Nuuskommentaar: Jaaroorsig 1 van 2018: Natuur en wetenskap

In hierdie eerste van vier oorsigte oor belangrike gebeure van 2018 word na gebeure in die wetenskap en natuur gekyk. Dit wat onder die loep geneem word, is slegs ’n druppel aan die emmer van die totale nuuswaardige spektrum en die keuses is gemaak om ’n interessante verskeidenheid voor te hou. In ’n paar gevalle word ook aangetoon hoe heel uiteenlopende wetenskappe mekaar aanvul om gebeure te verklaar.

In môre se rubriek word pres. Cyril Ramaphosa se eerste jaar as ANC-president bekyk.

Dié kruispatrone lyk soos ʼn hutsmerk en is met oker op silkreet geskep. Foto: Wits

SA kry eerste prys: Oudste mensgemaakte tekening met kwas of kryt

Moontlik Suid-Afrika se vernaamste bydrae tot wetenskaplike vondste in 2018 was die ontdekking van die oudste mensgemaakte tekening by Blombos in die Suid-Kaap. Dit het die eerste plek ingeneem in Heritage Daily se lys van tien top- argeologiese vondste ter wêreld in 2018. Die skets is ongeveer 73 000 jaar oud.

Dit lyk soos ’n hutsmerk en die oudste waarvoor ’n kwas of kryt gebruik is.

Die tydskrif Archaeology het dit tweede geplaas. Lees meer hier.

Onverwant hiermee het argeoloë stukkies klip van hematiet gevind wat as “kleurkryt” gedien het. Dit is in ’n laag van die Denisova-grot in Siberië gevind wat tussen 45 000 en 50 000 oud is en deur die Denisovans bewoon is. Lees meer hier.

Brood ouer as landbou

Onder die ander interessante vondste is die ontdekking van die verkoolde oorblyfsels van ’n plat brood, wat 4 000 jaar voor landbou beslag begin kry het, gebak is. Dit is 14 000 jaar gelede gebak in wat nou Jordanië is. Archaeology het hierdie vonds eerste geplaas, en Heritage Daily sesde. Lees meer hier.

Foto: Pixabay

Meteoor-ontploffing verwoes Sodom en Gomorra

Bybelse argeoloë het ook nie stilgesit nie en verskeie noemenswaardige vondste gemaak. ’n Meteoor wat 3 700 jaar gelde oor die Dooie See in die atmosfeer ontplof het, was die oorsaak waarom ’n Bronstydperk-beskawing aan die Dooie See eensklaps verdwyn het. Vondste van gebeure wat in die Bybel beskryf word wat gebeur het voordat die Israeliete in die beloofde land gaan woon het, is skaars, soos wat van Sodom en Gomorra geword het, maar navorsing oor die meteoor se impak kan dit alles verander.

Die navorsing staan nou as die Tall el-Hammam-uitgrawingsprojek in Jordanië bekend.

Die navorsing dui daarop dat die uitwissing met ontsettende hitte gepaard gegaan het wat die oorblywende artefakte wat gevind is, laat smelt het om glas te word. Die geboude strukture se moddermure is weggeveeg en slegs fondasies het oorgebly wat ook tekens toon van blootstelling aan verskriklike hitte.

Die multi-dissiplinêre span van ’n groot verskeidenheid universiteite en ander instellings wat die uitgrawings bestudeer, meen ʼn gebied van sowat 500 vierkante kilometer noord van die Dooie See is oombliklik verwoes. Sowat 40 000 tot 65 000 mense is oombliklik gedood.

Voor die ramp het die gebied, die vrugbaarste in die streek, vir 3 000 jaar ’n florerende beskawing gehuisves, maar daarna was dit baie lank onmoontlik om ’n bevolking te dra.

Die hoë hitte sou ’n groot area se voedingstowwe in die grond verwoes het, en tipe tsoenami’s van die Dooie See sou allerlei soute oor ’n groot gebied afgeset het.

Saam met ander faktore sou die grond so onvrugbaar wees dat dit sowat 600 jaar sou duur voordat iets weer daarmee vermag kon word.

’n Soortgelyke gebeurtenis het in 1908 in Siberië plaasgevind toe sowat 2 000 vierkante kilometer woude platgevee is. Dit word bereken dat daardie meteoor sowat vyf tot tien kilometer bo die aarde ontplof het.

Bybelse navorsers meen dat dit wat in die Bybel oor die vernietiging van Sodom en Gomorra geskryf is, ooreenstem met die gevolge van ’n meteoor wat in die atmosfeer sou ontplof. Lees meer hier .

’n Meteoor wat vroeër vanjaar oor Groenland ontplof het, toon hoe kratig so ’n ontploffing kan wees.

Berigte wat pas verskyn het, lui dat seismometers in Groenland die skokgolwe geregistreer het van ’n meteoor wat as vuurbal 43 kilometer bo die grond naby die Amerikaanse basis by Thule ontplof het. Die skokgolwe het die aarde geskud, wat weer deur die seismometers waargeneem is. Die vuurbal het op 25 Julie met ’n plofkrag van 2,1 ton TNT ontplof. Dit het tydens sy ontploffing teen bykans 74 keer die snelheid van klank beweeg. Seismometers het die skokgolwe tot 350 kilometer van die episentrum geregistreer.

Seismometers wat deur ruimtevaarders op die maan gelaat is, het gereeld die impakslae van meteoriete wat op dié hemelliggaam geval het geregistreer – iets wat betreklik gereeld gebeur het omdat die maan nie ’n merkbare atmosfeer het nie. Die vier seismometers het nog tot 1977 gefunksioneer. Na verwagting sal dit ook nie lank duur voor die seismometer wat InSight pas op Mars neergelaat het, sulke impakte sal registreer nie. Mars se atmosfeer is minder as een persent so dig soos dié van die aarde.

Bemande reise na Mars begin ‘in sig’ kom

Die suksesvolle landing van Nasa se InSight op Mars is waarskynlik die ruimteverhaal wat die meeste belangstelling van die publiek gaande gemaak het. InSight is die eerste ernstige poging van die mensdom om meer oor Mars se geologie te wete te kom. ’n Meganiese “mol” sal ook vyf meter diep onder die oppervlak gaan delf.

Die jaar is afgesluit met ’n baie duidelike saamgestelde foto van ’n ys-sprokieswêreld. ’n Bespreking vir ’n ski-vakansie is egter voortydig, want die “sprokieswêreld” is op Mars, en ’n reis daarheen sal ses maande duur. ’n Reuse- goedbewaarde impakkrater van 82 kilometer in deursnee, en twee kilometer diep, bevat ys wat 1,8 kilometer dik is. Die ys word verhinder om te verwarm en so te verdwyn deur wat in Engels ’n “ice trap” genoem word.

Foto: ESA

Hierdie ysgreep word veroorsaak deur die diepte van die ys, asook winde wat oor die oppervlak waai, en dit so koud word dat dit enige vorm van verdamping keer.

Die krater bevat na raming 2 200 kubieke kilometer ys, hoewel ’n onbekende deel daarvan uit Marsstof kan bestaan.

Die krater, bekend as die Korolev-krater, is net suid van die duineveld geleë wat om ’n groot deel van die planeet se noordpool strek.

Die foto is ’n samestelling van vyf “stroke” foto’s wat die Mars Express van die Europese Ruimte-agentskap met verskillende hoeke gedurende vyf verskillende oorvlugte geneem het. Sodoende is besonder baie detail binne en buite die krater skerp vasgevang.

Die was Kersdag presies 25 jaar sedert die Mars Express met sy omwentelinge om Mars begin het.

Die klein maantjie van Mars, Phobos, se onreëlmatige oppervlak beteken dat gravitasie op die oppervlak van plek tot plek baie verskil. Op sommige plekke sal ’n mens maar net enkele gram weeg, en as hy teen vinniger as 5,2 kilometer per uur loop, kan hy vind dat hy homself gelanseer het om heel waarskynlik in ’n wentelbaan om Mars te beland. Op ander plekke kan ’n ruimtekarretjie teen byna 40 km per uur oor die oppervlak blits voor dit gevaar loop om in die ruimte in weg te dryf. Die navorsing, wat pas in Advances in Space Research gepubliseer is, is gedoen om vas te stel hoe ruimtetuie om Phobos moet navigeer en land. Lees meer hier.

In November is bekend gemaak dat ’n baie goedbewaarde krater deur satellietbeelde onder die ys in Groenland gevind is. Dit is ongeveer 32 kilometer in deursnee, en is deur ’n ystermeteoriet van byna ’n kilometer in deursnit veroorsaak. Dit het tussen 3 miljoen en 13 000 jaar gelede gebeur. Lees meer hier.

Argieffoto

Binnekort weer El Niño?

Daar is ’n 75 tot 80% kans dat ’n nuwe El Niño-siklus die aarde weer binnekort gaan tref, aldus die Europese Ruimte-agentskap (ESA). Wetenskaplikes kom tot dié gevolgtrekking nadat data van die Copernicus Sentinel-3 satelliete bestudeer is. Dié satelliete meet onder meer die seetemperature.

El Niño kom elke twee tot sewe jaar voor en veroorsaak op sommige plekke warm en droë weer en op ander groot oorstromings. Nog akkurater data sal nou beskikbaar word nadat die Aeolus-sendings onlangs onderneem is.

Die groot vraag wat ESA en ander wetenskaplikes egter vra, is of die algemene klimaatsverwarming ’n invloed het op El Niño. Die verband tussen die twee verskynsels ontwyk die wetenskap nog.

Nasa is ook intensief besig om ’n oog oor klimaatverskynsels te hou, en hierin speel die OSTM/Jason-2 satelliet ’n groot rol. In Maart verlede jaar het Nasa juis die vraag gevra of die oorskiet-hitte van die vorige El Niño nie genoeg is om ’n nuwe te veroorsaak nie.

Aardbewings

Nadat dit vir ’n geruime tyd vanjaar gelyk het of die aarde soos die afgelope twee jaar minder as die normale kwota aardbewings van sewe of meer sou beleef, het daar die afgelope paar maande soveel sterk aardbewings voorgekom dat dit byna ’n “normale” jaar was. Altesaam 16 van sewe of meer, met een sterker as agt, het voorgekom. Sowat 3 000 mense het as gevolg van aardbewings of gepaardgaande tsoenami’s gesterf.

Indonesië het verreweg die meeste ongevalle gely, terwyl die dodetal nog bereken word as gevolg van ’n tsoenami wat blykbaar veroorsaak is toe vulkaan Anak Krakatoa uitgebars het, en ’n deel van die kraterwand in die see beland het en ’n ondersese aardverskuiwing veroorsaak het. Met die skrywe hiervan het die gevaar toegeneem dat dit weer kan gebeur.

Mediese wetenskap

Feitlik weekliks verskyn artikels wat op vordering in die mediese wetenskap dui. Kankernavorsing bly ook nie agter nie, en baie hiervan is gerig op metodes om die liggaam is staat te stel om self kanker doeltreffend te bekamp. So word aan metodes gewerk om die liggaam se eie T-selle, wat die liggaam moet beskerm, in staat te stel om kankerselle as vyandig te herken, en dan aan te val. Metodes word ook gesoek om T-selle in staat te stel om gewasse te kan binnedring en van binne te vernietig. ’n Onlangse berig dui op die komplekse en lang prosesse om doeltreffende bekamping moontlik te maak.

Navorsing om ’n middel te kry wat die retina in oë teen loslating kan beskerm, het geblyk waardevol te wees om ’n aggressiewe vorm van leukemie, Meyeloyd, te bekamp.

Die kankernavorsers het ontdek dat as die aktiwiteite van ’n geen, SRPK1, onderdruk word, word die kanker ook teengewerk.

Deur onderlinge kommunikasie is vasgestel dat navorsers wat na oplossings vir retina-probleme soek, reeds ver gevorder is in hul ondersoek na SRPK1. Sedertdien word ten nouste saamgewerk tussen die spanne van Exonate, wat die retina-navorsing doen, en die Welcome Sanger Instituut.

Die navorsers hoop dat dié behandeling ook vir die bekamping van verskeie ander soorte kanker sal kan help. Toetse word in hierdie stadium nog nie op mense gedoen nie, maar toetse vir die oogmiddel sal na verwagting in 2020 begin. Dit sal egter langer neem voor toetse vir die kankermiddel op mense gedoen kan word.

Die navorsingsverslag is in die vakjoernaal Nature Communications gepubliseer.

Bron:  New Atlas

In nog goeie mediese nuus is bekend gemaak dat belowende toetse wat demensie en Alzheimer se siekte kan terugdwing, van volgende jaar af na die eerste fase van toetse op mense gaan vorder.

Met hierdie metode word ultraklank-golwe gebruik om die proteïeneklonte wat demensie en Alzheimer se siekte veroorsaak op te los. Die eksperimente is verskeie kere suksesvol op diere uitgevoer.

Bron: Universiteit van Queensland soos gerapporteer deur  New Atlas.

.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae