Nuuskommentaar: Munisipale oudits: “Só kan dit nie aangaan nie.”

Die Ouditeur-Generaal maak sy verslag bekend tydens ‘n perskonferensie in Pretoria. Foto: Nasionale Persklub

Jaarliks, teen die middel van Augustus, is dit ‘n slagting wanneer die Ouditeur-Generaal sy verslag oor munisipaliteite bekend maak. Vanjaar was die laaste keer dat die verslag deur die huidige bekleër, Terence Nombembe, gelewer is aangesien sy termyn binnekort verstryk. Dié feit het waarnemers laat wonder of hy, terwyl hy niks meer kan verloor nie, ‘n slag behoorlik gaan keel skoonmaak.

Hy het baie na-aan daaraan gekom: “Daadwerklike optrede is nodig om politieke leiers en munisipale amptenare wat hul mandaat ignoreer en wetgewing verontagsaam, vas te vat, want só kan dit nie aangaan nie… Ons het gewaarsku dat leiers en amptenare wat nie verantwoordbaar gehou word nie, die indruk wek dat sulke gedrag aanvaarbaar is en toegelaat word. Só ’n omgewing bring swak prestasievlakke en minagting vir wette mee,” word hy in Volksblad aangehaal.

Die kort en die lank is dat ‘n onveranderde 5% munisipaliteite ‘n skoon oudit behaal het, en dat terwyl 41 munisipaliteite en munisipale entiteite beter gevaar het, het 50 agteruit geboer. Die algemene tendens is agteruitgang. Miljarde rande is wanbestee, en tenders aan familielede en munisipale amptenare kom steeds wyd voor, ten koste van die belastingbetaler.

Die nuus kom te midde van ‘n bohaai oor die rol wat munisipaliteite, deur die verwaarlosing van rioolsuiweringsaanlegte, speel om riviere met riool te besoedel. Hierop het Agri SA soos volg gereageer: ““Die bevindinge van die Waternavorsingskommissie (WNK) se studie wat pas vrygestel is oor waterkwaliteit en voedselveiligheid wek ernstige kommer”, sê Johannes Möller, president van Agri SA.  “Die verslag bevestig die organisasie se vermoede dat rivierwater wat vir besproeiing gebruik word, nie deurgaans aan die vereiste standaarde van die Wêreld Gesondheidsorganisasie vir voedselveiligheid voldoen nie.  Dit is veral bakteriese en virologiese besoedeling afkomstig van onverwerkte rioolafval wat potensiële gesondheidsrisiko’s vir gebruikers van groente- en sagtevrugtegewasse kan inhou wat met besoedelde water besproei word…. “Hierdie evaluasie sal ‘n regsopinie insluit oor die aanspreeklikheid vir koste in gevalle waar water ook vir besproeiingsdoeleindes gesuiwer moet word”, aldus Möller.

Die regering gee nou toe dat projek skoon oudit, waarvolgens daar “gemik” is om teen volgende jaar ‘n 100% skoon munisipale oudit te behaal, nie realisties was nie. Weer eens is belowe dat die regering die saak nou met erns gaan aanpak, en weer eens is gesê dat van die sake wat die OG uitgewys het, reeds aandag geniet.

Of dieselfde volgende jaar gesê gaan word, is van akademiese belang. Die haglike toedrag van sake kom al jare aan, en dit is al jare duidelik dat praatjies nie gatjies vul nie. Daar is wel spesiale projekte aangepak, met spanne wat dorpe besoek het, en hier en daar munisipaliteite wat selfs onder administrasie geplaas is. Munisipaliteite word soms as groter munisipaliteite saamgevoeg, maar al wat gebeur is dat die salarisse styg en die dienste dieselfde bly, of swakker word, en die betalende inwoners nog meer daarvoor moet opdok.

Johannesburg het berug geword vir sy rekeningstelsel wat nie wil regkom nie. In die Mangaung-munisipaliteit (Bloemfontein) sit van die belastingbetalers wat weens die jongste waardasie skielik hemelhoë rekeninge kry terwyl hul waardasiebesware nog nie afgehandel is nie (onder meer omdat dit in Afrikaans ingedien is en eers vertaal moet word). Van hulle is geadviseer om “solank” die rekeninge (veel meer as hul inkomste) te betaal en hulle sal gekrediteer word as die foute reggestel word!

Verskeie dorpe het gereeld ernstige waterprobleme, maar die raadslede kry steeds hul salarisse.

Golf op golf diensleweringsbetogings spoel oor die land.

Daar is wel ‘n konteks, naamlik dat munisipaliteite in baie lande swaar kry. Verskeie Amerikaanse stede, waaronder New York, was al ernstig in die knyp, en Detroit is nou “formeel” bankrot.

In Suid-Afrika is daar ‘n deurlopende proses om nog meer funksies aan munisipaliteite op te dra. Die beoogde nuwe wet waarvolgens alle ondernemings, van die straatsmous tot die supermark, almal handelslisensies moet hê, se lisensiëringsfunksie gaan ook volgens beplanning aan munisipaliteite opgedra word. Terwyl daar stede is wat selfs nie eens meer ‘n behoorlike verkeersafdeling het nie, en dit onlangs aan die lig gekom het ‘n provinsiale hoofstad net een werkende brandweerwa het (maar verskeie brandweerstasies).

Dit maak tog sin om munisipaliteite eers so ver te kry om hul bestaande funksies goed te verrig voor nog funksies toegevoeg word.

Aan die wortel van die kwaad lê die ongrondwetlike kaderontplooiingsbeleid, wat die een funksie na die ander lamlê.

Of die regering die politieke wil aan die dag gaan lê om die probleem by die wortels aan te spreek, en byvoorbeeld bepaal dat bonusse onwettig is tot ‘n skoon oudit behaal is, en raadslede se salarisse jaarliks verminder word tot die skoon oudits werklikheid word, sal nog gesien moet word.

Maar dit is tyd dat die kieser ook sy kant bring en met sy stembriefie diegene straf wat toelaat dat sake so power verloop. Die politieke onwilligheid moet op al drie regeringsvlakke gestraf word, want in die woorde van die OG:… “só kan dit nie aangaan nie.”

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Ernie ·

Wat ‘n skandelike dilemma! Omdat ek kennis van albei het, sien ek jaarliks die ongelooflike kontras tussen die swak bestuur van die Mangaung munisipaliteit en die uitstekende bestuur van Orania se dorpsraad. By eersgenoemde het ons heffings met gemiddeld 10 % gestyg (en diensleweringsvlakke gedaal), terwyl laasgenoemde se heffings met 6 % gestyg het (en hulle elke jaar nuwe planne het om die bestaande goeie dienste nog te verbeter). Ek beweer glad nie dat Orania in alle opsigte perfek bestuur word nie, maar dat ander munisipaliteite daar ‘n paar lesse kan gaan leer is gewis!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.