegeken aan mense wat in hul eie lande in tronke sit nie? Juis omdat hulle onregte uitwys.

Nog iets wat pla, is dat baie van diegene wat Steve boikot of wil boikot, die rug agteroor buig om kunstenaars en ander ter wille te wees wat self of júis agter die deur staan soos om lid te wees van organisasies wat slegs swart lede toelaat, byvoorbeeld swart kunstenaarsverenigings.

Steve Hofmeyr by Afrikaans is Groot. (Foto: Afrikaans is Groot/Facebook)

Maar …

Hierdie toekenning bied ook aan Steve die geleentheid om van die negatiewe gevoelens wat hy losgemaak het, uit die weg te ruim. Maklik gaan dit nie wees nie, want bykans enige gebaar van sy kant sal in die hande van die minder goedgesindes as teken beskou of daarvoor uitgemaak word dat hy die finansiële knyp van die boikotte voel. Selfs Steve se grootste vyande erken sy intelligensie, en uit sy baie ondersteuners sal hy ook toegang hê tot mense wat hom baie goeie raad kan gee.

Daar sal ’n “uitwegstrategie” wees wat werk. Maar moenie die onbillike van hom verwag nie. As hy pogings aanwend om soos destyds met oudpres. Jacob Zuma, ook ’n vleisie saam met pres. Cyril Ramaphosa te braai, moet daar meer as ’n paar glimlagte, lekker grappies en verder niks van kom nie. Kortom, alles is nie in Steve se hande nie.

Maar tog, dit sal ’n groot oomblik wees as Steve bo die situasie wat nie sy eie maaksel is nie (wel sy reaksie daarop), kan uitstyg en ferm op sy eie mense se regte (wat immers internasionaal erken) word, kan staan en dit uitleef, maar dit tog niekwetsend doen.

Steve sal waarskynlik baie “vriende” verloor as hy sy ondersteuners vra om hulle in leserskommentare en op die sosiale media van vitrioel te weerhou (al word dit uitgelok), maar hy gaan baie vriende wen – ook vir dit waarvoor hy staan. Dit is ook belangrik dat Steve se teenstanders hulle ook weerhou daarvan om hul kuberpenne in vitrioel te doop.

Intussen, baie geluk met die FAK se prestige-toekenning, Steve. Jy verdien dit.

NS: In hierdie nuuskommentaar is vlugtig na Barend J. Toerien verwys. Barend was kortstondig die skrywer van hierdie rubriek se stiefpa, ná sy eie pa, ’n neef van Barend, jonk oorlede is. Barend was ’n bekende sestiger wat saam met ander as anti-apartheidskrywer die land verlaat het. Hy het egter reeds voor 1994 daarop gewys dat die wyse waarop die Afrikaner internasionaal behandel word, besig is om van hom ’n “underdog” te maak.

Barend het na Suid-Afrika teruggekeer, maar was gou ontnugter deur die onregte van die nuwe Suid-Afrika. Dit het veral gestraal uit klein gediggies wat hy aan Die Burger gestuur het. Veral die bruin mense se dice wat weer verkeerd geval het, het hom gegrief. Gebaseer hierop het Herman Toerien dié gediggie geskryf.

(Barend was kort voor sy dood kortstondig ná die afsterwe van Elisabeth Eybers die doyen van Afrikaanse skrywers.)

Barend J. Toerien nugter ontnugter 

Geliefde, gehate (gewoonlik darem net tydelike) korrelkop
Komplekse woordkunstenaar
van kwasterig verwytend tot smeulend strelend.
Die krapperige korrelkop met sy eie teenstrydighede
was literêr konsekwent en eerlik.
Sy groot stewels wat vasskop
En nog ’n bergwand wat oorwin word
Die uitbundige gees
van die groep geroep deur die natuur
Maar hy hou sy donker bui vir die “perfekte” moment
as ’n woeste woordvulkaan hom laat uitbars
Dan wanneer geliefdes koes
Meet en pas sy ragfyn siel
Alreeds die woorde wat
sy hartstog vir geliefdes stort.
As kampvegter teen apartheid het sy pen later
frustrasie gespoeg – teleurgesteld oor
nuwe hande wat ook integriteit verloor
en van die selfbeligte Barendbaan ontspoor.
Op sy oudag, kort voor sy tikmasjien stil sou word
Peins hy oor sy kinderdae … op Steenwerp
En hoe die onregte van toe tot hom spreek –
net so skerp.
Dieselfde soort onregte wat hy
as ou man weer sou beleef
Die goue draad wat deur sy oortuigings verweef
was ook die tou wat hom kon verstrik
Vir die konsekwente kampvegter
En vrederegter
Vir die underdog

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
a

lesufi gaan sy plat neus daar ook probeer indruk

Esta

Baie dankie aan die FAK. Daar sal altyd iemand wees wat kritiek sal lewer.

Sarel

Die wenner is Afrikaans. Moet aan. nie weer Politieke kommentaar lewer nie Afrikaans is groter as dit. Geluk aan Steve Hofmeyer, ‘n toekenning wat jy waardig is.

mitz

Met GROTE dank aan die FAK wat hul ook nie laat boelie nie. Steve verdien hierdie 100%, hy is enig in sy soort en sal so bly. Doen so voort Steve, ons staan bankvas agter jou.

Wildeman

Verblydend om te sien FAK staan op vir Afrikaans en gee erkenning vir n uiters verdienstelike bydrae tot ons taal en kultuur.

Wie gaan opstaan vir ons ou vlag en ware geskiedenis?