Nuuskommentaar: Het die DA nou die regte seer tand getrek?

Mmusi Maimane (Foto: Armand Hough/African News Agency/ANA)

’n Komitee van die DA het ondersoek ingestel na die redes waarom die party soveel steun in die afgelope algemene verkiesing, veral Afrikaanssprekende steun, ingeboet het. Die partyleier se kop het gerol, maar is die regte seer tand ooit getrek?

Vir die DA was die mees onlangse algemene verkiesing se uitslae ’n baie onaangename verrassing. Die party, die amptelike opposisie, het die afgelope aantal jare van een van die werklik klein partytjies tot ’n party gegroei wat die ANC reeds ongemaklik oor sy posisie as alleen-regeerder kon laat voel.

Wie sal sommer vergeet hoe die destydse leier van die DP – die DA se voorganger – Tony Leon, smoorkwaad vir Kortbroek van Schalkwyk was oor sy bogstorie dat kiesers nie hul stemme op klein partytjies moes mors nie, synde dat die DP toe nog ’n tipiese klein partytjie was.

Hierdie is maar een insident wat die DA nou aan die hakskeen kom byt het – die leier, en nou gewese leier, Mmusi Maimane, was wel ’n belangrike krimpfaktor, maar die DA sal veel meer absestande moet trek voordat daar weer hoop sal wees dat die DA se eie bravade en die werklikheid in harmonie sal wees.

Die DA het ’n baie groot risiko met sy “moenie jou stem op klein partytjies mors nie”-strategie geloop, enersyds omdat dit verreweg meer ’n bogstorie is as die werklike vermorsing op die werklike nietige partytjies van die formaat van wyle Kiss en Soccer. Dit druis ook in teen internasionale konsepte van demokrasie, soos byvoorbeeld Verslaggewers Sonder Grense, wat persvryheid (’n hoeksteen van demokrasie) meet aan die hand van die nuusdekking wat die politieke spektrum van ’n land weerspieël.

En na hierdie “taktiek” van die DA behoorlik gediskrediteer is, gaan die DA warempel en span dit weer in. Dit werk eenvoudig nie om in effek vir kiesers wys te maak ’n mens dink hulle is onnosel, en dan vir hul stemme te vra nie. Veral as ’n vorige partyleier met hoë aansien (Leon) voorheen so ontsteld was oor die “bog” nie.

Helen Zille. (Foto: DA)

Min of meer dieselfde geld vir die “taktiek” in ’n vorige algemene verkiesing toe die destydse partyleier, Helen Zille, ’n beroep op kiesers gedoen het om hul “stemme vir die DA te leen”.  Ná die verkiesingsgroei is “vergeet” dat sommige van die winste wat met soveel fanfare getel is, eintlik veronderstel is om net geleende stemme te wees, nie winste nie. Dit blyk dat genoeg gebeur het dat baie van hierdie uitleners ontnugter was en hul “uitgeleende deposito’s (stemme)” opgeroep het.

Onder hierdie ontnugteringsfaktore tel die Schweizer Reneke-geval, die getwiet oor kolonialisme waar Maimane se vloermoer op baie wit mense wat dit met Zille se standpunt eens was, se tone getrap het. Swart sentimente en persepsies het heel waarskynlik nie veel swaarder geweeg as ander se persepsies (wit en swart) dat kolonialisme ook baie voordele vir Afrikalande en elders ingehou het nie. Juis toe het ’n Ethiopiese afgevaardigde by die sitting van die Pan-Afrika-parlement ander lande “verwyt” dat Ethiopië agterstande by hulle het omdat dié land nooit gekoloniseer was nie. (Die bietjie infrastruktuur waaroor Ethiopië lank beskik het, was die gevolg van ’n relatief kortstondige besetting deur Italië.)

Maimane was nie die enigste uitstaande swart persoon wat as leier geïdentifiseer is, uitgelig en opgehemel is, en dan ná ʼn koppestamp uitgespuug is nie. Hieronder tel Lindiwe Mazibuku. Aanvanklik was sy in Zille se oë in wese tot alles in staat. Sy was onder meer in ’n stadium as hoof van die media-afdeling aangewend al was sy Afrikaans te yl magtig om dit te gebruik. Hierna is sy skielik skaduminister van landbou gemaak in die plek van dr. Laurie Bosman, vorige president van Agri SA.

En waarheen sou baie boere se stemme in die volgende verkiesing gaan toe Bosman ’n kandidaat vir die Vryheidsfront Plus geword het?

Lindiwe Mazibuko

Maroela het lank voor die verkiesing reeds gemaan dat die DA se praktyk om effektief geen mediaverklarings op nasionale vlak meer ook in Afrikaans beskikbaar te stel nie, nie met hedendaagse verwikkelinge in die media, veral gemeenskapsmedia, tred hou nie. (Lees ondermeer hier en hier.) Onder die talle en dikwels weersprekende redes wat die DA aangegee het oor hoekom dinge effektief “all English” geword het, was dat die media dit self kan vertaal. Maar die gemeenskapsmedia kan weens statutêre beperkings selde of ooit vertalers bekostig, en die oorlaaide personeel het nie tyd daarvoor nie. So het die gemeenskapsradiostasies wat hul volledige nuusbulletins van die nou ontbinde Penorent Nuus ontvang het, saam ’n miljoen Afrikaanse luisteraars gehad. Twee persone het sewe dae van die week Penorent se nuusbulletins van vroegoggend tot laataand saamgestel. Die gevolg was dat ’n miljoen luisteraars min blootgestel is aan die DA se reuse-uitset van Engelstalige mediaverklarings. Na die Schweizer Reneke-geval was daar skielik ’n verklaring in Afrikaans, maar so sou die DA uitvind, een swaeltjie maak nie ’n somer nie, en nie alle Afrikaanse lesers en luisteraars word so maklik wol oor die oë getrek nie. Die DA verskaf egter nou mediaverklarings in Afrikaans.

Opnames het ook lank reeds getoon dat ’n groot persentasie van die DA se kiesers vir dié party stem, nie omdat hulle dit met die beleid eens is nie, maar omdat hulle meen dis die doeltreffendste manier om die ANC te opponeer. Sulke kiesers kan maklik ontnugter word, en is ook makliker oortuigbaar dat daar ander opsies is, onder meer met AfriForum se suksesse op plaaslike regeringsvlak.

Beleid is ’n taai toffie as ’n party tegelykertyd wyduiteenlopende ideologieë huisves. Daarom is Patricia de Lille se opmerking dat sy Maimane gewaarsku het om by sy beginsels te staan, of ingesluk sou word (dit lyk meer of hy uitgespuug is) nogal pikant. De Lille was ’n senior PAC-leier voordat sy die Independent Democrats (ID) gestig het. Die ID het lank bestaan voordat dit op sy ideologiese begronding, naamlik sosiaal-demokraties, besluit het. Nie lank hierna nie, sluit die party weens ideologiese ooreenkomste by die DA (liberaal-demokraties) aan. Nou dien sy in die ANC (sosiaal-deurmekaar of is dit kommunisties-korrup?) se kabinet.

Hanteer Afrikaanssprekendes en hul taal met meer respek, ook intellektuele respek, in plaas van soos nuttige idiote en die skip kan dalk gedraai word. Maar daai skip het reeds koers gekies en laat vat, en ’n skip word nie op ’n tiekie van koers verander nie. Buitendien het die tiekie tydens die staatskaping lang vingers ten prooi geval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

KrokodilBotha ·

Tyd het aangebreek dat die DA ondersteuners navorsing doen vir wie en wat hulle gestem het. Soos Herman se , daars baie wat met oogklappe net DA stem. VF+ vir die Kaap.

Neels ·

Die VF+ se leierskap is vervelig en uit voeling met die realiteite van die land. En die koukus vergadering word sommer by ‘n familie maaltyd gehou.

Adam ·

Neels, ek kan nie anders as om jou argument te steun nie. Hulle steun-plafon is net te laag en hul leier het soveel charisma soos ‘n potplant.

Siener ·

Verseker is die regte tand getrek. Mmusi het homself skuldig gemaak aan bedrog en nou huil hy as sy eie medisyne vir hom gevoer word. As hy nie die huis en kar paaiement as omkoopgeld ontvang het nie was alles 100%. Hy het almal wat hulle skuldigmaak gou veroordeel maar nou is dit sy beurt om pa te staan vir sy dade.

marina ·

Klink my die manne wil nie bevele van ‘n vrou aanvaar nie. Ek het vir DA gestem maar het agter gekom die leier is dit nie waardig nie. Dankie vir ‘n party soos die VF – sterk en doelgerig.

Aitsa ·

Puik Artikel.
Ek stem saam oor VF.
My stem was vir hulle en sal so bly.
My taal en Afrikaner skap kom eerste met my christelik waardes kom eerste.
Dankie vir julle goeie Insette

Nolbees ·

Jou taal en afrikanerskap gaan vir jou in die verknorsing bring.Aitsa

Johann M van Heerden ·

Uitstekend uiteengesit. Die kern van die saak is egter dat ons, veral wit Afrikaners, so min is en ook real en relatief al minder word. Soos iemand tevore op ‘n kommentaar van my gewys het, staan ons ook nie saam nie. Sedert die vroee jare was daar natte en sappe wat mekaar aangevat het. Die sappe het weer die Britte omarm wat ons kort te vore aangeval en verarm het. Soos nou tans weer dink mense mos dit is ‘grand’ om Ingels te wees. Kyk bv die US daardie hanskakie universiteit onder die eikebome. Ons is te dikwels ons eie grootste vyand.

John ·

Die plan van die uitskieters is moontlik om juis aan te bly om ‘n paleisrevolusie te ontketen waar die kiesers hul ondersteuningsbasis na Mmusi & kie skuif en aandring dat die wit sg kolonialiste eerder die pad vat. Mmusi is baie selfversekerd en glo dat hy ‘n gewilde leier is. Skote is reeds afgevuur na Zille en melding gemaak van die wit mag wat weer wil beheer. Hierdie groepie wil die DA kaap. Punt. Trol-lip wil Zille vervang en die ander sal ook hogere posisies beklee. Die DA-fondse lè en blink. Hoekom ‘n nuwe party begin?

Opinie ·

Vir die DA om te luister gaan nog ‘n lang tyd neem. DA, die verlore kiesersteun het te doen met julle arrogante houding. Julle afdwing “threatening” posisie tov verpligte belasting met water in die Kaap, elektrisiteit in Pta, waggel in Schweizer, etnisiteit bo verdienste, geen terugvoer of kommunikasie vanaf raadslede wanneer daar per epos vra gevra word, dreigemente tov sonpsnele ens. Die MEESTE mense wil sover moontlik onafhanklik van regeringsinvloed wees, maar sosialistiese demokratiese beleidstoepassing maak dit onmoontlik.

Anoniem ·

Puik artikel. Ongelukkig sal die VF+ nie gou hond haaraf maak in die Wes-Kaap nie, want hy het moontlik te veel van ‘n HNP/KP/NP ondertoon vir die bruin en swart kiesers. Ek hoop ek is verkeerd, maar verwag dat die ANC se stemme in die Wes-Kaap, veral onder die swart en bruin kiesers vinnig sal toeneem. Iemand het dit reggekry om tweespald in die DA te saai. Ons sal maar moet wag en kyk of die Jodin die DA kan red sonder Maimane en de Lille wat daar was om gesig te koop onder die swart en bruin bevolking.

Jan Nel ·

Herman, wil jy nie maar die politiek betree nie? Jy het beslis my stem.

Herman Toerien ·

Dankie Jan. Ek word binnekort 65, byna oud genoeg om die politiek te betree en om nie daarna nog te moet tronkstraf uit te dien ook nie. Nou die aand is ek weer vir daai anti–motorfietsgeraasperty gemotiveer. Die ding het harder geraas toe dit by ons huis verby is as enigiets wat ek al gehoor het. Toe dit so elf minute later deur Petrusburg is, kon ek hom nog hoor. Die leier vd party, Peet de Moerin is so knap.

koos ·

Nie eers valstande sal die DA weer kan laat (stemme?) eet nie.

Ema ·

My moesie het wolf wolf geskree en toe was jy ook n wolf????????

Feite ·

Die DA gaan haasbek wees teen die tyd dat al die seer tande getrek is, maar dit is beter om met anti-rewolusionere valstande eerder verder weg te beweeg van die ANC en eff as wat dit onder Maimane, Trollip en Mashaba die geval was, wie die status van ANC Lite verdien het. Die popo het die fan gestrike vir die DA en dit sal tyd neem om te herstel, maar hopelik sal die DA herstel, omrede die VF en sy frontorganisasies se popo nog die fan moet strike en wanneer dit gebeur sal die DA hopelik n heenkome weer aan die afrikaanssprekendes kan bied. Net die tyd sal leer of en wanneer die DA sal herstel en wanneer die VF se popo die fan gaan strike. Geen politieke party is perfek nie en almal het maar popos wat een of ander tyd die fan strike en dan gaan dit nie oor hoe jy val nie, maar hoe jy opstaan. Die tye wat voorle raak al hoe interresanter met politieke partye wie se positief ander se negatief raak en dan weer visa versa. Daar is absoluut geen rede hoekom die geskiedenis ditself nie ook in hierdie geval sal herhaal nie!

JamesTwee ·

Die probleem met die DA was / is?: Hy het gedink hy staan ‘n kans om ‘n “middelgrond” te skep binne ‘n stelsel waar die gematigde rasnasionalisme van die ANC genoeg plek bied vir die meerderheid swart stemmers, en die EFF plek bied vir die meer ekstreme rasnasionaliste onder dieselfde demografiese groep. Die DA het hulself begin sien as “regering in afwagting”, en daardeur probeer om alles vir almal te wees.

Jy kan nie alles vir almal wees nie. In ‘n meerderheidstirannie onder die skuilnaam “demokrasie”, kan jy nie meeding vir die stemme van daardie mense wat direk afhanklik is van daardie tirannie vir hul inkomste nie – hetsy as werknemer van ‘n opgeblase staatsdiens, hetsy as ‘n ontvanger van sosiale “grants”.

In ‘n stelsel van meerderheidtirannie, moet jy ALLES wees vir rasminderhede – en NIKS vir rasmeerderhede. Jy sal nooit regeer nie – maar jy sal al die minderheidsbelange onder jou vlerk neem – en sterk kan optree teen vergrype deur middel van internasionale blootstelling van jou opregtheid.

Die DA het gedog hulle kan ‘n vryheidsbeweging in Afrika onttroon. DIS NIE MOONTLIK NIE. In die proses het hul hulself gebreek.

Wat nou met die DA gaan gebeur is: 1. ‘n Verdere verlies na partye soos die VF+ onder sommige kiesers, 2. ‘n Groot verlies onder swart kiesers na die ANC – en EFF, 3. EFF dalk amptelike oposisie na volgende verkiesing, 4. DA word weer ‘n randeierparty vir Ou Progs.

Willem Grobler ·

Die sg. “Demokrasie” is geen resep vir sukses nie veral nie in ‘n heterogene gemeenskap soos hier in SA nie. Ten spyte van al die mooiklinkende paaipraatjies is ons (die wit Afrikaners) uitgelewer aan die tirannie van die ( swart) meerderheid. Om jou hoop te plaas op die ontseteling van die ANC deur die stembus is nie net hopeloos nie dis gewoon dom. Al sou die DA onder Maimane die regering kon oorneem sou ons steeds sit met ‘n regering wat deur die swart meerderheid voorgesê sou word. Ons moet wegkom van die meerderheid want in ‘n unitêre staat gaan die meerderheid altyd swart wees. Die swart waardestelsel verskil hemelsbreed van die Afrikaner se waardestelsel en dít is waar die probleem lê. As ons nie onsself regeer nie sal ons tot in der ewigheid onderdruk en benadeel word onder die verskoning van kolonialisme en apartheid. Ons moet begin saamstaan en aandring op ons eie land – dít, na my beskeie mening, is ons enigste hoop op oorlewing.

Neels ·

Dis die enigste oplossing Willem. Ongelukkig is die VF+, Solidariteit en ‘n klomp ander te laks om die wiel aan die rol te sit.

aj ·

Stem saam!

Daar is reeds Afrikaner gemeenskappe wat hulself organiseer en bestuur.

So waarvoor wag ons?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.