Nuuskommentaar: Lord (dr) Blade Milner

Dr. Blade Nzimande. Foto: GCIS

Dr. Blade Nzimande. Foto: GCIS

Minister speel erg onkant

Dat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en SAKP-leier, elke millimeter van die pad verkeerd is oor sy stellings oor Akademia, is ’n feitelike, perspektiewelike, grondwetlike en volkeregtelike gegewe. Sy dreigemente om dit te sluit, is dus ook polariserend en provokatief. Daarom ook dat Rapport die minister se standpunte in ’n hoofartikel verwerp.

Ook Solidariteit en ’n rits grondwetkenners wys daarop dat Akademia ingevolge die grondwet opgerig word.

Die minister se onkantspelery, ook waar Afrikaans ter sprake is, is niks nuuts nie. Maar… dit toon ook aan hoe eng die regering die regsraamwerk beskou waarbinne die Afrikaner sy belange kan bevorder. Aan die wortel hiervan staan die rassekwessie, en dit is duidelik dat die minister, en enersdenkendes binne die regering, die raskwessie sal aanwend om die saak vir Afrikaans te bemoeilik. Al is die meerderheid Afrikaanssprekendes in die land nie wit nie.

Vyfdekolonners

Met die nuus oor hoe Akademia as gemeenskapsuniversiteit gaan ontwikkel, het daar enkelinge in die sosiale kommentaar die hoop uitgespreek dat dit slegs vir wittes sal wees. Hierdeur is die minister se koker van aanvaarding dat Solidariteit eintlik apartheid by die agterdeur wil insmokkel vol vurige pyle gestop. Dit val boonop saam met ’n dikwels smerige openbare diskoers waarin verskeie randfigure hul bes gedoen het om hulself as Afrikaner as tipies rassisties uit te beeld, en hulself dan Afrikaners te noem, of verskeie variasies soos Boere Afrikaners (sic).

Kleinfontein-les

Toe Kleinfontein ’n paar maande gelede in die spervuur van die ANC en die DA-jeug beland het, het Kleinfontein se amptelike woordvoerders die gebied se neus skoon gehou deur te beklemtoon dat die konsep niks met ras te make het nie, en alles met taal en kultuur. Die leier van die DA-jeug, wat nog na Kleinfontein as “ongrondwetlik” verwys het, is deur die seniors in haar eie party reggehelp. Die konsep mag teen die beleid van die ANC en ander partye wees, maar ongrondwetlik en in stryd met die internasionale reg is dit nie – solank ras nie as norm ingespan word nie.

Wat is ʼn volk?

Die HAT sluit ras as norm vir die definiëring van volk spesifiek uit. Ook in Nederlands word volk gewoonlik soos volg gedefinieer: “Groep mensen die een cultuur deelt en dezelfde taal spreekt.”

Dat daar nou talle, veral onlangs-geskepte nie-amptelike definisies, op die internet rondsweef wat ras wel sentraal in die definisie van volk plaas, bly negeerbaar omdat die internasionale reg en die grondwet nie daarvoor voorsiening maak nie. In artikel 235 van die grondwet, wat oor selfbeskikking handel, word ras ook glad nie as norm ingesluit nie. In die internasionale reg waar universiteite vir die moedertaalonderrig van minderhede erken word, word ras as norm ook nie ingesluit nie.

Is die Afrikaner se kultuuridentiteit dan so pap dat hy dit nodig het om ras in te span om dit van ander kulture te onderskei?

Rasbeheptheid

Tog, as ’n mens let op die terugvoer van mense – selfs uit konserwatiewe geledere – wat die heethoofde aangespreek het wat die Afrikaner se saak onmeetbare skade aangerig het met hul rasbenepenheid, dan is dit duidelik dat baie mense ras, soos die regering, steeds as oppernorm vir onderskeiding gebruik. Daar is selfs “nuutskeppings” soos “blanke volk”. Die slagoffers kla dat hulle in reaksie in die goorste taal denkbaar sleggesê is.

As dieselfde energie maar aangewend kon wees om die wêreld vir die vroueslaners, kindermishandelaars, dronkbestuurders, padvarke en ander wurms in die Afrikanergeledere warm te maak, het daar nou net ʼn gesuiwerde modelvolk oorgebly.

Die etiket-volk

Soms klink dit nie soos die lede van die Afrikanervolk wat mekaar beet het nie, maar die etiketvolk, waar etikette uitgedeel word soos verraaier, verkramp, liberaal, links, verregs, ateïs (wanneer sy godsdiensopvattings nie volkome met die eie strook nie), Belharboetie en so kan aangegaan en aangegaan word. Presies dieselfde analis sal as links, nie juis ʼn nasionalis nie (wat in daardie kring skynbaar beteken die analis is nie regs van die AWB nie), regs en verkramp genoem word afhangende vanuit watter kamp die oordeel gevel word. ’n Baie bekende analis wat nou gewoonlik weens behoudende menings gelooi word, het nie lank terug nie by herhaling deurgeloop as “neo-liberalis” en daarna as “neo-konserwatief”.

Met sulke volksgenote het die Afrikaner nie nog vyande nodig nie.

Verrig iets konkreets

Die mate waarin Solidariteit en AfriForum van links en van regs af deurloop, moet tog ’n aanduiding wees van gematigdheid. Afgesien daarvan dat hierdie organisasies groei, kom daar uit hierdie geledere ’n funksionerende tegniese kollege, Sol-Tech, en ’n eie universiteit, Akademia. Met die krisis in die platinumgordel het Helpende Hand enorme werk gedoen, en doen steeds landswyd groot werk. Presies wat kan die skreebalies van regs en van links konkreet wys?

Rasbehepte regering

Elke treetjie minderheidsregte wat die Afrikaner beding (of dan in terme van die grondwet opneem), word deur die rasbehepte, en dikwels doodgewoon rassistiese regering deur ’n rasbril betrag. Die geringste poging om minderheidsregte op te neem of erkenning te kry, word verdag gemaak, soos nou weer by die VN se Komitee vir Minderhede waar die regering suur was omdat AfriForum, die TLU SA en die VF Plus spreekbeurte gekry het. Dit terwyl die regering steeds kwotabehep is, transformasie byna uitsluitlik volgens rasnorme hanteer word, selfs die Maori-rugbyspan as “rasgebaseer” nie in Suid-Afrika laat speel nie (die Maori’s het ’n eie taal en kultuur), en dan self ’n rits organisasies soos die Black Journalist Association, die Black Lawyers Association, die African Chamber of Commerce en ander omarm. Dit skep uiteraard frustrasie, maar die manier waarop teenoor hierdie frustrasie reageer word, bepaal hoeveel skade ons self die saak kan aandoen.

Hoe geïntegreerd die ANC minderheidsregte vir die Afrikaner met rassisme beskou, blyk uit die volgende. In 2012 het Beeld ’n onderhoud met mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, gevoer, waaruit die opklits van Afrikaner en (wit) ras duidelik blyk:

“Hy (Solidariteit) beskerm die regte van Afrikaners en dit is ’n gevaarlike pad om te stap, want op lang termyn skep hy ’n groep Afrikaners wat hulle nie as deel van die nasie sien nie en nie wíl deel wees nie.”
Volgens Mantashe beskou die Solidariteit Beweging Afrikaners as ’n “superieure nasie” en werk hy die regering se doelwitte teen om ’n gelyke samelewing te bou.
Maar behoort minderheidsregte nie beskerm te word nie?
“Nee,” sê Mantashe beslis.
“Nie ten koste van die meerderheid nie. Dit is gevaarlik om mense op rassegrondslag te mobiliseer en dit is wat hy doen.
“Hy doen goeie werk, dit kan ’n mens nie ontken nie, maar hy doen dit net vir Afrikaners. Hy veg om lewe en dood om Afrikaanse instellings te behou, maar dit is jammer dat hy net op ’n bepaalde ras fokus.”
Volgens Mantashe isoleer die beweging se ideologiese uitkyk hom van die res van die land.
“Jy kan nie ’n vereniging vir wit bevoorregting regverdig nie. Hy is ’n goeie organisasie, maar vir watter saak?”

Dit is baie duidelik dat dr. Blade Nzimande nou vanuit dieselfde rasbril na Akademia kyk.

Links-liberale gifpenne

Maar hy kyk nie alleen nie. Solidariteit het onlangs in ’n rits artikels deur veral Afrikaanssprekende dosente van Ikeys, maar ook ʼn paar ander bekende analiste, deurgeloop wat selfs persepsies uit die dae van die Mynwerkersunie gaan haal het om slae uit te deel. AfriForum en Solidariteit is selfs verkwalik dat hulle die grondwet sou “misbruik” om die pilare van die “liberale grondwet” om te trek. Dis moeilik om ’n mens meer absurde bog as dit in te dink.

Ja, dié mense kry baie van hul skietgoed van die heethoofde wat so wyd “namens” die Afrikaner hul persoonlike menings gee. Menings wat ook dikwels in randakker kletskamers warm gebroei word, en dit is eintlik hartseer  om te sien hoe maklik beïnvloedbaar mense is. ’n (Onwaar) stelling word gemaak en dadelik spring ’n paar in en skryf dat hulle daardie selfde dag nog hul aftrekorders vir Solidariteit of AfriForum gaan kanselleer. Blindelings skiet hulle dan die groter Afrikanersaak in die voet.

Die pad vorentoe

Hoe lyk die pad vorentoe teen die agtergrond van die minister se uitlatings? ’n Groep verkwalik Rapport omdat hulle met die onderhoud “gaan krap het waar dit nie jeuk nie”. Uit die onderhoud blyk dit egter dat die minister reeds sterk opinies gevorm het, en dat dit net ’n kwessie van tyd sou wees voor dit oorkook. Om die saak nou met pres. Jacob Zuma op te neem is baie riskant, want as Zuma se uitlatings oor die Afrikaner oor tyd bymekaar gesit word, skep dit aan die een kant ’n baie positiewe beeld. Dat die Afrikaner sy eie Nkandla nodig het, kan byvoorbeeld as ’n goedkeurende knik vir Akademia beskou word. (Die belastingbetalersgeld om, soos met Nkandla, te help finansier sal waarskynlik agterweë bly). Die feit is dat teen die tyd wat aandpraatjies gemaak word, oggendpraatjies al vergete is.

Om met adjunk-president Cyril Ramaphosa te praat solank hy nie die president self geword het nie, is waarskynlik bloot ʼn manier om Ramaphosa se posisie binne die ANC baie warm te maak. Die wyse waarop Nzimande na die afgekeurde Wessels-verslag oor die NWU se Potchefstroomse kampus gegryp het om sy voorafopgestelde idees te voed, laat ook weinig ruimte vir vertroue.

Die kort antwoord is dat Solidariteit nou elke Afrikaanssprekende se steun nodig het, sodat met gesag met die minister gepraat kan word wanneer probeer word om die ongelukkighede in der minne te skik. As die minister dan ideologies of te vooropgesteld bevooroordeeld is, is dit nodig om ’n hofbevel te verkry – wat eintlik onnodig behoort te wees omdat ’n paar mense reeds voorheen regstappe probeer het om Akademia se eentaligheid as ongrondwetlik te laat verklaar wat hulle dus “uitgesluit” het.

Die soort “hulp” wat Akademia nou nie nodig het nie, is ʼn rits rassistiese uitsprake.

Gaan die Afrikaners weer eendag aanhef?:

En hoor jy die magtige dreuning?Oor die veld kom dit wyd gesweef:die lied van ‘n volk se ontwakingwat harte laat sidder en beef.Van Kaapland tot bo in die Noorderys dawerend luid die akkoorde: Of is die volgende woorde nou van toepassing? En sien jy die magtige skeuring?In die kuber braak dit net galDie stank van ʼn volk se ontslaping ʼn volk met sy rug teen die walVan Wes-Kaap tot bo in LimpopoVerdrink dof die eens mooi akkoorde

Dis keuses wat ons self moet maak, en baie tyd om dit te doen is daar nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Hanno Visagie ·

Daar is baie verskillende maniere waarop die Bybel verklaar of vertolk word (in teologiese taal staan dit as eksegese bekend) om by mense se eie, vooropgestelde idees aan te pas. Sommige van hierdie verklarings is subjektief, met ‘n sterk politieke ondertoon, en is daarop ingestel om die Bybel en kerk polities aanvaarbaar te maak. In hierdie gevalle wissel die manier van Skrifverklaring saam met die politieke klimaat in ‘n land of volk.
In Suid-Afrika was daar in die apartheidsjare bv. verskillende kerke wat die konsep van afsonderlike ontwikkeling teologies geregverdig en ook die Bybel so verklaar het. Hulle het Bybelse gronde vir die idee van verskillende kerke vir verskillende volke, rasse en taalgroepe gevind. Toe die politieke klimaat egter in die tagtiger- en vroeë negentigerjare radikaal verander het, het baie van hierdie kerke saam met dit verander. Toe het hulle skielik geen regverdiging meer in die Bybel vir ‘n volksingesteldheid op kerklike gebied gekry nie en afsonderlikheid, of apartheid, tot ‘n sonde verklaar.
In reaksie hierop het daar kerke en godsdienstige groepe ontstaan wat hulleself van die polities-georiënteerde teologiese liberalisme gedistansieer en hulleself by duidelike identiteitsbewegings geskaar het. Sommige het hulle samehorigheid binne volksverband gevind en dit ook kerklik uitgeleef, byvoorbeeld as Boere-Afrikaners. Ander het egter veel verder gegaan en by ‘n sogenaamde “Bybelse identiteitsbeweging” aangesluit deur hulleself “Israeliete” te noem. Hieruit is die Israelvisie gebore, wat ‘n gewysigde voortsetting van die Brits-Israelse denkrigting is.
Dit is van die allergrootste belang dat elke persoon wat die Christelike geloof bely, sal vasstel presies hoe die Bybel vertolk moet word, en wat sy of haar identiteit en roeping as Christen in die samelewing is. Om duidelikheid hieroor te kry, moet ons net eers vasstel wat die einddoel met polities-georiënteerde vertolkings van die Bybel is.
In godsdienstige liberalisme word die Bybelse feit heeltemal ontken dat die Here grense tussen volke gestel het. ‘n Teks soos die volgende word óf geïgnoreer óf heeltemal verdraai: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Hand. 17:26). Hierdie “grense” het tog baie belangrike implikasies – nie net volkekundig en staatkundig nie, maar ook taalkundig en godsdienstig. Die evangelie moet aan elke groep in sy eie taal- en kultuurverband verkondig word, omdat dit benewens die redding van individue ook daarop ingestel is om gesins- en volksinstellings te verchristelik, te onderskraag en te versterk.
Die teologiese liberalis ontken grense van hierdie aard omdat hy besig is om aan ‘n internasionale, geïntegreerde, nie-rassige, nie-seksistiese samelewing te bou, waarin daar uiteindelik ook beweer sal word dat alle godsdienste dieselfde God aanbid. Hy beroep homself graag op tekste soos die volgende: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus” (Gal. 3:28). Hierdie teks word dan verdraai deur dit sosio-polities te verklaar en te beweer dat volksgrense verval, sosiale stande uitgewis en dat geslagsverskille tussen mans en vrouens nie in ag geneem moet word nie. Alles kan dus saamvloei en een word, wat beteken dat homoseksuele verhoudings ook in orde is.
Hierdie teks het duidelik net op geestelike gelykwaardigheid betrekking. Wanneer dit by redding kom, gee die Here nie aan ‘n Jood voorkeur bo ‘n Griek, aan ‘n ryke bo ‘n arme, of aan ‘n man bo ‘n vrou nie. In samelewingsverband geld al hierdie verskille egter nog steeds: Paulus identifiseer homself baie duidelik as ‘n Israeliet of Jood (Rom. 11:1; Hand. 22:3); diensknegte word tot gehoorsaamheid aan hul here aangemoedig (Ef. 6:5); en die man se posisie as die hoof van die vrou word ondubbelsinnig bevestig (Ef. 5:22-23).
Die ernstige Christen kan homself hoegenaamd nie met die liberale teoloë se wyse van Skrifverklaring vereenselwig nie – nie net omdat dit op politieke of humanistiese aanvaarbaarheid ingestel is nie, maar ook omdat dit op ‘n skewe en krom verklaring van die Skrif gebaseer is.
Aan die ander kant van die spektrum is daar egter ook ‘n regse, polities-georiënteerde vorm van eksegese wat as die grondslag vir ‘n valse identiteitsbeweging gebruik word. Hierdie mense volstaan nie by hulle Bybelse volksbewustheid nie, maar eis ook die identiteit van die volk Israel vir hulleself op. Om dit te kan doen, moet hulle die Jode tot ‘n bastergeslag verklaar ten einde hulle identiteit as “Israel” te kan oorneem. In hulle vervangingsteologie gaan hulle dan nog verder en verklaar dat net die blanke volke van die wêreld die stamme van Israel is met wie alleen die Here ‘n verbond gesluit het. Die gekleurde volke word as onredbare heidene beskou. Hierdie beweging staan as Blanke Israelisme, Wit Teologie en ook die Brits-Israelse Beweging bekend.
(Maniere van Skrifverklaring ; Bybelse Volksgrense ; Teologiese Liberalisme – prof Johan Malan – Mei 2011 – http://www.bibleguidance.co.za)

Herman Toerien ·

Hallo Hanno. Ek dink ‘n mens moet ook ruimte laat vir baie, baie mense wat geglo het die beleid van afsonderlike ontwikkeling is menswaardig en die beste vir almal, en kon dit ook so Christelik fundeer. Die probleem was dat die implementering nie altyd volgens die hoër ideale verloop het nie, en uiteindelik is die ongewenste verwikkelinge as die einigste uitkoms raakgesien. Dit is natuurlik vererger deur ‘n “skool” van denke wat dit bv duidelik gestel het as die Christelike beleid van apartheid versus die humanistiese beleid van gelykstelling – asof afsonderlike ontwikkeling nie ook gelykstelling in die oog gehad het nie.
Terwyl die wêreld nou lawaai oor apartheid (as verklaarde misdaad teen die mensdom) is daar steeds baie wat meen hulle het nie die geringste kwade bedoelings daarmee gehad nie, en het self ook niks gedoen waarvoor hulle verskoning hoef te vra nie, en allermins weer en weer verskoning moet vra en deurlopend ook sommer die sak om te dop om te wys hoe jammer jy is nie.
En ja, ongelukkig is daar mense wat enigiets sal buig, die Bybel ook, om regverdiging vir hul eie vooroordele te kry. Daar is net eenvoudig mense wat meer vatbaar is vir allerlei sameswerings- en ontkenninsgteorieë, soos die ruimtewens van “Planeet X” wat elke paar duisend jaar die aarde besoek en dan ‘n bastergeslag hier laat. Onlangs was daar groot stories dat die planeet “op ons is” en hoe die wetenskaplikes saamsweer om dit geheim te hou. Oa sou die naderende planeet die toename in aardbewings verklaar het (terwyl die aarde in werklikheid vanjaar minder ernstige aardbewings beleef).
In die reël dien dit oook geen doel om te argumenteer nie.

Hanno Visagie ·

From: Johan Malan Sent: Monday, December 01, 2014 9:02 PM To: Hanno Subject: “Volk” Hallo Hanno. Ek kan nie veel byvoeg by die kommentaar wat jy reeds deurgestuur het nie. Daar is enger en breër definisies van ‘n volk as kultuurgroep, maar ek dink mens sal moeilik wegkom van die feit dat ‘n volk in sy kern en oorsprong ook deel van ‘n bepaalde rassegroep is. Daarom praat ons tereg van blanke volke, swart volke, Asiatiese volke, ens. Deur assimilasie, verbastering en ondertrouing het baie volke meer heterogeen begin raak wat hulle raskundige samestelling betref, vandaar die nuwe, nie-rassige definisies. Groete, Johan.

Henry ·

Na alles, dink ek dat jou laaste sin, die mees sinvolle ene is, Herman.

“…In die reël dien dit oook geen doel om te argumenteer nie…”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.