Nuuskommentaar: Hoekom die bekendmaking van Mamphela se miljoene?

Dr. Mamphela Ramphele. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die leier van Agang, dr. Mamphela Ramphele, het onthul dat haar persoonlike bates meer as R55 miljoen werd is, en het pres. Jacob Zuma uitgedaag om ook bekend te maak hoe goed hy daaruit sien.

‘n Dekade of twee gelede was die welgesteldheid al dan nie van ‘n senior politikus ‘n volkome private saak. Die fokus was veel meer op die geldsake van politieke partye self gerig, soos wie hoeveel geld aan die partye geskenk het. Omdat guns so gekoop kan word, was die fokus veral op die regerende party. Partye het egter oor die algemeen hierdie inligting verbete geheim probeer hou – so verbete soos die geheimhouding van hul bankbesonderhede se wagwoorde. Die rede wat aangevoer word, is dat baie skenkers hul skenkings aan dighouding koppel.

Die Gupta’s se invloed op die ANC en hóé die invloed bekom word, is al lank ‘n besprekingspunt, en die laaste hoofstuk is nog nie geskryf oor die kwessie nie, selfs na die opspraakwekkende Guptagate. Pas is sekere verbintenisse weer gepubliseer rakende ‘n nuwe 24-uur TV-nuuskanaal. Maar die DA moes ook erg walgooi toe dit blyk dat ook dié party ‘n Gupta-meevaller bekom het.

Maar hoekom nou die verskuiwing na die individu se persoonlike geldsake?

In vanoggend se uitgawe van die Nederlandse koerant, Trouw, skryf die kommentator Joop van  Holsteyn die volgende: “In die onlangse verlede is baie gepraat oor die verpersoonliking van die politiek. Op baie maniere speel die individu ‘n al groter rol in die politiek.”

Die verskynsel dat ‘n vergrootglas effens van die party na die persoonlike sake van die politici verskuif, is ‘n betreklike internasionale verskynsel. Die redes verskil egter van land tot land. In Europese lande is gedwonge koalisies aan die orde van die dag, en dit is moeilik om gunswerwing werklik onder die maatemmer weg te steek. Sulke koalisies hou ook nie lank nie. Tog striem Transparency International gereeld die einste Europese lande oor die baie gunslone wat na politici gaan, maar dit lyk of dit eerder die individue is wat die aas uithang, en die Euro’s na hul sakke inkatrol as die partye.

Word na Suid-Afrika gekyk, lyk dit nie veel anders nie. Hoewel deelnemers op RSG se program Kommentaar reeds openlik gepraat het dat die ANC as party uit die wapen-skandaal geskep het, is dit wat tot dusver ‘n draai deur die howe gemaak het eerder op individue gerig. Oud-minister Joe Modise se naam tel onder diegene wat mildelik sou geskep het, die ANC-LP, Tony Yengeni is vlugtig tronk toe en is deur ‘n skare ondersteuners as, waaronder minister Lindiwe Sisulu, as held by Pollsmore afgesien, en Shabir Shaik is vlugtig tjoekie toe.

Die ontstellende agtergrond is dat die regter in die Shabir-uitspraak na die “algemeen korrupte verhouding” tussen Shaik en Zuma verwys het, maar Zuma het nooit sy uitgesproke wens, sy dag in die hof, gekry nie omdat die saak deur die waarnemende direkteur van Openbare Vervolging teruggetrek is. Die nasleep is nou in die vorm van onder meer geheime bandopnames.

Die hele regskwessie oor Zuma word baie netjies in die artikel Coming soon to a political theatre near you: Jacob Zuma’s Perfect Legal Storm beskryf terwyl prof. Pierre de Vos ook die kwessie onder die loep neem.

‘n Kenmerk van die huidige Suid-Afrikaanse politiek is egter ook die eenman- (of vrou) -aard daarvan. Die beeld word graag gebruik van ‘n leier wat nie toelaat dat iets in sy skadu groei nie. Die IVP is kwalik ‘n skadu van sy eertydse omvang soos die een prominente politikus na die ander op ‘n “afstand” al as moontlike bedreiging ervaar, en deur Buthelezi uitgewerk is. Wit en Indiër-politici binne die IVP, wat per definisie nie ‘n bedreiging vir Buthelezi se posisie inhou nie, word egter heelwat blootstelling gegun.

Min van die hoofstroom-kiesers sal enige ander naam as dié van genl. Bantu Holomisa aan die UDM kan koppel. Neem Julius Malema uit sy party, en die grootliks eenmanvertoning gaan sukkel om op die planke te bly. Die eertydse ID het in wese ook net een gesig gehad – Patricia de Lille. Mense met binnekennis oor die ACDP kan boekdele skryf oor hoe strome opkomende leiers uit die party gewerk is sodat dit ook die party van sewe parlementêre setels tot drie verskraal het.

En op die oomblik lyk dit ook nie anders met Agang nie.

Die DA, waar die leier, Helen Zille, ‘n tweede ondersteuningspool rondom die baie duidelike Lindiwe Mazibuku probeer skep, is eerder ‘n uitsondering op die Suid-Afrikaanse reël.

Nou het Ramphele vir Zuma uitgedaag. Daar is uiteraard geen kans dat Zuma die uitdaging sal aanvaar nie, en die risiko bestaan dat Ramphele die alleen-verloorder van hierdie aksie kan wees. Syfers verskil, maar volgens die Wêreldbank tel Suid-Afrika onder die lande met die grootste inkomstegaping ter wêreld, en volgens een bron die grootste, en boonop groeiende. Volgens minister Collins Chabane leef 52% van die Suid-Afrikaanse bevolking teen minder as R500 per maand. En hulle is kiesers.

 

Of Ramphele wys was, is moeilik te sê. Moontlik het sy ‘n strategie in die mou om Zuma se ooglopende welvaart wat haar eie loshande na die kroon steek, met redelik betroubare inligting gereeld aan die kiesers op te dis.

Maar gaan die doeltreffende diskreditering van Zuma die ANC beduidend skaad? Is Zuma ook iemand wat sy party kwesbaar maak deur niks in sy skadu te laat groei nie?

Die situasie mag verander, maar op die oomblik is sy adjunk-president, Kgalema Motlanthe, politiek ontman, terwyl die adjunk-president van die ANC, Cyril Ramaphosa, geen amp binne die land se uitvoerende gesag beklee nie. Hoewel nog heelwat water in die see moet loop voor standpunte met sekerheid ingeneem kan word, lyk dit of die magspel van die “110% Zulu Boy” nou sterk strepe van “tribalism” begin inneem, wat nou sterk neerslag in Cosatu begin vind waar ‘n skynbare duidelike Xhosa- versus Zoeloe-verdeling aan die ontwikkel is. Intussen het die waarskynlik mees prominente Xhosa in die ANC-politiek, Gwede Mantashe ‘n stewige fase buite die kollig ingevaar.

Maar Zuma het so ‘n magtige Zoeloe-basis gebou, wat hy aanvul deur ander stamme nou bykans net simbolies te “koöpteer” – Mothlanthe is ‘n Noord-Sotho en Ramphosa ‘n Venda – dat die tuimeling van Zuma nie noodwendig so ‘n groot lugleegte sal laat dat die ANC om hierdie rede ‘n yslike hou weg sal hê nie.

Die ANC se probleme lê nou eintlik dieper – sosio-ekonomiese kwessies en politieke byltjies – waar die Costu-probleme en die opkoms van Malema se party dalk ‘n groter impak sal hê as Ramphele se handelinge.

En die verkiesing is in politieke terme om die draai.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Melissa ·

Eks so moeg vir hierdie land en korrupsie en geweld en moorde en verkragtings en en en

H J Bester ·

Hierdie bekentenis deur Mamphela Ramphele wys ons slegs daarop hoe goed regstellende aksie en swart bemagtiging die agtergeblewenes tot dusver behandel het. Voorheen moes ‘n man maar werk vir jou inkomste en was daar geen begunstiging nie maar hedendaags, met allerhande wette, maatreëls, regulasies, foefies en skelmstreke, is dit vir swart mense verspot maklik om in ‘n ommesientjie skatryk te word.

Suid-Afrika het gedurende die afgelope 20 jaar meer swart miljoenêrs bygekry as wat daar miljoenêrs andersyds binne die voorafgaande 50 jaar was.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.