Nuuskommentaar: Internetvideo’s: Sien is (wil) glo

plaasaanval op videoTerwyl Maroela Media se gewildheid as internetkuierplek hand oor hand toeneem, blyk dit dat video’s soms die aantal besoeke tot nuwe hoogtes kan aanvuur.

Pas was dit weer so. ‘n Video oor ‘n motorkaping het behoorlik opslae gemaak. Toe kom ‘n video wat AfriForum oor ‘n plaasaanval bekend gestel het by. Sien dit hier.

Vroeër het ‘n video wat iemand geneem het van ‘n pa wat teen ‘n hoë spoed met sy motorfiets jaag, met sy dogtertjie met ʼn fietshelm agterop, groot ontsteltenis op die internet veroorsaak en is die owerhede gedwing om dié persoon te soek,

Die moontlikheid om video’s te plaas gee aan webkoerante ‘n bepaalde voordeel bo gedrukte koerante. Baie koerante brei hul medium na die internet uit, en op hierdie weergawes maak video’s ook ‘n belangrike deel uit, en brei op die oog af uit namate meer en meer mense se toegang tot die internet vinniger word en die bandwydte toeneem. Vanoggend het die Bostonse koerant wat deesdae hoofsaaklik as webkoerant bestaan, die Christian Science Monitor, ses video’s op sy tuisblad. Onder die ses gewildste berigte tel twee met video’s.

Dit help baie dat so baie van Jan Publiek nou video-opnames, soos met hul selfone, kan maak. Toe ‘n klein asteroïde vroeër vanjaar oor Rusland ontplof het, is dit deur so baie mense op videoband vasgelê dat wetenskaplikes kon aflei van waar die asteroïde gekom het. Dit was baie belangrik omdat dié, gelukkig taamlike klein, asteroïde die aarde ongesiens bekruip het, en dié blinde kol uitgeskakel moet word.

Die belangrikheid van die internet is ook reeds deur partye wat aan volgende jaar se algemene verkiesing gaan deelneem besef. Verskeie leiers het ook reeds in toesprake hierna verwys.

Dit is nie net omdat meer en meer mense die internet as nuusbron gebruik nie, maar die feit dat Suid-Afrikaners in die buiteland ook volgende jaar kan stem, speel ‘n belangrike rol. En daar is baie, en baie van hulle soek die internet op om nuus in Afrikaans te soek. En as hulle dit in Afrikaans kan kry, is dit ‘n belangrike bonus – iets waarop politieke partye wat die neus vir Afrikaans op hul webwerwe optrek, stellig ook gaan voel.

‘n Tweede rede waarom veral kleiner partye na die internet kyk, is die persepsie dat koerante as instellings sekere partye se saak bedryf, weliswaar soms op verskillende maniere met die nie altyd ewe knap aanwending van vyeblare nie.

Dit is natuurlik geen sonde vir koerante om sekere partye te ondersteun nie. In die jare sewentig het sommige koerante eenvoudig tydens verkiesingsveldtogte vir verliese begroot omdat geweet is dat die manier waarop sekere partye bevoordeel is, nie by al die lesers ewe goed sou afgaan nie, en daar ‘n afname in verkope was. Met die druk waaronder koerante nou wêreldwyd verkeer, sou verwag word dat meer sorg aan die dag gelê sal word om nie lesers te vervreem nie.

‘n Dekade gelede, met ‘n studenteraadsverkiesing, het ‘n dagblad ten nouste betrokke geraak en ‘n party nie net gesteun nie, maar ook baie krities gestaan teenoor die kleiner party wat ook uiteindelik die verkiesing gewen het. Die koerant se duidelik kantkiesery het onder lesers opslae gemak, en in ‘n hoofartikel is die kantkiesery ontken. Die koerant het in dieselfde hoofartikel egter sy eie beginsels gestel wat bevorder word, en dit gestel dat enige party wat daardie beginsels ook nastreef, verdien om gesteun te word. Die beginsels was identies met dié van die party wat so openlik gesteun is, en die stel van beginsels was ook die eerste formele afstap van die Christelike beginsels wat die koerant voorheen verklaar het “vanselfsprekend inbegrepe is”.

Meer en meer partye kla dat die media nou nie net ‘n tweepartystelsel bevorder nie, maar die nuus so aanbied asof die tweepartystelsel ‘n voldonge feit is. Die twee partye wat sekerlik nie hieroor kan kla nie, is Malema se sirkus en Agang.

Reg of verkeerd, die persepsie bestaan by politieke partye dat die internet, en ook die sosiale media, ‘n baie belangrike slagveld in die ideë-oorlog gaan wees. Dit sal interessant wees om te sien of partye ook wanneer oor die mediamengsel van advertensies besluit gaan word, die nuuswebwerwe ‘n realistiese aandeel van die advertensiekoek gaan laat kry.

Dit is gevaarlik om oor die doeltreffendheid van media te veralgemeen. Soms kan ‘n koerant se sirkulasie regstreeks na ‘n redakteur teruggevoer word, hetsy positief of negatief. Swak redakteurs teer dikwels ‘n hele ruk op die “kapitaal” van geloofwaardigheid wat ‘n voorganger gelaat het, terwyl ‘n nuwe redakteur wat by ‘n swak voorganger oorneem, soms ‘n ruk hard moet werk om die momentum van skade wat sy voorganger veroorsaak het, te stuit en om te keer. Boonop word die lesers se persepsies beïnvloed deur internasionale persepsies oor die geloofwaardigheid en eerbaarheid van koerante, en opnames in verskeie dele van die wêreld soos die VSA en Nederland toon dat dit soms swak is.

Die gedrukte media in die VSA het die reputasie dat hulle pres. Barack Obama byna blindelings steun. Die jongste Rasmussen-peiling toon dat net 43% van die Amerikaners tevrede is met Obama se werkverrigting. Net 20% voel sterk dat Obama goed vaar, terwyl 43% sterk voel dat hy ernstig droogmaak. Dit wil al meer lyk of die tradisionele rugsteun wat die koerante het om Demokratiese presidente in die VSA op te hemel nie meer teen die ander sienings op die internet kan kers vashou nie. Obama se lae vertrouenskoers val saam met die 50ste herdenking van die sluipmoord op pres. FF Kennedy, wat nou byna ikoniese status geniet. Tog kon dit nie ‘n positiewe uitwerking op Obama se dalende gewildheid uitoefen nie.

Met die byvoeging van videomateriaal op webkoerante kan besoekers nou lees, sien en hoor. Byna al die sintuie word aangespreek, en wat iemand op die video sien, is gewoonlik glo. Die webkoerant word deurgaans bygehou soos nuusgebeure ontvou, en wag nie vir saktye en die verspreiding van koerante nie. En glip ‘n fout in, kan dit gou reggestel word.

En dit sal interessant wees om te volg hoe dit die ontvouende realiteite die politiek nou gaan laat verloop.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

nNico Kruger ·

Ons moet seker aanvaar dat koerante is nie polities objektief nie. ‘n Koerant word meestal deur ‘n organisasie geldelik onderhou wat ‘n spesifieke politieke oogmerk het. Ons weet dit uit die ou Suid Afrika waar alle Afrikaanse koerante die NP gesteun het. (Die meeste swartes glo alle koerante in die ou SA het apartheid gesteun, wat nie waar was nie. Die meerderheid koerante het die
PFP gesteun wat apartheid veroordeel het.) Ek aanvaar dis dieselfde tendens in die VSA waar die meeste geld in die hande van die liberales is en dus die liberale Demokratiese Party steun. Die groot probleem is natuurlik mense glo koerante. En glo dus die koerant wat hulle lees praat net die waarheid.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.