Nuuskommentaar: Is die rasseskeiding permanent?

hande kultureel diversiteit rasse

Argieffoto (Foto: maxlkt, Pixabay)

Suid-Afrika is beslis nie uniek as dit kom by die manifestasie van hoe verskillende rasse mekaar beleef nie. Ook die VSA beleef die verskynsel dat rassisme wat deur wit teenoor swart gepleeg word, veel groter aandag geniet as andersom.

 “Is die VSA se rasseskeiding permanent?”

So lui die opskrif van ’n artikel deur die Amerikaanse skrywer en meningsvormer, Patrick J. Buchanan. Hy lys ’n hele aantal rassevoorvalle in die VSA waar swart die slagoffer van wit rassisme of minstens vooroordeel was.

Hy verwys na voorvalle soos die Roseanne Barr-insident op ABC, en die Starbucks-insident waar ’n takbestuurder twee swart mans laat arresteer het omdat hulle in die winkel “rondgehang” het en skynbaar ’n misdaad wou pleeg, en boonop nie die winkel wou verlaat toe hulle gevra is om te gaan nie. Altesaam 8 000 Starbucks-winkels is tydelik gesluit sodat die 175 000 werknemers kursusse in die hantering van raskwessies kon deurloop.

Die interessantheid is dat ’n mens in die Amerikaanse voorbeelde wat Buchanan lys, spookbeelde sien van soortgelyke situasies wat hulle in Suid-Afrika afgespeel het. Onlangs was daar die Ashwin Willemse-insident wat ook Naas Botha en Nick Mallet betrek het, die Vicky Momberg-geval waar Momberg effektief twee jaar tronkstraf vir haatspraak opgelê is en nog talle voorbeelde waar die indruk versterk word dat rassisme van swart teenoor wit as nietig (en as vryheid van uitdrukking) beskou word teenoor wit haatspraak teenoor swart.

Trouens, in die onlangse diskoers tussen AfriForum en andere het ’n akademikus wat AfriForum bygedam het, baie duidelik rassisme as iets beskou wat wit teenoor swart pleeg.

Buchanan vra die vraag of daar so ’n ophef van elkeen van die situasies sou wees as die slagoffer wit, en die een wat hom aan rassisme skuldig gemaak het, swart was. Hy beskuldig onder meer die media van die skeeftrekkery.

Hy stel die probleem sonder om werklik ’n oplossing aan die hand te doen. Sy slotsin kon net sowel op Suid-Afrika van toepassing gemaak gewees het: “Is white America really black America’s biggest problem?”

Die ontleding van die Amerikaanse rassesituasie het ’n enorme bedryf geword, en enige artikel hieroor sal noodwendig net aan die oppervlak raak. Elke studie van ’n aspek daarvan lewer egter minstens ’n paar elemente op wat op Suid-Afrika van toepassing gemaak kan word.

Arjen van Veelen, die Nederlandse skrywer wat in St. Louis woon, skryf in ’n essay in Trouw oor hoe dinge anders vir ’n vroeëre wit skrywer, Jack Kerouac, sou wees as hy swart sou wees soos hy graag wou wees. Hy skryf onder meer dat voor ’n reisgids vir swart mense, het swart mense dit moeilik gevind om akkommodasie tydens reise te vind.

Kerouac se idealisering van die soort vryheid wat swart mense geniet, soos rondrits in ’n gesteelde voertuig, die rook van dagga, die klanke van hul musiek (wat as veel beter as dié van wit mense beskryf word) sou vandag as erg beledigend teenoor swart mense beskou word.

Bedoeld of onbedoeld skets Van Veelen die verskille tussen wit en swart veel komplekser as die politiek-korrekte pogings wat nou so alledaags is.

Jacob Rooi, senior assistentredakteur by Rapport, skryf in ’n baie gebalanseerde artikel oor rassisme soos dit nou in Suid-Afrika ervaar word onder meer soos volg: “Rassiste moet teen dié tyd die skrif teen die muur begin sien, want die afgelope jare is veral wit rassiste sterk gestraf”.  Hy gebruik dan die Vicky Momberg, en doodskis-twee as voorbeelde.

Voorts skryf hy: “Diegene wat meen hulle is van meer waarde oor hul velkleur, bevind hulle nog op ’n dwaalspoor – en kan die lewe in die toekomstige Suid-Afrika vir hul kinders baie moeilik maak”.

Hy looi ook Julius Malema se rassisme.

Rooi se artikel bring balans in ’n debat waar Johann Maarman, eindredakteur van Die Burger, ou koeie uit die sloot gegrawe het.

Oorhoofs beskou gaan rassespanning moeilik onder beheer gebring word as swart rassisme teenoor wit nie met dieselfde ewehandigheid hanteer word as wit rassisme teenoor swart nie. Maar dis maar een element van ’n wye kwessie met skerp dorings wat na alle kante uitsteek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bou brue

Die brue wat ons hier probeer bou het is afgebreek. Ons moet brue na ons onderdrukte wit Amerikaners bou om saam vir ons regte op te kom.

Sw

Ek glo ñ ewewigtige balans sal geskep word indien swart rassiste onder dieselfde strawwe maatreëls as wit rassiste onderwerp word. Gelykheid voor die hof moet geskied. Dan sal ons land beter vaar as tans.

Terugstaan

‘Rassisme’ sal vir ewig wereldwyd voorkom. Dit gaan ook oor geloof en kultuur.
Kyk hoe gaan dit in Europa met die immigrante – kyk hoe gaan dit Amerika.
Die blankes moet alewig terugstaan – want baie mense van kleur voel altyd of hulle ingedoen was met iets?
Al was hulle nie deel van apartheid nie – nou waarom sal dit wees?
Dit omdat mense vir een of ander rede geen vertroue in hulself het nie.
Dit is normaal dat mense hulle met hulle eie mense/eie kultuur/en eie geloof wil vereenselwig en dit is nie rassisme nie.

Wesley

Daar sal altyd n wan-balans wees tussen wit en swart rassisme. Dit, voel ek, volg n kwessie van meer gerieflikheid bo ideologie. Dit is gerieflik om ander te blameer vir die probleme in die samelewing, pleks van na binne te reflekteer. Nes die ou NP gewen het op die “swartgevaar” kaartjie, het die ANC nou houvas op die gerief van apartheid en witmense te blameer. Dit hang net af wie is in beheer van die land / gesprek. Tot in die werksplek en om braaivleis vure gebeur dit so, een blaam die ander, en so gaan dit maar aan. Gerieflikheid… Lees meer »

Oom Kalahari

@ Liberaal, verduidelik asb vir wat moet blanke mense terugstaan. Die hoofstroom media en groot maatskappye waarna jy verwys is ‘n klein deel, maar die werklikheid is wel te bespeur op grondvlak. Gaan se jy persoonlik vir Malema en BLF /ANC om hul tipes van uitsprake en aanhitsinge te staak tot volle samewekinge en plaas/kleinhoewe moorde tot prioriteit te verklaar en onteieninge sonder vergoeding te staak, dan sal daar meer vrede na albei kante aanvaar word. Dit gaan net altyd oor jy is wit, staan terug sodat ek jou kan pakslae gee, verneder, verkleineer en uitmoor asook mishandel en verkrag.… Lees meer »