Nuuskommentaar: Lesse uit Kanadese kulturele volksmoord

Die Kanadese vlag.

Die Kanadese vlag.

’n Verslag van die Kanadese Waarheids-en-Versoeningskommissie wat vroeër vandeesmaand bekend gemaak is, kan aan Kanada die geleentheid bied om ’n model van versoening voort te bring – altans wat ’n deel van die media betref.

Kanadese is op 2 Junie geskok toe die verslag die lig gesien het, en aangetoon is hoe Kanada hom aan kulturele volksmoord op die eerste inwoners, die Métis (Indiane) en Inuïet (Eskimo’s) skuldig gemaak het.

Hierdie eerste nasies maak sowat 4,3 persent van die Kanadese bevolking uit.

Aan die wortel van die saak is die instelling van kosskole (“residential schools”) in 1876 waar kinders van Indiaanse en Inuïet-herkoms, geskei van hul ouers, in die Europese kultuur grootgemaak is. Kerke het onder meer hieraan meegedoen. In die praktyk het baie van die skole eerder die vorm van strafkolonies aangeneem waar die skole vir kos en ander benodigdhede so na moontlik selfvoorsienend moes wees.

Sowat ’n derde van die eerstenasie-kinders het hierdie lot te beurt geval tot die laaste van dié skole in 1996 eers gesluit is. Seksuele aanranding het gereeld voorgekom, en sowat 4 000 het gesterf. Waarnemers meen in sommige gevalle sal dit geslagte neem voordat die slagoffers in staat sal wees om normale gesinne te vorm.

Sowat 80 000 mense is nou oorlewendes van die betrokke skolestelsel.

Die kommissie het 96 aanbevelings gedoen. Minstens twee van die drie kommissielede, onder wie die voorsittende regter, was Indiane. Byna almal wat getuienis afgelê het, was slagoffers – van die beweerde oortreders het bykans nie een van hulle laat hoor nie.

Nog voordat die kommissie ingestel is, het die Kanadese premier, Stephen Harper, verskoning aangebied.

Interessant, hoeveel raakvlakke met Suid-Afrika gevind word wanneer ’n mens deur die inligting sloof (die verslag self is byna 400 bladsye dik). Die ANC-bewind sal meen hulle vind heelwat raakvlakke met hoe die situasie in Suid-Afrika voor 1994 verloop het, maar die openbaring sal waarskynlik wees hoeveel raakvlakke daar ná 1994 is. Die Kanadese verslag handel immers oor ’n periode toe moeite gedoen is om weg te doen met inheemse kulture – en bepaald minderheidskulture.

Hierdie kulture moes eenvoudig verdring word met die dominante kultuur van die meerderheid.

Die term kulturele volksmoord pas egter eerder netjies in die post-1994-bedeling met:

  • die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, wat dreig om die onafhanklike Afrikaanse universiteit te sluit.
  • Die Gautengse LUR vir onderwys wat enige strooihalm gebruik om Afrikaansmediumskole tot niet te maak.
  • Afrikaans, wat ingevolge die talewet effektief uit bykans alle staatsdepartemente en hul agentskappe, soos die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap, gaan verdwyn.
  • Straat- en plekname word verander asof dit uit die mode raak. Dikwels word Afrikaanse plekname juis vervang met name van buitelandse persone met wie die Afrikaner in ’n oorlog gewikkel was.
  • Standbeelde word geteiken, hoewel skynbaar eerder vanuit die EFF as regeringsgesindes.

Ook Unesco het die IS (voorheen ISIS) se vandalisme van antieke beelde as kulturele volksmoord beskryf.

Hoewel daar gereeld vanuit die ANC gesê is die Afrikaner moet “net deel van die meerderheid” word, is daar soveel diskriminerende rassewetgewing wat dit onmoontlik maak – nie net vir die Afrikaner nie, maar ook ander minderhede soos blyk uit byvoorbeeld die onverkwiklike DKD-Solidariteitsaak.

Mnr. Roelf Meyer, die regering se hoofonderhandelaar by Kodesa, het volgens mediaberigte gesê sake in Suid-Afrika kan reggeruk word as iemand soos mnr. Cyril Ramaphosa as president by Jacob Zuma sou oorneem. Een persoon kan inderdaad ’n verskil maak, soos juis uit die Kanadese voorbeeld blyk, waar premier Harper, ’n Christen, die Konserwatiewe Party van die basiese niet tot party met ’n volstrekte meerderheid gelei het. Die Liberale Party het jare versuim om die skreiende onreg teen die eerste nasies te erken.

In Suid-Afrika sal dit ’n besondere leier in die ANC verg om die sinkende skip te kan omkeer. Nie net om vooropgestelde idees wat nou binne die ANC gekoester word te verander nie, maar ook ’n breë stroom media, ook Afrikaanse media, wat hul inkleur uit ’n links-liberale inkpot put.

Kanada was ook nie die enigste land waar probeer is om deur ’n vorm van gedwonge assimilasie met die “inboorlingprobleem” af te reken nie. Ook Australië het ’n soortgelyke program gehad.

Die Christian Science Monitor, wat oor die uitslag van die Kanadese Waarheids-en-Versoeningskommissie skryf, tref eerstens ’n floue ooreenkoms tussen die Kanadese en Suid-Afrikaanse voorbeeld, en brei daarna op die verskille uit. In dieselfde asem word verwys na voorbeelde elders in die wêreld, soos Nieu-Seeland, waar die oplossings juis gesoek word deur die andersheid te beklemtoon en met regte en wetgewing te beskerm.

Instansies wat die Afrikanersaak op die hart het, sal stellig kan wonder of ’n goeie beginpunt nie dalk sal wees om te kyk of ’n afspraak vir ’n welwillendheidsbesoek aan premier Harper moontlik is nie. Harper erken byvoorbeeld openlik die eiesoortigheid van Quebec. Iewers, net iewers, kan daar dalk ’n raakvlak wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Indien Roelf Meyer toegelaat word om sy mening hier uit te spreek en enigiemand sou notusie daarvan neem kan julle maar verder ophou lees.Once bitten , twice shy.

Henrietta Klaasing ·

Baie dankie vir ‘n uiters insiggewende stuk Herman. Ja, besliste raakvlakke met die geskiedenis NA 1994. Navorsing dui dat daar beslis iets soos “kultuur skok” bestaan. Hoe groter die verskil tussen kulture, hoe groter die skok. ‘n Mens hoop dat daar nie eers dekades verby gaan voordat iets daaraan gedoen word of beter nog, dat dit voorkom word nie.

Bruno Stef ·

Linkse Liberalisme/kommunisme/ sosialisme is n dodelike kombinasie wat mekaar in so n mate ondersteun dat daar later nie meer onderskeid getref kan word tussen hulle beleid en verskille nie.Slapsak en ruggraatlose houdings tesame met swak persoonlike opinies en ontkennings is gewoonlik die persone se laaste verweer.

Cathy Kotze ·

Die Kanadese Waarheid en Versoeningskommissie is net so kontroversieel as wat Suid-Afrika s’n was. Ten eerste was die voorsitter (‘n First Nations regter), net so bevooroordeeld soos Desmond Tutu. Voorleggings is ook gemanupileer, nes in Suid-Afrika en belangrike voorleggings is nooit openbaar gemaak nie.

‘n Mens moet goed vertroud met die agtergrond wees voordat jy ‘n mening kan gee. Huidiglik is die meeste kinders in pleegsorg van First Nation herkoms. Dwelms is ‘n groot probleem. So ook kinderverwaarlosing, huismoles en misdaad.

Die omstandighede in party residensiële skole was gewis swak, maar om almal oor dieselfde kam te skeer is ‘n fout. Die stemme wat nie gehoor is nie, is van leerlinge wat dankbaar was vir die geleenthede wat hulle gehad het.

Dit was ‘n tyd toe inentings nie algemeen was nie en kindersiektes baie lewens geeïs het. Die aantal kinders wat in die skoolkoshuise gesterf het, was nie meer as die algemene kindersterfte syfers van die tyd nie.

Hierdie was kerkskole, met outydse dissipline wat die oueres onder ons almal ervaar het. Die Engelse adel ervaar dit steeds in skole soos Eton.

Stephen Harper het verskoning gevra, en voormalige leerlinge het miljoene dollars skadevergoeding ontvang. Ongelukkig word daar nou geeïs dat jaarliks verskoning gevra word. First Nations weier om in die gemeenskap geassimileer te word.

Die situasie is baie meer ingewikkeld as wat algemeen bekend is.

Cathy Kotze ·

Kanada se Waarheids en Versoeningskommissie is net so kontroversieel as wat Suid-Afrika s’n was. Dit was ook net so eensydig. Soos in Suid-Afrika, was die Voorsitter allesbehalwe onpartydig. Belangrike voorleggings is nie toegelaat nie. Klink dit bekend?

Daar is heelwat oudleerlinge wat baie dankbaar was om te ontsnap uit moeilike omstandighede en om ‘n geleerdheid te ontvang. Hulle stemme is nooit gehoor nie.

Die aanvanklike bedoeling van residensiële skole was om aan kinders beter skoolopleiding te verskaf. Swak skool bywoning was (en is) die norm op First Nation reserwes.

Die meeste kindersterftes in hierdie skole kan toegeskryf word aan kindersiektes soos masels, kinkhoes, skarlakenkoors, ens. waarvoor daar destyds nie inentings beskikbaar was nie. Dis was nie hoër as in die res van die land onder ander gemeenskappe nie.

Daardie was kerk skole en dissipline was maar soos wat die meeste van ons eie ouer mense ervaar het, veral in skool koshuise. Die Engelse adel word steeds daaraan onderwerp in skole soos Eton.

Stephen Harper HET om verskoning gevra en oudleerlinge het reeds miljoene dollars in kompensasie ontvang.

Nico ·

Ek aanvaar Cathy Kotze se kommentaar as korrek. Ek glo ook die seksuele teistering en derglike was in die minderheid. (Dit kom by Afrikaner skole en veral koshuise ook voor, maar ons gaan nie daarom alle koshuise sluit nie.) Die Kanadese regering het (reg of verkeerd) heel waarskynlik eerlik gemeen dat dit tot voordeel van die kinders is om ‘n Westerse opvoeding te kry. (Ja ek weet dit is paternalisties, maar het alle Westerse volke nie maar so geglo toe hulle kolonialisasie toegepas het nie. En is die Eskimo kinders enigsins beter daaraantoe na die skole gesluit is.)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.