Nuuskommentaar: ‘In het corrupte Zuid-Afrika kan dat (politieke moorden) heel lucratief zijn’

SAvlag

Suid-Afrikaanse vlag. Argieffoto.

Al het Suid-Afrika nou die reputasie van baie korrup wees, verseker dit nie dat ander groot sake in die land, soos plaasmoorde, ook in die buiteland die nuusdekking verkry wat dit verdien nie.

Altesaam 36 mense het sedert 2016 in politieke moorde in Suid-Afrika omgekom, skryf Niels Posthumus in die Nederlandse gehalteblad Trouw. In ’n wydlopende artikel fokus hy op die politieke moorde veral in KwaZulu-Natal, waarvan 31 lede van die ANC was. Hy trek ’n verband tussen werkloosheid en armoede in die provinsie, en die rojale geldelike voordele wat dit inhou om tot die een of ander amp in die ANC verkies te word.

“In het corrupte Zuid-Afrika kan dat (politieke moorden) heel lucratief zijn.”

Suid-Afrikaners mag voel dat die artikel onvolledig is omdat daar geen verband tussen die korrupsie en pres. Jacob Zuma getref word nie. Posthumus meld bloot dat Zuma in Desember as president van die ANC aftree, en wie die vernaamste aanspraakmakers op dié pos is.

Die aanslag is dus heel anders as die boek van Jacques Pauw wat wêreldwyd opslae maak, maar die artikel doen die Suid-Afrika van die ANC ook geen gunste nie.

Posthumus word as ’n “globe trotter” beskryf wat in verskeie wêrelddele gewerk het. Hy is egter nou al verskeie jare Trouw se korrespondent in Suid-Afrika. Uit ’n beskikbare seleksie van sy artikels blyk ’n mate van negering van die positiewe rol van die Afrikaner in die land, en is die artikel oor die doodskissaak sappig emosioneel.  Hy toon ’n besondere affiniteit vir Max du Preez.

Tog raak hy ook aspekte aan waarvan die Afrikaner dalk nie genoeg kennis neem nie.

Tragies soos die moorde binne die ANC ook al is, die Afrikaner, en die wit mens in die algemeen, se fokus is op ’n veel groter probleem, naamlik plaasmoorde.

Vanjaar alleen is meer as twee keer soveel boere vermoor as ANC-politici sedert 2016 vermoor is, iets wat maar skraps aandag by Posthumus kry.

Met die komende protesoptogte teen plaasaanvalle sal dit interessant wees om te sien of Posthumus, asook ander buitelandse korrespondente, hulle sou verwerdig om beduidende, of selfs enigsins nuusdekking hieraan te verleen.

Of raak die onus op die organiseerders dalk heelwat groter om genoegsame buitelandse nuusdekking te voorsien?

Met die ontwikkeling van tegnologie in die media kan dit dalk goed wees as die organiseerders daaraan dink om self vir die nuusdekking te sorg, soos wat talle maatskappye en instellings se skakelafdelings met goeie nuusverklarings gereeld daarin slaag om minstens ten dele die media regstreeks binne te dring. Sou iemand byvoorbeeld bereid wees om blitssnel ’n berig of berigte van die gebeure saam te stel, en nog iemand om dit in Nederlands te vertaal en aan onder meer die Belgiese nuusverspreider, Belga, te voorsien? Met foto’s en al.

As die proses terselfdertyd ook in Engels en Duits kan verloop, kan ’n groot deel van die wêreld potensieel bereik word.

Die plaaslike korrespondente kan uiteraard ook spesifiek genooi word om die proteste mee te maak, en te sorg dat hulle ruim toegang tot woordvoerders het.

Soos sake nou staan, is daar reeds groot vindingrykheid om die plaasmoorde onder die wêreld se aandag te bring. Op die Withuis se webwerf is ’n petisie oor plaasmoorde “genocide” genoem.  As dit teen 2 Desember nog 93 264 handtekeninge kry, sal die Withuis moontlik daarop reageer. So is daar ook reeds groot werk deur Solidariteit, AfriForum en die Vryheidsfront Plus gedoen om die euwel onder die aandag van internasionale liggame te bring.

Ons durf nie maar afhanklik te wees van die Posthumusse wat in hul pogings om op die “groter prentjie” te fokus, ’n ramp wat besig is om te ontvou, kwalik raaksien nie.

Die rol van buitelandse korrespondente raak algaande belangriker namate meer en meer nuusbronne na betaalportale oorskakel, en dit al hoe moeiliker is om stories oor die buiteland uit die internet te “oes”.  Maar so ’n korrespondent kan ook nie hom deurlopend in die VSA se Demokratiese Party se uithangplekke bevind, en hom verbeel hy kan objektief oor die Amerikaanse politiek skryf nie.

Net so is daar ’n onus op buitelandse korrespondente in Suid-Afrika om nie die politieke toneel eenogig te betrag, en die ramp lankal in wording dan “miskyk” nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Niklaas ·

Dit gaan nie te lank neem voordat die Hollanders ook probleme gaan kry nie.Wag maar en sien. Hulle the kom nader met al die immigrante.

Niklaas ·

Dit gaan nie te lank neem voordat die Hollanders ook probleme gaan kry nie.Wag maar en sien. Hulle the kom nader met al die immigrante.

Antjie ·

Hierdie is alles baie meer positiewe kommentaar. Dit sal help om meer konstruktief te werk te gaan om die lot van plaasboere spesifiek, asook die van witmense en kwesbare minderhede, meer algemeen, in die internasionale media te kry.

Verder moet ons oppas vir terme wat holrug gery word en negatiewe konnotasies verkry onder moordlustige groepe. Ek probeer deesdae voorstelle maak dat ons afwyk van “boere/farmers” en eerder van landbou-produsente probeer praat. Ook nie plaasmoorde nie, maar opportunistiese, martel-aanvalle op afgeleë produksieplase. Die Germaanse taalgroepe behoort veral meer vatbaar te wees vir sulke meer spesifieke beskrywings, en Engelse polities gelaaide woorde te help hervorm tot iets wat weer indruk kan maak.

Ons trots om onsself as boere te identifiseer, is buite ons volkseie kultuur teenproduktief, veral omdat die konsep in Engelse literatuur sterk met agterlikheid en barbaarsheid geassosieer word.

Dis nodig dat ons die Britte en ander beskawings wys dat ons vakkeldraers is van die Europese kultuur en waardes wat groot dele van die wêreld uit die kloue van barbaarsheid gelig het. Dat ons grootste skok saam Afrikane daarin lê dat die vlakke van vir hul “aanvaarbare” geweld, vir ons dompel in toestande soortgelyk as in oorlogsones waarby die Weste betrokke is.

Internasionaal kan mens objektief saamwerk vir oplossings. Bewusmaking is nie die einddoel nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.