Nuuskommentaar: Kan SA uit grondwethofuitspraak oor Zim-boere baat?

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Belangrike lesse, indien dan nie presedente nie, kan geleer word uit die konstitusionele hof se bevinding dat oudpres. Jacob Zuma en sy Suid-Afrikaanse regering verbrou het deur deel te wees van die opskorting van die SAOG-tribunaal, nadat die tribunaal teen Mugabe se grondgrypaksies beslis het.

Omdat die tribunaal se ontbinding onregmatig was, sal dit pres. Cyril Ramaphosa en Kie loon om kers op te steek oor die regsbeginsels oor grondonteiening sonder vergoeding wat deur die tribunaal daargestel is. Dit is immers baie waarskynlik dat Suid-Afrikaanse howe dieselfde beginsels sal navolg.

Die konstitusionele hof se uitspraak oor die opskorting van die SAOG-tribunaal deur Zuma en ander Suider-Afrikaanse leiers, wat Zimbabwiese boere wat deur Mugabe sonder vergoeding van hul grond beroof is sonder remedie gelaat het, moet nie net in eie konteks verwelkom word nie – dit stuur ook ’n besliste boodskap aan Ramaphosa en ander voornemende grondgrypers soos die EFF en BLF uit.

Lees ook AfriForum se nuusverklaring hier. Netwerk24 se berig kan hier gelees word.

Al skep die uitspraak dalk nie ’n formele presedent nie, is die boodskap ook duidelik dat die konstitusionele hof nie die regering se grondgrypplanne gaan “rubberstempel” wanneer dit eendag daar dien nie.

Boonop, as die verontregte Zim-boere se skadevergoedingseise teen Zuma en die Suid-Afrikaanse regering vir onregmatige optrede slaag, gaan daar weer diep geskep word in Suid-Afrika se reeds dolleë staatskas.

Dit was ’n lang en uitputtende proses om tot hier te kom. Reeds voor 2013 het AfriForum, wat ook sentraal staan in die huidige geding, belangrike oorwinnings in die howe behaal. Lees gerus hier.

AfriForum loop gereeld in sekere kringe deur omdat dit “voortydig” en eintlik onverantwoordelik met die howe omgaan. In die proses sou AfriForum soms die saak wat hulle beredder wou sien, meer skade as goed doen. Die jongste voorbeeld was AfriForum se dringende aansoek om die proses vir grondonteiening sonder vergoeding te stuit, wat deur die hof as “voortydig” en nie dringend nie, beskryf is.

Die jongste uitspraak, wat blyk uit Google-soektogte skynbaar feitlik volledig deur die hoofstroom-media geïgnoreer is, behoort baie te doen om AfriForum se litigasiereputasie reg te timmer.

Dit sal die Suid-Afrikaanse regering (en die belastingbetalers) loon om behoorlik kennis te neem van die uitspraak. Dit is nou baie duidelik dat enige beoogde wetgewing oor grondgryp sonder vergoeding nie net deur die Grondwet gebind word nie, maar ook deur die internasionale konteks. Die internasionale reg in hierdie verband word in verskeie verdrae duidelik uitgespel – verdrae wat Suid-Afrika nie net onderteken het nie, maar geratifiseer het. Om daaruit te wikkel is ’n lang en uitmergelende proses. Dit word byvoorbeeld, hoewel effe buite konteks, gedemonstreer deur Suid-Afrika se pogings om hom aan die Internasionale Strafhof te onttrek ná die Al-Basjir-debakel. Suid-Afrika het uiteindelik die handdoek ingegooi en sy onttrekkingspoging laat vaar.

Deur die jongste uitspraak van die konstitusionele hof kan daar weer met vrug gekyk word na die uitsprake van die onregmatig ontbinde tribunaal oor grondonteiening sonder vergoeding. Suid-Afrika, as lidland van die SAOG, was immers by die regspraak van die tribunaal ingebind.

Die Helen Suzman-stigting voer juis, aan die hand van ’n uitspraak van die konstitusionele hof, die volgende aan: “The effect of the CC judgment is that whilst the Tribunal may no longer exist, its decisions are legal and binding and can be enforced within South Africa. To the disposed farmers it means that something may now be done to restore their dignity as the Zimbabwean Government is finally held accountable under the rule of law. (Lees hier.)

Noudat die konstitusionele hof formeel bevind het dat die tribunaal se ontbinding onregmatig was, behoort die beginsel selfs sterker te staan.

Volgens koerantberigte lyk dit tans of die voorgenome gronde waarop onteiening sonder vergoeding hier sal geskied, erg beperk gaan word. Daar is egter soveel kafpraatjies deur regeringswoordvoerders in omloop, soos dat net die grond onteien gaan word, en nie die geboue daarop nie, dat ’n mens elke stukkie skynbare rasionaliteit met ’n knippie sout moet neem.

Eerder as om AfriForum se regsprosesse te kritiseer, soos nou deur die DA-leier Mmusi Maimane, kyk langtermyn-kontekstueel daarna, en help selfs met ’n bydrae. Met die grondgrypkwessie gaan AfriForum nie alleen staan nie, maar deel van ’n proses wees waar verskeie instansies regstappe gaan doen, waaronder die DA.

Om hande te vat is ononderhandelbaar.


  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann M van Heerden ·

Ek dink Afriforum was voortydig en hel nie hul regs huiswerk gedoen nie. Is hulle dalk nie so publisiteit ingestel dat niks anders saak maak nie. Mens moet slim te werk gaan as jy die saak wik regstel. Ons kan nie bekostig om geld te mors nie en sulke foute te maak nie. Ek wonder of Afriforum nie ‘n leierskap probleem hetnie. Die mense dink vir my te klein en moet groter dink.

John ·

Indien die grondwet in Maart verander is die Grondwethof se regters gebind aan nuwe kettings. Dit word dan ‘n ander wedstryd. Hierdie uitspraak het te make met ‘n tribunaal… en het niks met die grondwet uit te waai nie. Dit kan wel bietjie golfies maak maar duidelik is daar mense wat grofgeskut wil gebruik. Die DA wil ook graag die boere op sy winkeltrollie laai… maar ons weet die wiele loop gou windskeef…

Andre ·

Omtrent tyd dat die Afrika “big chiefs” aanspreeklik gehou word vir hulle roekelose disrespek vir nasionale en internasionale wette.

Al die pyn en lyding wat hulle (Afrika ‘big chiefs’) veroorsaak het in die “Zim grondgryp debakel” regverdig sekerlik baie jare agter tralies.

VASBYT Afriforum!

Judge Dredd ·

Die DA vry agter die swart vote aan en doen niks meer vir die minderhede en het nog nooit iets vir die Afrikaner gedoen.
Enigste rede waarom mense vir hulle gestem het is omdat hulle effens better was met dienslewering en minder korrup – maar hulle is deesdae maar ook net so sleg.
Die DA Moesie se Anti-afrikaner houding gaan hul hard tref met die komende verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.