Nuuskommentaar: Kersie op troukoek en haatspraak

Jack Phillips, bakker en eienaar van Masterpiece Cakeshop in Lakewood, Colorado (4 Junie 2018). Foto: David Zalubowski/AP

Vroeër vandeesmaand het die Amerikaanse hooggeregshof uitspraak gelewer in die omstrede troukoek-voorval in Colorado. Ons Grondwet maak voorsiening dat ook ons howe hulle deur buitelandse regspraak in sake van grondwetlike aard kan laat lei.

Op die gevaar af dat ’n oorvereenvoudiging van die Amerikaanse saak op ’n regsdwaling sou neerkom, word kortliks weens die belangrikheid daarvan na die saak en die uitkoms verwys.

Dié appèlsaak het gevolg nadat ’n gay paar ’n troukoek by Masterpiece Cakeshop se Jack Phillips wou bestel, en hy op grond van godsdienstige oortuigings nie die troukoek wou lewer nie. Hy het wel ander gebak uit sy bakkery aangebied. Die paar was ontsteld en het Phillips by Colorado se kommissie vir burgerlike regte aangegee.

Dié kommissie het met venyn teen Phillips opgetree, wat as ’n element tot die saak toegevoeg is. Verskeie regters wat as “links” beskou word, het hulle by die konserwatiewe regters geskaar in die uitspraak. Slegs twee linkse regters, waarvan een die erg omstrede regter Sonia Sotomayor is, het teen die uitspraak gestem.

Colorado is, volgens berigte, een van die min deelstate van die VSA waar seksuele oriëntasie op die lys voorkom, en waar ’n belediging daaroor tot ’n skuldigbevinding vir ’n haatmisdaad kan lei.

Bron op bron beklemtoon dat die regters nie ’n breë uitspraak gelewer het nie, maar ’n gevalle-spesifieke een wat net op hierdie saak betrekking het.

So ver vasgestel kan word, het hierdie saak se afloop in Suid-Afrika baie min nuusdekking gekry, hoewel dit wêreldwyd volgens Google meer as 5 miljoen trefslae opgelewer het.

Vandag skryf prof. Amanda Gouws van die US oor die beoogde Wetsontwerp op die Voorkoming en die Bestryding van Haatspraak en Haatmisdade op Netwerk24. As uitvloeisel van die grondwetlike gronde in Suid-Afrika waarop iemand nie die skyf van onder meer haatspraak mag wees nie, is dit onafwendbaar dat iemand se seksuele oriëntasie ook hierby ingesluit sal word.

Met verwysing na die Theo Venter-saak wat nou so baie aandag geniet, ook in gister se nuuskommentaar op Maroela Media, beklemtoon Gouws die belangrikheid van spraakvryheid, saamgelees met die belangrikheid van akademiese vryheid. Gouws skroom ook nie om die EFF daarvan te beskuldig dat hulle gereeld rassisme pleeg (en wegkom daarmee nie), en praat hard oor die ongelykheid waarmee gevalle van wit teenoor swart, en swart teenoor wit, hanteer word.

In die breë lyk dit of hierdie kookpot nou in Suid-Afrika die lastige opdrifsels begin uitkook, en dat enige objektiewe persoon nou tot baie soortgelyke gevolgtrekkings sal begin kom. So eenvoudig is dit egter ook nie.

Onder die land se leierskap en bevolking is daar nog baie wat meen dat rassisme per definisie net die werk van wit mense kan wees (in weerwil van die harde feite tot die teendeel wat Gouws aanraak). Dit is basies gegrond in die opvatting dat swart mense erg onder apartheid, kolonialisme en slawerny gely het, en dat dit wat logies as rassistiese uitlatings ervaar word, eintlike net geregverdigde uitsprake is om die lyding te verwoord.

Jack Phillips, bakker en eienaar van Masterpiece Cakeshop in Lakewood, Colorado. Foto: Andrew Harrer/Bloomberg

Dan is daar die werklike, kontemporêre gevalle van pyn en lyding. Of dit nou kom in die vorm van restitusie (in die VSA in sommige kringe ’n voorvereiste vir selfs die mins-rassistiese mens soos ’n wit mens wat met ’n swart vrou getroud is), of breë ekonomiese bemagtiging, die lomp toepassing van rasgedrewe optredes sal noodwendig die ander kant van die rasseskeiding oplewer. En dit kan sneeubal.

Die opweeg van regte teenoor mekaar is kompleks, en dikwels ideologies. Jack Phillips se sake-onderneming het reuseskade opgedoen voordat hy onskuldig bevind is. Dikwels moet iemand se reg op waardigheid teenoor ’n ander se reg tot spraakvryheid opgeweeg word.

En terwyl Suid-Afrika nog met die basiese opweeg van regte sukkel, kom die groot lakmoestoets – die grondwetlike, soos onderskraag deur die internasionale reg, om eiendom te besit en by onteiening regverdig daarvoor vergoed te word. Die batebeslagleggingseenheid, wanneer ’n persoon aan kriminele aktiwiteite skuldig bevind is, kan op iemand wat uit die misdaad voordeel getrek het, se bates laat beslag lê.

Met uitsprake soos wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, word onbedoeld ’n vergelyking getref wat alle wit grondbesitters in wese kriminaliseer – so ver, so bitter ver van om dié haatspraak ook met mening kort te vat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Liberaal ·

Ek dog ons linkses is vir vryheid van spraak en vir vryheid om self te besluit watter projekte jy aanvat of nie, of moet ons nou mense dwing om werk te verrig, dit voel amper soos slawerny, en om mense te vervolg oor wat hulle se voel ook nie reg nie, of is ons linse beleid aan die omkeer? Eks deurmekaar.

Potlood ·

Dis so snaaks. Kan mense nie net oor hulle self kom nie m.a.w. almal is spesiaal en maak hulle eie besluite (eenvoudig gespreek). hulle is kwaai vir hom, maar hulle reaksie doen PRESIES dieselfde aan hom ook….

Denise ·

Ag nee dit is nou net T veel as hy nie vir julle n koek wil bak nie kry n ander bakkery dit is tog sy keuse en julle het ook n keuse soos ek gese het maar om so ver T gaan jy kan niemand dwing om iets T doen nie asseblief dit kan nie altyd net eenkant toe werk nie !!!!

Melt Olckers ·

As dat van my sou afhang, as ek die bakker was, sou ek die koek gebak het. Vir my gaan dit oor die kleur van die geld. Ek gee nie om wat ander mense in hulle eie lewe doen nie. Geld is geld. Einde van die saak.

Jerry ·

In hierdie geval gaan dit net soos in SA daaroor om op te staan vir jou basiese regte. Die probleem egter in SA is dat basiese regte en menseregte baie vinnig ingespan word en oordele gevel word teen mense wat deur apartheid bevoordeel is en nie andersom nie. Apartheid moes die psige van almal wat nie deur apartheid bevoordeel is nie n lelike knou toegedien het, want hoe verklaar jy die gedrag en optrede van diesulke gewone mense en selfs ministers wat oenskynlik baie vriendelik en verdraagsaam voorkom net totdat die geleentheid hom voordoen om n witmens vir rassisme of diskriminasie te blameer en te veroordeel nog voordat hierdie sake ondersoek is. Die vriendelikheid en verdraagsaamheid en rede verdwyn eenklaps soos mis voor die son en in die plek daarvan verskyn n gesig van haat en vergelding en hierdie optrede en lyftaal word as aanvaarbaar geag, alhoewel almal weet wat dit voorspel. Dit is duidellik dat daar net gesit word en gewag word vir vergelding “payback time”. Dit is dus duidellik dat mense wat nie deur apartheid bevoordeel is nie psigiaters moet gaan sien. Ongelukkig is dit nie moontlik nie omrede daar nie genoeg psigiaters meer in SA oor is nie. Die punt is dat dit n radikale drastiese oplossing verg van leiers in SA, want as dit so gaan aangaan, gaan dit net vererger na die wat deur apartheid bevoordeel is wat geen regte het nie.

Casper Labuschagne ·

Daar is regskenners in die VSA wat hulle bedenkinge het of die uitspraak in die gay troukoek saak werklik die reg van en vryheid van assosiasie bevorder het.

In die VSA was daar sake soos hierdie gay troukoek asook ‘n transeksuele persoon wat aangedring het op intieme skoonheidsbehandeling in ‘n salon vir vrouens. In Kanada is daar wetgewing wat mense verplig om spesifieke aanspreekvorme te gebruik vir persone wat hulself nie onder die biologiese binêre geslagte beskou nie.

Wat hier gebeur, en in SA beweeg ons al hoe nader aan die rand hiervan, is dat waar wetgewing tot nou toe vir jou verbied het om sekere dade te pleeg, word wetgewing nou gebruik om jou te verplig om sekere goed te doen of om woorde te gebruik. Sodoende word fundamentele vryhede van ons af weggeneem en ek sien bitter min rubriekskrywers wat op hierdie aspek fokus.

Netso ·

Hierdie storie vat die “Koek”! Wat is volgende? Wet jou dit het toe gladnie oor die” Koek” gegaan in die eerste plek nie!

christa ·

Liberaal ek stem saam met jou. Ek as Christen mag dalk nie oordeel nie maar het my eie Christelike waardes. Ek et ‘n keuse of ek n dien wil lewer aldan nie, so-ook aan wie ek n diens wil lewer. Ek sit nie in die kring van die spotters nie.

GM ·

Ag jinne. Ek verstaan nie die probleem nie. Plaas hul net ‘n ander bakker gekry het. Hy kon natuurlik die koek gebak het en hul ekstra gevra het net om aspris te wees oor hy nie met hul keuses saamstem nie, maar hy het besluit om op te staan vir dit waarin hy glo. As hul oor sulke ‘nitty-gritty’ sake so ‘n bohaai maak, dink nou net hoe gaan daai huwelik wees as die een die ander een se wense nie respekteer nie. Ek wonder of die bakker se besigheid meer of minder skade sou ly as hy ingestem het om die koek te bak? Ek glo daar sal ‘n klomp paartjies wees wat hom ook nie sal ondersteun as hy vir homoseksuele paartjies koeke bak nie – daar is mos maar altyd ‘n groepie wat iemand wil boikot. Mens kan nie wen nie.

Front ·

Die GLTB gemeenskap word deur die NWO as front gebruik om hulle agenda te bevorder. Soos hier in SA word ons as wapen gebruik om die NG Kerk by te dam met net24 as die propaganda spreekbuis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.