Nuuskommentaar: ʼn Swak olifant is steeds swaar

(Argieffoto: Unsplash)

Eskom het in ʼn onlangse aankondiging bevestig dat Suid-Afrika vir die volgende jaar ʼn minimum van fasetwee-beurtkrag gaan ervaar. ʼn Permanente fase twee is dus die bes moontlike vooruitsig.

Die permanente voorspelbaarheid van beurtkrag maak dit nie minder frustrerend nie. Diegene wat kan, het reeds vir hulself privaat oplossings gekoop en geïnstalleer. Diegene wat dit (finansieel) kan bekostig om staatsbestand te word, maak in hul massas so. Elke geïnstalleerde sonpaneel is ʼn protes teen die regering se mislukking.

Eerder as om saam met die staat te verswak, bly mense sterk staande. Die leemtes wat staatsverkrummeling laat, word doodeenvoudig deur die gemeenskap gevul. Hetsy ongeorganiseerd spontaan of strategies georganiseerd. Waar die regering ook al val, staan iemand bloot uit die gemeenskap op.

Die Suid-Afrikaanse konstitusionele orde soos in 1994 geskep, is besig om te verval. Prof. Koos Malan, grondwetkenner, verduidelik gereeld hoe daar nie meer ʼn soewereine konstitusionele orde in Suid-Afrika die nasiestaat bestaan nie. Ons is eerder in ʼn tydperk van konstitusionele herskikking. Die ou orde, soos in 1994 gevorm, is besig om op grondvlak in wese te verander.

Dit is soms moeilik om dié verandering regstreeks waar te neem.

Ons het dan nog nege provinsies, op ʼn kaart kan ʼn mens Suid-Afrika se grense nog uitwys, die parlement vergader nog, die president word nog in die buiteland ontvang, die howe lewer daagliks uitspraak, motorlisensies word nog uitgereik en sommige mense word nog vir misdaad vervolg.

Die staat se soewereiniteit – oftewel oppermag – bestaan egter nie meer soos wat dit in ʼn funksionerende staat bestaan nie. Talle staatsfunksies wat nog uitgevoer word, is regtig net stuiptrekkings van ʼn eens funksionerende staat. Ander staatsfunksies word weer bloot nie meer uitgevoer nie.

In der waarheid het die regering nie meer ʼn stewige greep op sy oppermag nie. Soewereiniteit is uiteindelik die absolute mag en vermoëndheid om oor jouself te kan besluit. Die regering het teoreties nog die mag om oor Suid-Afrika te besluit. Die vermoë om die besluite te kan deurvoer, is egter aan’t verkrummel (hoewel dit nog nie heeltemal weg is nie).

Die regering wíl nog baie, maar kán al hoe minder. Hierdie kwessie is ʼn geleentheid.

Die regering wil byvoorbeeld eintlik baie graag ʼn sentraalbeheerde kragmonopolie bestuur. Hulle kan mense egter nie meer keer om sonpanele in massas te installeer nie. Die regering kan Eskom se onafwendbare verbrokkeling ook nie keer nie.

Daar waar die regering nie meer kan nie, doen die gemeenskap en privaat sektor bloot al hoe meer. Van-onder-na-bo-inisiatiewe en netwerke van staatsonafhanklikheid en -bestandheid ontstaan doodeenvoudig waar die staat verswak – dit is funksionele outonomie. Klein brokkies vryheid in praktyk. Mense wat net begin om oor hulself te besluit en daardie besluite uit te voer.

DA-ondersteuners tydens die party se landwye betogings oor beurtkrag. (Foto: John Steenhuisen/Twitter)

Dit is die alternatief daarvoor om vir die regering te sit en wag. Diegene wat in beurtkragspitsverkeer sit en wag vir verkeerspolisie om die verkeer te reguleer, gaan ʼn rukkie wag. Wat veel eerder gebeur, is Outsurance wat in privaat inisiatief opdaag met verkeersdirigente. Dit is funksionele outonomie. Verkeersregulering is eintlik iets wat deur die staat vervul moet word, maar nou gedeeltelik deur die privaat sektor bedryf word.

Selfs elke verkeersregulerende hawelose by ʼn verkeerslig is funksionele outonomie. Toegegee, ʼn baie spontane en chaotiese vorm van outonomie, maar outonomie nietemin. Dit is iemand uit die gemeenskap wat in die afwesigheid van die staat se funksievervulling self met ʼn oplossing na vore kom.

Dit is beslis nie die ideaal nie, maar dien bloot as voorbeeld dat ons in die staat se mislukking nie bloot gaan vergaan nie. Private en gemeenskapsoplossings sal toenemend na vore kom waar die behoefte daarvoor ontstaan.

Die vestiging van hierdie onafwendbare oplossings is presies dit wat ʼn konstitusionele herskikking op grondvlak teweegbring. Dit skep ʼn kloof tussen dit wat die regering teoreties wil en kan doen en dit wat uiteindelik op die grondvlak neerslag vind. Dit beteken dat sentralistiese Suid-Afrika soos wat dit tans in teorie bestaan nie vir ewig met ons gaan wees nie.

Wat eerder al hoe meer gaan gebeur – en wat reeds gebeur – is dat Suid-Afrika van bo na onder versplinter. ʼn Staatsentriese Suid-Afrika gaan toenemend verander in ʼn gemeenskapsfederale Suid-Afrika. Een waarin gemeenskappe al hoe meer oor hulself kan besluit en daardie besluite uitvoer. Een waarin gemeenskappe toenemend bestand is teen die mislukking van verswakking van die regering.

Die pad na staatsbestandheid en -onafhanklikheid is nie ʼn eenvoudige of maklike een nie. Dit is egter die enigste een wat met die huidige omstandighede lei na vooruitsigte van ʼn beter toekoms.

Dit is nie sommerso om van die staat afhanklik en bestand te word nie. Dit is egter nie omdat die regering in sy gesonde oppermagtigheid nog so vreeslik sterk is nie. Dit is bloot omdat hy die gewigsvoordeel daarvan het om ʼn regering te wees – iets wat ʼn mens nie ligtelik kan afmaak nie.

Dit is soos om met ʼn sieklike olifant te stoei. Die grootste deel van die wroeging is nie weens die olifant se gespierdheid nie, maar bloot weens sy historiese gewig. ʼn Swak olifant is steeds swaar. Die taak is dus nie onmoontlik nie. Dit is op kort termyn tog moeisaam, maar op lang termyn absoluut noodsaaklik.

ʼn Staat wat nie sy eie wil kan uitvoer nie, kan ons ook nie keer om ons sʼn uit te voer nie. Staatsverswakking baan die weg vir gemeenskapsversterking. ʼn Sterk gemeenskap gaan met moeite die sieklike olifant oorwin. ʼn Swak gemeenskap het geen kans nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Dit is onmoontlik om staande te bly al verval die staat. Kyk net na water, krag en rentekoerse. Sonder skoon gereeld beskikbare water en ononderbroke kragvoorsiening val ekonomiese groei en rentekoerse wat styg agv daarvan tas die lewensstandaard aan en werkskepping raak. Die regering is nie iets op sy eie wat net maar in die pound-seats rondjol nie! Die staat rig die groei en onderhoud van ‘n land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.