Nuuskommentaar: Godsdiens en politiek is g’n pasmaats – of tog wel?

Zuma Sondag tydens 'n verkiesingsbyeenkoms in Gaseleka. Foto: Chester Makana/ANA

Zuma Sondag tydens ‘n verkiesingsbyeenkoms in Gaseleka. Foto: Chester Makana/ANA

Pres. Jacob Zuma haal al weer die smaak vir die komende verkiesing uit baie mense se monde, en wel met omstrede opmerkings wat soos gebruiklik weer verskeie insluit wat “godsdienstig” van aard is, maar aanstoot aan Christene gee en moontlik selfs godslasterlik is. Boonop is dit ’n ou kwaal waaroor hy al verskeie kere in geen onseker terme aangespreek is.

Dis ’n siek gevoel wat ’n mens al sieker laat voel namate ’n mens die jongste nuus onder oë neem, en die een berig ná die ander waarin godsdiens of kerke vir politieke propaganda gekaap word.

Dis ook nie net die feit dat dit gedoen word nie, maar die brutaliteit waarmee dit geskied, soos om soomloos die Christelike godsdiens en voorvadergeeste-aanbidding saam te klits.

Trouens, die wyse waarop godsdiens ingespan word, verklap dikwels die betrokkenes se onkunde oor godsdiens, en spesifiek die Christelike geloof. Dit is nog te meer skokkend dat die president en sy vernaamste handlangers dikwels self vir hierdie soort optrede verantwoordelik is, wat voorheen verskeie kere deur die hoofstroomkerke as godslasterlik beskryf is.

En dis ook nie asof die kerke nie al genoeg vir Zuma en Kie. die Leviete voorgelees het nie.

Dis egter nie net die politici wat agter die deur staan nie. Kerkleiers maak hulle self hieraan skuldig. Nie lank nadat Zuma, die veelwywer, owerspel as verweer teen ’n aanklag van verkragting in die hof gebruik het, is Zuma by ’n kerk tot erepastoor ingeseën.

Koerante het al lang lyste geplaas van voorbeelde waar regeringslui met hul uitsprake oor godsdiens aanstoot gegee het.

Maar kan ’n mens se godsdiens heeltemal van sy politieke oortuigings geskei word? Tog nie – die Christen skakel immers nie sy geloof aan en af soos hy daagliks deur verskillende rolle wat hy in die samelewing vertolk, beweeg nie – in sy rol as ouer is hy ’n Christen, ook as eggenoot, in sy rol as bestuurder agter die stuurwiel (hoewel ’n mens dit dikwels nie sal agterkom nie), in sy rol as ouderling, of in sy amp as lidmaat, hy bly ’n Christen en sal daardie impak op sy hele lewe hê.

Die groot verskil tussen dit wat ons nou (al weer) sien, is mense wat die Here vir politieke gewin probeer inspan, in plaas van om, soos dit Christene betaam, in diens van die Here te staan. En as ’n mens bereid is om God tot politieke werktuig te reduseer, watter ander misbruike soos leuens is dan buite perke?

Zuma het juis weer ’n siedende aanval op wit mense van stapel gestuur, en opnuut die kluitjie herhaal dat die DA die voortsetting van die NP is (in werklikheid het die NNP by die ANC aangesluit).

Baie mense sal stellig voel dat Patricia de Lille se opmerkings tydens ’n erediens wat sy toegespreek het, onkant was toe sy onder meer gevra het mense moet bid dat Zuma van die bose geeste bevry word.

Dit is so dat almal se kultuursoorte nie presies dieselfde ten opsigte van godsdiens ingestel is nie, maar daar is darem sekere basiese grense wat gestel moet word.

Daar is juis kommer oor die vlakke van geweld wat in die verkiesing voorkom. Verskeie kandidate van die ANC in KwaZulu-Natal is reeds vermoor en die voorvalle word ondersoek. Pas het die IVP ANC-lede beskuldig vir die moord op twee IVP-lede.

’n Mens hoef nie eens te vra of dit is hoe Christene optree nie.

Intussen lyk dit of Zuma hard probeer om die verkiesing tot nuwe vlakke van smerigheid te voer, en dan alles te “heilig” deur te verklaar die ANC is deur ’n paar kerkleiers geseën.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

christine ·

Hene Herman dit skryn teen my as hy dit doen tewens van die pastore sommige van hulle gemeente lede maak my net so seer. Hulle aanbid lankal nie vir God nie maar die priester. Dit maak my moedeloos voel kan mens nog die mense iets leer

Johann ·

BEROEM jou nie op die dag van more nie, want jy weet wat die dag sal bring nie. Laat n ander jou prys en nie jou eie mond nie! n vreemde en nie jou eie lippe nie.Swaar is n klip ,en die sand het gewig; maar die ergernis oor n sot is swaarder as altwee.(Spr 27vers 1-3) Die Here laat nie met Hom spot nie genade vir jou en kie!!

Gert ·

Is dit nie maar wat mens verwag van iemand wat nie verder as standers 3 op skool gevorder het nie? Hy doen in elk geval wat die Bybel verbied – hy maak hom skuldig aan veelwywery, korrupsie, diefstal, oneerlikheid en so kan ek aangaan.

sydney ·

Hoe vlak ‘n spreker wees wat godsdiens by politiek betrek as hy self nie eens waardes het nie. Ons moet saam staan en bid vir sulke narre in die politiek. Die naweek het Juluis Malema by reg gese appartheid is reeds lank gelede verby.. Hy Juluis kort ‘n Bells vir DAARDIE EEN STELLING…. Daar is reeds jong mense wat in 1994 gebore is en reeds kinders het was hulle deel van apartheid gewees?????????? VRA MAAR NET uit belangstelling Mr Zuma sorry is dit 2jr of 22 jaar na onafhanklikheid……

Theuns ·

Herman mooi samevatting van die absurde voort ploeterende Zuma! In standserd 3 het ek in ‘n toneelspel van die Voortrekkers gespeel. Al wat ek moes doen om my misnoe met n lid van toneelspellers uittespreek was om op n sekere stadium net te se “Arie Nee!!” Ek se dit nou maar weer” Arie Nee”!

rr ·

Dit is maar net om stemme tewerf net ń ware Christen vergewe en is nie vol haat nie.

Vergewe ·

Here ek dra al die politieke leiers op aan U…. Ek dra ons land en sy mens ook op aan U… waar kom ons hulp vandaan… Net van U Here… Niks wat enige persoon dink of doen kan my geloof weghou van U nie… Vergewe hulle Here, want hulle en baie ander weet nie wat hul doen nie.. lei U elke een van ons op die pad wat U vir ons beplan het (en ook ons Land).. ek bid dat geen skel woord of haat of wraak oor U kinders se pad sal kom nie. Beskerm u ons teen onsself en teen die wat teen ons is… Ek lees, my hart treur, maar U is in beheer….

Rapes ·

Ek sê dit nog al die jare en di’s weer bewys. Hoe kan jy God dien en ook in voorvadergeeste glo dan kan jy nie ‘n christen wees nie. Ek stap uit as hulle ‘n vergadering open met gebed en dan vra hul die geeste om hul te ly. Die ergste is dat mense nogal amen se na so ‘n gebed.

Matmiet ·

Die anc sê hulle party behoort aan God, maar godsdiens is uit skole verweider deur die party. Spreuke 23:13-14. Dit alleen sal die land beter laat funktioneer.

Grassie ·

My persoonlike mening is dat Christelike Godsdiens te alle tye die eerste plek moet beklee en dat alle besluite wat die mens neem eers aan die wil van God getoets moet word. Toe ons nog volksleiers gehad het wat dit gedoen het, het dit goed gegaan met ons land en volk. Ons moet in ag neem dat die Skepper nie grys areas het nie en nie kompromieë aangaan nie, jy is met Hom of teen Hom. Wanneer jy vir ‘n party stem, beteken dit jy aanvaar daardie party se manifes, dws jy keur sy beginsels goed As jy by voorbeeld vir ‘n party stem wat aborsies of selfde-geslag huwelike of ander afskuwelikhede goedkeur, wat sê jy vannaand vir Hom wanneer jy bid? Noem my maar vér-regs, verkramp of wat ook al maar die Skepper se guns tel vir my meer as enige politieke gedienstigheid.

jannie ·

Lees net psalm 58 en sien wat van Suid- Afrika opgeteken was al in die bybelse tyd

Naief ·

Godsdiens is n kragtige “tool” want dieselfde tipe mense wat vir sekere oordrewe godsdienstige tegnieke val is dieselfde naiewes wat van vir beloftes en lee woorde van politici sonder om dit te bevraagteken.

Lida ·

Mens wil nie eers luister na wat ‘n dwaas kwytraak nie. Ignoreer die man en wens hom weg!!!

pieter ·

ONTHOU DAAR IS CHRISTENE EN CHRISTENE,DIE DUIWEL SELF HOU HOM VOOR AS N ENGEL VAN DIE LIG.

Leon ·

Hierdie man is lankal nie meer kommentaar werd nie en hy is ‘n uiterse verleentheid vir ons land en sy mense. Verwronge waardes vir ‘n leier van ‘n land met soveel potensiaal!

Amanda Wait ·

Nie almal wat sê hulle is Christene is wel Christene nie. Ons sal hulle ken aan die goeie of slegte vrugte wat hulle dra. Sommiges bely die Here Jesus met hulle monde, maar hulle harte is ver van Hom af. Hulle is lou, nie warm vir Hom nie, was hulle maar eerder warm of koud, maar omdat hulle lou is, sal Hy hulle uit Sy mond spoeg! Een Engelse vertaling sê: “I will vomit you out of My mouth!”.
Maar die Bybel sê ook ons moet vir die regeerders bid, sodat ons in vrede kan leef en omdat God wil hê dat almal tot die kennis van die waarheid moet kom en gered word.

snoefie ·

hy dink seker Christus was saam met die NP uitgestem. vewaande vent.

hans brits ·

Daar is n groot verskil tussen n christen en iemand wat n pad stap met God.Iemand wat n rassis is het nie liefde nie en God is liefde.Elkeen kan vir homself besluit waar hy staan.

Marlene ·

Maar christenskap is dan westerste kultuur, en hy haat dan die westerste se kultuur, en nie lank terug nie het hy die christene blameer vir al die probleme in die land, maar dan weer weet ons ook dat hy in sy hart eindlik die spot dryf met die mense, want hy dink hulle is stupid, en ons weet ook wat gebeur as mense spot of dink hulle is beter as God, kyk wat het met titanic gebeur, so ek glo hy gaan ook sink

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.