Nuuskommentaar: Gaan skopdop goeie kommunikasie se doppie klink?

President Cyril Ramaphosa se statuur baat aansienlik deur die wyse waarop hy oor die Covid-19 en afsonderingsperiode met die publiek kommunikeer, maar die boodskap self word deur blatante kommunikasiefoute deur van sy ministers belaglik gemaak.

Boaan die lys van blapse is die minister, ironies juis van kommunikasie, Stella Nkabinde Abrahams, met die minister van polisie, Bheki Cele, soos ’n gemaskerde sheriff wat die kluts kwyt is wat heen en weer deur die skares jaag.

Wyle minister Blaar Coetzee, voorheen onder andere ’n joernalis, het glo by geleentheid gesê in die politiek is daar nie slegte nuus nie, vir politieke partye is dit net (bekendstellings)nuus. Nie almal sal hiermee saamstem nie, maar soms is dit meer waar as wat dit op die oog af sou wees.

Met die 2001-sensus in SA het Statistieke SA ’n private kommunikasiemaatskappy teen miljoene rande gehuur om die publiek oor die komende sensus nie net in te lig nie, maar oor die belangrikheid van deelname voor te lig. Hulle is bygestaan deur StatsSA se eie inligtingspersoneel en ’n span tydelik aangestelde mediabeamptes.

Nadat die komende sensus verskeie kere die nasionale SAUK-TV-nuus gehaal het, en in die meeste groot koerante minstens vermeld is, en selfs by landboukongresse genoem is, het dit steeds geblyk dat min mense daarvan weet.

Twee voorvalle het dit egter goed bekend gestel. In die Vrystaat, by geleentheid van die provinsiale bekendstelling van die sensus, bars ’n erg emosionele premier, Winkie Direko, uit teen plaasaanvalle. Sy het pas teruggekeer van die toneel van ’n bloedige plaasaanval by Senekal, en die nou onbekende lot van die hartseer plaaswerkers het haar aangegryp. In ’n stadium maak sy ’n opmerking tot dien effek dat sy gevoel het om vir die polisiehoof op die toneel te sê hulle moes die aangekeerde aanvallers sommer doodgeskiet het voor hulle gearresteer is. In ’n ommesientjie was dit wêreldnuus. Die enigste vermelding van die sensus was egter dat dit by geleentheid van die bekendstelling daarvan gesê is. Sy het later ontken dat sy dit gesê het.

’n Rukkie later het die destydse Bloemfonteinse joernalis, Niel de Klerk, die nuus oor die sensus laat opslae maak deur die land te laat weet dat sensuswerkers nou ook slaggereed is vir ’n “los gelukkie” deurdat deel van hul sensusmateriaal ’n paar kondome is. Min mense was hierna onbewus van die sensus.

Hoeveel Suid-Afrikaners weet nou al van Covid-19 en die gepaardgaande afsondering? Daar is Sondag berig oor twee Oos-Kaapse sussies en ’n vriendin wat in die see verdrink het. Was hulle (en hul ouers) basies halfpad deur die verlende afsonderingsperiode, onbewus van die rampregulasies wat besoeke aan strande verbied en dus swem in die see ook verbied? Of was hulle deel van die baie Suid-Afrikaners wat die afsondering minag – hetsy geheel ignoreer of periodiek kat-en-muis daarmee speel?

Terwyl oorweeg word om sekere regulasies in stappe te laat vaar of te verlig om so veel as moontlik die ekonomie te red, word die lys al langer van voorgenome aansoeke, sommiges omdat gereken word dit is eintlik noodsaaklike dienste, ander meen die tipe diens wat hulle lewer kan nie prakties die afsonderingsmaatreëls se doelwitte verongeluk nie, en dan die half-pikante aanname dat die verbod op drank- en sigaretverkope net die swartmark sal laat groei.

Die drankrivier se historiese verloop deur Suid-Afrika het inderdaad verskeie tragiese en skandalige mylpale opgelewer, soos die dopstelsel, wat aansluit by die bekende spreekwoord, “’n loopdop neem”. Die spoor van alkoholisme wat deels hieraan toegeskryf kan word, dra by tot Suid-Afrika se hoë padsterftesyfer en die hoë voorkoms van die tragiese fetalealkohol-gebreksindroom.

Polisieminister Bheki Cele se hart oor sy voorgestelde verbod op drank mag op die regte plek sit, maar die impak op die ekonomie sal eenvoudig te groot wees. Ongelukkig neem Cele ook ander omstrede besluite, soos sy vasbeslotenheid dat buurtwagte nie op straat mag funksioneer om die SAPD/Weermag by te staan nie. In Gauteng alleen is daar reeds sedert die afsonderingsperiode ingestel is, by 53 skole inbrake aangemeld. Ook van elders is berigte oor skole wat gestroop word, maar ook van drankwinkels en ander instellings. Dit is dus baie duidelik dat die SAPD se mannekrag vir beveiliging van lewens en eiendom onvoldoende is, en goed funksionerende buurtwagte kan nie net die druk verlig nie, maar ook keer dat loslopers nou rustig kwesbare huise identifiseer en deur onder meer huisrowe die virus help versprei.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Termiet

Soos altyd, baie insigewende skrywe.

Renata

Oom Herman slaan die spyker op die kop. Vandat ons CPF gekeer word om ons buurt te patrolleer saans is daar al hoe meer inbrake by huise en besighede en ons hande is afgekap. Die SAPD het doodeenvoudig net nie die mannekrag, voertuie, lus of wil om op te tree nie. Dis ook nie n aanname dat drank en siggarette op die swartmark sal floreer nie, dis n feit. Wat wettig was is nou onwettig en veroorsaak dat mense teen astronomiese bedrae vir drank en siggarette sal betaal. Dis niks anders as smokkel nie. Die regering het ivoorhandel gewettig en… Lees meer »

antieke antie

sommige reels laat my dink aan die gesegte……penny wise and pound foolish

Fedup

Uhm, wie is nou eintlik die president van die land? Is daar nou a singing chair wat bygevoeg word om te sien wie volgende week besluite gaan maak? Ek meen baie goed word “bespreek”, wat niemand van weet nie. Cele maak reëls, die weermag mmaak reëls en al die ander in die sirkus maak net wat hulle wil. Vir wie luister mens nou of maak ons nou net wat ons wil?

Andre

Maak hardeware oop asb. Geysor element het gedooi en ek kan nie n persoon R1250 betaal vir n ding wat R180 kos nie. En asb nie builders warehouse nie want dan kos die element in elkgeval te duur