Nuuskommentaar: Lesse vir Suid-Afrika uit Belgiese regeringsvorming

Dit het ‘n rekordtydperk van 541 dae geneem om ‘n nuwe Belgiese regering te vorm – die vorige rekord was‘n “skamele” 194 dae. Pas het die nuwe kabinet hul ampseed afgelê, en selfs hieruit het dit geblyk dat winde van verandering gewaai het. Die nuwe premier, Elio di Rupo, is ‘n Waal, of dan, ‘n Franstalige Belg. Die Wale is berig vir eentaligheid al vorm hulle ‘n minderheid teenoor die Vlaamssprekende, of dan, Nederlandssprekende Belge. Maar Di Rupo het na berig word sy eed in drie tale afgelê – Frans, Nederlands en Duits. Die Duitssrekende Belge maak ‘n taamlike klein maar belangrike minderheid uit met ook ‘n mate van federale selfbestuur. Ook die ander ministers en staatsekretarisse het hul eed tweetalig afgelê.

Al het Di Rupo se Franstalige sosialisteparty na die verkiesing byna twee jaar gelede as die enkele grootste party op sentrale regeringsvlak uit die stryd getree, het die koning op die oog af misgetas om hom eers as formateur, en daarna as premier aan te wys. In die oorhoofse Belgiese politiek, trouens, die Europese konteks, was die keuse van ‘n sosialis teen die heersende stroom in. Spanje het byvoorbeeld pas sy sosialistiese regering met ‘n verkiesing uit die kussings gelig, en in Griekeland het die ekonomiese krisis ook die sosialiste laat plek maak vir ‘n ekonomiese tegnokrasie. Uitsonderings is daar wel, maar anders as wat miskien verwag is, het die wêreld-ekonomiese krisis en vulgêre inhaligheid van die superrykes met gevolglike uitkringende Wall Street-besetting, nie die gety na sosialisme laat draai nie.

Di Rupo is met ‘n bykans onmoontlike taak gelaat. Die koning se keuse van Di Rupo was waarskynlik hoofsaaklik aangevuur deur ‘n poging om België as staat te beredder, want dieselfde verkiesing het ‘n sterk opkoms van Vlaamse nasionalisme, met die uiteindelike doel, ‘n onafhanklike Vlaandere as republiek, beleef. In die proses het die Christen-Demokrate en Vlaandere, wat ‘n tyd lank die Belgiese en veral Vlaamse politieke toneel oorheers het, agteruitgeboer. In die plek daarvan het Bart de Wever, leier van die Nuwe Vlaamse Alliansie (N-VA) sterk na vore getree. Dié party se doel is ‘n Vlaamse republiek.

Terselfdertyd het die Vlaamse Premier, Kris Peeters, die ontluikende selfregerende federale status van Vlaandere uitgebrei van die meer tradisionele bilaterale kontakte met soortgelyke leiers soos dié van Biskaje en Katalonië, na volwaardige staatshoofde. Om verskeie redes het die Wale onthuts gereageer, onder meer omdat die meer vlytige en welvarende Vlaminge hul deel van die land jaarlikse met miljarde Euro’s subsidieer.

Boonop het die langdurige administrasie van die land deur ‘n bykans tandelose instaanregering onder die leiding van die Vlaamse Christen-demokraat, Yves Leterne, België onder ekonomiese druk begin plaas, en Leterne het ook aangedui dat hy wil aanbeweeg na ‘n nuwe loopbaan.

‘n Paar keer het Di Rupo byna die handdoek ingewerp. Hy het sy taak met ongelooflike deursettingsvermoë uitgevoer en eindelose vergaderings wat byna 24 uur geduur het is gehou. In ‘n stadium het hy selfs die koning wat daarvan beskuldig word dat hy gans te veel vakansie hou, van ‘n vakansie laat terugkom om sy verantwoordelike te kan uitvoer. Maar breekspul op breekspul sou nietemin aan die orde van die dag wees en hy het onlangs ook weer sy bedanking by die koning ingedien. Die koning het egter geweier om die bedanking te aanvaar, en die Di Rupo met sy kenmerkende rooi strikdassie het sy epiese poging tot regeringsvorming voortgesit.

Die hoop het sterk opgevlam toe die taai toffies van die Belgiese hoofstadgebied enkele maande gelede in ‘n uiters komplekse ooreenkoms opgelos is. Voorlopig altans. Daar is onder verskeie partye steeds groot weerstand, met beide Vlaamse en Waalse partye wat meen hul onderskeie bevolkingsgroepe het die kortste lootjie getrek. En byna het hierdie ooreenkoms, bekend as die Vlinderooreenkoms, ‘n mot geword wat in die kersvlam beland het.

Nou is die nuwe regering beëdig. Om ‘n voorbeeld van besparing te stel, is die kabinet verklein. Die nuwe kabinet sal uit 13 ministers en 6 staatsekretarisse bestaan. Daar is een Franstalige minister meer as die Vlaminge, en twee meer Vlaamse staatsekretarisse as Wale. In totaal, Di Rupo ingesluit, is 10 Vlaminge en 9 Franstalig. Ses partye is by die regeerakkoord ingesluit.

Onder die talle probleme wat vir die nuwe regering voorlê is om die regeerakkoord in ink neer te pen. Hier kan na jare se onderhandelings nog heelwat goggas uitkruip. In Europa herinner die opstel van so ‘n dokument die hou van ‘n klein Kodesa, en die produk is ‘n lywige dokument. Dit word gewoonlik voor die regeringsvorming gedoen – maar nou word die proses omgekeer en die uitslag is onvoorspelbaar. Dit is ook opmerklik dat Nederlandse en Vlaamse koerante weerskante van die grens op die oog af die regeringsvorming as minder nuuswaardig beskou as die gespook om tot by hierdie punt te kom, en ‘n buitestander kan aflei dat daar nie ‘n besonder hoë premie geplaas word daarop dat dit suksesvol sal wees nie.

Verder lui opskrifte in Vlaamse koerante reeds dat die Vlaminge in dié bedeling uitverkoop is. Dit is net ‘n halwe waarheid, aangesien die ooreenkoms ook behels dat die Vlaamse en Waalse streekregerings groter regeerbevoegdhede kry.
Die meeste kenners meen egter dat België steeds onherroeplik onderweg is om as staat in die stof te byt. Verskeie faktore speel hierby ‘n rol. Ten eerste is die hoofrede hoekom België en Nederland na die 80-jarige oorlog as twee state verdeel is, naamlik die oorwegende Protestantisme in Nederland en oorwegende Rooms-Katolieke België in die konteks van post-Christelikheid, of minstens, ontkerking, nie meer so akuut nie.

Verder is verskeie provinsies in die middel deurgesny, en is daar in veral sommiges ‘n mate van kohesie oor die grense heen aan die ontwikkel. Dit geld onder meer Brabant, wat enkele jare gelede sy eerste Brabantse Bybelvertaling ontvang het. Mense weerskante van die Nederlands-Vlaamse grens het veel meer in gemeen as wat hulle met die Wale in gemeen het. Tog is Nederlands-Vlaamse eenwording nie nou hoog op die agenda nie – ook nie by De Wever met sy Nederlandse vrou nie. ‘n Vlaamse republiek is die hoofoogmerk.

‘n Belangrike faktor is egter die ontwikkeling van die Europese Unie wat al meer die karaktertrekke van ‘n staat begin aanneem. Met die ontwikkeling van selfregering in Vlaandere en die versterking van die Europese Unie maak dit al minder sin om nog ‘n regeringsvlak tussenin te hê. Min of meer dieselfde gebeur in Skotland waar ‘n pro-onafhanklike party die verkiesing vir die Skotse parlement gewen het, en dit moontlik is dat die Skotte binne vyf jaar onafhanklik kan wees.

Die Wale is waarskynlik die enigste groep wat werklik skop teen onafhanklikheid. Sonder die rojale Vlaamse meevallers sal hul luilekker sosialisme in ‘n ekonomiese nagmerrie ontaard, en hul meerderwaardigheids-houding teenoor die Vlaminge sinneloos wees. Om bloot by Frankryk ingesluit te word het ook komplikasies – trouens, enkele jare gelede het ‘n peiling vir die eerste keer aangedui dat die meerderheid Franse hoegenaamd bereid sal wees om hulle te ontvang, en die meerderheid was ook maar net-net. Maar dit sal waarskynlik die einde van die Belgiese koningshuis wees, aangesien die sterk gesentraliseerde Frankryk ‘n republiek is, en min ruimte vir regionale eiesoortigheid laat.

Di Rupo het egter gou geleer dat as hy België die toekoms wil inneem, moet die neersien op die Vlaminge end kry. En volgens alle aanduidings het hy self sy bes gedoen. Hy kan dalk self ‘n tyd lank slaag, maar die kanse is ook dat dit so ‘n onbegonne taak is as om ‘n trop werfhoenders in ‘n slaghok in te probeer jaag.

Die ooreenkomste met Suid-Afrika is legio, maar nie alles politiek korrek nie. Tog, die aandrang op welvaartsbelasting en die reaksie daarop herinner aan die Vlaamse verset teen die subsidiëring van die Wale, terwyl die Wale min doen om self die hand uit die mou te steek, en kwessies soos gesinsgroottes weerstand ontlok. ‘n Onlangse Vlaamse besluit van die Vlaminge om Engels as bykomende vak in te voer naas Frans, is deur die Wale as ‘n daad van verraad ervaar, terwyl die Vlaminge voel dat dit met die Wale, wat nie Vlaams as verpligte vak aanbied nie, niks uit te waai het nie. Die Wale se gepoogde taalimperialisme herinner aan die nieu-Milnerisme wat in Suid-Afrika vaardig is, en onder meer by die Universiteit van Stellenbosch die gemoedere opjaag.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Pol Vigoureux ·

Herman Toerin is zeer goed gedocumenteerd. Hij heeft ook een zeer goede visie op de Belgische toestanden. Waarom duurt het zo lang eer Vlaanderen, die de meerderheid van de bevolking uitmaakt, geen redelijke en rechtvaardige oplossing biedt? Het antwoord hierop is dat Vlaamse onderhandelaars met gouden kettingen aan België worden vastgeketend. In het verleden hebben Vlaamse gezagdragers betoogd voor een federalisme met twee en werden minister van het derde gewest Brussel. Walen zullen nooit ondergeschikt willen wordenaan een Vlaams beleid. De Walen kregen grendelwetten die elke Vlaamse beslissing kunnen afwijzen. Voor de verkiezingen zweert een Vlaming niet in een regering te treden vooraleer een kieskring rechtvaardig wordt rechtgezet. Hij kreeg een record aantal stemmen en werd niettemin minister. Zoiets is in Vlaanderen mogelijk maar niet in Walonië. Dit om te wijzen op de slaafsheid van het Vlaamse volk. Vergeten we ook niet dat België een corrupt land is waar veel Vlamingen ook hun medewerking aan verlenen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.