Regsaksie kom as Eskom-tarief goedgekeur word  

(Argieffoto: GCIS)

Terwyl Suid-Afrika tans onder beurtkrag gebuk gaan, wil Eskom kragtariewe met 32,66% verhoog.

Solidariteit het Eskom se jongste aansoek by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) as absurd, irrasioneel en onwettig bestempel en dit gestel dat indien die voorstel aanvaar word Solidariteit dit met elke regsopsie tot sy beskikking sal teenstaan.

Boonop wil Eskom hê dat verbruikers wat sonkrag opwerk meer moet betaal as gewone kragverbruikers. Eskom het glo in sy jongste aansoek onder meer gevra dat ʼn tarief van R938 per maand op verbruikers gehef word wat self krag opwek.

AfriForum het intussen ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa, Gwede Mantashe, die minister van minerale hulpbronne en energiesake, en Nomalanga Sithole, die uitvoerende hoof van Nersa, gestuur vir stappe wat geïmplementeer kan word om verligting aan die kragsektor te bring.

“Nersa behoort ’n kernrol te speel om verligting aan landsburgers te bring en moet enige lisensiehouer, wat nie aan wetgewing voldoen nie, aanspreek. Ons sien wel dat dit nie die geval is nie en die minister behoort pa te staan vir die mislukkings van Nersa om die energiesektor gesond te hou,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

“Dit is Eskom se onvermoë wat mense dwing om na alternatiewe kragopwekkingsmetodes te kyk en nou moet dieselfde mense daarvoor beboet word. Eskom wil hê verbruikers moet vir krag betaal wat hulle tans nie eers kry nie.”

Broodryk is van mening dat ’n gedesentraliseerde netwerk ’n oplossing is vir die kragkrisis wat Suid-Afrikaners tans beleef. “Indien Nersa ’n metodologie voorstel en implementeer wat die vrye handel van krag tussen verbruikers reguleer, kan dit binne ’n kort tyd baie genereringsvermoë op die netwerk kry.

“So ’n oplossing sal nie net opwekkingsvermoë vergroot nie, maar kan veroorsaak dat verbruikers waarskynlik krag goedkoper van jou buurman kan koop, selfs al is daar ’n vorm van vergoeding wat aan die netwerk betaalbaar is.”

Solidariteit meen Suid-Afrika se enigste hoop om uit die huidige kragkrisis te kom lê in kleinskaalse kragopwekking wat op ʼn groot skaal plaasvind. Solidariteit is van mening dat Eskom hom deur voorstelle soos hierdie een van ʼn hindernis vir kragsekerheid in ʼn bedreiging daarvoor omskep.

“Dit is een ding as Eskom nie tot die oplossing van Suid-Afrika se kragkrisis wil bydra nie. Maar deur sulke voorstelle te maak verander Eskom van ʼn meulsteen om die nek na ʼn vyand van betroubare kragvoorsiening. As Eskom dan nie self by oplossings betrokke wil wees nie, sal ons litigeer totdat Eskom ten minste nie meer in die pad van ander wat dit wil oplos staan nie,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Solidariteit voer aan dat die land juis nou uit sy pad moet gaan om private kragopwekking aan te moedig en te vergemaklik terwyl Eskom se tariefvoorstel die situasie net vererger.

“In plaas daarvan om private kragopwekking aan te moedig, wil Eskom dit nou belas. Om belasting vir ʼn diens te betaal is een ding; om belasting te betaal vir geen diens nie, is iets totaal anders.

Nou wil Eskom jou werklikwaar belastings hef op Suid-Afrikaners wat weens Eskom se onvermoë om krag te voorsien hul eie dienste begin lewer. Deur bloot net so ʼn voorstel te opper, word enorme onsekerheid al geskep. Die voorstel moet so spoedig moontlik verwyder word. Indien nie, sal ons die howe nader om dit te doen,” het Hermann benadruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

54 Kommentare

Waarom ·

Absoluut absurd. Mense wat solar insit behoort gesubsidieer te word. Dit is soos om SABC lisensie geld te betaal maar jy kyk nooit na hulle programme nie.

Witbaard ·

SABC lisensie is vir alle uitsaaidienste, wat die radio uitsendings ook insluit, maar ek stem saam dis absurd om solar te belas.

Manie ·

Eskom amptenare verdien reuse salarisse, dus is die spulletjie skrikkerig dat dit kan opdroog en die melkkoei nie meer gaan stilstaan om gemelk te word nie, vandaar die mal heffing op kragopwekking.

Atta ·

Ek moes nou eers op die kalender kyk om seker te maak dat dit nie 1 April is nie. Volgende gaan ons seker belas word op die hoeveelheid lug wat jy in asem.

Kobus ·

Nersa? Voeg hulle werklik waarde toe tot enigiets? Nog ‘n raad wat miljoene aan salarisse verdien. Help my reg asb

Wondermaarnet ·

Wat wil hulle hê? Gebruik jy krag, vra eskom kragverbruik moet verminder en beperk word om beurtkrag te voorkom. Gebruik jy te min krag wil hulle jou ekstra laat betaal. Dubbel standaarde?

Henry ·

Elke jaar verhoog eskom die tariewe meer as 15 persent. Dit het tyd geword dat die krag netwerk geprivatiseer word . As dit nie onder die staat val nie sal die firmas die tariewe verlaag sodat meer mense dit kan bekostig veral ons wat op pensioen is wat elke jaar ons pensioen verhoog kry met 1 persent

Jr ·

En daar’s nog mense wat glo de Ruyter in swart is n ridder op ‘n wit perd. Hy is daar om soveel geld terug te kry vir hulle skuld van die verbruiker. Hy en Oberholzer is useless – USELESS

Witbaard ·

Die onvermoë van die regering, sabotasie, stakings en die onwilligheid om kundiges aan te stel, laat de Ryuter sleg lyk.

Kobus ·

Stem nie saam nie. Glo nie ander sal beter vaar nie. Ek dink die raad is nie bevoeg nie bv waarom is ‘n kenner soos Ted Blom nie daar nie? Dan is daar ‘n onwilligheid by die regering om op te tree en twee ministers wat useless is. Hulle kom almal uit vakbondbestuur uit en dink steeds ideologies en sosialisties. Dan nog die lewering aan buurlande wat ons natuurlik subsidieer

Republikein in die Wes Kaap ·

Almal blameer almal en alles. Ons soek oplossings. Bring Britte, Duitsers, Japanese en Amerikaners in wat reuse krag entiteite suksesvol bestuur. Feit is, ons het nie meer kundiges nie. Die beste jong talent het die land verlaat. My oom Koos wat Eskom in 1999 verlaat het na baie jare se puik diens is ook al te oud om ‘n verskil te maak. Nou pluk ons De Ruyter nader wat nie eers weet hoe elektrisiteit opgewek word nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Al hierdie planne word in Eskom se exco bespreek en goedgekeur. De Ruyter is die drywer van alles. Hy sit nie eensaam in sy kamtoor en wag dat iemand anders die besluite neem nie. Kommentators hier wat alles en almal wil blameer in stede van De Ruyter en sy sidekick klink al hoe meer na die ANC wat altyd apartheid blameer vir die probleme.

Jr ·

U is heeltemal reg Suidlander. Maar party mense het “Volstruis sindroom” – steek jou kop in die sand en die vyand kan jou nie sien nie

Kokerboom ·

Eskom: Verminder personeel van 42000 na 14000 soos Wereldbank voorstel en jul geldelike probleem is opgelos

Republikein in die Wes Kaap ·

Kokerboom, die salarisse wat daai klomp verdien is ook verstommend. Skoonmakers en teemakers verdien meer as junior verpleegsters en onderwysers met 4 jaar grade. Red ‘n land.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kyk na jou kragrekening. Oor 3 jaar van nou af gaan jy dubbel betaal vir dieselfde eenhede gebruik.

Janc ·

Ons word openlik beroof deur ons eie regering wat geldvrate is. Ons kragverbruik is blykbaar meer elke maand, selfs al sit ons sonder krag. Hoe werk dit? Petrolpryse is deur die dak, want ons moet van punt A tot B. Tog moet ons gehoorsaam wees en ons belasting elke maand betaal.

Faraway ·

Daar is duisende misdadigers wat belaglike borg betaal, belas HULLE met ekstra en gee dit vir ESKOM!!!!!

Jaco ·

En hoe gaan ‘n regter wie se salaris deur die ANC-regering betaal word, uitspraak teen die ANC beheerde eskom en ANC beheerde departement van energie lewer??? Solidariteit wil basies die ANC by die ANC gaan aankla.
Onthou ook maar wat in Zimbabwe gebeur het: swart regters het aanmekaar gesê dat die onteiening sonder vergoeding van wit boere se plase ongrondwetlik is. Toe vervang president Mugabe eenvoudig dáárdie regters met regters wat konsekwent uitsprake lewer in lyn met regeringsbeleid. Dieselfde gebeur reeds in SA. Onthou die klag teen regeringsbeleid dat net BEE besighede staatshulp kry tydens lockdown. Die regter het eenvoudig gesê BEE is altyd reg.

agnes ·

Dit is suiwer diefstal om mense wat hul eie krag opwek te wil laat betaal. Pleks Hulle liewer die so krag op wekkers subsidieer

agnes ·

Seker om al die stakers se salarisse te betaal. Ontslaan liewer die opstokers en kry ordentlike personeel wat kennis het en belang stel om ESKOM weer reg te RUK!

annie ·

Gaan diegene in swart woongebiede met gratis sonkragpanele ook help betaal? Miskien kan iemand vir Eskom vra hoeveel huishoudings krag gebruik maar niks betaal nie en wat van ons ministers & kie, betaal hulle self vir krag?

Tanniepetoors ·

Baie goeie vraag Annie, veral die gedeelte oor dié mense met gratis sonkragpanele en -geysers.

Aanhouer ·

Die breinkrag ontbreek vir gesonde logika…
Mag ons behoed word. Die kriminele het hierdie land heeltemal verorber.

Nettie ·

Die beste vergelyking wat ek gelees het, was toe iemand gesê het dis soos ‘n vulstasie wat motoriste wat verby hulle ry, R50 beboet omdat hulle nie by hulle gaan petrol ingooi het nie.

Dankie Solidariteit vir julle teenkanting en hulp.

Pietertjie ·

En as jy dan stop om petrol in te gooi, is die pompe leeg.

Martie Smartie ·

Is dit Andre de Ruyter wat hier agter sit? Of wie? Die vet vingers van amptenare in die steenkool my en vervoer bedryf? Of die Tesourie? Eskom moet vrede daarmee maak dat hy miljarde rade se krag verniet sal moet voorsien aan die munisipaliteite en verbruikers wat nie betaal nie. Maar hy wil daardie verliese verhaal deur betalende verbuikers dood te maak. Hy wil die melkkoei kurkdroog melk

Tanniepetoors ·

Asseblief, André de Ruyter het meer as twee breinselle en is sovêr ek weet, nie sertifiseerbaar nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Met De Ruyter daar sal dinge erger word. Hy is die baas.

VaalDonkie ·

Eskom se argument is as jy ‘n inverter en batterye het, dan gebruik jy 2kW of om die battery te laai, so jy gebruik ‘n klomp krag op een slag wat druk op die netwerk sit. Oukei, fine. Maar ‘n stoof gebruik net soveel krag en hulle moan nie DAAROOR nie.

Manie ·

Eskom kan in hulle tannie se blomtuin vlieg as hulle dink dat ek ‘n heffing sal betaal vir my batterye wat deur my sonpanele deur die gratis sonlig gelaai word.

Koen ·

Hulle sal jou son kom blok. Jy het darem nog die Maannie warie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Die liewe Here gee vir ons sonlig. Nie Eskom nie.

Quinzie ·

Gaan gas verbruikers ook ekstra belas word ?
Eskom vra gereeld spaar krag – die netwerk is onder druk. Sodra jy krag spaar dan belas Eskom jou soveel meer as wat jy sou kon bespaar. So van nou af spaar ek geen krag nie !

Bart-Man ·

Binnekort gaan jy meer vir petrol ook betaal omdat jy minder ry en n klein karretjie het.

Nommer 7 ·

Vir ‘n lee erf betaal ‘n eienaar vir elektrisiteit-, water-, riool- en vullis verwydering beskikbaarheid, sonder om enige van hierdie dienste te gebruik. Dit kan maklik R1000 per maand wees, Eskom se redenasie is hierop gegrond.

Tanniepetoors ·

As jy kan bekostig om ‘n leë erf te hê in ‘n area waar die maandelikse basiese dienste beskikbaarheid R1000 beloop, kan jy sekerlik die R1000 betaal. Of hoe?

Nommer 7 ·

Tannie is doodreg. Dit is ook hoe Eskom redeneer. As jy R500,000.00 kan bekostig vir n sonkragstelsel………… Of hoe?

Danie ·

Ek wil net weet, so ek kry niks ( wek eie krag op met solar stelsel) van hulle af maar moet n betaal.

Kom ons ruil die transaksie om so hy stap by n winkel in, koop niks, maar moet n bedrag betaal by die til vir iets wat hy nie het nie .

My vraag : WAAR IS DIE LOGIKA
My antwoord : GEEN LOGIKA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.