Nuuskommentaar: G*tvol vir korrupsie

Argieffoto

Argieffoto

Die Sentraal-Amerikaanse staatjie, Guatemala, het pas vir Suid-Afrika gewys hoe om met korrupsie te werk. Dié land se parlement het die immuniteit van die president om vervolg te word, opgeskort. Pres. Otto Perez Molina het na bewering ʼn korrupsienetwerk gelei. Sy eertydse vise-president is om dieselfde rede reeds in hegtenis geneem. Molina hou vol hy is onskuldig.

Terselfdertyd het die ANC sy meerderheid in die parlement weer gebruik om te voorkom dat pres. Jacob Zuma in ʼn staat van beskuldiging geplaas word. Dit is nou afgesien van ʼn omvangryke aksie om te voorkom dat Zuma se verhoor op talle aanklagte van korrupsie hervat word, of dat Nkandlagate tot die been oopgevlek word.

Die ironie is dat Zuma nie as staatshoof immuniteit teen vervolging geniet nie. Hier handel dit om ʼn kru manipulasie van die regstaat.

Terwyl korrupsie wat volgens Zuma ʼn westerse konsep is, sy kanker versprei, toon ʼn sentraal-Amerikaanse staatjie dat ook in daardie wêreld van piesangrepublieke, korrupsie as verkeerd beskou word. Daar was groot vreugdevolle saamtrekke op straat toe dit bekend geword het dat die president nou vervolg kan word, wat beteken dat hy ook dadelik sy amp moet ontruim.

Aan die ander kant van die aardbol, in Maleisië, was daar ook groot betogings nadat aan die lig gekom het dat $600 miljoen in ʼn persoonlike bankrekening van die premier beland het. Die premier skop egter vas en hou vol hy het niks verkeerd gedoen sodat sy mense nou sy kop eis nie.

Die feit is dat die publiek ook daar nie geduld met korrupsie het nie. Volgens die Wêreldbank beroof korrupsie ʼn land van sy toekoms.

Is Suid-Afrikaners nou saf met korrupsie, of gaan ANC-parlementslede die gevaar loop om geïsoleer te word van hul ondersteuningsbasisse? Verskeie groot optogte en betogings teen korrupsie word nog vir vanjaar beplan en die een projek moes uitgestel word omdat dit blyk dat baie meer as die verwagte aantal mense gaan deelneem.

Indien dan nie die meeste nie, is baie Suid-Afrikaners nou duidelik g*tvol vir korrupsie.

Korrupsie en veral omkopery, is egter nie net eie aan Suid-Afrika nie. ʼn Gewese Israelse premier is onlangs juis tronkstraf opgelê weens korrupsie.

Uit die VSA kom die juweeltjie om na korrupte politici as korruptokrate te verwys. Politici is al lankal nie die enigste beroepspesie wat korrup is nie, maar die probleem is dat dit die politici is wat die staat in ʼn korruptokrasie kan omskep. En ʼn regeringshoof met taai vingers is nog meer problematies … veral as regsprosesse om agter die kap van die byl te kom gefnuik word.

Suid-Afrikaners verdien om te weet of hulle deur ʼn korrupsiedent gelei word of nie.

Die land het egter meer probleme as net korrupsie. Die huidige kampuswoelinge oor Afrikaans, waar die radikale ewe pikant daarop aanspraak maak dat hulle “die grondwetlike bepalings navolg”, is nog ʼn probleem met skynbaar slaprug-kampusowerhede wat die probleme laat eskaleer.

Ook hier speel die president geen rol wat ooreenstem met sy ampseed nie.

Suid-Afrika beleef nou ʼn ystydperk van waar korrupsie, hetsy reeds endemies, of dreigend, waar swak politieke leierskap die land tot by die rand (darem nie die geldeenheid, die rand nie, want dan het die wal reeds ingetuimel) van die fiskale en ander afgronde gebring het, blaampolitiek, narrestreke en vele meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

L ·

Wat kan ons doen, niks nie ! Ons is NIE POLITIES GEOOREENTEERD NIE! !!

Winston ·

Weereens puik artikel Herman. Wil net sê. Korrupsie is n westerse konsep. Dit wat vooruitgang gebring het word misbruik omdat sekere mense nie weet hoe n ekonomie moet funksioneer nie. As jy nou kan verstaan? Jy het n kraal vol bees, klomp vroue en klomp blinde volgelinge. Een van jou bees word gesteel en jy agtervolg hom en kap hom met n panga dood of spies deur sy kop. Geen veediefstal vir die volgende ses maande nie en alles is honky dory. Jou bees is veilig en jy maak soos jy wil. Probleem opgelos en geen korrupsie nie. Hoop jy verstaan.

Theresa ·

Dit loop saam met hulle “bedrading”. Dit gaan nie beter word nie…………………………

Bruno Stef ·

As n mens niks het om te se nie of die erns van die saak verstaan nie dan kry jy idiotiese opmerkings soos op sommige van die kommentaar wat hier gelewer word. Sovele mense in die land is werkloos maar na ek verneem verdedig die sport Minister die besteding op die “Commonwealth Games” alreeds daar is seker groot gelde daarin te make bo en behalwe die persoonlike aansien. Alles op belasting betalers gelde.

Johannes Meintjes ·

Nou hoe en wanneer gaan die wie beter bedraad is beter doen en alternatiewe strukture met oplossings en volhoubare vrugte tot stand bring in die nuwer (korrupte) Nuwe SA? Waarom apaties as bloeiende kantlyntoeskouers volhard as die stelsel, die marionette en die narre nie die ding gedoen kry nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.