Nuuskommentaar: Is SA nou slegter af as voor 1994?

President Jacob Zuma tydens die WEF in Davos, Switzerland. (21 Januarie 2016) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

President Jacob Zuma tydens die WEF in Davos, Switzerland. (21 Januarie 2016) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Ten spyte van pres. Jacob Zuma se Vryheidsdagtoespraak waarin hy groot gewag probeer maak het van hoeveel beter die land nou daaraan toe is as onder die vorige regering, toon ’n peiling meer Suid-Afrikaners glo dinge is nou slegter of dieselfde as diegene wat glo dinge het verbeter.

Die vraag of SA nou beter of slegter daaraan toe is as voor 1994 sal in vele kringe as gelykstaande aan hoogverraad beskou word. Simplisties beskou was die rassebeleid van die vorige regering immers as misdaad teen die mensdom verklaar.

Maar toe gebeur dit nou – ’n Afrobarometerpeiling het getoon meer Suid-Afrikaners het gedink dinge was voor 1994 beter as nou. Die peiling is verlede jaar deur die Instituut vir Geregtigheid en Rekonsiliasie en Plus 94 Research gedoen. Minder as vier uit tien Suid-Afrikaners glo dinge is nou beter as voor 1994, terwyl 62% van die kiesers sê dinge het dieselfde gebly of verswak.

Dit staan in skrille kontras met pres. Jacob Zuma wat dié week in sy Vryheidsdagtoespraak sy bes gedoen het om kiesers te oortuig dat dinge nou soveel beter is, en waar dinge haper, dit wyle apartheid se skuld is.

Ook dié week het die FW de Klerkstigting ’n artikel deur sy uitvoerende direkteur, Dave Steward, uitgestuur met die opskrif: South Africa returns to officially imposed racialism in sport. Steward skryf dit beteken die land het terugwaarts getree na waar sport onderhewig gestel word aan die rasse-ideologie van die ANC.

Is die land nou beter af waar die regering self die groot sportsoorte ’n tipe internasionale boikot oplê en die grondwette van internasionale liggame oor regeringsinmenging en rassisme uitdaag, as toe boikotte gevolg het op die vorige regering se pogings tot volwaardige internasionale deelname vir almal deur rasgebaseerde spanne soos die Springbokke, die Proteas en die Luiperds?

Kom ons laat die Seunse Weenkoor se kabaal oor “daar is groot verskille” onbeantwoord. Die feit is dat daardie dae vir goed verby is, behalwe soms soos die Nieu-Seelandse Maori-span wat die geleentheid tot internasionale deelname kry.

Die verlede se voetspoor trap steeds so stewig dat Krieket Suid-Afrika die stuipe wil kry as daar selfs net sprake is van nierassige Afrikaanse en Engelse spanne wat mekaar in ’n nie-amptelike wedstryd die stryd wil aansê.

Maar selfs in Suid-Afrika wentel alles nie om sport om lewensgehalte te probeer bepaal nie.

Terwyl Zuma die land probeer oortuig het dat dinge nou soveel beter is, het daar oral in die land diensleweringsbetogings en ander proteste plaasgevind. Zuma was bewus hiervan, want hy het die ontevredenes aangespreek om in hul protes nie geweld te gebruik en skade aan te rig nie. Daar was terselfdertyd saamtrekke waarin die bedanking van Zuma geëis is.

So ’n paar koerantopskrifte verklap ook dat dinge dalk nie nou so rooskleurig is nie: Duisende betoog vir #ZumaMustFall, In Depth: The South African conundrum – and why glass is still half full, Why Malema wants war, DA member allegedly stabbed by ANC supporters, Jobs future is bleak, Almost 60,000 workers could lose jobs by year end, ‘Ons vir jou, Suid-Afrika’ (’n kind se verhaal oor plaasmoorde), ’n Doodsklok-plan, Hermann Giliomee, Christo Viljoen kritiseer US se voorgestelde taalbeleid, Diskriminasie kos hom ʼn ‘dekade van sy lewe’, Tough year for high equity balanced funds … wie wil graag nog sulke depressiewe voorbeelde sien?

Natuurlik is daar voorbeelde van waar dinge nou beter is as voor 1994, en Zuma het heelwat empiriese voorbeelde genoem. Maar dis ewe maklik om te toon dat daar net soveel dinge, of meer, sedertdien skeefgeloop het.

Die land (lees die ANC) het die harde les geleer dat daar ’n enorme prys te betaal is vir die “luukse” om iemand soos pres. Jacob Zuma as president te hê. In plaas van formele sanksies knyp afname in beleggersvertroue terwyl die land oor tyd heen sleg op bykans alle indekse teruggesak het, waaronder die persvryheidsindeks en die korrupsie-persepsie-indeks.

Vandag lewer die hooggeregshof uitspraak oor of die bykans 800 aanklagte van onder meer bedrog teen Zuma heringestel moet word. Ongeag die uitspraak sit die land al lank met hierdie eier in die gesig.

Nou ja, nou is die politiek verkeerde klippie ook uit die skoen …

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rynhardt

SA kon in 22jaar nie eens 6% of meer ekonomiese groei handhaaf met Anc aanbewind nie! Die ergste van alles is dat ekonome weier im Anc aan te tree oor die implementering van Vryheidamanifes! Kundigheid is weg uit SA en aan die massas word mooi beloftes gemaak wat nie gaan materialiseer nie.Wereldwyd versleg dinge en dit gaan n helse impak op SA he wat minder as 1% groei toon.Gistraand was op tv nuus berig dat rooivleis voortaan met tot 50-60% kan styg-net die begin van stygende voedselpryse! Waar die Anc se ondersteuners nie politiek verstaan nie, gaan hul dit mwt… Lees meer »

Hannelie

I REST MY CASE !!

HEVW

z se toespraak op vryheidsdag bevestig duidelik die waarheid van die gesegde:” Vir n dwaas is dit net so moeilik om sy eie dwaasheid in te sien as wat dit is as om sy eie ore raak te sien.” Maar ek wil se dit is vir z nog baie moeiliker om sy dwaasheid in te sien, want daar agter sit nog n klomp moedswilligheid, die aanstokery van sy kaders , n klomp rassisme en n tipiese Afrika- drang na mag in die vorm van rykdom.

Kosie

As mens meer analities daarna kyk vergelyk vandag met die pre-94 regering soos volg. Misdaad=slegter, Korrupsie=Slegter, Paaie=slegter ( die paaie wat wel werk word tolpaaie (dubbelbelasting), munisipale dienste=slegter, elektrisiteitsvoorsiening=slegter, werkloosheid=slegter, inkomstegelykheid=slegter, aantal plakkerskampe=slegter ( het tienvoudig toegeneem), Standaard van swart onderwys=slegter, koste van goeie onderwys=slegter, aantal opstande/betogings=slegter , beskerming van Afrikaans =slegter, respek vir kultuurerfenis=slegter. So wat het verbeter? Daar is nou ‘n groot swart middelklas danksy rassewette grootendeels en tweedens omdat swartmense nou ook in wit skole geplaas kan word. Maar die rassewette fokus op indiensname, eienaarskap en aankope. Onder apartheid was daar nie sulke wette nie, behalwe om… Lees meer »

Rynhardt

Navorsing het getoon dat 500000-600000 duisend van die massas der massas die skool verlaat en hul kry nerens werk nie!! SA sit op n helse tydbom terwyl die prez sy danspassies op verhoe uitvoer!