Nuuskommentaar: ʼn Voël verander selde van vere

(Argieffoto: GCIS)

Die ou uitdrukking lui dat niks in dié wêreld seker is buiten die dood en belasting nie. So ook kan Suid-Afrikaanse burgers nou gerus slaap in die aande met die wete dat Eskom ook hiervolgens leef – betreffende die belasting en nie betreffend die moontlike tuig neerlê nie.

Die kragvoorsiener het midde-in toenemende openbare gesprekvoering oor alternatiewe kragvoorsiening hierdie aankondiging gemaak: Diegene wat nié van Eskom se dienste gebruik wil maak nie, moet ook nou hiervoor betaal. ʼn Belasting vir onlojaliteit. Hierdie kwessie het reeds groot teenstand en kritiek ontvang. Dit is soos om Spur toe te gaan en te vra vir ʼn beskikbare tafel. Spur lig jou egter in dat hulle nie genoeg kos het nie en dat jy gerus kan gaan sit, maar nie kan eet nie. So besluit jy om eerder kos by die huis te gaan maak. Die volgende dag kry jy ʼn rekening in die pos. Jy moet steeds iets betaal omdat jy nie die gebrekkige diens wou gebruik nie.

Eskom se lomp monopolisme maak van hom ʼn belaglike verskoning vir ʼn diensverskaffer wat wyd en syd verkondig dat jy asseblief nie sy dienste moet gebruik nie. Inteendeel – ʼn mens word volgens ʼn mooi skedule verbied om daardie diens in bepaalde tye te gebruik. Tog mag jy regtig geen groener weivelde soek nie – daarvoor word jy beboet en belas.

Die probleem is dat Eskom tans in ʼn tweesydige doodspiraal van enersydse finansiële ondergang en andersydse tegniese onvermoë vasgevang sit. Hulle het al hoe meer inkomste nodig om hul verlammende skuldlas te verlig. Tog lewer hulle al hoe minder elektrisiteit. Sodoende moet hulle al hoe meer geld vir ʼn toenemend swakker diens vra.

Solidariteit se onlangse aankondiging van grootskaalse beweging na privaatkragopwekking het die openbare debat weer goed aan die gang gesit. Die kragkrisis waarmee ons sit, moet soos Dirk Hermann van Solidariteit verduidelik deur grootskaalse kleinskaalse kragopwekking opgelos word. Die toekoms van elektrisiteitsvoorsiening lê nie in een staatsentiteit nie, maar eerder duisende privaatkragopwekkingsinisiatiewe.

Die mark moet oopgemaak word vir kompetisie om dienslewering te verbeter en koste te verlaag. Anders as wat die regering dink, is kompetisie ook nie Eskom 1 wat met Eskom 2 “kompeteer” nie. Hierdie absoluut lagwekkende opsie is ook verlede week deur pres. Cyril Ramaphosa by die SAKP se 15de konferensie geopper.

Ramaphosa het by die konferensie bevestig dat die regering oorweeg om ʼn tweede staatsbeheerde nutsmaatskappy te skep. Siende dat die ANC se sentrale beheer, staatsideologiese beleid en kaderbelaaide regering die eerste keer misluk het, moet ons regtig mooi probeer om dit die tweede keer te laat werk.

Indien Eskom 2 ʼn private-openbare-vennootskap beliggaam, kan dit dalk werk, meen kenners. Dit is egter onwaarskynlik en selfs onder die bes moontlike omstandighede onwenslik. Ons kan baie letterlik nie nog ʼn lamsakkige staatsentiteit vanuit ʼn reeds oorbelaste burgerskorps finansier nie.

Op daardie noot is dit eintlik heel poëties dat hierdie aankondiging by die SAKP se konferensie spesifiek gemaak is. Die feit dat die SAKP steeds as noemenswaardige rolspeler bestaan, spreek van die verbeeldinglose uitgedateerdheid van die regering se idees. Hulle probeer ʼn 21ste-eeuse ekonomie met 19de-eeuse idees regeer en staan verdwaas voor die gevolglike mislukking. Dít ook nog idees wat al herhaaldelik, in welke vorm ook al, die armoede, dood, teëspoed en agteruitgang van miljoene mense veroorsaak het.

Enigiemand wat die SAKP se konferensie gevolg het, sou presies hierdie agterlikheid van idees ervaar het. Dit is eintlik hartseer om te luister na die absolute ideologiese dwangbaadjie waarin hulle vasgevang is. Hulle staar hulself so blind teen die einste idees wat soveel mislukkings in ons eie land teweeggebring het. Blade Nzimande het nogal kommentaar gelewer dat die toegelate krummels van kragprivatisering juis bygedra het tot Eskom se ongeluk en ondergang. Bid jou dit aan.

Dit is dan nou die ding van ideologie. Dit bepaal die lens waardeur jy die wêreld beskou, die aard van jou probleemstelling, asook die oplossings waarmee jy vorendag kan kom. Lewensbeskoulikhede wat strook met die werklikheid, is gewoonlik ook meer weerstandig daarteen. Politieke paradysparadigmas soos Marxisme se aanloklikheid eindig egter waar die werklikheid begin. Siende dat basisaannames oor die werklikheid en mens in dié ideologieë verkeerd is, misluk dit in praktyk.

Dit is gewoonlik die uitsondering dat mense ingrypende ideologiese ommekere maak. Dit is natuurlik moontlik, maar onwaarskynlik. Die raamwerk waarin jy gesmee is, is gewoonlik ook die een waarmee jy die wêreld gaan probeer smee.

Utopiese idees soos dié van Marxisme, ook die regering se rasse-Marxisme, het foutiewe ingeboude probleemoplossingsmetodes. Dit is waarom die regering opreg, hoewel dwaas, na sy eie mislukkings kan kyk en méér staat as die antwoord oplewer. Hulle is in dié opsig regtig slagoffers van hul eie swak idees. Weens hul volslae onwilligheid om kennis met die werklikheid te maak, is hulle vrywillige en selfveroorsaakte slagoffers, maar slagoffers nietemin.

Hierby kan ʼn mens dalk ʼn mate van berusting vind. Die ANC het sy idees en gaan daarby staan. Die ding is net dat die meeste mense nie saam met die ANC slagoffers van daardie uitgediende idees wil wees nie. Die ANC gaan homself verteer omdat die party weier om homself te verlos van verwoestende idees. Hulle sal moeilik van ʼn alternatiewe en beter lewensbeskouing oortuig word. Daarom is die belangrikste ding wat ʼn mens kan doen om die teengewig van ʼn beter lewensbeskoulike raamwerk op grondvlak uit te bou.

Die voordeel van die ANC se mislukking is dat sy staatsmag ook mettertyd verbrokkel. Nie sonder bykomende skade nie, maar darem wel. Die antwoord hierop moet dan wees om sy ideologiese leemtes te vul met beter idees. Idees soos die vryemarkstelsel wat miljoene mense byna moeiteloos uit absolute armoede gelig het. Idees soos desentralisering wat besluitnemingsmag nader bring aan diegene wat die gevolge daarvan dra.

Dit is waarom deelname aan die ideeoorlog ʼn noodsaaklikheid eerder as ʼn luuksheid is. ʼn Mens gaan die ander kant nie altyd oortuig kry nie. Beter idees moet steeds bedink, ontwikkel en uitgebou word om juis ten spyte van die ander kant se onoortuigbaarheid van hul swak idees ʼn beter werklikheid staande te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Bernard ·

Dit gaan oor die verdere verryking van Gwede, sy vrou, Ramaphosa en ‘n groep miljoenêr kaders wat almal wag om by hierdie trog aan te sit.

Walda ·

Klink soos die storie van Uilspieël wat moes betaal omdat die reuk van die kos hom versadig het

Jacobus ·

Goed opgesom Monica. Hierdie kommonistiese manier can regeer het nog nooit en sal nooit in enige land werk nie. Die ANC en sy bondgenote die SUID AFRIKANSE KOMMUNISTIESE PARTY of SAKP sal hulle eie kiesers versaak terwille van selfverryking.
Ramaphosa se swaer Patrice Mosepe is nie verniet die stigter van African Rainbow Energy nie.

My siening ·

Patrice Mosepe wil eskom 2 besit en dan maak hulle no 1 toe.

Eiervrug ·

Hoe gaan hulle dit doen?. Die ouens se krag sny wat “off the grid” is??. Be my guest. Kom saag alles af wat soos Eskom drade lyk en gooi dan sommer my eskom “boetes”op dieselfde hopie as my e-tol rekeninge. Gaan ek nou beboet word omdat ek nie by Truworths koop nie, want ek maak my eie klere???. Ai jai jai…….

Jacobus ·

En as jy nie die heffing op die rekening betaal nie? Gaan hulle jou krag afsit? Jy wek dan reeds jou eie krag op.

Rich ·

Goed gese…Eskom weet nie waarheen nie…die ANC regering se planne werk nie want hul kan niks reg dien nie.

annie ·

Hoe deeske aarde kry die SAKP dit reg om homself ‘n party te noem maar weier om aan verkiesings deel te neem? Cyril woon ook hul vergaderings by. Staan die ANC dus eintlik kommunisme voor maar maak of dit tog so demokraties is… Dieselfde met die EFF. Dinge gaan binnekort ‘n wending neem wanneer die tweespalt bloed tap; Zuma teen Cyril. Die tafel staan gedek vir plaaslik-vervaardigde vuurwerke nog voor die gewone nuwe jaar-feesvieringe. Oppas vir die afkomslag!

Jr ·

Generating belasting sal in Lindiwe Sisulu se African konstitusie geskryf word en sal bestaan as Africanasity thinking

Pietertjie ·

Animal Farm. Die verskil tussen intellek en idiokrasie is dat intellek perke het.

Johan ·

Dankie v n goeie skrywe. Die ANC en hul massagevolg is in elkgeval ook bitterlik “leier arm” die wat oor is, is maar op hul beste die “C” span. Daarom dat die wêreld hul soos blare in die wind rondwaai.

Papsak ·

Wens regtig daar kan van Ramaphosa en al sy kaders die anc regering en eff en andere ontslae geraak word regtig groot gemors vir die land

Albertus ·

Nou wanneer gaan ek begin betaal vir die suurstof wat ek in asem, dit is agv eskom dat mense solar toe gegaan het, die Here slaap nie, Hy sal hul uitsort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.