Nuuskommentaar: Is morele herlewing moontlik vir ANC?

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC. (Foto: Gulshan Khan/AFP)

Die afgelope naweek se NUK-vergadering volg ná ʼn opwindende week waarin Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, van alle pligte en voorregte geskors is. Magashule is eintlik nooit na dié vergadering uitgenooi nie, maar het via sy Radikale Ekonomiese Transformasie- (RET-)vennote toegang daartoe verkry.

Prof. Dirk Kotze, politieke ontleder van Unisa, sê dit wat die afgelope tyd in die ANC gebeur, is soos die gety van die see. ʼn Mens kan nie regtig sien hoe dit verander nie, maar ná ʼn halfuur kom jy agter dat iets beslis verander het. Ná die afgelope naweek is dit byvoorbeeld duidelik dat Ramaphosa en sy faksie hul greep op die NUK versterk het.

Diegene wat deel is van die Magashule-faksie voel blykbaar uitgesonder en asof hulle in die minderheid is. Net sowat 29 uit die byna 100 lede van die NUK steun tans vir Magashule en sy faksie.

Adriaan Basson, redakteur van News24, meen ook dat Ramaphosa tans die sterkste posisie sedert die aanvang van sy presidensie in die ANC handhaaf. Dít is nou uiteindelik die vergestalting van Ramaphosa se sogenaamde langtermynstrategie om die ANC te reinig.

In die “formele” faksiepolitiek lyk dit dus tans asof Ramaphosa die een is wat die faksiegeveg gaan wen. Talle kommentators is in die lig hiervan optimisties oor die stand en trajek van die ANC. As Ramaphosa net daarin kan slaag om van Magashule ontslae te raak, sal dit al beter gaan. Dit sal die bal aan die rol sit om die dieperliggende korrupsie aan te pak. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, het onlangs ook verduidelik hoe die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) op pad is om groot vordering teen korrupsie te maak.

Die aanname van ʼn beter trajek berus egter op ʼn paar belangrike dinge. Die eerste aanname is dat alles wat kan en gaan gebeur binne die formele faksiepolitiek moet gebeur – almal moet gehoor gee aan dit wat in en deur die party besluit en gedoen word. Die sukses van Ramaphosa berus grootliks daarop dat Magashule gehoorsaam is.

Gegewe Magashule se geskiedenis is dit uiters onwaarskynlik.

Die een ding wat Magashule veral sedert Ramaphosa se bewind gedoen het, was om reëls te verontagsaam. Magashule het die afgelope vier jaar voortdurend vir Ramaphosa ondermyn en teengegaan. Selfs die afgelope week het hy die partybesluite teengegaan deur ʼn uur lange onderhoud met SABC News te doen – iets wat teen sy skorsingsvoorwaardes indruis.

Daarom sal dit in die komende tyd vir Magashule voordelig wees om soveel moontlik reëls te oortree ten einde die spanning te verhoog – dit gaan uiteindelik ʼn uitwerking hê op die komende hoofraadsvergadering asook die munisipale verkiesing in Oktober. Magashule het al hoe minder om te verloor – daarom raak dit ook vir hom dalk al hoe lonender om Ramaphosa en die ANC in verskeie hoeke vas te druk.

Die tweede aanname is dat Magashule nié bereid is om vuil te speel nie. Die een groot verskil tussen Ramaphosa en Magashule is waarskynlik hulle diepliggende morele kompas. Min mense sal daarmee stry dat Ramaphosa nié die openlik gevaarlike “krimineel” is wat Magashule oënskynlik is nie. Daar is ʼn baie goeie rede waarom Magashule ʼn gangster gedoop is en sy provinsie soos ʼn krygsheer oordonder het. Die bewerings wat oor Magashule se heerskappy gemaak word, moet enigiemand laat sidder.

Dit is redelik veilig om te aanvaar dat Magashule waarskynlik bereid is om meer duistere dade as Ramaphosa uit te voer in ʼn poging om oorlewing. Daarom moet ʼn mens nie net aanvaar dat Magashule mooi gehoorsaam tussen die lyne van morele en aanvaarbare politiekery sal bly nie. Selfs al wil of kan ʼn mens dit nie met absolute sekerheid voorspel nie, is dit beslis iets wat as opsie ingereken moet word.

Dit beteken egter nie dat Ramaphosa ʼn engel is wat net in ʼn edele stryd om die ANC se siel betrokke is nie. Hy speel ook maar politiek in ʼn poging om sy posisie te versterk. Die kanse dat Ramaphosa op onsekere politieke grond vir Magashule die deur sou wys, is uitsonderlik skraal – juis omdat dit polities dalk edel, maar uiters dwaas sou wees. Ramaphosa sou die een of ander mate van groter sekerheid moes hê om nóú teen Magashule op te tree.

Verder berus hierdie aanname daarop dat die ANC die vermoë het om die morele herlewing te fasiliteer. ʼn Groot mate van die sukses gaan afhang van daadwerklike suksesvolle politieke vervolging. Wat maak dit dan nou saak of Magashule geskors word oor korrupsie, maar nooit daarvoor vervolg word nie? Gegewe die feit dat die NVG die eerste belangrike rolspeler in dié opsig is, lyk die vooruitsigte egter nie so goed nie.

Die NVG het verlede jaar bevestig dat sy suksesvolle vervolgingskoers vir ernstige oortredings ʼn skamele 2% was. Dit word natuurlik vererger deur ʼn ondoeltreffende polisiediens, maar vind uiteindelik neerslag in die NVG se syfers. Gegewe die NVG se begrotingsvermindering vir die finansiële jaar 2021-2022, gaan dit waarskynlik ook nie veel beter word nie.

Dit beteken dat ʼn mens regtig mooi moet dink om alle hoop op suksesvolle vervolging te vestig. Dit kan in die lig hiervan moontlik wees dat tientalle ANC-lede jare lank op ANC-salarisse voortleef terwyl hulle wag om vervolg te word.

Oor die afgelope 27 jaar het die ANC met swak beleid en regering die nodige kapasiteit van instellings wat wet, orde, reg en geregtigheid moet handhaaf, weggekalwe. Sodoende is die instellings so ondoeltreffend en wanfunksioneel dat ʼn mens nie daarop kan of moet staatmaak nie. Die ANC probeer nou om die interne probleme van die afgelope kwarteeu reg te stel met die einste instellings wie se kapasiteit hy verwoes het. Die ironie van die saak is verder dat die party die morele herlewing wil fasiliteer sonder om die beleid te ondersoek wat dié probleme in die eerste plek veroorsaak het.

In die lig hiervan moet ʼn mens jouself dan afvra of die ANC soos wat ons dit ken in enige opsig die vermoë het om in moraliteit of doeltreffendheid te herleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Werner ·

Ou proffie jy gaan die verassing van jou lewe kry as jy dink Ace gaan hierdie ding polities oplos.

Wilhelm ·

Die goeie nuus is dat my vyand onder mekaar baklei, ek hoop hulle hou so aan. Ek wil nie hê een van hulle moet wen nie.

Michal ·

“morele herlewing” amper lag ek myself in n ander bloedgroep in

Andries ·

Die ANC het nie die vermoë het om in moraliteit of doeltreffendheid te herleef nie. Die terminale self destruktiewe kernkorrupsie sal lei tot die ondergang van die ANC. As jy die struktuur van realiteit en waarheid verdraai, verwoes jy die psigologiese basis in jouself en die organisasie wat andersins in stand sou bly as jy moreel regmatig opgetree het.

Sarel ·

Verkiesingsfoeffies…? Ek wonder verwag dat hy na die verkiesing herstel ssl word inbsy amp of herontplooi gasn word na die Parlement…maar vervolg aikonna wil eers sien
Want daar os steeds moontlikheid van nuwe party as opposissie tot die ANC.

David ·

Morele herlewing? Daar was nog nooit iets moreel omtrent die ANC nie.

Jan ·

My broer het op ‘n grenspos gewerk. Hy het gese jy kon duidelik sien watter kaders bribes vat. Jy kon dit sien aan hulle lang slap karre wat hulle nie kon bekostig met hulle staatsdiens salaris nie. Dit was bloot ‘n visuele leefstyl oudit. Die ANC belowe nou al vir jare om leefstyl oudits op hulle kaders te doen, maar niks gebeur nie. As hulle dit doen sal dit dadelik die korrupte kaders uitwys. Hulle moet die oudits bekend maak en skuldiges lewenslank skors uit die party en ook krimineel aankla. So kan hulle die party vinnig skoonmaak. Hulle is dit verskuldig aan die kiesers. Die leefstyl oudits lyk egter vir my net na “lip service” soos ons die meeste politici ken.

Janee ·

Glo nie een van die spul weet wat”morele waardes” beteken ….

Chris ·

Waarom Ace met volle voordele geskors is, gaan my verstand te bowe. Is iemand bang oor wat hy Ian kwytraak? Hy moet niks kry nie, tot sy “onskuld” bewys word, dan praat ons verder. Ek hou die verwikkelinge fyn dop – ANC se morele waardes – wat ‘n grap ..

Hendrik ·

Die ANC sal nie verbeter nie. Dit is nie belangrik vir hulle steunbasis nie. Hulle sal alles prysgee net om die politieke mag te behou. Die Afrikaner se heil lê nie opgesluit in wat die ANC doen of nie doen nie, maar in die mate waartoe ons oor onsself sal beskik en onafhanklik van swart arbeid kan wees.

annie ·

G’n probleem begin sommer net gister nie. Reeds in 1994, nee, reeds baie vroeèr was die ANC bekend vir sy roekelose omgang met lewe en eiendom. Eie kaders se grafte lè onder onkruid toegegroei bo in Afrika… diegene s’n wat teen vreemde aksies kapsie gemaak het. Maar toe word Zuma as president verkies selfs nadat onwettige gedrag by hom geìdentifiseer is. En nou is die morele waardes van die ANC soek. Hoe het dit verdwyn en wanneer? As Mandela dan die volmaakte mandala van die ANC was, waar en wanneer het die waardevolle hoeksteen verdwyn, of was/is daar ooit soiets?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.