Nuuskommentaar: Internasionale dag van verdraagsaamheid – ’n mooi droom

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

In Zimbabwe is ’n uitgerekte staatsgreep aan die ontvou en in Suid-Afrika word ’n staatskaping ontrafel met al hoe meer tekens van ’n gepoogde statutêre staatsgreep. Dwars oor die wêreld is daar tekens van onverdraagsaamheid.

Rassespanning het in Suid-Afrika sulke afmetings aangeneem dat die regering selfs ’n dag teen rassisme uitgeroep het, en ’n gemors daarvan gemaak het. Voor dit was daar die abortiewe Kliptown-beraad.

Maar dit was juis tydens die Kliptown-beraad dat deelnemers bemoedig is deur die vlakke van verdraagsaamheid wat op voetsoolvlak ervaar word – heel anders as geblyk het uit veral die toesprake van regeringslui.

Bykans elke Suid-Afrikaner het die belewenis van “eilande van harmonie”. Daar kan bygevoeg word, a-politieke eilande. Of dit ’n groot judotoernooi is waar daar geen teken van rassespanning blyk nie, of die bywoon van vertonings van bekende kore, en vele meer.

Suid-Afrika het ná 1994 ’n vakansietyd beleef toe omtrent alles wat die ANC-regering verbrou het in die internasionale gemeenskap verskoon is. Suid-Afrika kon só die Wêreldbeker-rugbytoernooi, die krieket- en oplaas die sokkertoernooi aanbied.

Maar die vakansietyd, gebaai in die Mandela-euforie, is skynbaar nou iets van die verlede. Graderingsagentskappe slaan die sweep genadeloos en die regering het nou ’n harde “reality check” gehad toe die aanbied van die 2023 Wêreldbeker-rugbytoernooi as’t ware uit Suid-Afrika se kake geruk en aan Frankryk toegeken is.

Brexit is nog lank nie afgehandel nie of ’n pypbom is by ’n herdenkingsgeleentheid op die Noord-Ierse en Ierse grens wat ’n warm patat met Brexit word, gevind. Het die voorval van onverdraagsaamheid – of dalk eerder haat – ’n bydrae gelewer dat ook die Iere nie die toernooi kan aanbied nie?

Natuurlik is verdraagsaamheid nie onder alle omstandighede die antwoord nie. In Sirië kan verdraagsaamheid ’n groot rol speel om vrede onder die nie-Isis-groepe te bewerkstellig.

In Suid-Afrika bou die ongedurigheid onder die bevolking algaande net verder en verder op weens die verdraagsaamheid van wetstoepassingsagentskappe teenoor pres. Jacob Zuma en van sy vriende wat hulle uit die tronk hou. Misplaaste verdraagsaamheid kan ’n land suur bekom – vra maar vir Suid-Afrika. En ja, die aanbied van ’n internasionale dag van verdraagsaamheid gaan geen jota of tittel verskil maak nie aan hoe dit in die werklikheid neerslag vind. Op elkeen van die burgers rus daar egter ’n swaar verantwoordelikheid – hoe ons in werksituasies oor die kleurgrens optree en vele meer. Die uitdagings word groter as ons in verkeersituasies onderonsies met taxi’s op die lyf loop en die spietkop wat teenwoordig mag wees kyk liefs heel anderpad.

Verskeie kerke en kerklike instellings ondersteun ’n nasionale dag van gebed op 26 November. ʼn Beroep word op Christene gedoen om hulle voor God te verootmoedig en te bid dat God ons land sal genees en seën.

Uiteindelik het die land genesing en seën nodig – baie nodig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

snoefie ·

APARTHEID het nie net swartmense benadeel nie. hoeveel blanke families kan opstaan en sê Apartheid het hulle glad nie benadeel nie?

Eish ·

2 Kronieke 7:14
” en as my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. ”

Ons wil bid dat ons Hemelse Vader ons land genees en seën. Die vers wat ons uit die Ou Testament ontleen, het n voorwaarde van verootmoediging, gebed, Sy aangesig te soek en bekering van ons verkeerde weë.
Ons is nog net op die bid en soek stadium. Verootmoediging en dan veral bekering ontbreek.
Ons dominees vertel dat die Wet aan die kruis gespyker is, Yeshua sê dat indien ons Hom liefhet, ons Sy gebooie sal onderhou.

Waarvan anders sal ons , ons moet bekeer anders dan oortreding van Sy Wet? Sy opdragte.
Oom Angus het n miljoen mense bymekaar gekry om te bid, daardie selfde naweek was daar plaasaanvalle. Ons staan op n plaasaanval n dag. Armoede neem hand oor hand toe. Die ekonomie is aan flarde. Korrupsie, roof, moord en verkragting is buite beheer.

Dis baie duidelik dat ons nie mooi hoor nie! Bekering beteken omdraai van ons verkeerde weë en berou daaroor. Ons sonde het n skeidsmuur tussen ons en die Almagtige geword.

jean ·

“Mooi” droom weet ek nie van nie…..maar beslis ‘n “pie in the sky”

John ·

Hoe kan Christene saam met beeld- en voorvadergees-aanbidders en diegene wat nie Christus as die Seun van die Hemelvader aanvaar nie, die knie buig… voor en vir wie en wat? Daar is net Een Middelaar en Weg. Die Staat gaan nie besluit wie dit gaan wees nie en ons dwing om te bid vir seen op hul dwase/sluwe planne nie… ‘n Regering wat gereeld Sondae politieke vergaderings hou en nie gebede tot die Vader in die parlement duld nie, maar wel kwasi-toordokters hul kwaste laat swaai… Vergeet dit! Die vreeslike gesaam-saam is blote magsvertoon en dwingelandy… Voor ons weet buig ons kinders in skole voor mensgemaakte beelde en beelde van mense.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.